Die Belangrikste Kwessie van Hierdie Uur
Christene regoor die wêreld het ‘n gewaarwording dat ons in die laaste dae leef. Die toenemende krisisse, die groeiende vrese, die tekens van ‘n groot skudding — al hierdie dinge is duidelik, selfs vir sekulêre kommentators. Vir elke volgeling van Jesus, is die vraag in hierdie uur die volgende: “Sal my geloof dit wat kom, deurstaan?”
Ek glo die belangrikse kwessie van hierdie uur het te doen met wat genoem word “Volhardende geloof.” Eenvoudig gestel, sal die geloof van God se mense die verskriklike skudding van alle dinge, wat geen vorige generasie beleef het nie, deurstaan?
Jesus het belowe, “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matthéüs 24:13). Toe Christus hierdie woorde gespreek het, het Hy die vreesaanjaende beproewings wat op sy dissipels sou kom, beskryf: valse messiase, oorloë en gerugte van oorloë, nasie wat teen nasie opstaan, afwykings in die natuur, aardbewings en pessiektes, vervolging en martelaarskap (Sien Matthéüs 24:4-12). Wanneer daardie dae kom, het Jesus gesê, “Want baie sal onder my Naam kom...en hulle sal baie mense mislei” (Matthéüs 24:5).
Wat sou die impak van al hierdie dinge op die kerk wees, diegene wat hulleself by sy Naam noem? Jesus verklaar baie duidelik: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matthéüs 24:12).
Reeds voel ons nasie die trillings van die vreesaanjaende skudding.
Op hierdie oomblik beleef Amerika ‘n ekonomiese “volmaakte storm.”
Hierdie Maart (2008), het die Amerikaanse finansiële stelsel amper ineengestort. Bear Stearns, een van die nasie se top finansiële instellings, moes van bankrotskap gered word deur die Federale Bank. Die Wall Street Journal, ‘n koerant wat nie geneig is om alarm te maak nie, het die hoofopskrif uitgeblaker: “Fed Saves American Financial System From Collapse.”
Die Federale Bank moes aanvanklik $30 biljoen in die transaksie stort om paniek, wat hierdie nasie in die ergste ekonomiese depressie in sy geskiedenis sou laat sink, af te weer. Tot op datum, moes daar meer as $300 biljoen in die stelsel ingepomp word om dit te red.
Tien jaar gelede, het ek ‘n boek geskryf met die titel, America’s Last Call: On the Brink of a Financial Holocaust. In daardie boek, het ek oor die volgende gebeurtenisse gewaarsku:
- Daar sou ‘n ineenstorting van die verbandmark wees.
- God se oordeel sou onverwags op die V.S. se ekonomie toeslaan.
- ‘n Vinnige, vals gevoel van voorspoed sou die komende ekonomiese ineenstorting voorafgaan. (Hierdie kort flikkering van voorspoed sou God se laaste barmhartigheid wees voor kastyding sou kom.)
- Daar sou ‘n eiendomsineenstorting wees met ‘n mark wat sou bestaan uit meestal verkopers en baie min kopers. Menigtes sou hulle huise deur middel van beslaglegging verloor.
- Daar sou ‘n dreigende opgang van homoseksuele krag wees.
- ‘n Skielike storm van verwarring sou in Wall Street plaasvind.
- God se wagte en profete sou stilgemaak word.
- Die V.S. Dollar sou ineenstort.
- Amerika sou beheer van sy ekonomie verloor. Tot op datum het China honderde biljoene dollars aan Amerika geleen. Ons het die wêreld se nommer een debiteur nasie geword en is nie langer in beheer van ons finansies nie.
Saam met baie ander wagte, sien ek dat die grootste skudding van almal steeds aan die kom is.
Wat ons op pad is om te sien op die aarde, sal elke lewende persoon affekteer. Die wêreld gaan ‘n tydelike kalmte sien, met relatiewe stabiliteit, wat baie sal laat sê, “Die krisis is verby.” Maar in der waarheid, lê die ware paniek steeds voor.
Tans is Amerika vasgevang in politieke gekheid. Dink daaraan: dit is uiterste gekheid vir politici om allerhande soorte nuwe multibiljoen-dollar programme te belowe, wanneer die Federale Bank rondskarrel om die nasie se kop bo die toenemende vloedgolf van skuld te hou.
Tog, vir die kerk van Jesus Christus, is die ware kwessie nie ekonomiese ineenstorting nie. Dit gaan nie eers oor wie oor die nasie lei nie. Dit gaan eerder alles oor volhardende geloof.
Inderdaad, hierdie een kwessie moet die belangrikste wees in die gedagtes van diegene wat sê dat hulle Jesus dien. Ek vra jou: het jy tans ‘n blywende vertroue in die Here wat sal staande bly wanneer die wêreld om ons in chaos verval? Of sal jy wankel in tye van verdrukking wanneer die vreesaanjaende dinge waarvan Jesus gepraat het op die aarde begin gebeur? Wanneer daardie uur gaan gebeur, sal jou liefde vir die Here dit deurstaan? Of sal dit koud word soos Jesus voorspel het met so baie gelowiges sal gebeur?
Ek vra hierdie vrae nie om enigiemand te oordeel of te veroordeel insake sy wandel met Christus nie. Ek vra dit van ons lesers net omdat dit die vrae was Jesus aan almal, wat sou kies om Hom te volg, gestel het.
Christus vra, “Maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8).
Laat my jou die konteks van hierdie vraag van Jesus gee.
Hy het pas die storie vertel van ‘n weduwee wat aanhoudend ‘n regter gevra het om in haar guns te besleg en geregtigheid te laat geskied in haar saak. Jesus gebruik haar voorbeeld as die soort aanhoudende, volhardende geloof waarna Hy soek: die soort wat God aanroep in tye van beproewing en Hom vertrou om sy beloftes te vervul. Christus het geweet dat so ‘n volhardende geloof die enigste soort is wat in staat is om sy mense in die tye wat kom in stand te hou.
As Jesus hierdie kwessie van volhardende geloof aanspreek, dan praat Hy van diegene wie se geloof “net vir ‘n tyd” hou. Met ander woorde, wanneer hulle gebede nie beantwoord word nie — wanneer die spertye vir hulle versoeke verbygaan — verval hulle in ongeloof. Waarom? Hulle geloof het geen wortels nie.
“Maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik” (Matthéüs 13:21).
Te dikwels wanneer verdrukking begin plaasvind in sulke gelowiges se lewens, struikel hulle en neem hulle aanstoot. Jy het seker al gehoor dat sulke “aanstoot” deur Christene, wat uiterste ellende beleef, uitgespreek word. Hulle het God se Woord gelees, hulle het sekere beloftes opgeëis, hulle het ernstig gebid, maar steeds het hulle beproewing voortgeduur. En, met verloop van tyd, omdat hulle nie ‘n antwoord tot hulle gebede gehad het nie, het hulle aanstoot geneem teen die Woord waaraan hulle vasgehou het.
Op ‘n stadium, word ‘n saadjie van ongeloof in hulle harte geplant. En gou begin hulle om God se getrouheid te bevraagteken. Hulle kan nie die knaende gedagte dat die Here misluk het om sy beloftes aan hulle te hou, afskud nie.
Hulle het vir ‘n rukkie op Hom vertrou. Wanneer jy aanvanklik met hulle gepraat het, was hulle gesprekke vol geloof en hulle het van God se betroubaarheid getuig. Maar nou begin jy ‘n bietjie twyfel in hulle stemme hoor. In plaas van geloof, hoor jy vrae en opmerkings wat ‘n innerlike ongeloof laat deurskemer.
Moenie ‘n fout maak nie, Satan voed daardie groeiende twyfel. Met verloop van tyd, word gebed ‘n las vir sulke gelowiges. Hulle liefde vir God se Woord begin te taan totdat hulle nooit meer hulle Bybels optel nie. Uiteindelik, verminder hulle passie vir Christus tot ‘n effense flikkering.
Sommiges wat hierdie boodskap lees, is op ‘n gevaarlike plek met hulle geloof.
Miskien het dit, wat ek hier noem, jou siel aangeraak. Ek moet jou vra: het jy toegelaat dat ‘n saad van ongeloof in jou hart posvat? Het jy nou ernstige vrae oor God se getrouheid? In plaas van om Hom te aanbid, twyfel jy nou in Hom?
“Here, waarom het U nie vir my ingegryp nie? Waarom het U soveel verwarring in my huwelik en familie toegelaat? U het meer op my gelaai as wat ek in staat is om te dra.” So ‘n houding kan lei tot ‘n verharde hart en uiteindelik tot geestelike doodsheid.
Die apostel Paulus het Timótheüs vermaan, “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus” (2 Timótheüs 2:3). Die Griekse woord vir “verdrukking” hier dui op swaar lyding. Wat sê Paulus oor hierde dinge vir Timótheüs? “Verduur dit, seun? Jy is ‘n krygsman in die Here se leër. Jy is opgelei om verdrukking te ly in die geestelike stryd.”
Ons sien dit ook weerspieël in die Ou Testament. Ons word vertel, “Want die HERE — sy oë deurloop die hele aarde, om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9, kursief myne). Die Hebreeuse woord “onverdeeld” in hierdie vers beteken “heeltemal in vertroue aan Hom oorgegee.”
Dink daaraan: God kyk neer op die hele aarde en soek ywerig na ‘n man of vrou van geloof wat heeltemal op Hom vertrou.
Wanneer die Here so ‘n dienaar vind, sê Hy vir daardie persoon, “Hierdie geliefde hou vas aan sy geloof en vertroue in My. Daarom sal ek hulle kragtig steun. Hy gaan my krag ken en sien hoe my sterk arm vir hom geopenbaar sal word.”
Die woorde in hierdie vers was eerste vir Koning Asa, heerser van Juda, gesê deur die profeet Hanáni. Die soekende oë van die Here het Koning Asa, wat geliefd was omdat hy “gedoen het wat reg was in die oë van God,” gesien.
Asa was in alles ‘n regverdige man wat God vertrou het. Hy het in geloof gewandel en elke saak voor die Here gebring sodat hy goddelike leiding kon ontvang. Die koning was toegewyd in gebed en totaal afhanklik van God — en sy dade het dit bevestig.
Asa het afgodery uit die land verwyder en alle valse gode afgebreek. Hy het waarseêry, sodomie en prostitusie uitgeroei. En hy het die stede opgebou met sterk torings, hoë mure en stewige hekke. Onder sy getroue koningskap, was die nasie van Juda voorspoedig en geseën.
En Asa was getrou om die mense te herinner aan al die seëninge wat na hulle gekom het “want ons het die HERE ons God gesoek – ons het gesoek, en Hy het ons rus verskaf rondom. Hulle het toe gebou en was voorspoedig” (2 Kronieke 14:7).
Dit moes wonderlik gewees het om daardie tyd ‘n Israeliet, wat in Juda gewoon het, te wees.
Probeer jouself indink wat die atmosfeer in Juda was tydens Asa se regverdige heerskappy. Daar was oral vrede met alles in goddelike orde. Die mense was geseënd met almal wat werk gehad het en oorvloedige oeste, omdat God in hulle midde was. Niemand moes gaan oorlog maak nie, omdat beide die koning en die mense na die Here gesoek het. Daar was geen uitroep vir oordeel nie, omdat hulle gehoorsame mense was.
Maar een dag, het daardie omgewing skielik verander. ‘n Boodskapper het vir Asa ‘n vreesaanjaende verslag gebring: ‘n miljoen-man leër was bespied op pad na Juda. Die Kusiete (Ethiopiërs) en Libiërs het magte saamgesnoer en nou het hulle ‘n groot burgermag gehad. Dit het bestaan uit 300 waens, menigtes van ruiters en ‘n miljoen-man infanterie wat almal na Juda gejaag het en op sy verwoesting ingestel was.
Op die dag net voor dit, het Asa ‘n beroep op die mense gedoen om die Here te dank vir die vrede en seëninge wat hulle geniet het omdat hulle Hom gesoek het. Nou lees ons hulle vyand, “het teen hulle uitgetrek...” (2 Kronieke 14:9). Oornag was Juda betrokke in ‘n oorlog met ‘n miljoen vyandige soldate.
So, wat doen ‘n getroue dienaar van God wanneer jy so ‘n dilemma beleef? Hoe reageer hy? Sal hy paniekerig word? Sal hy hom beroep op ‘n mens om te help, of sal hy alles met volle vertroue in die Here se hande plaas?
God het sy deurdringende oog op Asa ingestel in hierdie kritieke uur.
Wat was die regverdige koning se reaksie?
“En Asa het die HERE sy God aangeroep en gesê: HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom; HERE, U is onse God; laat geen sterfling naas U magtig wees nie. En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan, en die Kusiete het gevlug” (2 Kronieke 14:11–12).
Vertel vir my, wat sê Asa se reaksie hier vir ons, die kerk van Jesus Christus vandag? Hierdie goddelike man het die mees verskriklike, vreesaanjaende nuus ontvang. Sy kanse om te oorleef was ondenkbaar min en nog minder sy kans op oorwinning.
Geliefde, die betekenis van hierdie gedeelte is duidelik: dit wys ons dat oorwinning – onmoontlike oorwinning – bewaar word vir diegene wat hulle vertroue volkome in die Here plaas.
Die verskriklike krisis het oor Asa en Juda gekom tydens die wonderlikste tyd waarin hulle die Here gesoek het, toe God oor hulle geglimlag het met sy guns.
Ek kan nie verklaar waarom die Here toelaat dat aanvalle teen sy goddelike dienaars kom nie. Maar ek weet dat die Skrif ons waarsku om vurige beproewings te verwag om ons geloof te toets. Eweneens, ons word vertel God suiwer goud sal vind in ons volhardende geloof.
Die Here was sekerlik tevrede met Asa se geloof in hierdie krisis. Tog, het Hy ‘n profeet gestuur om hom te waarsku:
“Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat” (2 Kronieke 15:2).
Die profeet het bygevoeg dat dit waar was vir God se mense dwarsdeur die geskiedenis. In vorige tye, wanneer daar geen vrede was nie, maar net ‘n gejaag en swaarkry en God se volk na Hom gesoek het, het Hy Hom altyd deur hulle laat vind (sien 2 Kronieke 15:3–4).
Asárja se profesie aan Juda is ook
‘n waarskuwing aan die kerk van Jesus Christus vandag: “Een heerlike oorwinning van geloof is nie genoeg nie.”
Meer groot beproewings sal plaasvind in die lewe van elke gelowige. Inderdaad, hoe meer jy die Here soek, hoe groter jou roeping is en hoe dieper jou wandel met Hom is — sal jy ook verdere verdrukkings, lyding en toenemende toetse van geloof beleef. Die Skrif verseker ons dat dit sal voortduur tot die einde toe.
So, wat is God se boodskap vir ons deur al hierdie dinge? Eenvoudig die volgende: Ons is veronderstel om nie in ons geloof geskud te word nie, veral nie wanneer selfs groter toetse oor ons kom nie.
Geliefde, weet asseblief dat ek nie hierdie dinge ligtelik aan jou noem nie. Wat ek in hierdie boodskap verkondig, is gebore uit my eie persoonlike vuuroond van groot lyding, swaarkry en verwoestende geloofsbeproewings.
Moenie verkeerd verstaan nie: Ek kla nie. Ek kan getuig dat ek die liefdevolle hand van God gesien het in elke beproewing en verdrukking deur die jare. Ek het toegekyk hoe my vrou, Gwen, en my twee dogters by die dood omgedraai het weens kanker. Ek het die dood van my kleindogter beleef, ook weens kanker. Ek het al my kinders en kleinkinders aangeval gesien op verskeie geleenthede. En ek het persoonlik deur vurige beproewings gegaan.
Through it all, I have experienced eclipses of faith, where the Lord’s face Deur dit alles heen, het ek die verduistering van my geloof ervaar, waarin die Here se aangesien heeltemal verberg gelyk het tydens my beproewing. Tog, na al die jare van verdrukkings, staan ek hier en getuig dat God my deur elke beproewing gedra het met sy vrede en sy lied van oorwinning.
Tog dit is nie die einde van die storie nie.
Nadat Asa ses-en-dertig jaar in vertroue gewandel het en beproewings verduur het, het Asa God se hart bedroef.
Nog ‘n verskriklike krisis het in Asa se lewe opgeduik. Hierdie keer het die regverdige koning van Juda sy geloof verloor.
Tot op daardie tydstip, het Asa geleef soos ‘n man wat op God vertrou het. Hy was ‘n lewendige voorbeeld van toegewyde geloof en ywer en het die Here voortdurend gesoek. Sy heerskappy oor Juda het ‘n kragtige geestelike herlewing in daardie land gebring en God se regverdige heerskappy gevestig.
Toe het nog ‘n skielike krisis Asa en die nasie van Juda oorval. Hierdie keer het die koning ‘n boodskap ontvang dat Jerusalem deur ‘n vyandige leër omsingel was. Al die handelsroetes na Juda toe was afgesluit deur hierdie vyand. Die dorp Rama, net vyf myl buite Jerusalem was binnegeval, gevange geneem, versterk en alle paaie is gesluit. Niemand kon in of uitgaan nie.
Die blokkade kon Juda se ekonomie ernstig geknou het. Iets moes vinnig gedoen word of die mense sou sterf. So, wat het Koning Asa gedoen?
Hierdie keer, het hy nie na die Here gegaan nie. In werklikheid, Asa het nie eers daaroor gebid of sy geestelike raadgewers genader nie. In plaas daarvan, het hy paniekerig geword. Hy het nie net sy vertroue in ‘n mens geplaas nie – hy het op sy eie vyand vertrou! Asa het by die goddelose koning Bénhadad van Sirië, sy aartsvyand, gaan aanklop vir militêre hulp.
Op hierdie manier, het Asa sy weg uit die konflik omgekoop. Hy het die volk se skatkis van al die silwer en goud gestroop en dit na Koning Bénhadad gestuur met die boodskap: “Hier is al ons goud en silwer. Dit is joune. Kry net hierdie aggressor van my rug af. Verlos my van my aanvaller.”
Hoe uiters tragies! Dit was altyd ‘n groot tragedie wanneer goddelike mense wat God vertrou het, voor die wêreld se oë, skielik in hulle geloof misluk en op vlees vertrou in ‘n krisistyd. En die wêreld reageer spottend en sê, “Is dit wat gebeur na al die jare wat jy in God glo? Is dit hoe geloof eindig en skipbreuk ly? Hoe dwaas dat jy ooit in die eerste plek in God geglo het.”
Toe was ‘n ander profeet na Asa gestuur, met die volgende woord van die Here:
“Omdat u op die koning van Aram gesteun het en nie op die HERE u God gesteun het nie, daarom het die leër van koning Aram uit u hand vrygeraak...want van nou af sal daar oorloë teen u wees” (2 Kronieke 16:7, 9).
Laat my hierdie hele kwessie van volhardende geloof opsom.
Die volgende is volhardende geloof: dit is om alle dinge aan God se hande toe te vertrou. Volhardende geloof sê aan die Here, “Ek werp elke gebeurtenis, elke toekomstige sukses in u sorg. En ek hou aan u belofte vas om my kragtig te steun — al u alwetendheid en almagtige krag — om my te bewaar.”
Wanneer ons ookal verdrukkings en vervolging beleef, kom Satan na ons en fluister vrese en leuens:
“Hoe gaan jy dit deur hierdie krisis maak? Wat sal jy nou doen. As God getrou is, hoe kan Hy toelaat dat dit met jou gebeur? Hoe kon Hy jou geliefdes op hierdie manier in gevaar stel? Wat sal van jou, jou familie, jou werk en jou bediening word?”
Maar volhardende geloof staan op en antwoord die vyand se leuens:
“Duiwel, jy vra die verkeerde vrae. Die vraag vir my nou is nie hoe ek dit gaan maak nie. Dit gaan nie daaroor wat met my en alles wat myne is, sal gebeur nie. Ek het reeds alles – alle verdrukking, alle beproewing en al my belange – in my liefdevolle Vader se hande geplaas. Ek het alle toekomstige gebeure aan Hom toevertrou. En Hy het Homself getrou bewys keer op keer. Hy is betroubaar met my toekoms.”
Met dit in ons harte gevestig, word die vraag aan ons duidelik.
Die vraag aan ons is, “Hoe kan ek my Here beter liefhê en dien? Hoe kan ek ander dien soos myself?”
Jy sien, volhardende geloof beteken om onsself ten volle aan die wil van God oor te gee soos Jesus beskryf het in die Bergpredikasie. Kortliks: ons moet God en sy belange bo alles soek en dan sal die begeertes van ons hart vir ons gegee word (sien Matthéüs 6:33).
Volhardende geloof verklaar, “Ek het geen wil van my eie nie. Laat sy wil liewer geskied. Geen persoonlike agenda meer vir my nie. Geen pogings om God te speel deur my eie probleme of die van ander te probeer oplos nie. Heilige Gees, hou my gedagtes op my Here en sy beloftes gevestig.”
Met sulke geloof, sal ons gereed wees vir wat ookal die huidige uur bring. Amen!