DIE BEHOEFTE VIR CHRISTELIKE GEMEENSKAP
“Laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom (Hebreërs 10:25).
Dit is ‘n seën om saam met ander gelowiges te aanbid. Om lofliedere te sing tot die Here, om te hoor hoe sy kosbare Woord uitgelê word, ons stemme in gebed op te hef saam met ander Christene, liefhê en liefgehê te word – dit is die middele wat die Here gebruik om ons harte te versterk.
In Paulus se tyd was daar mense wat openbare aanbidding vermy het vir een of ander rede. Net so, het hulle hedendaagse eweknieë min begeerte om in God se huis te wees saam met sy kinders. Dit is ‘n slegte ding, maak nie saak wat die rasionalisering is nie. Wanneer ‘n gelowige begin om ‘n kerk minder of sporadies by te woon, kan dit ‘n teken wees van geestelike probleme. Daar is baie rasionaliserings: “Ek werk so hart dat ek net te moeg is.” “Ons het meer gesinstyd nodig.” “Ek kan God aanbid in my kombuis.” Of selfs die immergewilde, “Die kerk is vol skynheiliges.”
Moenie dat teleurstelling of kerkpolitiek jou daarvan weerhou om geestelike vernuwing te beleef nie. Mense wat min aptyt het om saam met ander gelowiges te wees, het in werklikheid min aptyt vir Christus. Om ‘n gesonde deel van die kerkliggaam te wees, impliseer altyd twee dinge: ‘n begeerte om verbind te bly en die nederigheid om ons behoefte aan ander gelowiges te erken. As die apostel Paulus gevra het vir gebed en verlang het na gemeenskap met gelowiges, behoort ons ook. Ons almal het die bemoediging van broers en susters in Christus nodig om ons te help op ons pad.
Gereeld kerk bywoon is nie ‘n saak van wettiesheid nie, maar geestelike logika, veral as ons “die Dag” sien nader kom. Binnekort sal Jesus weer kom en al die sorge van die lewe wat ons neertrek sal verdwyn in ‘n millisekonde. Wat die meeste saak maak, is ons geloof in Christus, ons toename in genade, die vrug wat ons produseer tot sy eer, en die vervulling van sy wil vir ons lewens. Baie van ons geestelike ontwikkeling gebeur wanneer ons in wisselwerking tree met ander lede van die liggaam van Christus op ‘n gereelde basis, so wees pligsgetrou om saam met medegelowiges te vergader.
Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.