Die Afgemete Heerlikheid van God

David Wilkerson

"En Hy het vir hulle gesê...met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het” (Markus 4:24-25).

Jesus het geweet hierdie woorde sou vreemd klink vir nie-geestelike ore. So Hy het sy boodskap voorafgegaan deur te sê, “As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor” (Markus 4:23). In wese het Hy vir ons gesê, “As jou hart oop is vir God se Gees, sal jy verstaan wat Ek vir julle te sê het.”

Wat presies sê Jesus in hierdie gedeelte? Hy praat van die heerlikheid van God in ons lewens – dit is, Christus se gemanifesteerde teenwoordigheid. Kortliks, die Here deel sy heerlike teenwoordigheid uit in verskeie hoeveelhede, of aan kerke of aan individue. Sommige ontvang niks van sy heerlikheid nie. Ander ontvang egter ‘n immer-toenemende mate, wat uit hulle lewens en kerke straal in groter en groter hoeveelhede.

Hier is ‘n voorbeeld: Was jy al ooit by ‘n kerk waar jy ‘n klein mate van God se heerlikheid ervaar het? Miskien het jy ‘n flits daarvan beleef tydens die aanbidding of die preek. Toe het jy na ‘n ander kerk gegaan – en toe jy daar ingeloop het, was jy dadelik oorweldig deur God se heerlikheid in daardie plek. Jy het die Here se teenwoordigheid in sy volheid daar ervaar. En dit het jou oortuig van sonde en jou gemotiveer om die gebrek aan God se heerlikheid in jou lewe reg te stel.

God het belowe om sy Gees op sy mense uit te stort in die laaste dae. Trouens, die hele Skrif dui op ‘n triomfantlike, glorieryke kerk aan die einde van tyd. Jesus self het gesê die poorte van die hel sal nie sy kerk oorweldig nie. So, dit maak nie saak hoe erg Satan sy tande wys nie, hy kan nie God se werk keer nie. Jesus het sy byt weggeneem.

Ons sal nie in die hemel aangehink kom nie – terneergedruk, depressief, kermend, verslaan en moedeloos nie. Nee – ons Here gaan groter krag vir sy kerk bring. Hierdie krag sal egter nie gemanifesteer word in tekens en wonders alleen nie. Dit sal eerder in sy mense geopenbaar word – in die heerlike verandering van harte wat deur God se Gees aangeraak is.

Die Here het reeds aan elkeen van ons ‘n mate van sy Gees afgemeet – of toegeken. Paulus het geskryf, “Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus” (Efésiërs 4:7). Aan Jesus alleen was die Heilige Gees sonder mate gegee: “Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie” (Johannes 3:34). Eenvoudig gestel, Christus het die volheid van die Gees gehad, sonder limiete.

In teenstelling hiermee, kry ons ‘n mate van God se Gees volgens sy goddelike toebedeling. Paulus skryf, “Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om meer besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het” (Romeine 12:3).

Wat is God se doel daarin om sy Gees – sy heerlikheid en teenwoordigheid - toe te bedeel aan ons in verskillende mate? Hy doen dit met een doel: “Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof...tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efésiërs 4:13).

Paulus sê hier twee dinge hier: Eerstens, as ons op God se manier gaan leef – ingetoë en met intensiteit – moet dit ons doel wees om ‘n immer-toenemende mate van sy heerlikheid te hê, totdat ons die volle volwassenheid in Christus betree. Tweedens, die mate van geloof wat vir ons gegee word, is bedoel om die res van die liggaam van Christus te bedien en toe te rus: “Volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde” (Efésiërs 4:16).

Paulus maak ‘n diepgaande stelling hier. Hy sê dat elkeen van ons ‘n werkende lid van die liggaam van Christus is – ‘n gewrig hier, ‘n spier daar. En omdat ons sulke lewegewende entiteite is, moet ons ‘n immer-toenemende mate van welstand aan die ander lede verskaf. Ons is elkeen ontwerp om ‘n bron van geloof, liefde, barmhartigheid, genade en heerlikheid te wees – alles met die doel om ‘n sterker, gesonder liggaam te vorm.

Die welstand van die liggaam hang duidelik daarvan af dat elkeen van ons in goeie gesondheid is. As een van ons geseënd is, is die hele liggaam geseënd. Net so, as een lid sondig, word die hele liggaam daardeur beïnvloed. Daarom het elkeen van ons ‘n immer-toenemende mate van Christus se heerlikheid nodig.

Laat my jou vra: hoeveel rykdom – dit is hoeveel heerlikheid en geloof – verleen jy aan Christus se liggaam? Neem sy liefde daagliks in jou toe? En op jou beurt, verleen jy krag aan ander lede? Versterk jou toestand van gesondheid die liggaam se immuunsisteem? Of het een of ander siekte jou aangetas – een of ander wêreldse begeerte wat besit van jou geneem het en die res van die liggaam beïnvloed?

Die Here berei Hom voor om sy Gees op sy mense uit te stort in hierdie laaste dae – om dinge te doen wat ons nog nooit gesien, gehoor of aan gedink het nie. En ek wil ‘n deel daaraan hê. Ek wil ‘n groter mate van sy heerlikheid in my lewe hê as wat ek ooit gehad het. En ek wil sien hoe God se heerlikheid hierdie kerk vul met soveel intensiteit dat dit nie binne gehou kan word nie.

Hoe kan ons so ‘n groter, immer-toenemende mate van Christus se heerlikheid kry? Die Here self maak dit vir ons baie duidelik: “"Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word” (Markus 4:24-25). Jesus sê, “Volgens die deel van jouself wat jy aan My toedeel, sal Ek vir jou in gelyke deel teruggee. Kortliks, Ek sal met jou handel op die manier wat jy met My handel. Wat jy ook al vir My afmeet, sal Ek vir jou afmeet.”

As jy vir God luiheid en traagheid afmeet – en sy groot werk vir vanselfsprekend opneem – sal jy ‘n gees van slaap toebedeel word. “Luiheid laat in ‘n diep slaap val, en een wat traag is, moet honger ly” (Spreuke 19:15). Die gevolg is dat jou siel honger sal ly en nie in staat sal wees om versadig te word nie. “Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ‘n gewapende man” (Spreuke 24:33-34).

Jesaja het gewaarsku van “wagte...wat dromerig lê, lief is om te sluimer” (Jesaja 56:10). Jesaja praat nie hier van natuurlike slaap nie, maar van gebrek aan belangstelling in die dinge van God. Hy beskryf ‘n volk wat ‘n min aandag aan God se werk gegee het. Israel het minder en minder van hulle tyd aan die Here afgemeet en Hom slegs kort oomblikkies van toewyding gegee.

Waarom het hulle nie ‘n groter mate van God se heerlikheid begeer nie? Hulle het sonde weggesteek. En hulle het geweet dat die eerste ding wat God se teenwoordigheid doen, is om ongeregtigheid te openbaar. Daarom het hulle vir Jesaja gesê, “Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry” (Jesaja 30:10).

Wat in Israel gebeur het, gebeur vandag in God se huis. Die belangrikste rede vir die verlies van God se heerlikheid in sy kerk is nie dwelms, alkohol of seks nie – maar ‘n gees van luiheid. Menigtes van Christene wy ure toe aan sport, films, inkopies en plesiere van alle soorte. Daarenteen wy hulle ‘n immer-verminderende hoeveelheid tyd aan God toe.

Soos die Israeliete, wil hierdie mense nie ‘n harde, profetiese woord hoor nie. Hulle is verslaaf aan voorspoed en gemak. En hulle opgewondenheid oor die dinge van God neem af. Hulle bring ure voor die TV deur en laat toe dat hulle gedagtes vol word met onreinheid – omdat hulle toenemend lui word in gees.

Sommige van hierdie Christene is dieselfde mense wat kla, “God se heerlikheid is nie meer so teenwoordig in my kerk soos dit eens was nie.” In der waarheid word sy heerlikheid nie in hulle individuele lewens toebedeel nie – omdat hulle nie kwaliteit tyd aan Hom toedeel nie.

Moenie verkeerd verstaan nie – ek stel nie voor ons kan vir God iets goeds in onsself afmeet wat veroorsaak dat Hy vir ons sy heerlikheid afmeet nie. Nee – ons kan nooit sy teenwoordigheid verdien nie, nie deur enige hoeveelheid werke, ywer of menslike goedheid nie. Ons moet onthou ons Here het ons in ons sondes gevind – ons in ons hulpeloosheid liefgehad toe ons niks gehad het om vir Hom toe te bedeel nie. “Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie” (Romeine 10:20).

Inderdaad, God se liefde, barmhartigheid en genade teenoor ons is grensloos. Die kwessie hier is egter nie om sy liefde, barmhartigheid of genade te verkry nie – maar om die seëning van sy heerlikheid in ons lewens te hê.

Jesus stel dit duidelik dat Hy verskillende hoeveelhede van sy heerlikheid vir ons afmeet, ooreenkomstig hoe ons ons harte vir Hom afmeet. Ons werk is eenvoudig om altyd nader aan Hom te beweeg – in ons aanbidding, gehoorsaamheid en ywer.

Ons sien hierdie waarheid herhaal word regdeur beide Testamente: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jakobus 4:8). “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deuteronómium 4:29). “Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede” (Psalm 34:17).

Jesus se stelling is ‘n direkte uitdaging aan ons: “Hoe desperaat wil jy my teenwoordigheid in jou lewe hê? As jy meer wil hê, gaan dit iets van jou verg. Ek belowe jou egter – as jy ‘n poging aanwend om nader aan My te kom en vir My ‘n immer-toenemende mate van jouself gee, sal Ek groter hoeveelhede van my heerlikheid aan jou toedeel. Ek sal aanhou terugkom na jou toe met meer, meer, meer.”

Op hierdie oomblik is die kerk van Jesus Christus in Amerika in die moeilikheid. Ons nasie roem in duisende kerke waar God verheerlik word. In talle kerke, word daar egter niemand gered nie. Die mense strompel in asof hulle na ‘n begrafnis gaan. Ander verlaat dit in hordes. Jongmense wil nie eers by die deure inkom nie. Die gevolg is dat ‘n hele geslag vandag God nie ken nie. Hulle het nog nooit God se teenwoordigheid of salwing ervaar nie.

Iets is verskrikliks is verkeerd in die kerk wanneer God se mense kan skree, sing en dans en Hom loof, maar egter nooit verlos word van hulle boeie van wellus en boesemsondes nie. Dit is kommerwekkend as God se herders tevrede is solank hulle kerkdienste glad verloop, hulle begroting klop en hulle ‘n vaste salaristjek kry.

Die enigste kerke wat vandag besoek word met ‘n immer-toenemende mate van God se heerlikheid, is diegene wat in desperaatheid tot Hom uitroep. Hulle is oortuig, “Dit  is laat – ons moet wakker word. Ons moet besig wees in God se dinge in hierdie laaste uur.”

Jesus verseker sulke gelowiges, “En daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor” (Markus 4:24). Wat is die “meer” wat Christus belowe om te gee? En wat beteken dit vir ons om te hoor? Die Griekse woord vir hoor beteken om te verstaan. Jesus sê met ander woorde, “Julle moet verstaan wat die Gees vir julle sê.”

Gemotiveerde Christene hoor God se Gees hulle aanpor, “Meet vir My ‘n hart af wat daarop ingestel is om My te soek. Laat my iets sien van belang, van behoefte, van gebrokenheid. Bedien My met ‘n uitroep soos wat jy nog nooit tevore uitgeroep het nie. Dan sal Ek hoor – en Ek sal vir jou my immer-toenemende krag en verlossing toebedeel.”

Hierdie gelowiges hoor die Heilige Gees hulle vertel dat hulle hartstoestand moet verander. Hulle besef hulle het die dinge van God vir vanselfsprekend geneem – en voortgegaan uit gewoonte, sonder diepe oortuiging. Daarom het hulle begin om veranderinge te maak. Hulle het meer tyd aan God toebedeel vir gemeenskap met Hom. En hulle het ‘n voorraadopname geneem van hulle hart se gesindheid teenoor sy huis en werk. Hulle bid, “Here, ek wil meer van U hê. Moenie toelaat dat ek afvallig word in my ywer vir U en u heilige belange nie.”

Nou sien hulle die resultate. ‘n Nuwe vreugde vloei diep in hulle siele. Hulle ervaar meer van God se teenwoordigheid in hulle lewens en hulle het vrede soos ‘n rivier. Hulle ontvang wat die Here aan hulle beloof het – ‘n groter maat van heerlikheid, seën, salwing – omdat hulle vir Hom ‘n groter mate van hulself toebedeel het.

Jesus verseker ons, “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33). Hy sê in wese, “Hou aan om meer van jouself vir My te gee – en Ek sal meer van my heerlikheid op jou uitgiet. Al jou wêreldse sake kan wag. Soek my eerste en Ek sal jou belange behartig. Ek kan meer vir jou doen in een uur as wat jy in jare probeer doen.”

Nou dat jy God se heerlikheid terug het in jou lewe, belowe Jesus, “daar sal bygevoeg word” (sien Markus 4:24). Hy sê, “Jy het tot dusver nog nie die beste beleef van wat Ek vir jou wil doen nie en Ek sien jou ywer om meer van jouself aan My toe te bedeel. En Ek gaan meer vir jou doen.”

God begeer altyd om meer van sy heerlikheid oor sy mense uit te giet. Hy verlang om vir ons “ver bo alles wat ons bid of dink” (Efésiërs 3:20) te doen. Dit is waarom Hy mense wil hê wat ‘n rasende aptyt het vir meer van Hom. Hy wil hulle vul met sy wonderlike teenwoordigheid, meer as enigiets wat hulle ooit tevore in hulle leeftyd beleef het.

Jesus het gesê, “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Om hierdie oorvloedige lewe te kan hê, moet ons meer en meer daarin oorvloedig wees om die Here te behaag. Paulus skryf, “Verder...vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees” (1 Thessalonicense 4:1). “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here” (1 Korinthiërs 15:58).

Die Griekse woord vir oorvloedig beteken om te oorskry, uit te blink, super-oorvloedig te wees – om genoeg te hê en nog oor, bo en behalwe, oormatig, meer as, uitermate, oneindig. Paulus sê in wese, “God se heerlikheid in jou lewe gaan die oomblikkies wat jy tot nou gekry het, oorskry. Maar jou gebede moet meer wees as net die seën vra oor jou maaltye. Nou gaan jy soggens, smiddae en saans bid sonder ophou.”

“Wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging” (Kolossense 2:6-7). Paulus beveel ons, “Om hierdie oorvloedige lewe van God se heerlikheid en teenwoordigheid te hê, moet julle Hom dien bokant mate – met ‘n liefde en toewyding wat dié van lui, slapende dienaars oorskry.”

“Wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand” (Efésiërs 1:8). God wil vir jou heerlikheid en openbaring afmeet meer as enige vorige mate. “Deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het” (Efésiërs 1:9). Die Here sê in wese, “Ek gaan vir jou ‘n dieper begrip van my Woord oopmaak. Ek wil vir jou openbarings van sy verborgenhede gee.”

Die Here wil vir jou voorsien in alle dinge, sodat jy Hom kan dien sonder mate. “En God het mag om alle genade oorvloedig oor jullle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Korinthiërs 9:8).

“Wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het” (Markus 4:25). Wanneer God sy mense hoor uitroep na Hom, kom Hy getrou na hulle toe. Gedurende tye van apatie en luiheid, mag God egter opsy staan en sy teenwoordigheid heeltemal verwyder.

Dit is waaroor Jesus waarskuwing handel. Voor God sy teenwoordigheid verwyder van ‘n persoon of kerk, bring Hy altyd eers ‘n waarskuwing. Hoe doen Hy dit? Hy lei sy Heilige Gees om elke persoon op die kerk se personeel aan te raak. Hy lê boodskap na boodskap op die herder se hart en roep almal in die kerk om alle luiheid te verwerp, op hulle aangesigte te val en met elke wortel van sonde te deel. (Die Here het dit verskeie kere by Time Square Church gedoen regdeur ons dertien jaar van bestaan).

Skielik kom die mense onder sonde besef. Hulle besef hulle het gehoor hoe God se waarheid gepreek word week na week, maar hulle het dit nie ernstig opgeneem nie. Hulle het onrein hande opgehef in aanbidding. En hulle het vasgehou aan bitterheid en ontevredenheid. Hulle het eenvoudig nie toegelaat dat God se woord hulle aanraak nie. In plaas daarvan, het hulle dit laat verbygaan sonder om daarna te luister.

Nou het God die kerk in kennis gestel. Hy sê vir hulle, “Al hierdie louwarmheid en apatie wat Ek sien – dit is nou genoeg. Ek gaan dit beëindig.” Dit is nie ‘n dreigement nie – en dit word nie in woede gespreek nie. Dit is bloot God se manier van sê, “Ek het hierdie kerk in hierdie buurt geplaas, hierdie gemeenskap, hierdie dorp vir ‘n rede. Ek wil dit oorvloedig laat wees met ‘n onmeetbare heerlikheid. Ek wil die verlorenes laat weet wanneer hulle hier inloop, dat iets magtigs aan die gebeur is. Ek wil hulle laat besef, ‘Dit is wat ek my hele lewe lank na gesoek het.’”

As ons draal in ‘n toestand van luiheid en nooit toelaat dat die Heilige Gees van ons besit neem en ons reinig nie, kan ons uitmis op wat God vir ons wil gee. “Wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het” (Markus 4:25).

Jy mag die gelykenis van die talente onthou waarin ‘n lui dienaar een talent gegee is en hy dit begrawe het. Hierdie dienaar was tevrede met die status quo. Hy was nie van plan om toe te bedeel en af te meet meer as wat hy gehad het nie. Hoe het sy meester gereageer? Hy het die dienaar se talent weggeneem en dit vir die ander dienaar, wat reeds tien gehad het, gegee.

Ons sien hierdie soort luiheid geïllustreer in Israel se geskiedenis. Die Israeliete het eens God se teenwoordigheid gehad. Maar oor die jare, het hulle toegelaat dat afgodery en wellus insluip en hulle heeltemal verontreinig. Uiteindelik het hulle hul hart vir die dinge van God verloor. Hulle het voortgegaan om sy huis te besoek, maar het dit gedoen net uit tradisie en vleeslike vrees.

God het vir Israel gesê, “Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel” (Jeremia 7:12). Die Psalmis getuig, “En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense” (Psalm 78:60). “En die HERE het weer verskyn in Silo; want die HERE het Hom geopenbaar aan Samuel in Silo deur die woord van die HERE” (1 Samuel 3:21).

Silo was die huis van God. Daar was ‘n duidelike woord verkondig deur die profeet Samuel en God se Gees was magtiglik teenwoordig. Maar met verloop van tyd, het Silo in verdorwenheid verval deur die hoëpriester, Eli, en sy goddelose seuns. Nou het God weer in Silo verskyn en was haastig om sy huis te herbou en die onheilige priesterskap tot bekering te bring.

Maar Eli en sy seuns het traag gebly. Eli het vet en lui geword en in gemak geleef, terwyl sy seuns voortgegaan het om God te spot, selfs terwyl hulle in sy huis bedien het. Uiteindelik het God gesê, “Ek sal nie toelaat dat my heerlikheid bly in ‘n plek waar onreinheid teenwoordig is nie.”

Daarom het God Silo verlaat. Hy het sy heerlikheid van Israel verwyder en ‘n geestelike dood het oor die nasie gekom. Eerstens was die ark gesteel. Toe het Eli omgeval weens sy eie gewig en sy nek gebreek. Uiteindelik het die hoëpriester se skoondogter geboorte gegee aan ‘n seun en hom Íkabod genoem en dit beteken, “Weggevoer is die eer uit Israel” (1 Samuel 4:21).

As jy dink dit is slegs ‘n Ou Testament oordeel, toebedeel weens luiheid en verdorwenheid, lees God se waarskuwing aan die Nuwe Testamentiese kerke in Openbaring:

  • Aan die kerk by Éfese: “Maar Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openbaring 2:4-5).

  • Aan die kerk by Pergamus: “So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat. Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond” (Openbaring 2:15-16).

  • Aan die kerk by Laodicea: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks ‘n gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Openbaring 3:15-17).

In elke geval, het God ‘n letterlike “anders kom Ek” waarskuwings aan sy kerk. Waarom? Hy berei ‘n rein, vlekkelose bruid voor vir sy Seun. Hy maak slapende maagde wakker en sy Gees roep uit na hulle, “Kyk, die Bruidegom kom. Maak jouself gereed om Hom te ontmoet.”

Vandag kom ‘n gees van goddeloosheid en ‘n bespotting van heilige dinge steeds vanaf baie preekstoele. God se suiwer woord kom egter ook na vore, net soos dit deur Samuel gekom het. Die Here waarsku, “As jy daarop aandring om aan jou sonde vas te hou, sal Ek selfs wegneem dit wat jy dink jy besit. Ek sal my teenwoordigheid wegneem uit jou lewe, jou kerk, net soos ek met Silo gedoen het.”

Dit het reeds gebeur in kerke oral oor die wêreld. Die heerlikheid wat hierdie gemeentes eers geniet het, het heeltemal verdwyn – omdat hulle geweier het om enigiets aan die Here toe te bedeel.

Net so, as jy weier om jouself op te wek om die Here met jou hele hart te soek – as jy steeds vir hom ‘n klein mate van jou tyd, toewyding, gehoorsaamheid toebedeel – sal jou oortuiging en kennis verdwyn.

Ek vra jou - word jou gebede nie beantwoord nie, omdat jy so min van jouself vir God gee? Hy wil nie sy teenwoordigheid van jou af wegneem nie. In teendeel, Hy wil ‘n groter mate van sy seëninge op jou uitgiet. Op hierdie oomblik staan Hy gereed om jou uit jou luiheid en slaap wakker te maak – om jou nader na Homself te trek en jou te vul met sy heerlikheid.

Dit maak nie saak hoe swak jou vlam geword het nie. Roep doodeenvoudig tot Hom uit, “O, Jesus – Ek wil nie mis wat U op die punt is om te doen nie.” Hy is getrou om na jou te kom – en Hy sal meer vir jou gee. Daarom, bedeel ‘n groter mate van jouself aan Hom toe – en jy sal oral die bewyse sien van sy teenwoordigheid, heerlikheid en liefde vir jou.