Die Aanraking van God: Deur God In Besit Geneem
Ek wil drie stellings teenoor jou maak insake die aanraking van God op iemand se lewe.
- Wanneer God iemand aanraak en van hom besit neem, is dit nie ‘n tydelike eiendom nie. Dit is vir ‘n leeftyd. Die Here sal nooit dit wat Syne is, aan Satan afstaan nie.
- Diegene wat deur God besit word, bewaar Hy. Ons mag fouteer, misluk of in vernietigende sonde verval. Maar wanneer God ons eers besit, sal Hy nooit, nooit moed verloor met ons nie: “Want die HERE... sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar” (Psalm 37:28). “Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet” (Psalm 145:20).
- Diegene wat deur God besit word, berei Hy voor vir toenemende bruikbaarheid. Dit sluit selfs struikelende, moedelose dienaars in. Jy mag dalk oortuig wees dat God moed verloor het met jou, dat Hy jou nie meer kan gebruik nie. Maar as jy werklik ‘n verslae hart het, word jy voorberei vir iets groter. God wend selfs daardie dinge aan wat Satan bedoel om ons mee te vernietig.
Ek wil vir jou bewys, dat wanneer God jou aanraak en van jou besit neem, Hy jou uit elke sataniese strik sal red, indien jy Hom aanroep. En Hy sal alles in jou lewe – insluitende jou mislukkings, probleme en beproewings – gebruik om jou voor te berei vir Sy beste, wat steeds voorlê.
Dink terug aan die tyd toe God na jou toe gekom het en jou siel bonatuurlik aangeraak het. Hy het jou na Homself geroep en jou met sy Gees vervul. Op daardie oomblik, het God ‘n verbintenis met jou gemaak: “Ek wil jou hê. En Ek eis jou op. Jy is my eiendom.” Hy het beheer van jou lewe oorgeneem, en niks sou daardie werklikheid verander nie. Jy het God se gekoopte eiendom geword: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:28).
Die Skepper van die heelal het jou met die prys van sy eie bloed gekoop. En niks het mag oor daardie bloed nie. So, jy bly God se eiendom, selfs wanneer die magte van die hel jou verlei en veroordeel. God antwoord, “Nee, duiwel, jy kan hom nie kry nie. Laat staan my eiendom!”
Beskou Israel se leier: Moses, ‘n man wat deur God besit was.
Moses was deur God besit. Die Here het hom deur beproewing na beproewing bewaar. En die hele tyd het God hierdie man voorberei vir ‘n groot werk.
Moses was aangeraak deur God terwyl hy in die Farao se huis gebly het. Die gevolg was dat Moses geweier het om Farao se seun genoem te word: “Omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die troon van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (Hebreërs 11:25-26).
Daar was geen twyfel oor God se aanraking op Moses se lewe terwyl hy in Egipte was nie. Moses het geweet hy was geroep om Israel te verlos. Maar toe hy die Egiptiese slawedrywer doodgeslaan het, moet hy uit die land vlug. Min het hy geweet hy was op die punt om ‘n lang wildernisperiode te beleef. Hy sou weggesteek word op die agterkant van ‘n woestyn vir veertig jaar, terwyl hy sy skoonpa se skape opgepas het.
Die wildernistydperk in Moses se lewe is ‘n tyd wat talle diensknegte, wat deur God besit word, beleef. Hulle voel vasgevang in ‘n plek ver benede hulle vermoëns. Hulle rol skiet hopeloos te kort teenoor dit wat hulle glo God vir hulle beplan het.
Ek het gewonder hoe dikwels Moses na sy trop skape gekyk en gebid het, “God, U het my so duidelik aangeraak. U kon my sekerlik met meer vertrou het as om hierdie paar skape op te pas. U het my ‘n opleiding by Egipte se beste opleidingsentrums gegee. U het vir my magtige dinge gewys wat deur U hand gedoen kan word. Is dit al wat daar vir my is?”
Ek glo Moses was oortuig dat die tyd vir hom uitgeloop het. Hy het geen stem en geen boodskap gehad nie. Daarom het hy homself berus om ‘n agterkant-van-die-wildernis-herder te wees. Maar God was verbind aan hierdie man. En selfs toe Moses gefrustreerd was met sy beperkte bestaan, het die Here hom bewaar en voorberei vir groter dinge.
Toe het Moses sy belewenis met die brandende bos gehad. ‘n Stem het daaruit voortgekom en gesê, “Trek jou skoene af, Moses. Jy is op heilige grond.” Die Here het toe ‘n boodskap direk tot Moses se hart gespreek en toe was Moses se lewe nooit weer dieselfde nie. God het hom beveel, “Gaan, maak die kinders van Israel bymekaar. Gaan sê vir Farao, ‘Laat my volk trek.’”
Daardie brandende bos was die vuur van die Heilige Gees wat deur ‘n natuurlike voorwerp beweeg het. God het ‘n nuttelose struik geneem en veroorsaak dat ontsaglike dinge daardeur plaasgevind het.
Wat van jou? Jy mag gefrustreerd wees met jou beperkte bestaan. Maar God is aan jou verbind, net soos Hy aan Moses was. Die hele tyd, bewaar en berei Hy jou voor vir ‘n nuwe wandel met die Here, soos jy nog nooit tevore beleef het nie, en om Christus te bedien soos nog nooit tevore nie. Jou rol is bloot om te glo dat God jou na hoër, heiliger grond sal neem.
Dawid was ook ‘n man deur God besit.
Op die hoogtepunt van God se seën, was Dawid verras deur ‘n aanval van wellus. Hierdie regverdige koning het pas ‘n string oorwinnings gevier oor vyand na vyand. Toe het Dawid vir Bátseba raakgesien en was oorval deur verskriklike wellus. Hy het owerspel gepleeg en ‘n kind by haar verwek. Dawid het desperaat probeer om hierdie verskriklike sonde weg te steek, te manipuleer en te lieg om dit toe te smeer. Uiteindelik het hy so laag gedaal dat hy die moord van Bátseba se man veroorsaak het.
As jy gedurende Dawid se tyd geleef het, sou jy waarskynlik gedink het, “God is op die punt om tou op te gooi met daardie man. Hy het gesondig teen so groot lig.” Wat verteenwoordig Dawid se laagtepunt egter vir ons vandag? Dit is ‘n beeld van die dienskneg, wat deur God besit word, wat verras is deur ‘n oorweldigende wellus. Satan probeer elke dienaar verras wat ernstig is in sy wandel met God.
Was jy al ooit verras en oorval deur een of ander wellus? Jy het ‘n rein geskiedenis, ‘n noemenswaardige wandel met Jesus. Maar die duiwel het jou in sy sig gekry, gemik en ‘n arsenaal van vurige pyle uit die hel op jou geskiet.
.Jy is moontlik in staat om te sê, “Ek het nie sulke sonde in my lewe nie. Ek het ‘n rein wandel.” Maar wat van die moeder van alle sondes, ongeloof? Miskien het jy by ‘n plek van oorwinning uitgekom, ‘n hoogtepunt in jou geloofswandel, toe jy van nêrens af oorval is deur ongeloof. Jy was geteister deur depressie, vrees, angs en selfs woede teenoor God. Skielik het jy God se teenwoordigheid in jou lewe in twyfel begin trek.
Dit maak nie saak wat jou ongeregtigheid moontlik is nie. Daar is geen sonde in jou lewe wat sou veroorsaak dat God sou tou opgee met jou nie. Jy is steeds sy gekoopte eiendom. Selfs al het Dawid God verag deur owerspel te pleeg, het die Here nie moed verloor met hom nie. Die Skrif sê die Here het Natan na Dawid gestuur en die profeet het hom gekonfronteer en gesê, “Jy het owerspel gepleeg.” Hoe het Dawid gereageer? Hy het homself verneder en het bely, “Ek het gesondig teen die HERE” (2 Samuel 12:13).
Natuurlik, het Dawid ontsettende gevolge vir sy sonde gely. Maar God het hom deur die hele vuurproef bewaar. Daarna het Natan vir Dawid gesê, “So het die HERE dan ook u sonde vergewe” (2 Samuel 12:13). Dawid was in werklikheid voorberei vir ‘n selfs groter bediening na sy val. Sy stem was regdeur die land gehoor soos nog nooit tevore nie. En vandag lees ons sy gesalfde woorde in die Psalms. Trouens, die Woord wat God aan Dawid geopenbaar het tydens sy beproewing, is ‘n woord waaroor steeds vandag gepreek word.
Petrus was waarlik ‘n man wat deur God besit is.
Hierdie dissipel wat deur God besit is, het die ergste sonde van almal gepleeg. Dit was een ding vir Moses om te vlug en vir God weg te kruip. Dit was ‘n ander storie vir Dawid om die Here te verag. Maar die erste van alles, Petrus het ontken dat hy Christus ken. Hy het selfs sy Here gevloek.
Jesus het gesê sy goeie vriend, Petrus, was ‘n rots. Hierdie moedige dissipel het selfs saam met die Here op die water geloop. En hy het vol bravade gesweer dat hy vir sy Meester sou sterf. Toe Petrus egter later daarvan beskuldig is dat hy een van Christus se dissipels was, het hy geantwoord: “Ek ken die man nie” (Matthéüs 26:72). Toe die skare daarop aangedring het, “Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie” (Matthéüs 26:74).
Kan jy jouself indink in hierdie verskriklike toneel? Het ons Petrus geken, sou ons gedink het, “Dit is dit, dit is klaarpraat met Petrus. Hy het Jesus verloën en gehelp om Hom na die kruis te stuur. Daar is geen hoop vir hom nie. God het moed verloor met hom.”
Nee! God wou nie sy eienaarskap opgee nie. Hy sou Petrus bewaar. En Hy het verklaar, “Nee, duiwel, hy is my eiendom. Kyk net wat Ek met hom gaan doen.” Petrus was deur die Heilige Gees aangekeer. En die Heilige Gees het Petrus herinner aan wat Christus gesê het: “En Petrus het die woord van Jesus onthou van Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het uitgegaan en bitterlik geween” (Matthéüs 26:75).
Die Heilige Gees het op Petrus neergedaal, hom oortuig van sonde en hom vermurwe. Die dissipel is ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees gegee. Net ‘n paar weke later, het ons ‘n heeltemal ander mens gesien. Petrus het die evangelie met vrymoedigheid verkondig by Pinkster aan ten minste 3,000 mense. Die dissipel wat van lafhartigheid ineengekrimp het voor ‘n diensmeisie, was nou ‘n vreeslose evangelis, vol vuur.
Hier is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe die Here sy eiendom bewaar en voorberei. Petrus was besig om voorberei te word selfs in sy verloëning van Jesus. Wat die duiwel as uiterste boosheid bedoel het, het God in sy eie heerlikheid verander.
God het ‘n eed gesweer om almal, wat Hy besit, te bewaar en vrugbaar te maak.
Die Here het die volgende verbondsbeloftes gemaak om vir jou vryheid, rus en oorwinning te bring:
- God het beloof om al ons sondes te oorwin. “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree [tot niet maak]; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:19). Die woord vir “vertree” beteken hier om te onderwerp of te oorwin. Die Here het beloof om alle sondige gewoontes en vestings dood te maak deur geloof en ware bekering.
- God het beloof om te veroorsaak dat ons heilig wandel. Dink jy, “Ek wil vry wees, maar ek het nie die wil om my sonde te laat staan nie?” Die Here antwoord, “Dan sal Ek skoon water op julle uitgiet, sodat julle rein kan word...En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Esegiël 36:25, 27).
- God het belowe om nooit sy eiendom te verlaat nie. Die Here tugtig ons vir ons sonde, maar Hy verlaat nooit sy saad nie: “As hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, dan sal Ek hulle oortredinge met die roede besoek...Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie. Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie. Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie! Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My” (Psalm 89:32-37).
- Hy het belowe om sy vrees in ons harte te plaas. “Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie” (Jeremia 32:40).
Terwyl jy jou eie stryd beleef, onthou dat die Here nie sal moed verloor met jou nie. Hy noem jou Sy vriend en Hy hou steeds sy hand op jou. Al waarvoor Hy vra, is ‘n bekeerde hart en vertroue op sy beloftes.
Moenie hierdie boodskap neersit sonder dat dit jou verander nie. Moenie jouself toelaat om enige moedeloosheid, slawerny, skuld, vesting of boesemsonde te dra nie. In plaas daarvan, neem besit van God se verbondsbeloftes.
Jy is die Here s’n en binnekort sal Hy jou lei na groen weivelde en rustige waters. Deur geloof, ontvang sy liefde, krag, vergifnis en vryheid. Jou beste dae lê nog voor. Amen!