Die Basuin Blaas Maar Niemand Skrik Nie
Van al die Ou Testament profete, praat Amos die duidelikste oor ons tyd. Die profesie wat hy bring, fokus in op ons geslag, asof dit uit vandag se hoofberigte kom. Amos se boodskap is inderdaad ‘n dubbele profesie. Dit was nie net bedoel vir God se volk in húlle tyd nie, maar ook vir die kerk nou, in ons tyd.
Amos beskryf God as ‘n brullende leeu, gereed om Israel met oordeel te tref: “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here het gespeek, wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:8). Die profeet het verklaar, “God het opgestaan soos ‘n brullende leeu, gereed om sy prooi te vang. En as ek hierdie leeu se gebrul hoor, moet ek waarsku.”
Die Here het Amos gebruik om Israel te laat wakker word. Wat was sy boodskap? God was op die punt om oordeel oor sy volk te bring vir hulle oorweldigende boosheid en verdorwenheid.
Natuurlik, oordeel God nooit ‘n volk sonder om eers profetiese stemme op te rig om hulle te waarsku nie. “Want die HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). Nou, terwyl Amos die wolk van oordeel sien saampak het, was hy verplig om te spreek: “Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?” (Amos 3:6). Amos se boodskap hier is ysingswekkend: God het die basuin van waarskuwing vir sy volk geblaas. Maar niemand skrik nie.”
Huidiglik wil bitter min ‘n boodskap wat met oordeel te doen het, hoor. Ons nasie is reeds vol vrees. Ons verwag nog ‘n terroriste aanval enige minuut. En die ekonomie lyk swakker as ooit tevore. Mense sê, “Ek kan dit nie meer hanteer nie.”
Maar die Here praat wanneer Hy wil. En sy Gees verskaf vir ons krag om sy Woord te hoor, soos wat dit deur sy gesalfde dienaars verkondig word. Ons Here sal getrou sy mense bemagtig om wat ook al mag kom, te verdra.
Toe Amos geprofeteer het, het hy die heidense nasies rondom Jerusalem aangespreek. Hierdie nasies sou sekerlik onder God se toorn val. Hulle het Israel se grense gesteel, teen hulle oorlog gevoer en hulle kinders doodgemaak.
Nou het Amos egter gesê, “Hoor hierdie woord wat die HERE oor julle gespreek het, o kinders van Israel” (Amos 3:1). Die leeu se gebrul was teen Israel self. God se volk was op die punt om gestraf te word, omdat hulle die suiwer aanbidding van die Here verdorwe het: “Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; daarom sal Ek besoeking doen oor al julle ongeregtighede” (Amos 3:2).
Daar is ‘n goddelike wet wat deur die Skrif weerklink. Dit sê in wese, “Hoe groter die maat van genade wat op ‘n volk uitgestort word, hoe groter oordeel sal op daardie volk val, indien God se genade verag word.” As ‘n volk baie waarheid gegee is, is hulle verantwoordelik vir meer. En as hulle daardie waarheid verdorwe, sal hulle oordeel verdubbel word.
Op die oomblik is God sekerlik besig om Amerika vir sy goddeloosheid te oordeel. Ek dink aan al die maniere waarop ons nasie sy Naam van die publiek verwyder. Toe ek grootgeword het, was ek geleer dat Amerika ‘n Christen nasie was, gestig deur goddelike manne wat vryheid gesoek het om die Here in waarheid te aanbid. Natuurlik maak Suid Afrika en ander nasies ook aanspraak op dieselfde oorsprong.
Ek het geen twyfel nie, dat God sekere nasies soos Amerika geseën het om te help om die wêreld te evangeliseer. In sy kinderskoene, was hierdie land die nasie wat die meeste sendelinge uitgestuur het op aarde. Amerika het herders, leeraars en evangeliste regoor die wêreld uitgestuur. In die tussentyd het ‘n heilige volk by die huis die vloedgolf van ongeregtigheid teruggehou. Goddelike leiers, toegewyde predikers en ywerige gemeentes het opgestaan om die Here se Naam te verheerlik.
Maar ongeregtigheid het begin toeneem. God se Naam was bespot. En ons nasie het plesiermal geword. Ons het ons gewend tot afgode van rykdom, voorspoed en materiële gewin. En ons het vinnig ons ywer en deernis vir die verlorenes verloor. Nou was ons nie meer ‘n nasie wat baie sendelinge uitgestuur het nie. In plaas daarvan, voer ons ‘n evangelie van voorspoed en gierigheid uit.
In sy groot liefde en wysheid, het die Here verlang om ons nasie te suiwer met ernstige tugtigings. Hy het droogtes, vloede, finansiële ineenstortings, tornado’s, orkane en drastiese weerveranderings toegelaat. Hy het die basuin hard geblaas. Maar niemand skrik nie.
Baie bedienaars maak daarop aanspraak, “God is nie só nie. Hy is nie verantwoordelik vir enige van hierdie tragedies nie. Dit is alles die duiwel se werk.” Ek kan jou nie vertel hoeveel hierdie predikers my vertoorn nie. Hulle ken nie hulle Bybel nie. Beskou die volgende uit Amos:
- * “Alhoewel Ék julle reinheid van tande gegee het in al julle stede en broodsgebrek in al julle woonplekke – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here” (Amos 4:6). God vertel duidelik vir sy mense dat Hy op die punt is om in hulle midde ‘n ekonomiese ineenstorting te veroorsaak.
- * “Alhoewel Ék julle reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander stad nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het” (Amos 4:7). Die Here is duidelik in beheer van alle weer, goed of sleg.
- * “En twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE? (Amos 4:8). God is in beheer van droogte. En huidiglik is daar state wat water moet rantsoeneer, weens ernstige tekorte.
- * “Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE” (Amos 4:9). In onlangse maande, is New York ingeneem deur Japanese kewers. Hierdie peste maak bome dood in Central Park en vernietig uitgestrekte gebiede van woude in die res van die staat.
- * “Ek het julle...swaar getref” (Amos 4:9). Wie is verantwoordelik vir al hierdie dinge? God wil dit absoluut duidelik in ons gedagtes hê: Hy is verantwoordelik vir dit alles. “Ek het die pes onder julle gestuur, op die manier van Egipte; Ek het julle jongmanne met die swaard gedood saam met die wegvoering van julle perde; en Ek het die stank van julle laer laat opstyg, ja, tot in julle neus – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE” (Amos 4:10).
Jy kan nie vir my vertel die Here is nie verantwoordelik vir al die oordele wat ons beleef nie. Baie bedienaars stel God voor as ‘n vriendelike, liefdevolle oupa. Natuurlik is die Here barmhartig en genadig. Maar wat hierdie herders nie verstaan nie, is dat God se oordele sy barmhartigheid en genade is. Hy sê, “Keer terug na My, Ek het hierdie tugtigings gestuur om julle nasie te reinig en julle aandag te kry. Julle het so diep gesondig, dat julle julself verblind het. Nou is oordeel die enigste taal wat julle sal verstaan. Dit gaan alles oor my liefde vir julle.”
Amos praat van God se oordele as “groot beroering in die midde van die stad” (Amos 3:9). Die woord beroering beteken ‘n staat van verwarring. Met ander woorde, die nasie sou verander word in chaos en wanorde deur geweldige aanvalle van geweld en skrik.
“Ja, hulle weet nie om reg te doen nie, spreek die HERE – hulle wat geweld en verdrukking opstapel in hulle paleise” (Amos 3:10). Wat bedoel Amos hier wanneer hy na paleise verwys? Hy praat van wat ons groot besighede of groot korporasies noem.
Dink aan al die gebeurtenisse wat op hierdie oomblik in ons nasie ontvou. Talle van die mees gerespekteerde besighede in die geskiedenis word ontbloot vir “rowery in hulle paleise.” CEOs van betroubare instellings het aandeelhouers verkul deur skelm boekhoudingpraktyke. Hulle het duisende werknemers afgedank. In die tussentyd het hulle groot neseiers vir hulleself opgebou. Selfs terwyl hulle ander verarm, het hulle rykdom vir hulle eie ontvlugting weggebêre.
Amos verklaar, “Jou paleise sal geplunder word” (Amos 3:11). Hierdie eens onwrikbare korporasies word nou bankrot verklaar. Wall Street sidder. Die ergste van alles, Amos voorspel ‘n plaag van vrees, weens aanvalle van vrees van kus tot kus: “’n Vyand! En dit rondom die land; en hy sal jou vesting van van jou af neerwerp” (Amos 3:11). Kan die profeet se woord meer tydig wees? Hy waarsku, “’n Vyand gaan jou kroon van heerlikheid neerwerp. Daardie paleise van mag en rykdom waarin jy geroem het, sal tot op die grond afgebreek word.”
Na al hierdie dinge, sal ‘n ekonomiese leeu verskyn en hy sal die rykdom en voorspoed van diegene, wat ryk geword het deur diefstal, verslind: “Soos ‘n herder ‘n paar pote of ‘n oorlappie red uit die bek van ‘n leeu, net so sal gered word die kinders van Israel wat daar in Samaria in die hoek van ‘n bed of op die damás van ‘n rusbank sit” (Amos 3:12).
Wanneer ‘n leeu sy prooi verslind, vreet dit totdat daar niks oor is behalwe been nie. Dit is presies wat Amos gesê het sy vyand sal doen aan die weelderige rykes. Hy sal niks laat oorbly, behalwe oorblyfsels van hulle oneerlik verkryde rykdom nie. Amos vertel vir hulle, “Julle het gedink julle is veilig weens die miljoene wat julle weggesit het. Maar ‘n brullende leeu gaan dit alles verslind. Wanneer hulle klaar is, sal daar niks oor wees behalwe ‘n karkas nie.”
Geliefde, dieselfde basuin van waarskuwing word vandag in Amerika geblaas. Maar bitter min mense skrik daarvoor.
Die Skrif sê die oordeel begin by die huis van God. Inderdaad, voor die Here enige nasie neerwerp, sal Hy sy toorn aan sy kerk openbaar: “Hoor en waarsku die huis van Jakob...dat Ek in die dag as Ek die oortredinge van Israel aan hom besoek, ook besoeking sal doen oor die altare van Bet-el” (Amos 3:13-14). Hier verteenwoordig die huis van Jakob, die kerk, God se volk.
Dink aan wat Amos tot op hierdie punt geprofeteer het: God sal sekerlik elke nasie, wat sy rug op Hom gedraai het, oordeel. Hy sou bose vyande toelaat om daardie nasies te plunder en te terroriseer. En elke persoon wat hulle na goddelose plesier en losbandigheid gewend het, sal verneder en laag gebring word. Te midde van al hierdie dinge, is God se primêre belang steeds sy kerk. Hy was begaan oor sy mense, diegene wat hulleself by sy Naam noem.
Dit maak nie saak of ons regering God se naam van ons munte, ons howe, ons skole en publieke byeenkomste verwyder nie. Nie een van hierdie dinge bedroef die Here soveel soos die goddeloosheid in sy kerk nie. God lag oor die goddelose se dwase pogings om Hom uit die samelewing te verwyder. Hulle dag van afrekening het reeds begin. Selfs nou word hulle deur sy toorn besoek. Maar die mense wat God die meeste seermaak, is sy eie familie. Hy word die diepste gewond deur die goddeloosheid van sy kinders.
Die Here het nou sy fokus gerig op wat met Israel se altare gebeur het. Die naam Bet-el beteken “huis van God, plek van suiwer aanbidding.” Dit was eens gesê van hierdie altare, “Die HERE is op hierdie plek” (Génesis 28:16). Trouens, Jakob het Bet-el ‘n vreeslike plek genoem (sien Génesis 28:17). Hiermee bedoel hy ‘n plek van eerbied, omdat God sy teenwoordigheid daar gemanifesteer het.
Bet-el was waar Jakob die leer, wat tot by die hemel gestrek het, gesien het. Dit was ‘n heilige plek van aanbidding, waar God ontmoet het met diegene wat Hom in reinheid soek. Dikwels, regdeur Israel se geskiedenis, het die Here na homself verwys as “die God van Bet-el.” En op een stadium, het Hy Jakob beveel om die altare daar te herstel.
God het kortliks vir Israel vertel, “Ek is op die punt om julle bose nasie te oordeel. Die wêreld sal sidder weens die oorlog en geweld wat oor julle sal kom. Ek sal vloede, droogtes, pes en sarsies van heuningdou stuur. Julle ekonomie sal ineenstort en julle rykdom verslind word. Tog, op dieselfde tyd wat Ek hierdie dinge doen, sal ek Bet-el besoek. Ek sal my oordeel op my volk uitstort, omdat hulle my altare verontreinig het. Ek gaan hulle vir hul verdorwe aanbidding straf.”
Dit het voorheen by Bet-el gebeur. Toe Jeróbeam koning geword het, het hy die aanbidding daar verdorwe: “Daarom het die koning...twee goue kalwers gemaak en aan hulle gesê...hier is...jou gode...En die een het hy in Bet-el opgerig en die ander in Dan opgestel. En hierdie saak het tot sonde geword; ja, die volk het voor die een gaan aanbid...en priesters aangestel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie” (1 Konings 12:28-31).
Eerstens het Jeróbeam afgode in die aanbiddingsplekke opgerig. Toe het Hy die kriminele element van die samelewing geneem, mense wat geen hart vir God gehad het nie en hulle as priesters aangestel. Israel se aanbidding was heeltemal verdorwe, omdat dit uit bose, sondige harte gekom het. So, van Jeróbeam se heerskappy af tot by Amos se tyd, het God Bet-al verag as ‘n plek van mengsel. En hy het uiteindelik hierdie valse aanbidding geoordeel. Hy het die altaar daar neergewerp en dit uitmekaar geslaan.
Vandag, bly daar ‘n gees van Bet-el oor in die kerk. Dit is ‘n afvallige geestelike toestand. En sy hoof kenmerk is ‘n aanbiddingsmengsel wat bedoel is om skares te lok. Dit is ‘n uiterlike vertoon van vlees, vol van ywer en uitgelatenheid. Maar dit is totaal en al sonder enige heiligheid. En dit verstrik talle in hierdie laaste dae. Hoe meer mense glo dat hierdie aanbidding van God af is, hoe blinder word hulle. En die Here is vasbeslote om dit alles te oordeel. Hy waarsku, “As julle in hierdie verdorwe aanbidding betrokke is, vermenigvuldig julle net jul sondes.”
Weereens het God by hulle aangedring, “En laat van wat gesuurd is, ‘n lofoffer rook, en roep vrywillige offers uit” (Amos 4:5). Waarom het Hy dit gesê? Dit was omdat die wet verbied het dat daar enige suurdeeg teenwoordig was in ‘n vleisoffer, wat deur vuur verbrand moes word (sien Levitikus 2:11). Gesuurde brood was immers slegs vir die priesters bedoel. Net so, moes elke dankoffer van brood “ongesuurde koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk” wees (Levitikus 7:12).
Hierdie ongesuurde offergawes was almal bedoel as illustrasies. Dit het die lofprysing, wat suiwer is, aangetoon. Regdeur die Skrif, word suurdeeg gesien as ‘n tipe van sondige vlees. Dit was soms gebruik om na melaatsheid te verwys. God se boodskap hier is duidelik: “Julle lofoffers is vol van vlees. Ek sal slegs die offers aanvaar wat heilig is en geoffer word deur rein hande en suiwer harte. Daar kan geen suurdeeg wees nie, geen vleeslike toegewings in my teenwoordigheid wees nie.” “Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid nie en nie vals sweer nie” (Psalm 24:3-4).
Uiterlik was die Bet-el aanbidders baie godsdienstig. Hulle het elke oggend ywerig geoffer. En hulle was getrou om tiendes en gawes te gee. Weereens, het God by hulle aangedring, “En bring julle slagoffers in die môre en julle tiendes” (Amos 4:4). Hy het gesien hierdie mense begin elke dag met lof en aanbidding. Hulle was vol blydskap as hulle na hulle lofprysingsbyeenkomste gegaan het. Die beweging van Bet-el aanbidding het immers so gewild geword, dat dit uitgebrei het na stede dwarsdeur die gebied, van Bet-al tot Gilgal tot Bérseba.
Maar die Here het hulle almal gewaarsku: “Maar soek nie Bet-el, en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Bérseba nie...en (dit) sal tot niks word nie” (Amos 5:5). God was op die punt om alles neer te werp. Hy sou al hulle gesuurde offers van lof en aanbidding verteer. Waarom! Omdat die mense “die geregtigheid teen die grond gooi” (Amos 5:7).
God het steeds ‘n heilige, afgesonderde oorblyfsel wie se offers van lofprysing suiwer is. Hierdie goddelike heiliges word nie vasgevang in wêreldse strewes nie. Hulle aanbidding het die klank van magtige, bruisende waters. En hulle harte is gebroke voor die Here en hulle het ‘n heilige eerbied vir Hom. Uit so ‘n eerbied kom daar glorieryke uitroepe van lof.
Tog is daar menigtes in die kerk wat altyd op die uitkyk is vir ‘n nuwe ding. Hulle wil nuwe en opwindende maniere hê om God te aanbid. Daarom kies hulle Bet-el altare uit waar lof luid en vol blydskap klink. Maar die aanbidding in hierdie plekke word gelei deur mense, wat nie ween oor die sonde in God se huis nie. Hulle lofprysing mag uitgelate en kleurvol wees. Maar daar is geen ware teenwoordigheid van Christus nie. En daar is geen beskerming teen die misleiding van die vlees nie.
Dit was waarskynlik opwindend om deel te neem in die lofprysingsbyeenkomste by Bet-el. Maar daardie aanbidders was glad nie besorg oor die dinge van God nie. Hulle het nie die armes gehelp of uitgereik na die behoeftiges nie. In plaas daarvan, was hulle lofprysings vol vlees en suurdeeg. Amos het gewaarsku, “Soek dan die HERE...sodat Hy nie teen die huis van Josef uitbreek soos ‘n vuur wat verteer...nie” (Amos 5:6). Net so, laat my hierdie waarskuwing van die Here bied: preek jou prediker nie woord wat sonde ontbloot nie? Is daar geen goddelike tugtiging, geen oproep tot bekering, geen waarskuwing om sonde te laat staan nie? Dan aanbid jy waarskynlik by ‘n Bet-el altaar. En jy is in groot gevaar om mislei te word.
God het verklaar, “[Dan sal Ek] ook besoeking...doen oor die altare van Bet-el, sodat die horings van die altaar afgekap sal word en op die grond val.” (Amos 3:14). Dit was ‘n vernietigende woord. In die Ou Testament het die hout altaar in die tempel vier uitgekerfde horings op sy hoeke gehad. Hierdie horings was met koper bedek en was in die vorm van ‘n ramshoring. Die horings verteenwoordig die reg van toevlug. Deur hulle vas te gryp, het die oortreder homself onder die beskerming van God se reddende, bewarende genade geplaas. As ‘n jong seun, het ek baie goddelike ou manne gehoor sê, “Ek is veilig, Here. Ek het die horings van die altaar vasgegryp.”
Ons sien hierdie soort toevlugsoord geïllustreer in die lewe van Dawid se seun, Adonia. Hierdie rebelse man het probeer om die troon van Israel te wederregtelik in besit te neem. Maar Dawid se ander seun, Salomo, het ‘n doodsbevel teen Adonia uitgereik. Paniekerig het Adonia na die tempel gehardloop en die horings van die altaar vasgegryp. Sy lewe was gespaar.
Nou het God vir Amos vertel dat Hy daardie ontsagwekkende horings van beskerming sou afsny. Die Here sou die horings van die altaar verwyder en dit op die grond werp. Dit het beteken die mense sou nie meer onder sy beskerming wees nie. In plaas daarvan, sou hulle oop wees vir groot misleiding. Hulle sou geen sekuriteit teen valse leerstellinge of valse aanbidding hê nie.
In Afrika, kom menigtes van regoor die wêreld bymekaar om ‘n man te hoor wat daarop aanspraak maak, dat God vir hom profesieë in sy moeder se baarmoeder gegee het. Amerikaners veral, reis by die honderde soontoe om ‘n “persoonlike profesie” te ontvang van hierdie man. Maar die boodskap is heeltemal onbybels en lasterlik. Hierdie onwyse soekers word deur misleiding in ‘n strik gevang.
In ‘n Balkan staat is daar ‘n profetes wat daarop aanspraak maak dat sy mense op reise na die hel neem. Hierdie vrou was voorheen ‘n heks en sy sê sy was eens self in die hel. Sy beveel mense om op die vloer te lê en hulle verstand oop te stel, terwyl sy hulle lei deur ‘n verbeeldingsreis van wat sy deurgemaak het. Mense stroom na haar vir die belewenis. Maar dit is alles onskriftuurlik en ‘n uiterste verwarring. Daar is inderdaad iets boos wat onderliggend is aan hierdie werk.
In Brasilië, belowe ‘n evangelis om kanker in mense te genees vir $1,000. Hy doen ook gratis duiweluitdrywings. Hy het ‘n reuse getal volgelinge versamel en hy word ryk uit sy aansprake. Dit is egter totaal onbybels, ‘n algehele misleiding.
Amerika self, het die wêreld se ergste smokkelaar van misleidende evangelies geword. Hoe? Christene het ongeletterd in die Bybel geword. Hulle maak nie meer tyd om God se Woord te lees nie. Hulle is nie gewillig om te vas, of tyd in gebed te spandeer nie. In plaas daarvan, hardloop hulle hiernatoe en daarnatoe en soek leerstellinge, wat die vlees behaag van een of ander gekompromitteerde evangelis.
Hoe kon menigtes van gelowiges vir sulke misleidings val? Hoe kon hulle so maklik op ‘n dwaalweg gebring word? Hoe kon hierdie massas so blind word vir valse werke van die vlees? Amos vertel vir ons waarom: hulle beskermende mure is afgebreek, weens sonde. God het die horings van die altaar verwyder. En die mense het alle onderskeiding verloor. Sulke gelowiges sal onder die eerstes wees wat die Antichris omhels.
“Ook sal daar in al die wingerde [kerke] weeklaag wees wanneer Ek in jou midde deurtrek, sê die HERE. Wee die wat na die dag van die HERE verlang! Wat sal tog die dag van die HERE vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie...Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie...Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom” (Amos 4:17-24).
God se boodskap is duidelik: totdat sy geregtigheid begin vloei in ons midde en ons harte reinig, sal ons nie in staat wees om Hom ‘n ware offer van aanbidding te gee nie. Lofprysing wat kom uit harte, wat gevul is met wellus en gierigheid, is geraas in sy ore. Hy sal nie die aanbidding aanvaar van diegene wat net plesier soek of weier om ander te vergewe nie.
Te midde van al hierdie profetiese waarskuwings, het Amos ‘n woord van hoop gelewer: “Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die HERE, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê. Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort – miskien sal die HERE, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef” (Amos 5:14-15).
Ek dring by jou aan, hoor Amos se boodskap. Soek die Here met jou hele hart. Laat jouself toe om deur sy Woord ondersoek te word. Bely en laat staan jou sonde. Dan sal God jou met onderskeiding seën. Jy sal weet jy of jy by ‘n Bet-el altaar aanbid. En jy sal in staat wees om Hom in Gees en in waarheid te aanbid.