Die Klank van Sy Stem
Jesus het sy lewe op aarde in totale afhanklikheid van die hemelse Vader geleef. Ons Redder het niks gedoen en niks gesê nie alvorens Hy nie met sy Vader in heerlikheid geraadpleeg het nie. En Hy het geen wonderwerke gedoen nie behalwe dié wat die Vader Hom opgedra het. Hy het verklaar : ". net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is" (Johannes 8:28-29).
Christus stel dit baie duidelik: Hy was daagliks deur sy Vader gelei. En Sy gebruik van volkome afhanklikheid, voortdurend aan't luister na sy Vader se stem, was deel van sy daaglikse wandel. Dit word beskryf in die Evangelie van Johannes. Een sabbat dag het Jesus naby die bad van Betésda geloop toe Hy 'n kreupel man op 'n mat gesien lê het. Jesus het Hom na die man gewend en die man beveel om sy bed te neem en te loop. Die man het onmiddelik gesond geword. Hy het genees weggestap.
Die Joodse leiers was hieroor smoorkwaad. Volgens hulle het Jesus die sabbat verbreek deur die man te genees. Maar Christus antwoord : "Ek het slegs gedoen wat my Vader My beveel het om te doen." Hy verduidelik toe : "My Vader werk tot nou toe, en Ek ook. ... die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen" (Johannes 5:17-20).
Jesus het dit baie duidelik gestel: "My Vader het my alles geleer wat Ek veronderstel is om te doen." U mag wonder: "wanneer, presies, het God die Vader vir Christus geleer wat om te doen." Wanneer het Jeus God gesien wonderwerke doen? Wanneer het die Vader hom vertel van alles wat Hy moet doen en sê?
Het dit alles in heerlikheid voordat Christus vlees geword het, gebeur? Het die twee voor die skepping saam gesit en elke dag van Jesus se lewe uitgestip? Het die Vader vir sy Seun gesê : "Op die tweede sabbat van die sesde Joodse maand sal jy by die bad van Betésda stap. Jy sal 'n kreupel man daar ontmoet. Gee hierdie man opdrag om op te staan en te loop."
Indien dit die geval was, sou nie een van ons dit in verband kon bring nie. So 'n ooreenkoms sou nie in ons daaglikse wandel met die Here toepaslik gewees het nie. Tog weet ons dat Jesus gekom het om vir ons 'n voorbeeld te stel om te volg. Per slot van sake, Hy het aarde toe gekom om alles wat ons doen te beleef, ons gevoelens te deel en medelye te hê met ons pyn en swakhede. Op ons beurt moet ons lewe soos Hy gelewe het, wandel soos Hy gewandel het.
Die punt is dat Jesus, in die vlees, moes staatmaak op die daaglikse innerlike werking van die Vader se stem. Hy moes ten alle tye van die Vader afhanklik wees ten einde sy stem, wat Hom lei, te hoor. Anders sou Christus net eenvoudig nie kon vermag wat Hy vermag het nie. Jesus moes na die stem van sy Vader luister, uur na uur, wonderwerk na wonderwerk, een dag op 'n slag.
Hoe was Jesus instaat om die stil, sagte stem van sy Vader te hoor? Volgens die Bybel het dit deur gebed gebeur. Keer op keer het Jesus na 'n afgesonderde plek gegaan om te bid. Hy het geleer om die Vader se stem te hoor terwyl Hy op sy knieë was. En sy Vader was getrou en het aan Hom alles wat Hy moet doen en sê, geopenbaar.
Stel u voor Jesus moet 'n gewigtige besluit neem, iets soos sy dissipels kies. Hoe het die Here die twaalf uit die groot skare wat Hom gevolg het, gekies? Dit moes 'n betekenisvolle besluit gewees het. Per slot van sake sou hierdie dissipels die steunpilare van die Nuwe Testamentiese Kerk word. Het sy Vader Hom twaalf name gegee terwyl Hy in heerlikheid was? Indien wel, waarom het Jesus 'n hele nag in gebed deurgebring voordat Hy die twaalf benoem het?
Lukas vertel ons: "En Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en het die nag in die gebed tot God deurgebring" (Lukas 6:12). Die volgende oggend het Jesus die twaalf name uitgeroep. Hoe het Hy hulle geken? Die Vader het gedurende die nag hulle aan Hom bekend gemaak.
Bowendien, daardie selfde aand het die Vader die Saligsprekinge aan sy Seun gegee, daardie spreekwoorde uit die bergrede: "Salig is julle armes ... salig is julle wat nou ween .. moenie oordeel nie ..." (sien Mattéüs 5-7). Jesus het dit alles direk uit die Vader hart ontvang.
Dit was tydens hierdie ure alleen met die Vader dat Christus sy stem gehoor het. Inderdaad, Jesus het elke bemoedigend woord, elke profetiese waarskuwing ontvang terwyl Hy gebid het. Hy het by die Vader gepleit, Hom gedien en aan Sy wil onderwerp. En na elke wonderwerk, elke lering, elke redenasie met 'n Fariseër, het Jesus hom terug gehaas na gemeenskap met sy Vader.
Ons sien hierdie soort toewyding in Mattéüs 14. Jesus het pas die nuus van Johannes die Doper se dood gehoor. "En toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in 'n skuit vertrek na 'n verlate plek alleen" (Mattéüs 14:13). (Ek wonder of Hy na dieselfde woestyn gegaan het as dié waar Johannes jare in bepeinsing en voorbereiding vir sy bediening spandeer het.) Jesus was alleen daar, in gebed en diep bedroef oor Johannes se dood. Johannes was 'n geliefde vriend en ook 'n gerespekteerde profeet van God. Nou, terwyl Christus in geselskap met God was, het Hy genade gevra en ontvang. En daar in die woestyn, terwyl Hy diep afgesonder was met God, het Hy vir die volgende dag leiding ontvang.
Onmiddelik nadat Hy van daardie plek weggegaan het, het Hy begin wonderwerke doen. "En toe Jesus uitgaan, het Hy 'n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak" (14:14). Dieselfde dag voed Jesus 'n skare van 5000 met vyf brode en twee visse. Probeer u indink wat 'n bedrywige, vol en uitputtende dag dit vir Hom was. Hy het later daardie dag die skare weggestuur.
Wel, wat het Jeus op daardie tydstip gedoen? 'n Mens sou dink dat Hy 'n geleentheid sou soek om te rus of 'n maaltyd in stilte te geniet. Miskien sou Hy 'n paar van sy dissipels na aan Hom saam geroep het en die gebeure van die dag nabetrag. Of miskien sou Hy verkies om na Bethánië toe te gaan, om daar deur die gasvryheid van Maria en Martha se familie verfris te word.
Jesus het nie een van hierdie gedoen nie. Die Bybel sê: "En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te gaan bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen" (14:23). Weereens het Jesus hom terug na die Vader gehaas. Hy het geweet dat die enigste plek waar Hy kan herstel in die Vader se teenwoordigheid is.
Jesus was ten volle bewus van die werke wat Hy op die aarde moes doen. Dit is duidelik in die Bybel uiteengesit: hy sou die siekes en die geteisterdes gesond maak, blindes se oë open, die gebrokenes van hart vertroos, tronkdeure open, gevanges bevry, die honger en dors van menigtes versadig. Nogtans het Jesus in sy daagliks wandel niks gedoen voordat Hy hom nie aan die Vader onderwerp het nie. Ongeag of hierdie werke vir Hom uiteengesit was, het Hy altyd die Vader se leiding gesoek, oomblik vir oomblik.
Die Bybel sê vir ons dat Jesus per geleentheid "almal wat Hom aangeraak het" gesond gemaak het. Nogtans het Hy by ander geleenthede die mense weens hulle ongeloof nie gesond gemaak nie. Hoe het Jesus geweet wanneer om gesond te maak en wanneer nie? Hy moes die stil, sagte stem van die Vader wat Hom 'n woord van leiding gegee het, hoor. En Hy het hom verheug om sy Vader se stem te hoor.
Dieselfde is waar van ons roeping. Ons weet wat die Bybel alles van ons verwag: ons moet mekaar lief hê, bid sonder ophou, in die wêreld ingaan en dissipels maak, nastreef om waardig voor God te wees, in geregtigheid wandel, die armes, siekes, behoeftiges en gevanges bedien. Daar is ook sekere dinge wat ons moet doen wat nie in die Bybel genoem is nie. Sekere behoeftes in ons daaglikse lewe staar ons in die gesig, hetsy of dit deur 'n krisis of deur ander dringende omstandighede is. Ten tye van sulke oomblikke het ons ons Vader se stem nodig om ons te lei, om met ons oor dit wat nie in Sy gebooie verwat is nie te spreek. Eenvoudig gestel - ons moet ook dieselfde stem van die Vader hoor wat Jesus tydens sy verblyf op aarde gehoor het.
Ons weet Christus het hierdie wisselwerking met sy Vader gehad. Hy het aan sy dissipels gesê : ". omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het" (Johannes 15:15). Hy het ook aan die geesteklike leiers gesê: "(Ek is) iemand wat vir julle die waarheid gesê het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie" (8:40). Wat het Jesus deur die laaste sinsdeel bedoel? Hy het aan Israel se leermeesters gesê: "Ek het julle die waarheid gegee, direk uit God se hart. Abraham kon dit nie doen nie."
Christus het gesê: "Julle leef 'n dooie teologie sonder krag. Julle bestudeer die verlede, eer julle vader Abraham, julle leer reëls en regulasies vir julle bestaan. Maar waaroor Ek met julle praat is nie uit die verre verlede nie. Ek was pas by die Vader. Hy het wat Ek vir julle preek aan my bekend gemaak. Ek het aan julle bekend gemaak wat julle moet hoor."
Johannes die Doper het teen dieselfde geestelike leiers getuig: "En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie" (3:32). Vandag nog spreek Jesus dieselfde boodskap: "Julle is tevrede om na preke vanuit een of ander verwysingboek te luister. Maar die Woord wat ek aan julle wil oordra is vars."
Ek het die Here gevra of dit teenswoordig, in hierdie tyd van genade, moontlik is om te lewe soos Hy geleef het. Kan ons totaal afhanklik wees van die stem van die Vader in heerlikheid? Is dit moonlik om sy leiding vir ons lewens, dag na dag,oomblik na oomblik, te verneem? Is daar vir ons 'n wandelpad uitgestip sodat ons ook kan sê: "Ek spreek slegs wat ek van die Here hoor en doen slegs wat ek sien Hy doen"?
Ek ken die vreugde wat voortspruit deur alleen afgesonder met Christus te wees. Dit spruit voort deur Hom te aanbid, Hom te dien, op Hom te wag om Sy hart bekend te maak. Ek sit in sy teenwoordigheid en luister na sy stil, sagte stem. En Hy praat met my, onderrig my, bedien my deur sy Heilige Gees en Hy openbaar aan my wat ek nooit uit 'n boek of van 'n mens te wete van sal kom nie. Sy waarheid word lewendig in my gees. En my hart juig in my.
Natuurlik is ek nog nie daar nie. Hierdie soort toevallige ondervinding het nog nie by my 'n lewenswyse geword nie. Toe het ek die Here gevra : "Is 'n geheel-afhanklike lewe moontlik? Of is die net wensdenkery? Droom ek van iets wat onmoontlik is om te vervul?"
Ek glo die meeste van ons lewe nie naastenby die voorregte wat ons as kinders van God geniet, ten volle uit nie. By voorbeeld, ek lees van Elia wat voor God staan en Sy stem hoor. Ek lees van Jeremia wat in God se teenwoordigheid staan en sy raadgewing aanhoor. Hy roep uit: "Want wie het in die raad van die Here gestaan, dat hy sy woord sou sien en hoor? Wie het sy woord beluister en gehoor?" (Jeremia 23:18). Ek lees van 'n soortgelyke uitroep van Jesaja: "... en jou ore sal 'n woord agter jou hoor, wat sê : Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan" (Jesaja 30:21).
Waarom sal God nie met ons geslag waar daar soveel vrees en onsekerheid is, praat nie? Die wêreld is verward en soek na antwoorde. Hoekom sal die Here nou stilbly, noudat ons sy stem meer as ooit tevore moet hoor? Dit is tragies dat baie predikers vandag lewelose preke lewer. Hulle boodskappe veroordeel nóg sonde nóg beantwoord dit die diep versugtinge van die hart. Dit is uiters krimineel. Leë filosofië wat in 'n tyd van groot honger uitgeblaker word, sal slegs groter smart by dié wat dit hoor, meebring.
Johannes die Doper het geleer: "Die ene wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is hierdie blydskap van my volkome" (Johannes 3:29). Die Griekse betekenis letterlik vertaal: "Die vriend van die bruidegom, wat met hom vertoef en saamloop." Johannes die Doper het aan sy dissipels vertel: "Ek het die bruidegom se stem gehoor. En dit het my grootste blydskap geword. Die klank vervul my hart. Hoe was dit vir my moontlik om sy stem te hoor? Deur naby aan hom te staan en te luister as hy sy hart uitpraat."
U mag wonder - hoe het Johannes die stem van Jesus leer ken? Van wat ons weet het die twee slegs een keer mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet. Dit was met Christus se doop. En dit was 'n kort ontmoeting - min woorde is gewissel.
Johannes het die stem van die Here leer ken net soos Jesus het: alleen in die woestyn. Van 'n vroeë leeftyd af het hierdie man homself in die woestyn afgesonder. Hy het homself nie die genietinge van hierdie wêreld gegun nie ingesluitend smaaklike kos, 'n sagte bed of selfs gemaklike klere. Hy het nie onderwysers, mentors of boeke gehad nie. Gedurende daardie jare alleen het Johannes gemeenskap met Here gehad. En deurentyd was hy deur die Gees geleer om God se stil, sagte stem te hoor. Ja, Christus het met Johannes gepraat nog voordat hy vlees geword het.
Johannes het alles wat hy geweet het, geleer deur voortdurende gemeenskap met die Here. Dit is hoe hy die boodskap van bekering ontvang het, die koms van die Lam herken het, waargeneem het dat sy eie behoeftes verminder terwyl die Messias s'n toegeneem het. Johannes het al hierdie dinge deur die Here te wete gekom. En die klank van die Here se stem was sy vreugde.
Ons sien hierdie lewenswyse in die Bybel uitgestippel. Ek praat nie alleenlik van die afgesonderde lewe van 'n profeet nie. Eerstens is daar Jesus se voorbeeld. Hy het 'n besige lewe gehad, dikwels was elke uur beset. Maar Christus se hart was ingestel om daagliks die Vader te soek. Hy het aan God kosbare, gehalte tyd gegee, aan Sy voete gesit, Hom gedien en na Sy stem geluister. En Hy is elke dag deur sy Vader geleer en gerig.
U mag vra: "Maar wat van ons? Jesus was die letterlike Seun van God, die eengebore van die Vader. Niemand kan opgewasse teen sy voorbeeld wees nie."
Beskou Cornelius, die kaptein. Hierdie man was nie 'n prediker of lekepreker nie. Hy was, met sekerheid, as heiden nie eens onder God se mense getel nie. Tog sê die Bybel vir ons dat "Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God" (Handelinge 10:2).
Hier was 'n baie besige man. Cornelius het 100 soldate onder sy onmiddelike bevel gehad. Tog het hy tydens elke vrye oomblik gebid. En een dag terwyl hy gebid het, het die Here met hom gepraat. 'n Engel het verskyn en Cornelius by die naam geroep. Die kaptein het die Here se stem erken. Hy het geantwoord: "Wat is dit, Heer?" (10:4).
Die Here het direk met Cornelius gepraat en vir hom gesê om die apostel Petrus te vind. Hy het hom detail opdragte gegee wat name, 'n adres en selfs wat om te sê, ingeluit het. Intussen het Petrus op die dak van 'n huis gebid toe "'n stem na hom kom" (10:13). Weereens gee die Heilige Gees detail opdragte \: "Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want ek het hulle gestuur" (10:19-20).
Petrus het die manne tot by Cornelius gevolg vir 'n waarlike goddelike afspraak. Wat daar gebeur het, het die hele Joodse-Pinkster kerk geskud. Die Here het die evangelie aan die heidene geopenbaar. Die moeilikste vir die Joodse gelowiges om te aanvaar was dat God met die gewone, ongeleerde heiden gepraat het. Hulle kon nie verstaan hoe Cornelius die Here se stem so duidelik gehoor het en met soveel gesag gepraat het nie. Dit het elke gelowige daar uitgedaag.
Paulus het ook 'n openbaring van Jesus direk uit die hemel ontvang. Hy het getuig dat dit wat aan hom aangaande Christus gewys was, nie deur enige mens geleer kon word nie. Liewer, hy het self die stem van Jesus gehoor terwyl hy op sy knieë in gebed was. "Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van 'n mens ontvang nie, maar deur 'n openbaring van Jesus Christus" (Galasiers 1:11-12). "Maar dit het God behaag ..om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie,.." (1:15-16).
Daar was uitstaande leeraars in Paulus se dae, leiers wat kragtig in God se woord was, soos Apollos en Gamáliël. En daar was apostels wat saam met Jesus gewandel en gepraat het. Maar Paulus het geweet dat 'n tweedehandse openbaring van Christus nie goed genoeg sou wees nie. Hy moes 'n steeds-toenemende openbaring van Jesus gehad het, en van die Here self.
Natuurlik was Paulus nie teen leeraars nie. Per slot van sake, hy was self een. Hy het onderrig dat: ".. (God) het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evengeliste, ander as herders en leraars, .. " (Efésiërs 4:11). Maar Paulus het geweet dat hy in 'n goddelose heidense wêreld sou uitgaan. En hy het 'n persoonlike openbaring van Jesus nodig gehad om hom aan te moedig. Trouens, Paulus het gesê dat dit nodig is dat elke gelowige in die Here, onderrig moet word: "as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus, ..." (4:21).
Daar is vandag 'n menigte goed opgeleide predikante, hoogs gerespekteerde mense met gevorderde opleiding. Hulle het jare in die kweekskool deurgebring en teologie, filosofie en etiek bestudeer. En hulle is deur begaafde leerkragte onderig, hoog aangeskrewe mense wat deskundiges op hul gebied is.
Maar baie van hierdie opgeleide predikante, spreek woorde sonder krag wanneer hulle in die preekstoel staan om te preek. Hulle kan jou baie interessanthede omtrent die lewe en bediening van Christus vertel. Maar wat hulle sê laat jou siel koud. Hoekom? Hulle het nog nie 'n openbaring van Jesus ervaar nie, hulle het Hom nog nie persoonlik ervaar nie. Alles wat hulle van Christus weet, is deur die gedagtes van ander mense gefiltreer. Hulle insigte is bloot ontleende leerstellings.
Paulus het in werklikheid die Efésiërs gevra: "Hoe het julle Christus leer ken?" Met ander woorde: wie het julle geleer wat julle van Jesus weet? Het dit vanuit die talle preke wat julle gehoor het gekom of vanuit julle Sondagskool klasse? Indien wel, is dit goed. Maar is dit die volle omvang van julle kennis van Christus? Dit maak nie saak hoe kragtig julle predikant preek nie, of hoe gesalf julle onderwysers mag wees nie. Julle het meer van Jesus nodig as slegs kennis in julle koppe.
Baie gelowiges is tevrede met wat ek noem 'n aanvanklike, eenmalige openbaring van Christus se reddende krag en genade. Dit is die enigste openbaring van Jesus wat hulle ooit gehad het. Hulle getuig: "Jesus is die Messias, die Verlosser. Hy is die Here, die Seun van God." Elke ware gelowige ondervind hierdie wonderlike, lewens veranderende openbaring. Tog is dit maar die eerste stap. Wat voorlê, is 'n leeftyd van dieper, meer glansryke openbarings van Christus.
Paulus het dit geweet. Hy het op pad na Damakus 'n ongelooflike openbaring van Jesus gehad. Paulus was letterlik van sy perd afgestamp en 'n stem het met hom uit die hemel gepraat. Geen persoon het nog ooit 'n meer persoonlike openbaring van Christus as dit gehad nie. Tog het Paulus geweet dat hierdie net die begin is. Van daardie oomblik af, het hy hom ".. voorgeneem om niks onder julle te weet nie behalwe Jesus Christus, en Hom as gekruisigde" (1 Korinthiers 2:2).
Mattéüs gee vir ons 'n sprekende voorbeeld van 'n eenmalige openbaring van Christus. Jesus het pas die massas onderrig in 'n moeilike leer en baie mense het omgedraai. Toe het Jesus sy dissipels byeen geroep en gevra : "Maar julle, wie sê julle, is Ek? En Simon Petrus antwoord en se: U is die Christus, die Seun van die lewende God" (Mattéüs 16:15-16).
Jesus antwoord toe: "Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou openbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is" (16:17). Christus het gesê: "Jy het nie hierdie openbaring gekry deur net met my saam te loop nie, Petrus. My Vader het dit uit die hemel aan jou openbaar." Kortweg, Petrus het hierdie wonderlike aanvangsopenbaring ontvang wat kom tot almal wat glo. Die heerlikheid van Christus se redding was in hom geopenbaar.
Maar volgende lees ons: "Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle aan niemand moet sê dat Hy die Christus is nie" (16:20). Hoekom het Jesus dit gesê? Het die hemele nie alreeds aangekondig dat Hy die Lam van God is en gekom het om die wêreld te red nie?
Die punt is dat die dissipels nie gereed was om te bely dat Hy die Messias is nie. Hy was nog nie volkome aan hulle geopenbaar nie. Hulle het niks van die kruis en die leidingsweg en die diepte van hul Meester se opoffering geweet nie. Ja, hulle het reeds siekes gesond gemaak, duiwels uitgedryf en voor baie getuig. Maar ten spyte van al hulle jare saam met Jesus het hulle nog nie 'n diep, persoonlike onthulling van wie Hy was gehad nie.
Die volgende vers bevestig dit: "Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon . " (16:21). Met ander woorde, Jesus het hom aan hulle begin onthul en aan hulle die diepere aspekte van homself bekend gemaak. Die res van die sin volg: "...dat Hy na Jerusalem moet gaan en veel van die ouderlinge en owerprieters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word" (16:21).
Het Jesus u al in u geheime gebeds-binnekamer onderrig? Het u Hom opgesoek oor iets wat u nie uit boeke of van onderwysers kon kry nie? Het u al stil in Sy teenwoordigheid gesit in afwagting om Sy stem te hoor? Die Bybel sê alle waarheid is in Christus. En Hy alleen kan dit aan u meedeel deur sy goddelike Heilige Gees.
'n Vraag mag nou in u gedagte opkom: "Is dit nie gevaarlik om my gedagtes vir 'n stil, sagte stem te open nie?" Is dit nie hoekom soveel Christene in die moeilikheid beland nie? Die vyand slaan toe, boots God se stem na en sê dan vir hulle om een of ander belaglike iets te doen of glo. En op die ou end is hulle mislei. Is die Bybel nie die enigste stem waarna ons moet luister nie? En is die Heilige Gees nie veronderstel om ons enigste onderwyser te wees nie?"
Hier is dit wat ek hieromtrent glo:
- Soos die Vader en die Seun, is die Heilige Gees 'n afsonderlike, lewende, intelligente, goddelike persoon. Hy is nie 'n persoon in die vlees nie, maar in die gees, 'n persoonlikheid in sy eie reg. En Hy regeer oor die Kerk. Hy bring goddelike orde, troos die wat seer het, versterk die swakkes, en leer ons van die rykdom van Christus.
- Die Bybel verklaar dat die Heilige Gees die Gees van die Seun is : ". het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, ." (Galasiërs 4:6). Hy is ook bekend as die Gees van Christus: ". op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, ." (1 Petrus 1:11). "Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie" (Romeine 8:9). Dit is duidelik dat die Gees van God en die Gees van Christus een en dieselfde is. Christus is God en dieselfde Gees kom voort uit beide. Die Heilige Gees is in wese vanuit beide die Vader en die Seun en word deur beide gestuur.
- Daar is 'n manier waarop ons van bedrog beskerm kan word gedurende diep, soekende gebed. Ons beskerming is daarin: om te wag. Die stem van die vlees is altyd haastig. Dit wil onmiddelike bevrediging hê en is derhalwe nie geduldig nie. Dit is altyd op die self eerder as die Here ingestel, altyd begerig om ons haastig uit God se teenwoordigheid te laat pad gee.
Die stem van die vyand is geduldig, maar net tot op 'n punt. Dit kan sag, soet, versekerend en logies wees. Maar as ons dit toets deur net doodeenvoudig te wag - met ander woorde deur nie dadelik daarop te reageer nie, maar te toets dat dit inderdaad die stem van die Here is - sal dit ongeduldig raak en homself blootstel. Dit sal skielik ontaard en opdringerig word, teen ons te velde trek en ons verdoem. Dan weet ons dit is nie die stem van God nie.
Dit is waarom die Bybel keer op keer sê: "Wag op die Here . wag op Hom . wag." Dit is gedurende die tyd wat ons wag dat daardie ander stemme ontbloot word, of moeg word en pad gee. Ons moet wag, wag, wag, sodat beide die hemel en die hel weet dat ons sal volhard totdat die Here intree.
Ons sien die bewys hiervan in Jeremia 42. 'n Oorblyfsel van God se volk het na Jeremia gekom op soek na God se leiding. Die profeet het toe gaan bid. "En aan die end van tien dae het die woord van die Here tot Jeremia gekom" (Jeremia 42:7). Na tien dae het God uiteindelik met Jeremia gepraat. Die profeet het geduldig gewag totdat hy geweet het hy hoor God se stem.
Ons is ook op 'n ander wyse beskerm: ons moet alles wat ons hoor teen die Bybel meet. En ons moet niks aanvaar nie, tensy dit aan God se woord voldoen.
Dus, ja, geliefde heilige, so 'n wandel is moontlik. Dit moet ons heilige obsessie word.