Wees Stil en Weet

David Wilkerson (1931-2011)

Dawid sê vir ons in die Psalms dat dit God is wat oorloë tot ’n einde bring en voeg by: “Laat staan en weet dat Ek God is...” (Psalm 46:11, AFR53). Die Hebreeuse woord vir “laat staan”’ is raphah, wat beteken om op te hou, alleen te laat, swak word, broos word. Dit is van die stamwoord rapha, wat beteken om te herstel en deur die hand van 'n geneesheer heeltemal genees te word.

Hoe deeglik konsekwent is die Woord van God. Hy bring konflik tot 'n einde. Totdat Hy sy werk voltooi het, moet ons ons eiegeregtige pogings laat staan, alles in sy hande oorgee, ons swakhede bely en ons toekomstige herstel in die hande van Christus, ons groot geneesheer, toevertrou.

Is jou innerlike konflik besig om jou uitmekaar te skeur? Jy mag dalk deur Satan geslaan word, maar hy kan jou nie seermaak of vernietig nie. Heel waarskynlik word jy gelouter ter voorbereiding van 'n dieper begrip van die kruis van Christus sodat jy gereed gemaak kan word vir groter diens.

Petrus is van alles gestroop voor Pinkster. Ons sien hierdie belangrike man van God moedeloos en doelloos in die Judese heuwels ronddwaal. Petrus het op water geloop en deel gehad aan die wonderbaarlike voeding van menigtes! Hy was 'n geseënde, prominente, nuttige, Christus-geliefde dienaar. Nietemin het hy ernstig gesondig en die Here teleurgestel soos min ander gedoen het. Daarna het hy geween en getreur, omdat hy gedink het dat hy sy redding en sy bediening verloor het.

"Wat is fout met my?" moes hy homself oor en oor gevra het. "Hoekom het ek geen mag of krag gehad toe ek versoek was nie? Waarom het ek geen morele reserwes, geen wil om die vyand te weerstaan gehad nie? Hoe kon 'n man van God so 'n afskuwelike ding aan sy Here doen? Hoe kon ek vir ander gepreek het terwyl ek self geen krag in 'n krisis het nie?"

God het nie Petrus se mislukking veroorsaak nie, maar daaruit het daar baie goeie dinge voortgekom. In sy genade het God dit toegelaat om te openbaar wat diep in die innerlike mens gewortel was. Slegs mislukking kon die trots en selfgenoegsaamheid blootlê. Dit het aan hom sy behoefte aan absolute afhanklikheid van sy Here vir alles geopenbaar, insluitend sy reinheid en geregtigheid.

Dit is deur hierdie persoonlike begrip van Jesus se grootse offer vir ons aan die kruis dat ons ons grootste versoeking en mislukkings deurgaan en dan deurbreek tot opstanding.