Die Groot Verantwoordelikheid van Diegene Wat Vergewe Is
In Matthéüs 18, vertel Jesus ‘n gelykenis om sy dissipels te leer hoe die koninkryk van die hemel is. Soos met baie van sy gelykenisse, hou alles in die verhaal verband met Christus en sy kerk.
Jesus begin deur ‘n koning, wat sy dienaars tot rekenskap geroep het, te beskryf. Die Skrif sê, “En toe hy [die koning] begin afreken, word daar een na hom gebring wat tienduisend talente skuldig was” (Matthéüs 18:24). Hier was ‘n dienskneg diep in die skuld. Hy het die koning die ekwivalent van honderde miljoene dollars geskuld, ‘n hoeveelheid wat hy nooit sou kon terugbetaal nie.
Jesus vertel nie vir ons hoe hierdie man in so ‘n ongelooflike groot skuld beland het nie. Sommige vertalings van die gelykenis sê die man was ‘n slaaf en dat sy skuld ‘n onbetaalde lening was. Al wat ons egter uit Matthéüs se evangelie weet, is dat hy toegang tot groot hulpbronne gehad het en dit verkwis het.
Laat my twee belangrike dinge aan jou uitwys insake hierdie gelykenis. Eerstens, die diensknegte in die gelykenis verteenwoordig gelowiges, diegene wat in God se koninkryk werk. So, die skuldenaar dienskneg was goed bekend met die koning se werk. Tweedens, ons vind later uit (in Matthéüs 25) God se doel daarmee om sy mense talente te gee, is om vrug voort te bring. Almal wat talente van die Vader ontvang het, word beveel om dit te belê. God gee nie net talente onoordeelkundig uit nie. Hy verwag om vrugte te pluk van die beleggings wat Hy in sy mense stort.
Dit is duidelik in Matthéüs 18 dat die koning teen die diensknegte wat geopenbaar is vir misdade wat hulle gepleeg het, optree. En die dienskneg met die groot skuld was een van die eerste oortreders wat voor hom gebring is. Hierdie dienskneg was heel moontlik ‘n baie talentvolle man, met baie wat van hom verwag is. (Andersins, sou hy nie toegang gehad het tot alles wat hy verkwis het nie.) Toe hy egter rekenskap moes gee, kon hy nie “betaal nie” (Matthéüs 18:25). Daarom het die koning hierdie oordeel gefel: Toe “gee sy heer bevel dat hy verkoop moet word, en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, en dat betaal moet word” (Matthéüs 18:25).
Hierdie man het niks van waarde gehad om te betaal vir sy kriminele skuld nie. Hy het geen geld, geen besittings en geen verdienste gehad om te bied nie. So, wat het hy gedoen? “Toe val die dienskneg neer en buig voor hom en sê: Heer, wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal” (Matthéüs 18:26).
Dit is belangrik hier om die betekenis van die “buig” te weet. Die Griekse woord beteken “om te vlei of neer te buig; om te soen soos ‘n hond sy baas se hand lek.” Hierdie man was nie op sy knieë in bekering nie. Hy was kruiperig, en het probeer om sy meester heuning om die mond te smeer. Hy het nie om vergifnis gevra nie, maar vir geduld. Hy wou nog ‘n kans hê en het gepleit, “Gee my tyd. Ek kan opmaak vir my sonde en al u vereistes nakom.”
In werklikheid kon hierdie dienskneg onmoontlik vir sy misdaad betaal. Hy kon nooit alles bymekaarmaak wat nodig was om die fondse wat hy misbruik en verkwis het, terug te betaal nie. Ek vergelyk sy gesindheid met dié van ‘n Christen wat in owerspel vasgevang is. Toe sy sonde geopenbaar is, was sy eerste reaksie ‘n bedrieglike, kruiperige berou. Hy het uitgeroep, “O God, moenie toelaat dat ek my huwelik en my familie verloor nie. Moenie my loopbaan wegneem nie. Verhoed my om bankrot te speel. Wees geduldig met my. Ek het net nog ‘n kans nodig.” Dan smeek hy sy vrou, “Gee my asseblief nog ‘n kans.” In werklikheid kan hierdie man egter nooit opmaak vir wat hy gedoen het nie. Dit is eenvoudig onmoontlik.
Jesus gaan voort in die gelykenis: “En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld” (Matthéüs 18:27). Waarom sou die koning aangeraak word met medelye teenoor hierdie kruiperige man? Die dienskneg het nie berou gehad nie. Trouens, hy het geen idee gehad van die verskriklike sondigheid van sy sonde nie. Ons vind dit later in die gelykenis uit, toe sy hart geopenbaar is as hard, ongenaakbaar en sonder medelye.
Hierdie man was ‘n akteur en geensins van voorneme om te verander nie. En verseker het die koning dit onderskei. Immers, hierdie koning verteenwoordig Christus self. Hy het geweet dat die dienskneg probeer het om op sy gevoelens te speel en sy simpatie op te wek. Ten spyte hiervan, het die koning egter medelye met hom gehad. Waarom? Dit was nie as gevolg van sy skynheilige trane nie. En dit was nie omdat die dienaar gesmeek het vir geduld en meer tyd nie. Nee, die koning was aangeraak deur die verskriklike siekte wat hierdie man se hart en verstand geteister het.
Jy sien, net ‘n verskriklike misleiding kan hierdie dienskneg laat glo dat hy werklik sy meester kan terugbetaal. Sy gesindheid het weerspieël hoe nietig hy gedink het sy sonde was. Vir hom was dit net ‘n klein foutjie, wat tyd nodig gehad het om reg te stel. Hy was oortuig dat as hy hard genoeg sou kon werk, sou hy sy verstand kon gebruik om die boeke te laat balanseer. Maar die koning het van beter geweet. Geen hoeveelheid verdienste of eie-wil kon die groot skuld, wat hierdie man gemaak het, afwerk nie.
Verstaan jy die boodskap? Volgens Jesus, is ons nie waarlik berouvol totdat ons erken dat dit onmoontlik is om vir ons eie sonde versoening te doen nie. Ons kan God nooit terugbetaal vir ons misdade nie, of dit nou deur gebed, toewyding of goeie voornemens is. Die Nuwe Verbond maak dit baie duidelik. In die Ou Testament, was egbreek verklaar as ‘n sonde was ernstig gestraf moes word. Jesus het egter die sonde van egbreek baie ernstiger opgeneem. Hy het gesê dat as ‘n persoon selfs na iemand kyk met wellus, het hy reeds egbreek gepleeg. Kortliks, onder die Nuwe Verbond, het God se vereistes vir heiligheid selfs moeiliker geword.
Die Koning in Jesus se gelykenis het geweet hoe verwoestend die gevolge van sy dienskneg se sondes was. En Hy kon sien dat as hy hierdie man sou oorgee aan daardie gevolge, sou die dienskneg vir ewig verlore wees. Trouens, die dienskneg was reeds blind vir die ernstigheid van sy sonde. En as hy nie vergewe sou word nie, sou hy selfs harder geword het. Hy sou hopeloos afwaarts spiraal en verhard word teenoor die lewe. Daarom het die koning besluit om hom te vergewe. Hy het verklaar dat die man vry en skoon was en het hom so van alle skuld vrygestel.
Laat my ‘n kort woord oor bekering noem. Hierdie konsep word dikwels gedefinieer as ‘n “ommekeer.” Dit spreek van ‘n ‘n 180-grade omdraai van jou vorige weë. Bekering gaan gepaard met goddelike berou.
Weereens neem die Nuwe Testament hierdie Ou Testamentiese konsep selfs verder. Bekering gaan oor baie meer as ‘n blote wegdraai van die sondes van die vlees. Dit sluit in meer as om bedroef te wees oor die verlede en hartseer te wees omdat jy die Here bedroef het. Volgens Jesus se gelykenis, gaan bekering oor die wegdraai van die siek denkwyse wat ons toelaat om te glo dat ons op een of ander manier kan opmaak vir ons sondes.
Hierdie siekte tas miljoene gelowiges aan. Waar sulke Christene ook al in sonde verval, dink hulle, “Ek kan dinge met die Here regmaak. Ek sal vir Hom opregte trane, meer ernstige gebed en meer Bybel lees, bring. Ek is vasbeslote om daarvoor op te maak.” Maar dit is onmoontlik. Hierdie soort denke lei na een plek: hopelose wanhoop. Sulke mense sukkel en misluk altyd. En op die ou end skik hulle vir ‘n valse vrede. Hulle het ‘n selfgemaakte skynheilige heiligheid nagestreef en hulleself van ‘n leuen oortuig.
Dit is waarom Jesus hierdie gelykenis vir ons gegee het. Hy gee vir ons die voorbeeld van ‘n vertroude, begaafde dienskneg wat skielik openbaar is as die grootste van alle skuldenaars. Hier is iemand wat onverdienstelik is, vol verkeerde motiewe en medelye nie waardig is nie. Sy meester vergewe hom egter vrylik – net soos Jesus vir jou en my gedoen het.
Sê vir my, wat het jou gered? Was dit jou trane en ernstige pleidooie? Jou diepe hartseer omdat jy God bedroef het? Jou opregte vasbeslotenheid om jou van jou sonde te bekeer? Nee, dit was nie een van hierdie dinge nie. Dit was slegs genade wat jou gered het. En soos die dienskneg in die gelykenis, het jy dit nie verdien nie. Trouens, jy is dit steeds nie waardig nie, maak nie saak hoe goddelik jou wandel is nie.
Hier is ‘n eenvoudige definisie van ware bekering. Dit beteken om te sê, “Ek moet vir eens en vir altyd elke gedagte dat ek ooit die Here kan terugbetaal, opsy stoot. Ek kan myself nooit in sy goeie boekies in werk nie. Daarom is daar geen poging of goeie werk van my kant af, wat my sonde kan uitwis nie. Ek moet eenvoudig sy barmhartigheid aanvaar. Dit is die enigste weg na verlossing en vryheid.”
Het die koning sy dienskneg se sonde oorgesien? Het hy net ‘n vinnige kyk na sy skuld gegee en dit bloot verskoon? Glad nie. Deur hom te vergewe, het die koning in werklikheid ‘n groot verantwoordelikheid aan hierdie man gegee. En daardie verantwoordelikheid was selfs groter as die las van sy skuld. Trouens, hierdie dienskneg het nou sy meester meer as ooit tevore geskuld. Hoe? Hy was verantwoordelik om ander te vergewe en lief te hê, net soos die koning aan hom gedoen het.
Wat ‘n ontsaglike verantwoordelikheid was dit nie? En dit kan nie geskei word van Christus se ander koninkryksleerstellinge nie. Jesus het immers gesê, “Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Matthéüs 6:15). Sy bedoeling is duidelik: “As jy ander nie vergewe nie, sal Ek jou nie vergewe nie.” Hierdie woord is nie opsioneel nie, dit is ‘n bevel. Jesus vertel vir ons in wese, “Ek was verdraagsaam met jou. Ek het jou met liefde en barmhartigheid behandel. En ek het jou vergewe slegs deur my liefde en barmhartigheid. Net so, moet jy liefdevol en barmhartig wees teenoor jou broers en susters. Jy moet hulle vrylik vergewe, net soos Ek jou vergewe het. Jy moet in jou huis, jou kerk, jou werkplek en in die strate ingaan en aan almal die genade en liefde betoon wat Ek aan jou bewys het.”
Paulus verwys na Jesus se bevel, en sê, “Soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). Hy verduidelik dan hoe ons kan streef na gehoorsaamheid aan hierdie bevel: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die en teen die ander ‘n klag het...En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is” (Kolossense 3:12-14).
Wat beteken dit om verdraagsaam te wees? Die Griekse woord beteken “om jouself regop te hou, om te verdra.” Dit suggereer om dinge waarvan ons nie hou nie, te verdra. Ons word vertel om die mislukkings van ander te verdra en weë wat ons nie verstaan nie te verduur.
So, hoe het die dienskneg wat vergewe was, op sy meester se genade en vergifnis gereageer? Die eerste ding wag hy gedoen het, was om ‘n mededienskneg, wat hom geld geskuld het, aan te val. Hy het na die man geloop, hom aan die keel gegryp en geëis om onmiddellik betaal te word. Ongelooflik soos dit mag klink, hierdie bedrag was ‘n blote kleinigheid, minder as drie dae se lone. Die dienskneg het egter sy debiteur gedreig en geskree, “Ek wil dit nou hê!” Die man het niks gehad nie en het gevolglik op sy aangesig geval en vir geduld gepleit. Maar die dienskneg het gereageer, “Jou tyd is verby.”
Ek vertel vir jou, dit is een van die mees gruwelike sondes in die hele Bybel. Eerstens, dit is ‘n oortreding van ‘n dienskneg van God. Vertel vir my, watter soort persoon sou so skaamteloos optree? Watter soort hart kon so ondankbaar wees, so ‘n gebrek hê van selfs ‘n fraksie van die barmhartigheid wat hy self ontvang het?
Ons word ‘n kykie gegee na die swartheid wat nog die hele tyd in hierdie dienskneg se hart was. In Romeine 2, beskryf Paulus dieselfde swartheid: “Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge...En meen jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug? Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” (Romeine 2:1,3-4).
Wat bedoel Paulus wanneer hy sê dat hierdie persoon die rykdom van God se goedertierenheid verag? Die woord hier vir “verag” beteken, “Hy kon nie dink dat dit moontlik was nie.” Met ander woorde, hierdie gelowige het gesê, “Soveel genade en barmhartigheid is nie moontlik nie. Ek kan dit nie begryp nie.” Dit het nie in sy teologie gepas nie. So, in plaas daarvan om dit te aanvaar het hy sy gesindheid daarteen ingestel.
Waarom kon die ondankbare dienskneg nie die koning se genade aanvaar nie? Daar is een rede: hy het nie die grootheid van sy sonde ernstig opgeneem nie. Hy was self te vasbeslote en oortuig dat hy sy eie skuld kon delg. Die koning het hom egter reeds vertel, “Jy is vry. Daar is nie meer skuld nie, geen eis op jou nie, geen meer proeftydperk of werke nodig nie. Al wat jy nodig het om nou te doen, is om te fokus op die goedertierenheid en verdraagsaamheid wat Ek aan jou bewys het.”
Dit is tragies dat ‘n persoon wat nie liefde aanvaar nie, nie in staat is om enige iemand anders lief te hê nie. In plaas daarvan, word hy veroordelend teenoor ander. Dit is wat met hierdie dienskneg gebeur het. Hy het die hele doel van die koning se barmhartigheid aan hom, by hom laat verbygaan. Jy sien, God se verdraagsaamheid en onverdiende vergifnis is vir een ding bedoel: om ons tot bekering te bring. Paulus stel dit soos volg: “Omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie” (Romeine 2:4). Paulus het dit eerstehands geweet, aangesien hy beweer het dat hy die grootste van alle sondaars was.
Dit is duidelik uit hierdie gelykenis dat dit die rede was waarom die meester hierdie dienskneg vergewe het. Hy wou hê hierdie vertroude man moes wegdraai van die sy eie werke van die vlees, om in die koning se ontsaglike goedheid te rus. So ‘n rus sou hom bevry om op sy beurt ander lief te hê en te vergewe. Maar in plaas van bekering, het die dienskneg weggegaan en sy meester se goedheid in twyfel getrek. Hy wou nie van die gedagte ontslae raak dat sy meester dalk van plan sou verander nie. Daarom was hy vasbeslote om ‘n gebeurlikheidsplan te hê. En ten spyte van die koning se barmhartigheid, het hy ander met oordeel behandel.
Kan jy jouself die gemartelde verstand van so ‘n mens voorstel? Hierdie man het ‘n heilige plek van vergifnis verlaat waar hy sy meester se goedheid en genade beleef het. Maar in plaas daarvan om te jubel, het hy die idee van so ‘n volkome vryheid verag. Ek vertel vir jou dat enige gelowige wat dink dat God se goedheid onmoontlik is, homself blootstel aan elke leuen van Satan. Sy siel het geen rus nie. Sy gedagtes is in voortdurende onrus. En hy vrees gedurig oordeel.
Ek wonder: hoeveel Christene leef vandag hierdie martelende bestaan? Is dit waarom daar so baie twis en so baie verdeeldheid in die liggaam van Christus is? Is dit waarom so baie bedienaars haaks is met mekaar en waarom so baie denominasies weier om saam met mekaar gemeenskap te hou?
Die veroordelende gees binne die kerk is baie erger as enige veroordeling wat in die wêreld plaasvind. En dit is die teenoorgestelde van wat Jesus gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Ek vra jou, kan die wêreld moontlik God se mense deur hierdie standaard herken? Sê ongelowiges, “Daardie mense is waarlik sy dissipels. Ek sien hulle nooit baklei nie. Hulle het mekaar werklik lief”?
Ek is heeltemal geskok deur die diep skeuring wat ek in kerke sien. Ek het dit eerstehands by ‘n bedienaarskonferensie oorsee gesien. Toe ek opdaag, het verskeie prominente bedienaars my gewaarsku, “Moenie met Pastoor So-en-so saamwerk nie. Hy is betrokke by een of ander bisarre aanbiddding en allerhande charismatiese dwaasheid. Jy moet hom geen prominensie by die vergadering gee nie.” Selfs die man se mede-Pinkster kollegas het my vertel om hom te vermy.
Maar toe ek hom ontmoet en hom leer ken het, het ek Christus in hom gesien. Op een stadium, het iemand vir my gefluister, “Hierdie man is een van die grootste manne van gebed in ons land. Hy spandeer twee volle dae elke week net om te bid.” Trouens, ek het die pastoor beleef as sag, vriendelik en liefdevol – die presiese vrug wat Jesus sê ons almal moet hê.
Toe ek gepraat het, het ek hierdie bedienaar saam met my op die verhoog genooi, saam met ander. Dit het groot aanstoot gegee en na die tyd het verskeie pastore my beskimp. Al waaraan ek kon dink was, “Hierdie mans weet wat dit is om ‘n groot skuld vergewe te wees. Van alle mense, weier hierdie leiers van God se kerk egter om ‘n mede-pastoor, wat hulle nie eers ken nie, te verdra.
By ‘n ander konferensie, het ek gesien hoe verskeie denominasies met blydskap saamwerk. Daar was ‘n wonderlike sin van eenheid tussen die Baptiste, Pinkster kerke, Lutherane en die Episkopale. Elke aand het ‘n leier van ‘n ander denominasie die byeenkoms gelei. Hy was gevolg deur ‘n Pinkster aanbiddingsgroep. Die jong aanbidders was vol blydskap en het hande geklap terwyl hulle die jubelende aanbidding gelei het. Ek was later vertel dat sommige van hulle verlos was van dwelmverslawings en net te dankbaar was om net teenwoordig te kon wees.
Maar toe ek na die biskop gekyk het, het sy gesig rooi verkleur. Hy het gefrons en begin kook. Ek het toe besef dat sy denominasie nie in uitbundige aanbidding geglo het nie. En ek het vrylik deelgeneem. Na die byeenkoms, het die biskop na my gekom en verklaar, “Dit was skandalig, totaal in die vlees. Hoe kon jy toelaat dat dit plaasvind? Ek verlaat hierdie konferensie en neem al 200 van my pastore saam met my.”
Ek was stomgeslaan, sprakeloos. Ek het weke op my knieë gespandeer om vir hierdie byeenkomste voor te berei. Nou het ek egter gewonder wat ek verkeerd gedoen het. In werklikheid was ek deur hierdie man se woede gewurg. Dit was soos die toneel in die gelykenis: hy het my aan die keel gegryp en het ‘n woedende vereiste gestel. Gelukkig het die biskop van plan verander en het nie die konferensie verlaat nie. Maar wat sou ‘n bedienaar van God so besiel om te weier om ‘n mededienskneg van God te verdra? Daar was geen geduld, geen barmhartigheid en geen liefde vir ander van soortgelyke kosbare geloof nie.
Vir jare het ‘n biskop van ‘n sekere denominasie my na sy land genooi om byeenkomste te hou. Hy het gepleit, “Hierdie nasie het nodig om te hoor wat God aan jou meegedeel het.” Uiteindelik het die Here my vrygestel om te gaan, maar slegs op voorwaarde dat al die denominasies toegelaat sou word om aan die byeenkomste deel te neem. Toe die biskop dit hoor, het hy geweier om deel te neem. En hy het al sy bedienaars verbied om dit by te woon. Waarom? Hulle was vir jare geskei van ander denominasies. ‘n Genoot van hierdie biskop het my begin peper en te sê, “Skaam jou. Hoe kan ‘n man van God met sulke mense saamwerk?”
Wie presies was die mense waarvan hy gepraat het? Ek het ontdek dit was ‘n Lutheraanse biskop wat vol van Jesus was...’n groep nederige Pinkster biskoppe...en ‘n Baptiste biskop wat in die tronk was onder Kommunisme, waar hy ‘n handgeskrewe kopie van my boek, The Cross and the Switchblade, gelees het. Al hierdie leiers was gretig om saam te aanbid, as een in Christus. Kan jy jou voorstel dat enige ander Christen leier sal weier om met so ‘n groep gemeenskap te hou?
Wat is agter sulke veroordelende twis? Waarom mishandel dienaars van God, wat persoonlik so baie vergewe is, hulle broeders en weier om met hulle gemeenskap te hou? Dit kan alles teruggeneem word na die ergste sonde moontlik: die veragting van God se goedheid.
Ek het tot hierdie gevolgtrekking gekom slegs toe ek my eie hart deursoek het vir die antwoord. Ek het onthou van my eie stryd om God se genade en goedheid teenoor my te aanvaar. Vir jare, het ek onder ‘n wettiese slawerny geleef en gepreek. Ek het hard probeer om standaarde wat ek gedink het na heiligheid lei, uit te leef. Maar dit was meestal net ‘n lys van moets en moenies.
In werklikheid was ek gemakliker by die berg Sinai, te midde van die bulderende profete, as wat ek was by die kruis, waar my nood geopenbaar is. Ek het vrede gepreek, maar het dit nooit ten volle beleef nie. Waarom? Ek was onseker oor die Here se liefde en sy verdraagsaamheid teenoor my mislukkings. Ek het myself as so swak en goddeloos gesien dat ek God se liefde onwaardig was. Kortliks, ek het my sonde groter gemaak as sy genade.
En omdat ek nie God se liefde vir my gevoel het nie, het ek alle ander veroordeel. Ek het ander op dieselfde manier gesien as wat ek myself gesien het: as kompromiemakers. Dit het my prediking beïnvloed. Ek het uitgevaar teen die goddeloosheid in ander soos ek dit in my eie hart voel opwel het. Soos die ondankbare dienskneg, het ek nie God se goedheid teenoor my geglo nie. En omdat ek nie sy liefdevolle verdraagsaamheid teenoor my toegeëien het nie, het ek dit nie vir ander gehad nie.
Uiteindelik het die werklike vraag vir my duidelik geword. Dit was nie meer, “Waarom is so baie Christene hard en onvergewensgesind nie?” Nou het ek gevra, “Hoe is dit moontlik dat ek Christus se gebod om ander lief te hê soos Hy my liefgehad het kan vervul, as ek nie oortuig is dat Hy my liefhet nie?”
Ek dink terug aan die biskop wat so kwaad was oor die uitbundige aanbidding. Ek glo daardie man het in vrees opgetree. Hy het God se salwing op daardie sangers gesien en my preek, wat hy geweet het van God se troon gekom het, gehoor – en dit het sy tradisies bedreig. Hy het meer aan ‘n leerstelling vasgehou as aan Christus se liefde. En daardie leerstelling het ‘n muur geword wat hom van sy broers en susters in Christus vervreem het.
Paulus vermaan, “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efésiërs 4:31-32).
Ons moet die woorde van Christus se gelykenis ter harte neem: “Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld...moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig gewees het nie?” (Matthéüs 18:32-33).
Niemand is meer sondes vergewe as ek nie. Ek is van diegene wat vrygespreek is van “ernstige sonde,” ongeregtighede van vlees en gees wat te veel is om te tel. Ek was ongehoorsaam aan God se Woord, het sy werk in my lewe beperk, was ongeduldig met mense en het ander veroordeel terwyl ek self skuldig gestaan het. En die Here het my dit alles vergewe.
Die vraag nou vir my – inderdaad, vir elke Christen – is dit: “Verdra ek my broers? Verduur ek hulle verskille?” As ek weier om lief te hê en hulle te vergewe, soos ek vergewe is, noem Jesus my ‘n “slegte dienskneg.”
Moenie verkeerd verstaan nie: dit beteken nie dat ons ‘n kompromie moet maak nie. Paulus het genade met vrymoedigheid gepreek, maar hy het Timótheüs beveel, “Weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timótheüs 4:2). Ons moet moedige beskermers wees van suiwer leer.
Ons is nie veronderstel om leerstellinge te gebruik om mure tussens ons te bou nie. Dit was die sonde van die Fariseërs. Die wet het hulle vertel, “Heilig die sabbat.” Maar die gebod self was nie goed genoeg vir hulle vlees nie. Hulle het hulle eie veiligheidsmaatreëls en veelvuldige reëls en regulasies bygevoeg, sodat dit die minste moontlike fisiese bewegings op die sabbat toegelaat het. Die wet het ook gesê, “Moenie God se naam ydelik gebruik nie.” Maar die Fariseërs het selfs meer mure gebou en gesê, “Ons sal nie eers God se naam noem nie. Dan sal ons dit nie ydelik kan gebruik nie.” In sommige Joodse sektes, is hierdie muur vandag steeds in plek. Maar dit is ‘n mensgemaakte muur en nie God s’n nie. Daarom is dit slawerny.
Vandag, vertel die Here vir ons, “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:16). Maar mense het hierdie gebod geneem en dit gebruik om mure te bou. Hulle het kleredragreëls en kodes, wat optrede en aktiwiteite beperk, neergelê, onmoontlike standaarde wat selfs hulle nie eers kon nakom nie. Hierdie mure was op ‘n onsigbare fort gebou en slegs diegene daar binne-in was beskou as heilig. Almal buitekant was verdoem en moes vermy word.
Ek sê vir jou, dit is boosheid van die ergste graad. Jesus se gelykenis maak dit baie duidelik. Sulke mense gryp ander aan die keel en eis, “Dit is my manier, of geen manier hoegenaamd nie.” Maar nie een van die Here se gebooie was bedoel om mure van vervreemding te vorm nie.
Wat was die koning se reaksie op sy dienskneg se ondankbaarheid in Jesus se gelykenis? Die Skrif sê, “En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was” (Matthéüs 18:34). In Grieks, vertaal dit, “na die bodem geneem om gemartel te word.” Ek kan nie help om te dink dat Jesus hier van die hel praat nie.
So, wat vertel hierdie gelykenis vir ons? Hoe som Christus hierdie boodskap op vir sy dissipels, sy naaste metgeselle? “So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortreding vergewe nie” (Matthéüs 18:35).
Terwyl ek hierdie gelykenis lees, sidder ek. Dit maak my dat ek op my aangesig wil val en Jesus vra vir ‘n doop van liefde teenoor my medediensknegte. Hier is my gebed; ek moedig jou aan om dit joune ook te maak:
“God, vergewe my. Ek word so maklik deur ander uitgelok en te dikwels reageer ek in woede. Ek weet egter nie waar my eie lewe sonde u genade en verdraagsaamheid sou gewees het nie. Ek is verwonderd oor u liefde. Help my asseblief om u liefde vir my ten volle te verstaan en te aanvaar. Dit is die enigste manier wat ek ooit in staat sal wees om u gebod van liefde te vervul. Dan sal ek in staat wees om my broers te verdra in u Gees van liefde en genade.” Amen.