DIE GEES VAN SMEKINGE

David Wilkerson

Laat ons kyk na Daniël se gebed: “Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge...Neig U oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke...want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid” (Daniël 9:17-18).

Die woord “smekinge” word nooit in die Bybel gebruik, behalwe om ‘n uitroep of gebed wat gevokaliseer word aan te dui; met ander woorde, dit is nie privaat of bloot ‘n bepeinsing nie. Smekinge het defnitief te doen met die stem!

Die Hebreeuse woord vir “smekinge” dui op “’n olyftak toegedraai met wol, of een of ander lap, wat gewaai word deur iemand wat smeek en vrede soek of wil oorgee.” Eenvoudig gestel, dit was vlae van oorgawe en het gedui op ‘n uitroep van totale, onvoorwaardelike oorgawe.

Stel jou voor ‘n oorlog-moeg soldaat, verflenter en uitgeput, afgemat en oorweldig, vas in ‘n jakkalsgat van eiewil. Hy is heeltemal alleen, moeg en gehawend, en hy het aan die einde van homself gekom. Daarom breek hy ‘n olyftak af en bind sy wit onderhemp aan die punt daarvan vas. Hy lig dit dan op en kruip uit sy jakkalsgat uit, terwyl hy roep, “Ek gee oor – ek gee op!”

Dít is smekinge! Dit sê, “Ek kan nie meer hierdie oorlog voer nie. Ek is verlore en wanhopig.” Smekinge is nie net ‘n oproep tot God om te doen wat jý wil nie; dit is nie om Hom te smeek om jou met jóú planne te help nie. Inteendeel, dit is ‘n totale oorgawe van jou wil en jou manier van doen.

Vir eeue lank het Christene God aangeroep, terwyl hulle vol eiewil was en geroep het, “God, stuur my hierheen, stuur my daarheen, gee vir my dit, gee vir my dat.” Maar in die laaste dae gaan die Heilige Gees neerdaal met groot krag en ‘n gevoel van geestelike bankrotskap veroorsaak. Ons sal wakker word tot die werklikheid dat selfs met al ons geld, kennis, programme, bedienings en planne, het ons nog nie eens die wêreld aangeraak nie. Die Kerk het in werklikheid grond verloor en swak en beklaenswaardig geword.

Daar moet ‘n oorgawe wees! Ons geroep moet vergesel wees met ‘n gewilligheid om ons sonde oor te gee – om afstand te doen van alles in ons lewe wat nie soos Jesus Christus is nie.