IN DIE LEË GRAF IN STAAR

David Wilkerson (1931-2011)

In Johannes 20, lees ons die storie van Maria Magdalena, ‘n toonbeeld van die Bruid wie se hart heeltemal oorgegee is aan Christus. Waarskynlik ‘n welgestelde vrou, het sy Jesus se behoeftes aangespreek met liefde en toegeneentheid saam met die drie ander Maria’s in sy lewe. Sy het dit gedoen uit pure dankbaarheid, want die Bybel sê dat Jesus sewe duiwels uit haar gedryf het (sien Lukas 8:2)

So ver as wat dit die wêreld aangegaan het, was Maria Magdalena nie ‘n intellektueel nie en terwyl die manlike dissipels diep teologiese dinge bespreek het, was sy waarskynlik stil en het haar gedagtes vir haarself gehou. Vroue van daardie tyd het selde openlik oor geestelike sake gepraat in die teenwoordigheid van mans. Maar Maria het iets gehad wat hierdie geleerde intellektuele nie gehad het nie – ja, iets baie dieper as selfs Jesus se dissipels. Sy het ‘n openbaring gehad!

“En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was” (Johannes 20:1). Maria het baie vroeg uitgekom na die graf toe, terwyl die ander nog geslaap het. Toe sy ontdek het die graf is leeg, het sy gehardloop om Petrus en Johannes te gaan haal, maar na ‘n rukkie, toe hulle sien dat Jesus nie meer daar was nie, het hulle teruggegaan na besigheid soos gewoonlik (sien 20:2-10).

Maar nie Maria nie! Sy het geween terwyl haar gees uitgeroep het, “Hierdie wêreld is ondraaglik sonder Jesus! Ek kan nie huistoe gaan sonder om te weet waar Hy is nie.” Sy was vasbeslote om daar te staan en in daardie graf in te tuur, totdat haar gebroke hart gerus gestel was. “Hulle [het] my Here weggeneem...en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (20:13).

Maria wou nie laat gaan nie. Haar toegewyde hart kon slegs deur Jesus bevredig word – Hy was haar lewe!  En gewis en seker het haar toewyding ‘n wonderlike openbaring gebring. Terwyl die ander dissipels in hulle huise gerus het, het Maria ‘n goddelike besoeking gehad en dinge gesien wat niemand anders kon sien nie – omdat haar hart oorgegee was aan Jesus (sien 20:11-17).