DIE KRAG OM DIE ONMOONTLIKE TE TROTSEER

David Wilkerson (1931-2011)

“Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Lukas 19:10). Christus het gesê, “Ek het om een rede in hierdie wêreld ingekom – om die verlore siele te bereik en te red!” Dit was egter nie nét Jesus se sending nie; Hy het dit ook ons sending gemaak: “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15).

Jesus het hier met ‘n klein groepie gelowiges gepraat – ongeveer 120 mense – wat vergader het in die Bovertrek. Dink aan die onmoontlike taak wat Hy voor hulle gestel het. In daardie tyd het Rome oor die wêreld geheers en Jesus het sy volgelinge beveel, “Gaan na Rome en sê vir daardie trotse, egosentriese Keiser daar kan geen koning bo My wees nie. Ek heers oor die hele skepping! En gaan na Athéne, waar die heidendom heers en verkondig dat Ek die enigste weg is. Gaan oral heen waar filosofië, antieke godsdienste, valse gode en bygelowe heers – en verkondig my kruis en opstanding.

“Bo dit alles, gaan na vreemde nasies, leef tussen die mense en bestudeer hulle tale. Lê hande op die siekes, dryf duiwels uit, verkondig die goeie nuus. Verkondig die krag en oorwinning van die opgestane Verlosser!”

Dit was inderdaad ‘n buitengewone uitdaging. Onthou, Jesus het gepraat met gewone, nietige, ongeskoolde mans en vroue. Hy het die toekoms van sy Kerk op hulle skouers geplaas. Ek verbeel my dat daardie klein groepie gelowiges oorweldig gevoel en gewonder het hoe die Here van hulle verwag om hierdie onmoontlike sending te volbring.

Ons uitdaging vandag is net so skrikwekkend. Die Bybel sê vir ons dat elke opeenvolgende geslag erger en erger word en dit is nie moeilik om te sien nie. Maar Jesus se woorde aan sy hulpelose dissipels is op ons van toepassing vandag: “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 24:49). Bied jouself nou aan die Heilige Gees en vertrou op sy leiding en krag om die wonderbaarlike deur jou te doen!