Die Evangelie van Genade
“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God....
“Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus” (Romeine 5:1-2,17).
Onthou jy hoe jou lewe was voor jy aan Christus oorgegee het? Jy was ‘n vyand van God wat in blindheid geleef het, ‘n verlore siel sonder hoop. Jy was goddeloos, skuldig – en die toorn van God het “op jou gebly” (sien Johannes 3:36).
Hoe het jy vergifnis en aanvaarding by God gekry? Hoe het jy in die geseënde versekering gekom dat jy gered is, sodat jy gejuig het in die liefde van Jesus Christus?
Was dit omdat God iets goed in jou gesien het? Het jy een of ander inherente geregtigheid besit wat Hom na jou toe aangetrek het? Het jy Sy guns ontvang deur jou gehoorsaamheid en vriendelikheid?
Nee – glad nie! Niemand word ooit gered deur sy eie werke of verdienste nie. Die Skrif sê, “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed” (Jesaja 64:6).
Al ons sondes word uitgewis en ons word met God versoen deur geloof in die uitgestorte bloed van Jesus. Dit is deur genade alleen wat ons gered is – en nie deur enigiets wat ons gedoen het nie.
Die teologiese definisie van GENADE is “die onverdiende vryspraak, barmhartigheid en guns van God.” Die Skrif sê, “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing” (1 Korinthiërs 1:30).
Moet asseblief nie afgesit word deur al die terme in hierdie vers nie. Eenvoudig gestel, die doel van die evangelie is verlossing – en God se genade sluit alles in wat Hy vir ons gedoen het deur Christus om ons te verlos van die mag van die duiwel en ons in die koninkryk van sy heerlike lig in te bring!
Regverdigmaking, is die hoeksteen van genade. Om geregverdig te wees deur God, beteken om “vrygespreek” te wees – vergewe te wees van alle sonde en skuld – en om heilig en regverdig voor Hom beskou te word.
Niemand is geregverdig nie – dit is, hy kan nie heilig of regverdig word – deur sy eie werke, gehoorsaamheid of getrouheid nie. Liewer, hierdie dinge is alles die gevolg van ‘n geregverdigde geloof in die krag van Christus se bloed, om ons aanvaarbaar in God se oë te maak: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Efésiërs 2:8-9).
“Ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie” (Galásiërs 2:16).
Hier is die fondament van alle geloof, wat elke gelowige volkome moet verstaan. Jou hele wandel met God hang daarvan af:
Jy kan nie vrede met God hê indien jy nie weet hoe jy voor Hom reggestel word nie. Jy moet volkome oortuig wees jy is rein voor God, nie deur jou eie ywer of werke nie – maar deur te glo en te vertrou in die oorwinning van die Kruis van Jesus!
Die apostel Paulus wou nie voor Christus gevind word waar hy in sy eie geregtigheid staan nie. Hier was ‘n goeie man – ‘n Fariseër wat ywerig al die talle reëls en regulasies van die wet nagekom het. Hy het getrou tiendes betaal. Hy het God liefgehad met sy hele hart. Hy het al die funksies van die sinagoge bygewoon. Hy het die Woord van God eindeloos bestudeer. Hy het sy medemens liefgehad en hy het rondgegaan en goed gedoen. Volgens die wet, was Paulus ‘n volmaakte man.
Maar alles het vir Paulus soos drek geword – hy het dit alles skade geag – toe hy tot die openbaring van die geregtigheid van Christus gekom het!
“Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag....en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Filippense 3:7-9).
Om deur geloof geregverdig te word, is die moeilikste ding vir die vlees om te aanvaar!
Vandag is daar talle opregte gelowiges wat hulle nog steeds nie onderwerp aan die geregtigheid van Christus nie. Hulle gaan steeds rond en probeer om God te behaag met hulle goeie dade. Hulle aanvaar verlossing deur geloof, maar dan hulle wil van daar af self oorneem!
Daar is iets in ons vlees wat teen geloofswandel rebelleer. Ons wíl ons verlossing koop – om God te help! Ons gee nie om om deur geloof ons saligheid te ontvang nie; maar ons wil nie deur geloof lewe nie. Ons vlees roep uit, “Al my gehoorsaamheid, al my harde werk om God te behaag – dit moet tog iets beteken!” Ja, dit is iets werd – maar nie om vergifnis en vryspraak te verdien nie!
Ons wil nie aanvaar dat ons reggestel is voor God deur bloot te glo nie. Ons sou eerder “vasbyt” – en wanneer versoeking ons oorweldig, deur geknerste tande sê, “Geseënd is God, ek sal oorwinning kry, al maak dit my dood!” (En dit sal jou doodmaak!)
Maar dit is nie die weg na oorwinning nie. Gehoorsaamheid en getrouheid kom as ‘n gevolg van stewig op die rots van vryspraak staan deur geloof alleen!
Paulus sê van sekere mense: “Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Romeine 10:2-4).
Hierdie mense het “hulle eie geregtigheid probeer oprig.” Ons ken daardie proses, maar met ‘n ander naam: wettiesheid!
Wettiesheid word deur die meeste Christene verkeerd verstaan. Selfs die meeste bedienaars weet nie wat dit is nie.
Ek het altyd geglo wettiesheid het te doen gehad met mensgemaakte reëls en regulasies opgestel deur opregte, God-liefhebbende mense wat probeer het om heilige lewens te leef. Ek het gedink dit het alles daaroor gegaan om die kleredragreëls en ander moets en moenies na te kom.
Nee – wettiesheid is baie meer subtiel as reëls en regulasies. Dit strek baie verder as dit!
Toe ek ‘n seun was, het ek gevangeliste gehoor uitvaar teen die sondes van die dag. Hulle het gepreek teen polkahare, vrouens se “ooptoonskoene,” grimering en uitspattige rokke. Dit was “heiligheid” prediking genoem – maar die standaarde het aanhou verander met die nuwe modes.
Ek het gedink dit was wettiesheid!
Toe ek aanvanklik na New York Stad gekom het meer as dertig jaar gelede, was ek geskok oor al die rigiede reëls in Spaanse Pinksterkerke. Ons werkers sou na die strate gaan, saam met dwelmverslaafdes bid en probeer om hulle in die plaaslike kerke in te kry. Maar as ‘n nuwe geredde meisie ‘n denim of grimering gedra het, sou die herder uithardloop en sê, “Jy kan nie hier inkom met daardie klere aan nie!”
Een bedienaar het vir ‘n jong meisie gesê, “Gaan huistoe en trek aan soos ‘n vrou – kom dan terug. Ons laat nie wêreldsheid toe in hierdie kerk nie!”
Ek het gedink dit was wettiesheid!
‘n Jong paartjie in Engeland wat ons nuusbriewe ontvang het, het begin om na opnames van ons dienste by Times Square Kerk te luister. Hulle het begin om die boodskappe van heiligheid lief te kry. Daarom het hulle ons kom besoek – maar toe ek hulle ná die diens ontmoet het, het hulle hartseer en verpletter gelyk en hulle oë was vol trane. Hulle het vir my gesê hulle was ontsteld omdat die vrouens in ons kerk nie hoofbedekkings gedra het nie! Hulle het gesê, “Hoe kan die Heilige Gees hier werk, as julle nie die gebod dat ‘n vrou haar hoof moet bedek, gehoorsaam nie?”
Ek het gedink dit was wettiesheid!
Ek het gehoor van gebedsgroepe dwarsdeur die land wat rond en bont gegooi en verward gelaat word deur allerhande soorte nuwe reëls wat ingebring word deur verbygaande leraars. Een sê vir hulle, “Julle moet kniel om te bid. God hoor slegs diegene wat kniel.” ‘n Ander leraar kom verby en sê, “Julle moet sit in Sy teenwoordigheid. Julle hoef nie te kniel nie – dit is Katoliek!” Iemand ander sê, “Jy moet staan wanneer die Bybel gelees word. Jy onteer God wanneer jy sit tydens die lees van die Woord!” Maar ‘n ander sê egter vir hulle, “Dit is gebondenheid! Jesus het die mense laat sit toe Hy die Woord verkondig het!”
Ek het gedink dit was alles wettiesheid!
Dit is inderdaad alles reëls en regulasies. Maar al hierdie dinge is slegs deel van wettiesheid – dit is nie die kern van die saak nie.
Wettiesheid is baie erger as al hierdie dinge. Almal van ons het in werklikheid ‘n bietjie suurdeeg in ons harte – omdat wettiesheid gebaseer word op hoogmoed!
Wettiesheid is ‘n uiterlike vertoon, ‘n fasade – ‘n skyn van heiligheid om mense te beïndruk, nie God nie!
In sy wese, is wettiesheid ‘n begeerte om heilig voor te kom. Dit is om te probeer om geregverdig te wees voor mense en nie God nie!
Wettiesheid is om bekend te wil wees as ‘n profeet, ‘n man van gebed, ‘n vrou van voorbidding – en só ‘n beeld te voed en te koester!
Die wettiese mens is nie daarop uit om regverdigmaking te verdien nie. Hy is meer geïnteresseerd in voorkoms – om ander Christene te beïndruk dat hy toegewyd, vroom, ernstig en uitverkoop is aan God. Hy sê, “Ek is diep godsdienstig – en almal behoort dit te sien!”
Ons sien dit in die Joodse Talmoed skrywers se lys van sewe klasse van Fariseërs. Onder hierdie klasse was:
Die Sigemiete. Hierdie Fariseërs het lang gebede in die openbaar opgesê om heilig geag te word – maar agteraf het hulle weduwees van hulle grond beroof!
Die Strompelaars. Hulle was so kamstig-nederig dat hulle nie durf waag het om hulle voete voor ‘n heilige God op te lig nie. In plaas daarvan, het hulle rondgeskuifel saam met ‘n “arme, nederige, nietige ek” gesindheid.
Die Bloeiers. Hierdie groep wou nie hulle oë van die grond op oplig nie, anders kon hulle in iets goddeloos vaskyk. Hulle het hul naam gekry omdat hulle gedurig in mure vasgeloop het; hoe meer hulle gebloei het, hoe heiliger was hulle!
Geliefde, hierdie tipes is in elke kerk! Hulle het ‘n droewige, ernstige, “heilige” kyk. Sommige van hulle durf nie hulle hande oplig om God te prys nie – ook nie klap of gelukkig of bly wees nie! Hulle dink aan hulleself as “afgesonder met God,” heilig en verhewe bo alle ander. Hulle sit in “diep bepeinsing” terwyl hulle lippe beweeg, verlore in die Gees. “En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word” (Matthéüs 23:5).
God het my liefdevol herinner aan ‘n paar van my wettiese speletjies!
Verlede jaar het ek en Gwen ‘n vakansie deurgebring by ‘n Florida hotel saam met dierbare vriende, ‘n paartjie van Texas, Dr. En Mev. Rice. Ons het almal die week spandeer om Disney World te sien en nou wou ons net ontspan. Terwyl ons in die portaal van die hotel gestaan het, het Gwen voorgestel dat ons na die Rices se kamer gaan om domino te speel.
Ek weet die Rices het my nog altyd geag as ‘n regverdige man – en ek het gedink ek wou dit so hou! Ek het besef ons vriende het my nie een keer gesien afsonder om te gaan bid nie. Ek het gedink, “Hoe is ek veronderstel om heilig te wees voor hierdie mense as ek nie gaan bid nie?”
Daarom het ek vir hulle gesê, “Ek is jammer, ek kan nie domino speel nie. Ek moet na my kamer gaan en God ontmoet. Gaan julle gerus voort en speel.”
Maar weet jy wat ek eintlik gesê het? “Ek het nie tyd om te mors soos julle arme aardlinge nie! Julle wêreldgesindes kan voortgaan en speletjies speel met domino’s. Hierdie profeet gaan homself met God afsonder!”
(Ek vra jou: Hoe kan jy ontspan deur domino te speel wanneer jy weet dat só iemand in die omtrek is en “by God pleit”?)
Toe ek by ons kamer kom, was dit omtrent agt-uur. Ek het gedink, “Ek sal net ‘n halfuur CNN Nuus kyk – dan sal ek bid.” Een uur van nuus later, het CNN ‘n dokumentêr oor die opstaan en val van Hitler aangekondig. Ek het gou geredeneer, “Dit het te doen met profesie – ek móét dit kyk!”
Kwart voor tien, het ek Hitler klaar gesien opstaan en val – toe ek Gwen in die gang hoor aankom!
Ek het opgespring, na die TV gehardloop, dit afgeskakel, die lig afgesit – en op my gesig in die donker aan die voet van die bed neergeval!
Toe Gwen inloop, het sy haar toegewyde profeet-man stadig sien opstaan van sy heilige posisie – en ewe vroom optree asof hy vir twee ure lank in gebed was. Ek het ewe gedwee opgekyk, my oë gevryf, en vir Gwen gesê, “O liefling, is die Here nie goed nie?”
Ek hoop jy kan so hard hieroor lag as ons gemeente toe ek dit in my preek gedeel het! Maar, belangriker, ek hoop jy lag hard genoeg hieroor dat die waarheid jou eie siel deurdring: Ons almal speel speletjies en probeer ‘n fasade van heiligheid voor mense handhaaf! Ek moes my beeld van ‘n heilige man handhaaf – en dit is wettiesheid op sy ergste!
Mense wat waarlik die geregtigheid van die Here het, hoef werklik nie voor te gee nie. Hulle is alledaagse, gewone mense wat weet hoe om te huil en te lag, en Jesus en die gemeenskap van die heiliges te geniet. Hulle is betrokke by ander mense se laste en behoeftes – en hulle is nie altyd “in afsondering” om ‘n beeld te probeer handhaaf nie!
Ons almal kyk na die uiterlike – maar God sien die hart! Ons het mekaar nodig om van ons perdjie van kamstige heiligheid af te klim – om eerlik en onsself te wees, op die manier wat God ons sien. Dit is die enigste manier om ware gemeenskap met Hom en met mekaar te geniet!
Teenoor wettiesheid, is die verdraaiing van die evangelie van genade!
Genade soos dit verkondig word in talle kerke vandag, produseer ‘n klas Christene wat steeds plesierliefhebbers is en diep betrokke is by sonde. Vandag leef menigtes soos die duiwel, maar maak aanspraak daarop dat “Ek is die geregtigheid van Christus deur geloof!” Geliefde, dit is ‘n leuen uit die put van die hel! Hulle is mislei!
‘n Paar jaar gelede, op my Sondae af tussen veldtogte, was ek gewoond om na ‘n sekere kerk te ry waar die sogenaamde “genadeboodskap” verkondig word. (Dit is nie ‘n Baptiste, Presbiteriaanse of Pinksterleerstelling nie; die evangelie van genade is inderdaad die evangelie van Jesus Christus.) Terwyl ek verbygery het, het ek die diakens buite gesien staan en rook, verskeie van hulle het Saterdagaand se babelas probeer afskud.
Sommige van hierdie mans was bekende owerspelers, sommige vroue-slaners. Ander was bekend om te kul in hulle besigheid. Weens die “genadeboodskap” wat hulle gehoor het, was hulle egter oortuig hulle was geregverdig, maak nie saak hoe hulle gelewe het nie – dat hulle die geregtigheid van God gemaak is in Christus.
Ek weet die herder van hierdie kerk is ‘n regverdige man. Maar daar was iets verkeerd met sy boodskap: Hy het nie die volle evangelie verkondig nie!
Hy het eenkeer vir my gesê, “David, ek glo regtig in geregtigheid. En as jy die geregtigheid van Christus het, sal dit ‘n begeerte in jou opwek om rein en heilig te wees.”
Maar ek het gedink, “Wag ‘n bietjie – jy het vir agt jaar vir hierdie mense gepreek! Na al hierdie tyd, waar is die bewyse onder hulle van ‘n rein wandel met God? Waarom het jou ‘genadeboodskap’ nie ‘n ware goddelike gemeente geproduseer wat afgeskei is van wêreldsheid nie? Waarom is daar steeds soveel egskeiding, en word so baie ongehude baba’s vir jou tieners gebore? Baie van jou mense leef steeds vir die duiwel, hulle sterf en gaan hel toe – en jy weet dit!”
Geliefde, ek preek sonder voorbehoud dat vryspraak en geregtigheid deur geloof alleen kom. Ek is gered deur geloof, geregverdig deur geloof en bewaar deur geloof in Christus se bloed. Dit is die ware fondament van die evangelie en van die ware genade verkondiging.
Maar nie alle geloof is regverdigende geloof nie! Die Bybel spreek duidelik van twee soorte geloof: een wat regverdig, en ‘n ander wat van geen waarde is nie – ‘n geloof wat selfs die duiwels beoefen!
Die boek Handelinge berig dat Simon die towenaar “geglo het” – maar sy geloof was nie die regverdigende soort nie. “En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was” (Handelinge 8:13). Simon het die apostel Petrus geld aangebied om die krag van die Heilige Gees te kry – maar Petrus het geantwoord, “Want ek sien dat jy in ‘n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is” (Handelinge 8:23). Hy het in wese gesê, “Jou hart is steeds gebind deur sonde!”
Petrus het vir Simon gesê dat sonder bekering, hy en sy geld albei sou vergaan! Simon het inderdaad geglo – maar hy was nie die geregtigheid van God gemaak in Christus nie! Sy geloof was nie regverdigende geloof nie – nie die soort wat die hart reinig en die geregtigheid van Christus meebring nie!
Die Skrif sê baie mense het “in sy naam (Jesus) geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen. Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie...want Hy self het geweet wat in die mens is” (Johannes 2:23-25). Hierdie mense het ‘n geloof in Christus gehad – maar dit was nie die geloof van diegene wat “mag gegee [is] om kinders van God te word” (Johannes 1:12) nie.
Regverdigende geloof is meer as ‘n geloof van inwilliging; dit is meer as net God erken. Jakobus redeneer: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook en hulle sidder” (Jakobus 2:19). Jakobus het gepraat van ‘n dooie, tydelike geloof – nie ‘n ewige geloof nie. En Jesus het gewaarsku oor hierdie soort geloof, en sommige het geglo, maar “het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af” (Lukas 8:13).
Maar daar is ‘n regverdigende geloof – een wat “hulle harte gereinig het” (sien Handelinge 15:9). En “met die hart glo ons tot geregtigheid” (Romeine 10:10). Die groot Puritiense skrywer John Owen het dit goed gestel:
“Ons ontken absoluut dat ons geregverdig is deur daardie geloof alleen wat alleen kan wees – dit is, sonder ‘n beginsel van lewe en gehoorsaamheid in alle dinge, te alle tye...Want ons erken geen geloof as die heiligmakende geloof nie, maar dit wat werklik en radikaal daarin bevat ‘n gehoorsaamheid te alle tye – ja, ons erken geen geloof as regverdigend, wat nie opsigselfstaande ‘n geestelike lewensbelangrike beginsel het van gehoorsaamheid en goeie werke nie.”
Vir geloof om regverdigend te wees, moet daar ‘n meegaande begeerte wees om gehoorsaam en getrou te wees aan God! Hierdie soorte geloof bevat ‘n lewensbelangrike krag – ‘n beginsel van totale, ewige gehoorsaamheid en liefde vir God. Enigiets minder as dit is dooie, tydelike geloof. Dit produseer nie die ware voordele van genade nie – maar in plaas daarvan, bespot dit genade!
Talle “genadepredikers” raak ontslae van die wet voor dit sy werk van oortuiging van sonde doen!
Ons is nie gered deur die wet nie – maar ons word oortuig van en veroordeel deur ons sonde deur middel van die wet! “Want deur die wet is die kennis van sonde” (Romeine 3:20).
Die wet was gestuur “Sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees” (Romeine 3:19). “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof” (Galásiërs 3:24).
“Dus is die wet heilig...en regverdig en goed. Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat dit sonde deur die gebod uitermate sondig kon word” (Romeine 7:12-13).
Paulus het in wese gesê, “Ek kon nie werklik my sondes bely totdat ek geweet het dit was sondes nie! Ek kon nie die heiligheid van God nastreef totdat ek gesien het hoe ver ek van Hom af was nie! Die wet het my oë oopgemaak, my ongeërgdheid oor sonde vernietig. Toe ek God se heiligheid gesien het deur Sy gebooie, het sonde uiters sondig vir my geword!”
Dit is die oortuiging wat jou reguit in die arms van Christus injaag terwyl jy ween, “Barmhartigheid, Here! Ek kan myself nie red nie, ek kan nie U wet volbring nie. Ek sien die sonde in my hart!”
Geloof word gedefinieer as die “die vlug van ‘n oortuigde, berouvolle sondaar na die barmhartigheid van God in Christus Jesus.” Slegs die persoon wat oortuig is van sy sonde deur die wet van God sal “vlug na Christus toe” vir skuiling.
Op die dag van Pinkster het Petrus gestaan en die skare die evangelie van God se genade aangebied. Maar eerstens het hy hulle onder die skroeiende lig van die wet geplaas! Hy het sy vinger gewys en gesê, Hom “het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring...Jesus...Here en Christus” (Handelinge 2:23,32,36). Die mense was in hulle harte getref – so oortuig van sonde deur die Woord van God dat hulle uitgeroep het, “Wat moet ons doen, broeders?” (Handelinge 2:37).
Adam was die evangelie van genade gegee – nadat sy “oë geopen is” (sien Génesis 3:7). Dit was slegs nadat hy sy eie ellendige toestand en die gevolge van sy sonde gesien het, dat God vir hom die boodskap van barmhartigheid en hoop gegee het!
Dit is waarom hedendaagse genade verkondiging nie sondige harte verander nie: omdat dit nie die oë van die sondaars open nie! Daar is geen skuld, geen skande, geen berou oor sonde nie.
Vryspraak vir sonde word vir mense aangebied wat nie eens erken dat hulle sondig is nie! Hulle word regverdigmaking aangebied vir sonde gepleeg waaroor hulle nooit skuldig gevoel het nie...verlossing wanneer hulle nie eens besef hulle is gebonde nie...geregtigheid waarvoor hulle nie honger en dors nie...vryheid van ‘n heilige toorn wat hulle nie besef op hulle rus nie!
Daar is ‘n gees van wetteloosheid in die land!
Die sondaar noem dit “regte”: die reg om homoseksualiteit te beoefen. Die reg tot aborsie. Die reg tussen instemmende volwassenes om met hulle liggame te doen wat hulle ook al wil. Kortliks, die reg om te doen wat hulle ook al wil! Sondaars wil al hierdie regte hê – maar niemand wil enige boetes betaal of gevolge dra nie. Dit is ‘n gees van wetteloosheid!
Hierdie gees sluip nou in die kerk in: “Gee vir my vryspraak en ewige lewe – sonder enige koste. Bevry my van skuld en veroordeling. Belowe my ‘n regverdigmaking wat ek nooit kan verloor nie. Maar moenie my onstel deur my te vra om iets te laat staan nie! Laat my dit op my manier hê – sonder om my persoonlike vryheid prys te gee, sonder enige oproep tot gehoorsaamheid!”
Dit mag dalk nie wees wat werklik gesê word nie – maar dit is wat geleef word. En nou het ons ‘n kieskeurige “genadeboodskap” met geen fondament waarop ‘n heilige lewe gebou kan word nie – ‘n evangelie wat die gees van wetteloosheid in ons land bevredig!
Jy sê moontlik, “Ek verstaan nie al hierdie Bybelleerstellinge– genade, regverdigmaking, heiligmaking nie. Dit is alles te verwarrend.”
Dierbare gelowige, God gee ons iets baie eenvoudig, wat ons almal kan verstaan: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jakobus 4:6).
As jy enige trots in jou het – veral as jy dink dat jy meer geestelik is as ander – dan kan jy seker wees dat God jou sal verneder. Hy sê Hy sal jou weerstaan!
Maar God stort Sy genade uit oor die nederiges! Jy hoef nie uit te redeneer hoe om hierdie genade te verkry nie. Jakobus 4:6 sê Hy sal dit vir jou gee!
“Verneder” soos dit hier gebruik word, beteken “gebroke in gees, berouvol.” Dit is ‘n gevoel van leegheid, hulpeloosheid, behoefte. Jy hoef nie enige leerstelling te verstaan om nederig voor God te wees nie; jy hoef nie te wonder of jy alles reg doen nie. God sê, “Bly net gebroke – bly behoeftig, honger en dors. En Ek sal al die genade wat jy nodig het, voorsien!”
“Onderwerp julle dan aan God” (Jakobus 4:7). Terwyl hierdie goddelose wêreld uitroep, “Gee vir my regte, laat ek dit op mý manier doen” – onderwerp God se kinders hulle aan Hom! Ons roep, “Nie my wil of my regte nie – slegs U s’n, Here!”
As jy op enige manier in jou hart getref is deur hierdie boodskap, is dit ‘n goeie teken dat God met hoogmoed in jou deel. Kan jy lag oor jou eie speletjies van skynheiligheid en wettiesheid? Indien wel, kan jy die duiwel reguit uit jou siel uit lag!
Kan jy nou sê, “Al my geregtigheid en goedheid is soos ‘n besoedelde kleed in God se oë, sonder die bloed van Christus. Maar as gevolg van die bloed, word al my werke, gehoorsaamheid en getrouheid ontvang as ‘n aangename geur vir die Here!” Dit, geliefde, is ware ywer vir God – en vir heiligheid en geregtigheid!