DIE HELE DEEG SUUR MAAK

David Wilkerson (1931-2011)

“Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid!” (Hebreërs 13:20-21).

Wat ‘n vreuge om tussen mense te wees wat rondom hulle die aroma het dat hulle by Jesus was en hierdie soort Christus-lewe leef. Soos Paulus, het hierdie heiliges ‘n verlange om in die teenwoordigheid van Christus te wees. Hulle het ‘n honger om meer en meer intiem met Hom te wees en hulle straal sy liefde en heiligheid uit.

Sulke mense geniet die lewe ten volle, maar hulle vermy alle dwase geselskap. Hulle leef heeltemal afgesonder van die dinge van hierdie wêreld en God se guns is sigbaar in hulle lewens en in hulle families. Sommige mag dalk arm in materiële dinge wees maar hulle lewens is ten volle deur die Here geseën.

Moenie my verkeerd verstaan nie: hierdie gelowiges gaan deur seisoene van ernstige beproewings en toetse maar, soos Paulus, hoewel hulle terneergedruk mag wees, is hulle nie vernietig nie. En hulle gooi nooit tou op nie! Hulle is vasbeslote om hulle geloofslewe en bediening te voltooi op ‘n manier wat God behaag.

Maar Satan is vasbeslote om dinge in jou lewe in te bring wat jou verhinder om in die oorvloed van Christus se seën in te gaan. Paulus het dit agtergekom en vir die Galásiërs gesê, “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees? Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie. ‘n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur” (Galásiërs 5:7-9). Met ander woorde, “Wat in jou lewe verhoed jou om in die volle seën van Christus in te gaan?”

Dit is ‘n goeie waarskuwing vir ons vandag. Talle Christene wat eens magtig deur God gebruik is, het toegelaat dat iets in hulle lewens insluip en hulle het vrede gemaak met daardie kompromie. Pasop dat jy nie toelaat dat een sonde dien as ‘n klein bietjie suurdeeg wat die hele deeg suur maak nie.