Die Brug Tussen die Aarde en die Hemel
Toe die herders na die baba in die krip gestaar het, het hulle ‘n Verlosser gesien wat die hele mensdom sou verlos. Toe die wyse manne hom aanskou het, het hulle ‘n Koning wat die dood sou oorwin, gesien. En toe die profete vooruit gesien het, het hulle ‘n Bevryder, wat tronkdeure sou oopmaak, boeie sou oopsluit en die gevangenes sou vrylaat, gesien. Hulle het almal hulle visie gehad van wie Jesus was en waarom Hy gekom het.
Christus was gebore in ‘n wêreld van duisternis en ongeloof, toe God se volk onder die vreesaanjaende greep van die Romeinse Ryk geleef het. Israel se godsdienstige leiers het nie veel hoop gebied nie. Die Fariseërs het geglo verlossing was haalbaar deur werke, en daardeur het hulle God se wette verdraai in ‘n rigiede stelsel wat onmoontlik was om uit te voer. Die Sadduseërs het nie eens in die opstanding geglo nie. Trouens, baie min mense het enige visie van ‘n ewige bestaan gehad. Dit was die duisternis waarin Jesus gebore is.
As ons na die krip kyk, sien ons Christus as ‘n brug tussen die aarde en die hemel wat die afgrond van die dood oorsteek en die tydelike lewe van die ewige skei. Eendag sal ons daardie brug oorsteek en dit sal binne ‘n oogwink plaasvind: “Ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:51-52).
Ons kan peins oor sulke geheimenisse, maar in werklikheid, kan ons verbeelding nie die heerlikheid en krag van God peil nie. Ons breine is te beperk. Maar ons kan van een ding seker wees: omdat Jesus na die aarde gekom het, is daar ‘n nuwe wêreld wat kom. ‘n Wêreld sonder sonde, armoede of siekte. Ons Saligmaker was gebore om lewe te bring – die ewige lewe – laat ons daarom hierdie Kersseisoen ‘n opstandingsgemoedstoestand hê. Ons gedagtes en harte gevul met hoop van die lewe wat vir ons beskikbaar is omdat die Christuskind in ‘n krip gebore is.