Voorbereiding vir Jou Beproewings

David Wilkerson (1931-2011)

Dit is onmoontlik om 'n heilige lewe te lei sonder om baie tyd op jou knieë deur te bring en God te soek vir die krag en gesag om so 'n lewe te lei. Ons sien dit in Daniël se lewe, sowel as God se reaksie op so 'n soeker.

“En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy... Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God, terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandoffer” (Daniël 9:3, 20-21, AFR53).

Moenie jou misgis nie; getroue gebed sal jou nie uit 'n krisis hou nie. Inteendeel, dit sal jou heel waarskynlik by 'n oond van beproewings bring, maar gebed sal jou voorberei om dit alles met vertroue te verdra, om 'n lewende offer vir Jesus se onthalwe te word.

Daniël se gebed het hom reguit na die leeukuil gelei en hierdie beproewing het gekom toe Daniël op sy oudag was, na jare van getroue diens aan sy koning en toewyding aan sy God. Dit kan jou miskien bang maak, veral as jy wonder hoe lank dit sal duur voordat jy sal ophou om krisisse te hê. Miskien het jy gedink jy het al jou "belangrike" lesse geleer na 'n sekere aantal jare in die Here, maar hier laat God toe dat een van sy grootste gebedstryders — 'n man van 'n stil, liefdevolle gees — die krisis van sy lewe beleef na dekades van getroue voorbidding!

Dit is waarom Paulus, in sy opdrag aan gelowiges om hulle geestelike wapenrusting aan te trek, afgesluit het met “terwyl julle met alle gebed en smeking  by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efesiërs 6:18).

Geliefdes, die beproewing eindig eers wanneer Jesus kom of wanneer jy in Christus sterf! Dit is hoekom gebed so belangrik is. Jy kan jouself daartoe verbind om 'n onbesmette lewe te lei, maar daardie verbintenis is onmoontlik om na te kom sonder om jouself ook daartoe te verbind om God te soek.