DIE BERG WAT HINDER
Van die begin af het God mense uitgesoek wat voor Hom kan leef sonder vrees. Hy wou hȇ sy kinders moet met liggaam, siel en gees in sy rus kan ingaan en met volle vertroue in Sy beloftes glo. God noem dit “My rus binnegaan.” So lei Hy sy mense die barre wildernis in, sonder kos of water of enige bron van voeding. Hy gee vir Israel slegs Sy belofte om hulle te onderhou. Sy Boodskap aan hulle was eenvoudig, “Glo in My.” Hy roep hulle om al hulle vertroue in Hom te plaas om die onmoontlike te doen.
Volgens die skrywer van Hebreërs, het God se mense nooit Sy rus binnegegaan gedurende daardie tyd nie, omdat hulle nie Sy beloftes geglo het nie (Hebreërs 3:11).
In die paragraaf rakende die vyeboom, verwys Jesus na ‘n naamlose berg:
“Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur” (Markus 11:23).
Jesus het aan Sy disippels gesȇ, en ook aan ons vandag: “Ongeloof in jou hart is soos ‘n berg wat hinder en wat nie beweeg kan word nie. As jou ongeloof nie afgewerp kan word nie kan Ek nie met jou werk nie.”
Trouens, Jesus kon nie wonderwerke verrig in `n sekere dorp nie as gevolg van die mense se ongeloof:
“Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie” (Mattheus 13:58).
Die selfde geld vandag nog vir die kerk van Christus: waar ook al daar ongeloof is, is Hy nie by magte om wonderwerke te verrig nie. Ongeloof is altyd die berg wat die volheid van God se openbaring en seën van Sy kinders verhinder.