Word Bitter of Word Beter

Keith Holloway

In ons menslikheid, lyk dit of ons ‘n geneigdheid het om op ons probleme te fokus. Soms is dit te verstane want dit kan ontsaglike uitdagings wees wat oorweldigend is.

Baie van julle beleef verskriklike dinge. In ons bediening by World Challenge, kry ons duisende briewe en e-posse wat inkom met mense wat hulle harte uitstort met gebedsversoeke. Ek het onlangs ‘n aantal gelees. Dit is eerlikwaar skokkend wat baie mense deurgaan: dwelmverslawing, alkoholisme, ontrouheid, gebroke verhoudings, finansiële probleme. Die lys gaan aan en aan.

Daar is egter so baie mense wat hulle “daaglikse brood” kry, om dit so te noem, deur oor en oor die nuus te kyk, aanlyn berigte te lees of werklikheidsprogramme te kyk wat vol leuens, kullery, moord, diefstal en allerhande verdorwenheid. Dt is glad nie snaaks dat mense aan depressie ly en selfmoord die hoogste van alle tye is nie.

Selfs gelowiges wankel in hulle geloof en hulle wandel terwyl hulle voel dat God nie met hulle is nie. Mense het teen hulle gedraai en hulle het vrae begin vra soos: “Wie is ek? Waarom is ek hier? Is dit die moeite werd?”

Ek wil vandag vir jou ‘n boodskap gee wat ek glo ‘n wonderlike boodskap is.

Petrus het aan die vroeë kerk geskryf en gelowiges bemoedig: “Daarin verheug julle jul, al word julle nou – as dit nodig is – ‘n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewing, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:6-7, AFR53).

Wanneer beproewings kom, kan ons of beter word of bitter word. Die geleentheid is daar, maar dit gaan oor ons reaksie op krisisse. Dit is nie krisisse wat ons geloof laat wankel of wat ons verander nie. Ons reaksie op ‘n krisis is wat bepaal of ons beter of bitter word.

Gedra jouself manmoedig. Erken en gee erkenning aan die pyn en lyding, maar net so, erken en gee erkenning daaraan dat ons ‘n ewige hoop het. Hoop is ‘n verwagting dat God se goeie na ons toe sal kom, maak nie saak hoe diep, hoe donker, hoe lank ons probleme is nie. Ons het ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

Die genade van God is in oorvloed aan ons beskikbaar vandag. Hy het ons wederbaar in ‘n lewende hoop.