Verkondig die Oorwinning

David Wilkerson (1931-2011)

Wat verwag God van ons nadat ons besprinkel is met die bloed van Jesus? Word ons op enige manier tot iets verplig deur hierdie besprinkeling? Ja – beslis!

As ons deur die bloed van Jesus besprinkel is, word ons beveel om in vrede te gaan en nie meer te twyfel nie. Toe Moses bloed op die sondige Israeliete gesprinkel het, het hulle nooit een keer getwyfel dat hulle deur God vergewe en aangeneem is nie. Hulle het vertrou op daardie besprinkeling!

Vandag, is die bloed wat op ons gesprinkel is nie van bulle, bokke of skape nie, maar van Christus, die Lam van God. Tog het ons meer twyfel en groter vrees as daardie Israeliete!

Martin Luther het gesê dat dit laster is om al die sondes wat ons op Christus gelaai het weer terug te neem, en ek stem saam met hom. Dit is absolute heiligskending om rond te gaan met vrees, skuldgevoelens en veroordeling. Ons moenie sê: “Die Bybel sê dat ek deur geloof gereinig, geregverdig en beskerm is van Satan se mag, maar tog kan ek nie glo dat so ‘n heerlike ding moontlik is nie!”

Tweedens moet ons God met ‘n dankbare hart prys en nooit twyfel nie! Ons word beveel om God te dank vir die kosbare bloed van Jesus, met hoë lof:

·      “...ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening gekry het” (Romeine 5:11, AFR53).

·      “Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” (Psalm 32:11).

·      “Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken...” (Psalm 89:15).

·      “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel...” (Jesaja 61:10).

Verkondig die oorwinning van Jesus se bloed in jou lewe en begin Hom nou prys vir die belofte van daardie groot dag van verlossing wat voorlê.