Verlossing Vir Louwarm Harte

Gary Wilkerson

Ek het onlangs gelees van 'n geskiedkundige gebeurtenis genaamd die Groot Uitsetting. In 1662 in Engeland het tweeduisend Puriteinse predikante gesê dat God, nie die koning nie, gesag van die Kerk van Engeland behoort te hê. Hulle is dadelik uit hul poste verwyder op een dag wat as "Swart Bartolomeus se Dag" bekend geword het. Baie van hulle is in die tronk gegooi en ander is tereggestel. Sommige van hulle is gedwing om hul gemeente en hul mense te verlaat en ander is uit die land geskop. Die invloed van hul keuse het deur die geskiedenis weerklink en gehelp om die Groot Ontwaking te inspireer.

'n Boek is saamgestel uit 'n versameling van hierdie manne se preke, soveel as wat versamel kon word van diegene wat oorleef het. Terwyl ek hierdie boek gelees het, het ek besef hoe eenders ons eie moderne regering gelowiges begin behandel. Amerika se samelewing begin om vir mense te sê wat hulle kan en nie kan sê nie of waarteen hulle hul kan uitspreek. Toe het veral een Puriteinse geestelike herder se woorde my opgeval.

Hy het gesê dat die probleem met Engeland nie die koning was wat hulle uitgeskop nie. Dit was nie die morele verdorwenheid in hul land nie. Dit was hy. Hy het nie genoeg gebid nie. Hy het nie genoeg liefgehad nie. Hy het nie genoeg omgegee nie. Hy was nie genoeg in die Woord nie. As herder was hy nie so gebroke soos hy moes wees om mense te lei tot by die punt van bekering waar hulle moes wees nie.

Ek dink dieselfde is waar vandag. Ons grootste behoefte is aan verlossing, maar baie van ons is in die versoeking om te fokus op die teruggevalle, lou toestand van die kerk. Ons kan dalk verlei word om te sê dat ons land eers verlos moet word van sy geestelike agteruitgang en die sosiale kwessies met openlike seksuele perversiteit.

Ek dink egter die grootste behoefte aan verlossing wat ons het, is binne-in my en jou.

Ek en jy sal op 'n lewenslange reis van verlossing en heiligmaking wees. Die grootste behoefte aan verandering is in elkeen van ons se lewens. Dit is deur die genade van God dat Hy ons na sy teenwoordigheid lok. Hy gee ons weer daardie begeerte na bekering, heiligheid en liefde. As genoeg van ons Christene Christus toelaat om ons eie harte te verander en te genees, dan sal ons 'n vuur en passie beleef wat kerke laat herleef en die kultuur beïnvloed.