Die Offer van Danksegging!

David Wilkerson

Een van die belangrikste verse in die hele Skrif word gevind in Petrus se eerste sendbrief. Die apostel praat van die belangrikheid daarvan dat ons geloof getoets moet word: “Sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:7).

In dieselfde gedeelte, sê Petrus vir ons dat ons kan verwag om sulke toetse van geloof te beleef: “...al word julle nou...’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge” (1 Petrus 1:6).

Die Griekse woord vir “beproewing” hier beteken “op die proef stel, eksaminering, toetsing met moeilikhede en teenspoed.” Een vertaling stel dit as volg: “om beproewing te beproef.” Petrus sê wesenlik, “As jy ‘n volgeling van Jesus Christus is, dan sal jy deur baie swaar beproewings en versoekings gaan. Jy sal erg getoets word!”

Petrus maak dit duidelik dat sulke toetse van geloof nie bedoel is vir nominale Christene nie. Hierdie vurige beproewings is bedoel vir uitverkoopte gelowiges – diegene wat rein, gehoorsaam en besprinkel is met Jesus se bloed – Christene wat ‘n “lewende hoop” het weens hulle geloof (sien 1 Petrus 1:2-5).

Eenvoudig gestel, God sê in wese vir ons met hierdie gedeelte: “Jou geloof is vir My kosbaar – kosbaarder as al die rykdom van die wêreld, wat eendag sal vergaan! En in hierdie laaste dae – wanneer die vyand allerhande soorte boosheid teen jou stuur – wil Ek hê jy moet in staat wees om sterk te staan, met ‘n onwrikbare geloof.

“Om egter so ‘n goue geloof in jou voort te bring, moet Ek jou bring by ‘n plek van groot toetsings. Edelmetale word immers net deur vuur gelouter. So, julle moet vooraf weet dat groot beproewings op julle wag!

“Hierdie vurige beproewings sal slegs vir ‘n seisoen voortduur. Jy sal deur ‘n tyd van groot swaarkry, hartseer, droefheid en wanhoop gaan. Die hemele sal lyk of dit soos koper is. Jy sal wonder of jou gebede ooit verhoor sal word. Soms sal jy versoek word om op te gee.

“Maar Ek sal jou bewaar en seën deur elke donker beproewing! Jou deel is eenvoudig om geloof in My te hê. Jy sal bewaar word deur my krag, deur geloof!” “...ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd” (1 Petrus 1:4-5).

Geliefde, hierdie vurige toetse van ons geloof is belangrik – omdat God se bewarende, verlossende krag vrygestel word na mate van ons geloof in Hom. Hoe sterker ons geloof is, hoe meer sal sy bewarende krag vrygestel word in ons lewens.

Paulus getuig dat Hy sulke moeilike verdrukkings en beproewings verduur het: “En die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge wat oor my gekom  het...” (Handelinge 20:19). Die apostel het dieselfde Griekse woord gebruik vir “beproewinge” as wat Petrus het – wat beteken, “Ondersoek, louter, om beproewing te beproef.” Hy het erken, “Ek weet dat in alles waardeur ek gaan, is die Here besig om my in iets te verander. Hy wil ‘n blywende geloof voortbring!”

Jakobus skryf, “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk” (Jakobus 1:2-3). Jakobus praat nie hier van versoekings van wellus of die begeertes van die vlees nastreef nie. Nee – hy gebruik dieselfde Griekse woord vir “versoekinge” wat Petrus en Paulus gebruik, menende “om beproewing te beproef.”

Jakobus sê, “Wanneer swaar beproewings oor jou kom, verheug jou! Jy kan vertrou dat God in sulke tye in jou werk. Dit is nie die duiwel wat agter jou aankom en probeer om jou te laat struikel nie – maar die Here, wat jou wil opbou. Hy is aan die werk om jou by ‘n plek van rus en geloof in Hom te bring!”

Ek glo een van die dinge waarmee die Here die graagste mee wil deel, is ongeduld. Ongeduld is die oorsprong van alle murmurering en klagtes. Wanneer daar ongeduld is, kan daar geen geloof wees nie.

En God se mense is bekend vir ongeduld! Dwarsdeur die geskiedenis, het ons voortdurend vir God spertye gegee en geroep, “Here, hoe lank moet ons hieroor bid? Waar is U? As U nie gou iets doen nie, sal dit te laat wees!”

God antwoord egter nie daardie soort gebed nie. In plaas daarvan, hou Hy aan om ons te toets – om ons ongeduldige gees aan te spreek!

Daar is ‘n uitweg uit ons tyd van groot toetsing!

Petrus sê vir ons: “Die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos...” (2 Petrus 2:9). Weereens word dieselfde Griekse woord vir “versoeking” gebruik, wat beteken, “om beproewing te beproef.”

En Paulus skryf: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met  die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra” (1 Korinthiërs 10”13).

Dit is baie duidelik God wil ons nie in ons beproewings hou nie. Waarom sou Hy belangstel om ons te midde van versoekings en verdrukkinge te hou? Hy word nie verheerlik as sy kinders getoets word nie – maar wel uit die resultate van ons toetsings!

Daar is net een manier om van ons beproewings te ontsnap en dit is deur die toets te slaag. Dink daaraan: Toe jy op skool was, hoe het jy uiteindelik ontsnap? Jy het die finale eksamen deurgekom. En as jy nie deurgekom het nie, is jy teruggestuur klas toe.

Dit was die geval met antieke Israel, toe God hulle by die Rooi See gebring het. God het sy mense getoets, gelouter en beproef. Hy het hulle tot op die randjie van vernietiging gebring – hulle met berge omring aan twee kante en ‘n see aan nog ‘n kant en ‘n naderende vyand aan die ander kant.

Jakobus se frase, “...in allerhande versoekings val...” (Jakobus 1:2), verwys terug na Israel se beproewings. Die frase beteken, “in ‘n put afsak en omring word deur vyande.” Dit is wat met Israel gebeur het. God het hulle in ‘n letterlike put laat inval – ‘n menslik onmoontlike situasie!

Die Here het Israel egter in daardie omstandighede geplaas en ‘n sekere reaksie verwag. Hy wil hê sy mense moet hulle hulpeloosheid erken. Hy wou hulle hoor sê, “Ons onthou hoe God ons van die plae verlos het. Ons onthou hoe Hy ons uit die vuuroond van verdrukking gebring het, waar ons stene sonder strooi gemaak het en geen rus gehad het nie. Die doodsengel het na die land gekom – maar nie een van ons kinders was getref nie.

“God het ons toe verlos – en Hy sal dit weer doen! Laat ons ons verbly in sy getrouheid.  Hy is God – en Hy het vir ons beloftes gegee wat Hy sal hou. Hy sal ons bewaar van elke vyand wat ons aanval. Laat ons nou dans voor die Here in dankbaarheid en met danksegging!”

Jy mag dink, “Hoe kon God van Israel verwag om daardie soort reaksie te hê? Hulle was net menslik – en hulle was in ‘n hopelose situasie. Was hulle regtig veronderstel om te midde van daardie verskriklike omstandighede te dans?

Ja – absoluut! Dit was die geheim van hoe om uit hulle moeilikheid te kom. Jy sien, God wil iets van almal van ons hê in ons tye van oorweldigende swaarkry en beproewings. Hy wil hê ons moet ‘n offer van danksegging, ‘n lofoffer bring te midde van dit alles!

Ek glo Jakobus het hierdie geheim ontdek toe hy gewaarsku het, “...Ag dit louter vreugde...wanneer julle in allerhande versoekings val...” (Jakobus 1:2). Hy het gesê, “Moenie moed verloor nie! Maak ‘n altaar in jou hart en bied blye lofoffers aan te midde van jou beproewings”

Natuurlik het Israel wel die Here geprys en gedank – maar hulle het dit aan die verkeerde kant van die Rooi See gedoen! Ja, die mense het die hele nag lank gejuig – maar God het geen behae daarin gehad nie. Enigeen kan van dankbaarheid skree nadat die oorwinning behaal is. Maar die vraag wat God vir Israel gevra het was, “Sal jy My loof en prys voor Ek hulp stuur – terwyl jy steeds in die middel van jou stryd is?”

Ek glo as Israel sou gejuig het aan die “beproewing kant” van die Rooi See, sou hulle nie weer nodig gehad om getoets te word by die water van Mara nie. Sou hulle die Rooi See toets deurgekom het, sou die waters by Mara nie bitter geproe het nie, maar soet. En Israel sou water sien opspring het oral in die woestyn, eerder as om voortdurend dors te wees.

In plaas daarvan, moes God aanhou om Israel te toets en te wag vir hulle geloof om op te staan. Keer op keer het hulle oorloë, beproewings en versoekings beleef – omdat hulle nooit geloof vir God aangebied het nie. En daardie beproewings het moeiliker en intenser geword – omdat die mense nooit een keer te midde van hulle beproewings gestop het en die Here ‘n lofoffer gegee het nie!

Die onderwerp van danksegging het onlangs na my gekom tydens ‘n tyd van groot persoonlike swaarmoedigheid.

Op daardie stadium het ons kerkgebou groot werk nodig gehad. Gemeentelede se probleme het opgehoop. Almal wat ek geken het, het klaarblyklik deur een of ander beproewing gegaan. En ek het die las van dit alles gevoel.

Uiteindelik het ek na my vrou se kantoor gestrompel en voor haar uitgeblaker, “Ek het genoeg gehad! Ek is aan die einde van myself. Ek moet ‘n maand verlof neem. Ek wil net verdwyn en niks doen nie.”

Toe het ek terug na my eie kantoor gegaan en gaan sit, terwyl ek baie jammer vir myself gevoel het. Ek het begin kla teenoor God: “Here, hoe lank sal U my in hierdie vuur hou? Hoe lank sal ek oor al hierdie dinge moet bid voor U iets sal doen? Sien U nie hoe moeg my gees geword het nie? Alles lyk of dit gekeer word deur een of ander hindernis. My gebede is vuriger as ooit in my lewe. Dit lyk egter of niks gebeur nie. Wanneer gaan U my verhoor, God?”

Skielik het die Heilige Gees op my neergedaal – en ek het beskaamd gevoel. Die Gees het vir my hart gefluister, “Begin net om My nou dadelik te dank, David. Bring vir my ‘n offer van danksegging, ‘n lofoffer – vir al die dinge wat Ek in die verlede vir jou gedoen het en vir wat Ek in die toekoms vir jou gaan doen.

“Dank My vir die bediening van Times Square Church, vir jou gesondheid, vir jou familie, dat ek jou vrou en dogters van kanker gered het. Gee vir my ‘n lofoffer – en alles sal skielik anders lyk! Jou depressie sal weggaan. Jy sal vrede in jou stryd hê. Ek sal jou siel seën met gerustheid!”

Daardie woorde het in my gees vastrapplek gekry. Maar ek het gewonder: “Wat bedoel die Here met ‘n ‘offer van danksegging’?” Ek het my gehaas na my konkordansie om die frase in die Skrif na te slaan. Ek was verwonderd oor al die verwysings wat ek gekry het:

“En laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werk vertel” (Psalm 107:22).
“Ek sal U ‘n offer van danksegging bring en die Naam van die HERE aanroep” (Psalm 116:7).
“Laat ons sy aangesig tegemoetgegaan met lof, met lofsange Hom toejuig” (Psalm 95:2).
“Ek wil die Naam van God prys met ‘n lied en Hom groot maak met danksegging; en dit sal die HERE welgevalliger wees as beeste, as stiere...” (Psalm 69:30-31).

Ek het ook onthou van die bekendste Bybel gedeeltes van almal oor danksegging: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam” (Psalm 100:4).

Toe ek die kommentaar op hierdie laaste vers gelees het, het ek ontdek dat die psalmis verwys na die dag van versoening in die Ou Testament. En wat ‘n ontsaglike dag was dit!

Onder die Ou Verbond, het Israel ‘n jaarlikse dag van versoening gehou waarin die mense gereinig is van al die sondes wat opgebou het gedurende die vorige jaar. Die versoening was alles gedoen deur ‘n priesterlike offer. Voor daardie dag elke jaar, moes daar egter ‘n lelike swart wolk van depressie oor die kamp gehang het – omdat die mense beswaar was met die las van hulle opgehoopte sondes.

Wat ‘n geweldige betekenisvolle seremonie was die dag van versoening. Die Israeliete het dit vir weke vooruit beplan. Hier is wat op daardie dag plaasgevind het:

Twee jong bokke (“offerdiere” in die skrif genoem) was geneem na die poort van die tabernakel en as ‘n offer aangebied vir die hoëpriester. Hierdie twee bokke moes ewe swaar, hoog en rein wees. ‘n Lootjie was getrek en een van die bokke was gekies om die bloedoffer te wees. ‘n Rooi kleed was om sy nek gedraai om dit te onderskei as die slagoffer. Die ander bok was toegewys as ‘n sondebok en buite die heilige plek gehou.

Die eerste bok was geneem na die altaar en geslag, waar sy bloed opgevang is in ‘n bak. Die priester het dan die bloed geneem na die allerheiligste, waar Hy dit met wierook aangebied het. Terwyl die wierook gebrand het, het dit die allerheiligste met rook gevul, wat die teenwoordigheid van God voorgestel het. Toe het die priester die bloed een keer óp die versoendeksel en sewe keer daarvoor gesprinkel.

Buite het elke mens in die kamp uitgestrek gelê dwarsdeur die offerprosedure. Niemand het dit gesien gebeur nie. Die ritueel het egter beteken dat versoening gedoen is vir hulle sondes. Hulle oortredinge vir die hele jaar was vergewe, of “bedek.”

In teenstelling hiermee, was die volgende deel van die seremonie bedoel as ‘n baie sigbare, geïllustreerde preek vir elke Israeliet om te sien. Op hierdie stadium, moes almal inderdaad opstaan en juig.

Terwyl hy steeds in die heilige was, het die hoëpriester sy spesiale klere uitgetrek en sy gewone priesterlike klere aangetrek. Toe het hy uitgekom en beide sy hande op die kop van die oorblywende sondebok gelê. Die Hebreeuse woord vir “sondebok” beteken “verwyder.” En die priester se daad van hande op die sondebok lê simboliseer die oordrag van al die mense se sondes na die kop van die dier:

“En Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ‘n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur” (Levitikus 16:21).

Die “man wat gereed staan” wat hier genoem word, was ‘n sterk, fisieke fiks man wat gekies is vir die moeilike taak om die sondebok in die woestyn te lei en daar te los. Hierdie man kon nie die bok na enige plek in die woestyn neem nie, want; die dier kon terugloop en die mense weer herinner aan hul sondes. So, hy moes fisiek gereed wees om die bok op ‘n lang reis te neem na ‘n onbewoonde gebied, ‘n plek van waar hy nie sou kon terugkeer nie.

“So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ‘n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los” (Levitikus 16:22). Die frase “woeste land” hier beteken “’n plek waarvandaan nie ontsnap kan word nie.” Terwyl die man wat gereed was die sondebok in die woestyn ingelei het, sou hy gevolg word deur ‘n groep skildwagters wat vlae gedra het. Hulle bestemming was gewoonlik ‘n vallei wat omring was deur kranse, waarheen die bok afgesak kon word, sodat dit nooit kon ontsnap nie.

Terwyl die priester hande op die sondebok gelê het, het die tweede deel van die versoeningseremonie begin waartydens hy die sondes van die hele laer bely het. In wese het hy gebid: “Here, plaas my sondes en die sondes van die mense op die kop van hierdie bok. Gaan nou!”

Die man wat gereed was het toe ‘n leiband aan die sondebok gesit en hom uit die laer gelei. En wat ‘n gesig was dit vir die mense! Die hele Israel het gestaan en kyk en het gejuig terwyl die sondebok weggelei is. Dit was ‘n geïllustreerde preek wat almal – insluitende die kinders – kon verstaan: “Ons sondes is nie net vergewe nie – dit is van ons af weggeneem!”

Die mense het geweet wanneer die sondebok uit hulle midde weggelei is, sou hy nooit weer gesien word nie. En die Here sou ook nie hulle sondes onthou nie. Daarom het ‘n magtige geroep uit die kamp gekom!

Dit is ‘n pragtige voorstelling van wat Jesus Christus vir ons doen. Beide bokke verteenwoordig Jesus – die Lam wat vir ons geslag is en die een wat die sondes van die wêreld wegneem:

“Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was” (Jesaja 53:4). “Wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is” (1 Petrus 2:24). Net soos die man wat gereed is die bokke weggelei het, het Jesus ons sondes in ‘n “woeste plek” begrawe: “...U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:19).

Net soos die Israeliete, moet ons ook die Here se teenwoordigheid binnegaan met danksegging!

Ons leef in ‘n dag waarin ons hoëpriester, Jesus, reeds die offer van sy eie bloed vir die Vader aangebied het om versoening te doen vir ons sondes. Christus het al ons oortredinge uitgewis om dit nooit weer teen ons te hou nie. So, vir ons, is die werk van versoening afgehandel.

Soos die Israeliete, moet ons egter ook in die Here se teenwoordigheid inkom soos Psalm 100 sê – met lof en lofgesang. En ons moet twee “bokke” saambring:

“Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offierdiere ons lippe aanbied” (Hoséa 14:3). Die woord “offerdiere” hier verteenwoordig ons lippe, of woorde. Die volle betekenis van hierdie frase in Hebreeus is, “Ons sal jong bulle offer, net soos ons lippe.”

Ons offer van danksegging moet gemaak word met die twee bokke wat ons bring – ‘n offer met ons lippe of stemme. God sê in wese, “Bring in my teenwoordigheid jou woorde van dank. Spreek en sing jou lofprysinge vir My!”

Ons moenie langer vir God offers van bloed of offers van silwer en goud bring vir versoening nie. In plaas daarvan, moet ons vir Hom ‘n offer van lof en danksegging van ons lippe af bring: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely” (Hebreërs 13:15). Die “vrug van die lippe” is ons dankbaarheid en dankbetuiging!

Een van die kragtigste voorbeelde hiervan word gesien in die Boek Jona.

Luister na die woorde van Jona: “U tog het my in die diepte gewerp...sodat ‘n stroom my omring het; al u bare en golwe het oor my heengegaan...die vloed was rondom my...Ek het afgedaal tot by die grondslae...die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit” (Jona 2:3-6).

Jona het sy laagste punt bereik, begrawe in die buik van ‘n walvis. Hy was in die stryd van sy lewe – vol wanhoop, skaamte en skuld. Hy was swaarmoedig – letterlik so laag as wat ‘n persoon kan kom. Hy het gedink God het hom verlaat en begewe.

So, hoe het Jona uit hierdie put gekom? Eenvoudig gestel, hy het die toets deurgekom! “Toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink...Ek daarenteen sal aan U offer met ‘n stem van lof...” (Jona 2:7,9).

Jona het nie ‘n boodskap van verlossing gekry nie. Hy was in ‘n hopelose situasie, met alles donker en somber. Hy was gereed om te beswyk. Toe hy egter by daardie punt gekom het, het hy gesê, “Ek gaan net die Here dank!”

Te midde van al sy moeilikheid, het Jona die Here se teenwoordigheid binnegegaan met die “offerdiere” van sy lippe – en hy het dank gebring! God het geantwoord, “Dit is waarvoor Ek gewag het om jou te hoor sê, Jona. Jy het My vertrou te midde van dit alles. Jy het die toets geslaag!”

Die Skrif sê, “Daarop het die HERE die vis beveel om Jona op die droë grond uit te spuug” (Jona 2:10). Met een bevel uit die hemel, het die vis Jona op die strand uitgespuug. En daardie belaste man moes op die strand gerol en geskree het, “Ek is vry! Ek is vry!” Hy het waarskynlik gedans toe hy die seegras uit sy hare getrek het – omdat hy reeds by die altaar van danksegging was!

Jy mag sê, “Broer, Dave, as ek my huidige toets slaag, sal dit waarborg dat ek nooit weer deur nog een hoef te gaan nie?” Nee – nooit! Ons geloof word voordurend uit ons getap, omdat ons eenvoudig in hierdie gevalle, sondige wêreld leef. Die Here moet aanhou om ons te bemoedig.

Dit is waarom Paulus ons beveel, “...maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). “Gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is in danksegging” (Kolossense 2:7).

Gaan jy huidiglik deur ‘n moeilike tyd? Het jy vyande wat jou pynig en uitmekaar skeur? Beleef jy ‘n situasie waaraan jy niks kan doen nie? Word jy neergedruk met swaarmoedigheid, droefheid en spanning? Voel jy kan kan net nie meer aangaan nie?

Geliefde, moenie benoud wees nie. Dit is nie die duiwel wat met jou werk nie – maar God! Die Here weet jy gaan groot geloof nodig hê om te kan oorwin in die donker tye wat voorlê. Jy moet inderdaad in staat wees om deur geloof alleen te staan. Hy weet egter jou geloof moet deur vuur gelouter word – die vuur van verdrukking, beproewing en swaarkry.

Hoe jy optree in jou krisis bepaal jou wandel met die Here daarna. As jy dinge op jou manier doen – as jy nie op die Here wag om jou situasie te besleg nie – sal jy vir die res van die pad struikel.

As jy nêrens hulp kan kry nie, wend jou tot danksegging. Dank die Here vir sy vergifnis – omdat jy vrygemaak is van alle vorige sondes. Dank Hom omdat Hy jou verlos het uit die bek van die leeu...omdat Hy jou ‘n nuwe huis gegee het in die hemel...vir al sy vorige seëninge, vir al sy vorige beloftes, vir alles wat Hy vir jou gaan doen. In alles, bring Hom dank!

Ons dien ‘n God wat ons sal uitspuug uit ons diepste krisis tot op ‘n veilige strand. So, maak nou ‘n altaar vir Hom in jou hart, te midde van jou krisis. En bring vir Hom jou offer van danksegging!

Afrikaans