Volwassewording in Goddelike Genade

David Wilkerson (1931-2011)

Ons groei in genade kan eksplosief wees as ons gewillig is om te werk aan ware stigting. “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Efésiërs 4:29-30, AFR53). Die stamwoord wat Paulus vir stigting gebruik, beteken “huisbouer.” Daardie woord op sy beurt, kom van ‘n stamwoord af wat “om op te bou” beteken. Kortliks, almal wat stig, bou God se huis, die kerk, op.

Paulus sê vir ons drie belangrike dinge oor die woorde wat ons spreek.

  1. 1. Ons moet ons woorde gebruik om God se kinders op te bou. 

  2. 2. Ons moet ons woorde gebruik om genade aan ander te bedien. 

  3. 3. Dit is moontlik om die Heilige Gees te bedroef met ons woorde.

Ek voel ernstig veroordeel as ek die lewensverhale van sommige van die geestelike reuse van die verlede lees. Hierdie godvresende mans en vroue se gedagtes was op hemelse dinge gerig, het God se Woord bestudeer, dikwels gebid en wou graag toeneem in genade. Wat my die meeste tref van hierdie mense se lewens, is nie hulle toewyding aan Christus of die intensiteit van hulle gebede nie. Dit is die goddelike vrug wat hierdie dinge in hulle geproduseer het.

Verder, het ek ‘n gemeenskaplike draad gesien onder hierdie geestelike reuse: hulle hoofbelang was om toe te neem in die genade van ‘n rein hart, waaruit heilige geselskap sou voortspruit. Christus het sy hoorders gewaarsku: “Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn” (Matthéüs 12:34-35).

Ek groei in genade wanneer ek kies om vir ander te lewe en nie vir myself nie. Daardie groei in genade moet in my huis begin deur my maat en my kinders te wys dat ek toenemend soos Christus word. My huis moet ‘n bewysplek word waar alle probleme en alle misverstande oorwin word deur my gewilligheid om “my pogings om reg te wees” te laat vaar.

Om nooit “reg” te móét wees nie, het my gehelp om die krag van God se genade soos nog nooit tevore te beleef nie. Alle argumente, sogenaamde “regte” verdwyn wanneer ons mekaar wil stig eerder as om een of ander dwase twispunt te probeer wen.

Dierbare gelowige, laat ons in genade opgroei.