Wat Is die Beste vir Ons

David Wilkerson (1931-2011)

Daar is tye wanneer God dinge van ons wegneem. Daar is ander tye wanneer ons bid vir dinge wat ons dink ons nodig het, maar God gee dit nie vir ons nie. Maar “...die HERE ken die weg van die regverdiges” (Psalm 1:6, AFR53). Eendag sal bewys dat God se dade tot voordeel van ons en vir sy koninkryk is.

Die ware bevrediging in die lewe kom daarvan om in die volmaakte wil van God te wees, sy werk te doen, volgens sy keuse te lewe. Die meeste van ons is egter oortuig daarvan dat net óns weet wat ons nodig het om vervuld en gelukkig te wees. In die meeste gevalle sou dit wat ons glo die beste vir ons is, ons eintlik verwoes! Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom het God iets van een van sy kinders weggeneem sonder om iets beter, mooier en meer vervullend te gee nie.

God se beste is nie iets om te vrees nie. Hy wéét nie net wat die beste vir jou is nie, Hy wil hê jy moet sy beste besit. As ons dit werklik geglo het, sou dit soveel rus, vrede en vreugde in ons voortbring. Dit sal nie vir ons swaar wees om dinge te laat gaan nie; ons sou weet ons is vrygemaak van alle slawerny. Ons sou sê: “Here, as U dit van my af wegneem, moet dit beteken dat U iets baie beters vir my het. Neem dit dus. U kan dit kry!"

Geliefde, ons moet rus in die liefdevolle hand van ons Vader. Ons moet by die punt van vertroue kom waar ons sê: “Ek het 'n liefdevolle Vader wat die beste vir my wil hê. Hy weet dit alles!” Hoe het Job uiteindelik by 'n plek van rus gekom? Hy het homself oortuig dat God weet wat Hy doen en dat alles onder beheer is. Job het gesê: “Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom” (Job 23:10).

Baie Christene sien God aan die werk in hul lewens, maar hulle wonder steeds: “Wat as ek dit opmors? Wat as ek iets verkeerd doen en God word kwaad of ongeduldig met my? Sal al sy beloftes vir my tot niet wees? Sal ek met iets minder as sy beste moet tevrede wees?” Nee, nooit! As jou hart reg is voor God, as jy aanhou terugkeer na Hom en Hom met jou hele hart soek, sal niks sy planne vir jou verander nie.