DIE LIED VAN VERLOSSING

David Wilkerson

Die volk van God was by die Rooi See in ‘n wanhopige verknorsing. Hoe moes die Here op daardie oomblik verlang het na iemand soos Gideon om op te staan in daardie vreesbevange laer by die Rooi See en almal te herinner aan die Here se getrouheid in die verlede. ‘n Paar geslagte later het Gideon net ‘n klein groepie van driehonderd man gehad teen ‘n groot leër, maar tog het hy in geloof geskree voor die geveg (sien Rigters 6 en 7). Jy sien, so ver as wat dit van die Here afhang, is die tyd om staande te bly, juis in die donkerste oomblik. Dit is wanneer alles hopeloos lyk, wanneer dit lyk of daar geen uitweg is nie, wanneer God alleen kan red en verlos. Israel se penarie by die Rooi See was deur God bedoel as ‘n leerervaring, ‘n oomblik om hulle geloof op te bou. Want geloof word nie regtig getoets wanneer alles glad verloop nie.

As Israel tog maar die wonderwerke, wat God vir hulle in Egipte gedoen het, onthou het. As hulle tog maar vertrou het op Sy woord, dat Hy hulle in sy arms sou dra soos ‘n vader sy kind dra. As net ‘n paar van hulle tog maar net ‘n aanbiddingslied begin sing het – dieselfde lied wat hulle later aan die ander kant gesing het. As die volk tog net op die Here vertrou het en geroep het, “Hy is my sterkte! My God sal triomfeer. Wie is daar soos U, o Here?” Sê vir my, wat sou gebeur?

Hulle sou ‘n sterk, blywende geloof in God vasgelê het – ‘n geloof wat getoets en beproef was deur die vuur van hulle verknorsing. Hulle geloof sou so onwrikbaar uitgekom het dat dit hulle sou dra deur elke moelikheid van die woestynreis wat voorgelê het. Hulle sou ‘n fondament van geloof gehad het waarp hulle kon bou. En met verloop van tyd, sou hulle geleer het om God met vertroue in alle omstandighede te prys, met ‘n geloof wat so sterk is, dat die hel sou sidder.

Die groot behoefte in die huidige uur, is Christene wat geleer het om die lied van verlossing te sing wanneer hulle beproef word.