DIE EISE VAN GELOOF
As God vir die mensdom sê, “Glo,” vereis Hy iets wat verder strek as redelikheid. Geloof is totaal onlogies en die definisie daarvan het te doen met iets onredeliks. Dink daaraan: Hebreërs sê geloof is die vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie (sien Hebreërs 11:1). Ons word kortliks vertel, “Daar is niks tasbaars of enige bewyse hoegenaamd nie.” Tog word ons gevra om te glo.
Dit is waar dat ons almal uitdagende omstandighede in hierdie lewe beleef. Tog, glo ek as ons die aard van geloof kan verstaan – sy onlogiese, onredelike aard – sal ons die hulp kry wat ons nodig het om deur te kom.
Laat ons Abraham beskou. God het hom beveel, “Staan op, gaan uit en verlaat jou land.” Abraham het sekerlik gewonder, “Waarheen moet ek gaan, Here?” Maar God het net vir hom gesê om te gaan!
Dit was nie logies nie; trouens, dit het onredelik gelyk. As ‘n man huistoe kom en vir sy vrou sê hulle moet dadelik trek, sal sy allerhande vrae hê. Waarheen? Hoekom? Hoe? Wanneer? En dit sal nie aanvaarbaar wees om nie antwoorde te hê nie.
Maar Abraham het van God gehoor! “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou gaan” (Hebreërs 11:8). Abraham het sy gesin opgepak en vertrek, sonder om te weet waar hy sou beland. Al wat hy geweet het, was dat hy ‘n kort woord van God gehad het om te gaan en die versekering dat hy geen skade sou ly nie.
Geloof het vereis dat Abraham op niks meer as ‘n belofte gehandel het nie. Hy het gehoorsaam en die Woord sê, “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken” (Génesis 15:6).
Die Here sê vir jou, net soos Hy vir Abraham gesê het, “Ek gee jou my Woord en Ek sal jou hulpgeroep verhoor.” “Hierdie ellendige het geroep, en die Here het gehoor...Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep” (Psalm 34:7,16). Vertrou Hom vandag om vir jou te gee presies wat jy nodig het.