Ware Genade

David Wilkerson (1931-2011)

Laat ek jou die hart van die ware genadeboodskap gee: Dit is nie 'n permissiewe evangelie nie maar een wat heiligheid leer! 

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:11-13, AFR53).

Volgens Paulus wandel ons nie in genade voordat ons met wêreldse verdorwenhede gebreek het nie. Tensy ons poog om deur die krag van die Heilige Gees godvrugtige en regverdige lewens te lei en uitkyk vir die Here se koms elke oomblik as ons wakker is, ken ons nie God se genade nie.

Baie Christene wil vergifnis hê, maar dit is al. Hulle wil nie verlos word van hierdie huidige wêreld nie, want hulle is lief daarvoor. Hulle is geheg aan hul sondes en wil nie die genot van hierdie wêreld prysgee nie. Hulle hou dus vas aan 'n leerstelling wat sê: "Ek kan lewe soos ek wil solank ek sê dat ek glo."

Hulle wil nie hoor van gehoorsaamheid, bekering, selfverloëning, die opneem van hul kruis en die juk of las van Christus nie. Hulle wil bloot op die Oordeelsdag verskoon word en wil hê dat al hulle ongeregtighede oor die hoof gesien word. Hulle verwag dat Jesus die pêrelpoorte sal oopmaak, sy arms om hulle sal slaan en hulle in 'n goue straat na hul gereserveerde herehuis sal lei, selfs al het hulle nog nooit van die gees van hierdie wêreld gebreek nie!

Paulus skryf: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Ons moet volkome met hierdie wêreld breek en aan Christus alleen gelykvormig word!

Jesus regverdig en spreek ons vry deur geloof met 'n doel. Dit is om ons moed te gee en te bemagtig om die duiwel te weerstaan en die wêreld te oorwin. “[Jesus Christus] wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Galásiërs 1:4).