Van Melk na Vaste Kos

David Wilkerson (1931-2011)

Om te begryp hoe God Sy kinders vryspreek, is nie vir baba’s nie; dit is ‘n waarheid vir volwasse gelowiges. Baie Christene is egter steeds baba’s wat melk drink en weier om verder te gaan om die vaste kos van die Woord van geregtigheid te eet. Al wat hulle verstaan, is die vergifnis van hul sondes.

 “Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:13-14, AFR53).

Baba’s het voortdurend melk en aandag nodig. Hulle voel tevrede as hulle moeder in die kamer is, en hulle huil dikwels van vrees as sy weggaan. Baba’s moet hulle ma’s kan sien, hoor, voel en aanraak om veilig te voel.

Net so, leef die gelowige wat by melk bly in voortdurende vrees vir sy verlossing. Hy is nooit op sy gemak met die hemelse Vader nie. In plaas daarvan, is hy altyd gespanne en dink God is gereed om hom hel toe te stuur elke keer wat hy misluk. Hy ken en verstaan nie sy stand in Christus nie en ken daarom nie die vrede van God nie. Hy kan nie glo dat God ten volle daaraan verbind is om hom te red en te bewaar nie.

Paulus sê daar is vaste spys vir ons beskikbaar, geestelike kos wat ons sal laat groei tot volwassenheid, om mans en vroue in Christus te word en te ontwikkel tot die volle gestalte as gelowiges. Geliefde, hierdie vaste spys is die waarheid betreffende Christus se volmaakte geregtigheid! Deur dit te begryp, kan jy versekerd in jou verlossing bly. Jy hoef nie te vrees dat God jou sal verlaat elke keer as jy misluk en val nie. Nee, jy sal oorwinning kry!

As jy nie hierdie waarheid het nie, sal die duiwel met jou gevoelens speel. Hy sal vir jou lieg en jou rondstoot. Tensy jy hierdie waarheid as ‘n fondament het onder alles wat jy glo, sal niks in jou leerstellinge, jou teologie en jou lewe reg wees nie. Jy kan nie eers God gehoorsaam nie, totdat jy dit verstaan!

Jy moet oortuig wees dat niks wat jy doen ooit ‘n aanvaarbare geregtigheid voor God kan produseer nie. Dit moet van ‘n ander bron af kom. Wanneer ons by die oorsdeelstroon staan, het ek geen ander verontskuldiging nie, behalwe die geregtigheid van Jesus Christus.