Die Onredelikheid van Geloof

David Wilkerson

As God vir die mensdom sê, “Glo,” vereis Hy iets wat totaal bokant redelikheid is. Geloof is totaal onlogies. Die definisie daarvan het te doen met iets onredeliks. Dink daaraan: Hebreërs sê geloof is die vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Ons word kortliks vertel, “Daar is geen tasbare ding nie. Daar is geen bewyse hoegenaamd nie.” Tog word ons gevra om te glo. Kan jy dink aan enige vereiste wat meer onredelik is as hierdie een? Dit sê bloot, “Aanvaar dit sonder bewyse. Vertrou die onsigbare.” Dit is totaal onlogies.

Ek spreek hierdie onderwerp aan om ‘n belangrike rede. Huidiglik, is daar oral oor die wêreld menigtes van gelowiges wat terneergedruk van moedeloosheid is. God se mense gaan deur beproewings, stryd, lyding en verwarring van allerhande soorte. In werklikheid sal ons almal moedeloosheid in hierdie lewe beleef. Tog glo ek as ons die aard van geloof kan verstaan – sy onlogiese, onredelike aard – sal ons die hulp, wat ons nodig het om deur te kom, ontvang.

Beskou die geloof wat van Noag vereis is. Hy het in ‘n generasie, wat buite beheer getol het, geleef. Ons kan nie begin om die bose tye waarin hierdie man geleef het, te verstaan nie: geweld en moord was aan die orde van die dag. Reuse het geboorte geskenk aan “magtige helde.” Onnoembare boosheid het moedswillig versprei. Die toestand van die mense het so verskriklik geword, dat God dit nie meer kon verdra nie. Uiteindelik het Hy gesê, “Genoeg! Die mens is besig om homself te vernietig. Dit moet eindig.”

Hy het vir Noag vertel, “Ek gaan alle vlees vernietig. Maar ek sal jou en jou familie bewaar. Daarom wil Ek hê dat jy ‘n ark bou, Noag. En Ek wil hê dat jy al die dierespesies in twee’s daarin bymekaarmaak. Terwyl jy dit doen, sal Ek die bewoners van die aarde 120 jaar barmhartigheid gee. Dan sal Ek ‘n reën stuur wat vir 40 dae en nagte nie sal ophou nie. Daar sal ‘n groot vloed wees en dit sal elke lewende wese uitwis.” God het toe voortgegaan om vir Noag die afmetings van die ark te gee – sy lengte, breedte en diepte – in die fynste besonderhede.

Stel jou voor Noag se verwardheid om dit te probeer verstaan. God sou ‘n rampspoedige gebeurtenis stuur, een wat die hele aarde sou verwoes. Al wat Noag oor hierdie saak vertel is, was hierdie kort woorde uit die hemel. Hy moes dit eenvoudig in geloof aanvaar, sonder om enige verdere leiding te ontvang vir 120 jaar.

Dink aan watter geloof van Noag vereis is. Hy was ‘n reuse taak gegee om ‘n groot ark te bou. En in die tussentyd, moes hy in ‘n gewelddadige, gevaarlike wêreld woon. Hy was omring deur reuse, moordenaars, skeptici en almal wat elke tree van hom fyn dopgehou het. Ek is seker hulle het Noag gespot, terwyl hy moeisaam aan die ark gewerk het deur die jare. En aangesien hulle verhard was in geweld, het hulle waarskynlik gedreig om hom dood te maak. Geloof het egter vereis dat Noag sy hart met “eerbiedig vrees” bewaar het (sien Hebreërs 11:7). Hy moes aanhou glo, terwyl die hele wêreld rondom hom gedans, partytjie gehou en rondgerol het in sensualiteit.

In wese, het God vir hierdie man vertel, “Jy moet my woord glo, Noag. Ek vra jou om my sonder verskonings te gehoorsaam. As jy ooit begin om te twyfel, of voel om moed te verloor, moet jy vertrou op wat Ek jou gesê het. Ek gee jou geen ander bewys nie, net my belofte. Jy moet slegs daarop handel.”

Wat ‘n totale onlogiese beeld. Met tye, was Noag sekerlik gedwarsboom, beide uiterlik en innerlik. Hoeveel dae was hy moedeloos? Hoe dikwels het hy gewonder, “Dit is so dwaas. Hoe kan ek weet dat dit God se stem was?” Maar Noag het gedoen soos God gesê het. Hy het aanhou vertrou op die woord wat aan hom gegee is vir meer as ‘n eeu. En vir sy gehoorsaamheid, sê die Skrif, het Noag, “’n erfgenaam geword...van die geregtigheid van volgens die geloof is” (Hebreërs 11:7).

Beskou Abraham. God het hierdie man vertel, “Staan op, gaan uit en verlaat jou land.” Abraham het sekerlik gewonder, “Maar waarheen, Here?” God sou eenvoudig geantwoord het, “Ek gaan jou nie vertel nie. Gaan net.”

Dit was nie logies nie. Die was ‘n totaal onredelike vereiste vir enige regdenkende persoon. Ek sal dit illustreer deur elke Christen vrou te vra: wat as jou man eendag huistoe kom en sê, “Pak op, liefling, ons trek.” Natuurlik sal jy wil weet waarom, of waarheen, of hoe. Maar die enigste antwoord wat hy vir jou gee is, “Ek weet nie. Ek weet net God het so gesê.” Daar is geen duidelike of redelike verduideliking vir hierdie soort vereiste nie. Dit is eenvoudig nie logies nie.

Tog is dit presies die onlogiese leiding wat Abraham gevolg het. “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou gaan” (Hebreërs 11:8). Abraham het sy familie opgepak en vertrek, sonder om te weet waar hy sou beland. Al wat hy geweet het, was die kort woord wat God vir hom gegee het: “Gaan Abraham, en Ek sal met jou wees. Geen skade sal na jou toe aankom nie.” Geloof het vereis dat Abraham op niks anders as op sy belofte handel nie.

Een sterrenag, het God vir Abraham vertel, “Kyk op na die hemel. Sien jy die ontelbare sterre? Tel hulle as jy kan. Dit is hoeveel nasate jy sal hê” (sien Génesis 15:5). Abraham moes hierop sy kop geskud het. Teen hierdie tyd was hy en sy vrou, Sara, al oud. Hulle was lankal verby die tyd om ooit kinders te kon hê. Tog, hier word hy ‘n belofte gegee dat hy die vader van baie nasies sou word. En al die bewyse waarop hy moes vertrou, was ‘n woord uit die hemel: “Ek is die HERE” (Génesis 15:7).

Maar Abraham het gehoorsaam. En die Bybel sê dieselfde ding van hom as wat dit van Noag sê: “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken” (Génesis 15:6). Weereens sien ons ‘n onlogiese toneel. Een man se geloof het egter tot geregtigheid gelei.

Beskou die kinders Israel. Dink aan die moeilike toestande waarin God hulle gelei het. Hy het hulle verlos van Farao se greep in Egipte, net om by die Rooisee vasgekeer te word. Die Israeliete was omring deur berge and beide kante en Farao se leër het vinnig van agter af op hulle afgekom. Dit was ‘n hopelose toestand, met geen menslike manier daaruit nie. Hulle harte moes gebons het toe hulle die gerommel van Farao se waens gehoor het en die stof van sy perde sien oprys het.

Hoewel ek die uiteinde van hierdie toneel ken, wil my vlees met God argumenteer: “Dit lyk nie regverdig nie, Here. Watter traumatiese toestand vir hierdie families en hulle kinders. Hulle was daar vasgevang met geen vlotte of bote nie en het gewonder wat hulle sou doen. Here, in een nag het U die hele Egipte se eersgeborenes gedood. Waarom het U nie al hierdie soldate in die woestyn verslaan nie? Wat is die verskil of U hulle nou verdrink of hulle in die woestyn doodmaak? Dit is onredelik, met al hierdie huilende kinders, al die mans en vrouens wat in vrees bewe. Hulle het U gehoorsaam, maar tog het U toegelaat dat dit met hulle gebeur. Waarom hulle dit alles laat deurgaan?”

Ons kan nie van die werklikheid ontsnap nie: God het hulle in hierdie situasie ingelei. En die hele toneel is totaal onlogies en heeltemal onredelik. God het eenvoudig van hulle verwag om die woord wat hy reeds vir hulle gegee het, te glo: “Ek gaan jou in my arms neem en jou deur die woestyn dra. Geen vyand sal jou oorval nie, omdat Ek met jou is. Jy moet eenvoudig stilstaan en die verlossing van die Here sien.”

Ek vra jou: hoeveel van ons vandag sou net soos hierdie Israeliete vreesbevange en huilend daar gestaan het? As ons eerlik is, weet ons dit is presies hoe ons ook in die meeste van ons krisisse reageer. Is die toestand van ons harte nie soortgelyk aan hulle s’n nie?

Eenvoudig gestel, geloof is veeleisend. Dit vereis dat wanneer ons God se Woord hoor, moet ons dit gehoorsaam, met geen ander bewyse om ons te lei nie. Dit maak nie saak hoe groot ons struikelblokke mag wees nie, of hoe onmoontlik ons omstandighede is nie. Ons moet sy Woord glo en daarop reageer, met geen ander bewyse om op te gaan nie. God sê, “My belofte is al wat jy nodig het.”

Soos elke generasie voor ons, wonder ons ook, “Here, waarom moet ek hierdie toets deurgaan? Dit is bokant my begrip. U het so baie dinge in my lewe toegelaat wat nie sin maak nie. Waarom is daar geen verduideliking vir dit waardeur ek gaan nie? Waarom is my siel so bekommerd en so vol groot beproewings?”

Hoor my weer: die eise van geloof is onredelik vir die mensdom. So, hoe antwoord die Here ons hulpgeroep? Hy stuur sy Woord en herinner ons aan sy beloftes. En Hy sê, “Gehoorsaam My eenvoudig net. Vertrou my Woord aan jou.” Hy aanvaar geen verskoning en geen ongehoorsaamheid nie, maak nie saak hoe onmoontlik ons omstandighede mag lyk nie.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ons God is ‘n liefdevolle Vader. En Hy laat nie toe dat sy mense onoordeelkundig en vir geen rede ly nie. Ons weet Hy het al die krag en gewilligheid tot sy beskikking het om elke probleem en hartseer te laat verdwyn. Hy kan bloot ‘n woord spreek en ons verlos van elke beproewing en stryd.

Die Here gaan egter nie vir ons wys hoe of waar Hy sy beloftes aan ons gaan vervul nie. Waarom? Hy skuld ons geen verduideliking as Hy reeds die antwoord gegee het nie. Hy het ons alles gegee wat ons nodig het vir lewe en goddelikheid in sy Seun Jesus Christus. Hy is al wat ons nodig het vir elke situasie wat die lewe na ons kant toe kan bring. En God gaan op die woord wat Hy reeds aan ons openbaar het, staan: “Julle het my Woord binne julle bereik. My beloftes is ja en amen vir almal wat glo. So, rus in my Woord. Glo dit en gehoorsaam dit.”

Die Bybel vertel vir ons dat Israel God tien keer in die woestyn “uitgelok” het. Wat was hierdie uitlokkings? Dit was tien situasies waarin die Israeliete groot beproewings beleef het. Keer op keer, was hierdie mense in situasies wat onmoontlik gelyk het, geplaas. Miskien wonder jy ook soms, nes ek, “Here, waarom al hierdie beproewings?”

In elke geval, wou God in sy mense ‘n flikkering van geloof opwek. Hy het net na ‘n klein maat gesoek, sodat Hy daarop kon voortbou. Jy sien, Hy wou die wêreld ‘n getuienis gee van sy getrouheid aan sy mense. En Israel moes daardie getuienis wees. God het in wese gesê, “Wanneer Ek my mense na moeilike plekke neem, verwag Ek van hulle om op te tree volgens my beloftes aan hulle. My Woord is lewe vir almal wat glo. En Ek wil hê dat daardie boodskap gepreek en gedemonstreer word aan ‘n verlore en sterwende wêreld.”

Daardie Woord was reeds aan Israel beskibaar gestel. God het hulle vertel, “Ek gaan julle uit groot verdrukking verlos, na neem na ‘n land wat vloei van melk en heuning. Niemand sal in staat wees om teen julle te staan nie. EK IS sal met julle wees. En nie een van my beloftes sal misluk nie.” Dieselfde is waar vir God se mense vandag. So lank as wat die aarde bestaan, bly sy beloftes dieselfde: “Ek sal jou uit jou verdrukking lei. Vertrou die groot EK IS.”

Dit is waarom die God van uiterste geduld geen geduld het met ongeloof in sy kinders nie. Hebreërs sê, “Wie was dit dan wat gehoor het en Hom verbitter het?” (Hebreërs 3:16). Wat het hulle gehoor? Hulle het God se Woord gehoor: beloftes van beskerming, leiding en goedheid. Maar in plaas daarvan om op daardie woord te vertrou, het hulle op hulle hopelose situasie gefokus. En hulle het toegelaat dat ongeloof in hulle harte posvat. God het gereageer deur te sê, “Sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie” (Hebreërs 3:11).

Hierdie mense wou iets redelik hê. Hulle wou staan op iets wat hulle kon sien, voel en aanraak. Hulle wou hê dat God vir hulle die pad, wat voor hulle gelê het, uitspel. Maar dit is nie geloof nie. Geloof beteken om te sê, “God het vir my ‘n belofte gegee. En ek gaan leef of sterf deur daardie belofte. Ek gee nie om wat dit van my verg om dit in besit te neem nie. Ek plaas alles op die spel, my hele lewe rus op sy Woord aan my.”

Hebreërs vra, “En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:17-19). In werklikheid het elkeen van Israel se beproewings verbygegaan. En God het hulle getrou verlos van elkeen. Tog het daardie selfde Israeliete wat God se goedheid ervaar het, dood in die woestyn opgeëindig. Waarom? Elke keer wat ‘n beproewing plaasgevind het, het hulle gemurmureer en hard geword en geweier om te glo.

Wat van jou? Is jy huidiglik soos Israel op ‘n vreesaanjaende plek? Voel jy hopeloos, leeg en gestroop van alles? Aan almal wat ‘n ernstige stryd beleef, sê ek, jou beproewing sal ook verbygaan. So, wat verwag God nou van jou, te midde van dit alles?

Miskien is jy bedroef en angstig oor ‘n stryd wat lyk of dit nie wil eindig nie. Jy is neergebuig, meer moedeloos as wat jy nog ooit was. Jou vriende vertel vir jou, “Moenie huil en rouklaag nie. Dit toon nie geloof nie.” Maar dit is nie so nie. Trouens, as jy geloof het, is jy in staat om te huil. Jy kan nie pyn vermy nie. Eintlik is daar genesende krag in jou trane. Jou rouklag het niks te doen met of jy op God se Woord vertrou nie.

Soms mag jy wonder, “Here, wat het ek verkeerd gedoen? Watter sonde het ek gepleeg? Is dit u oordeel oor my?” Jy mag selfs voel om Hom te konfronteer en te huil, “Waarom het U dit laat gebeur? Wat het ek gedoen dat U dit toelaat?” Ek vertel vir jou, God gee jou tyd vir daardie vrae. Hy laat toe dat jou vlees sy uitbarstings het.

Dan, kom die Here uiteindelik na jou toe en sê, “Jy het ‘n reg tot al daardie gevoelens. Maar jy het geen rede om My aan te kla of te betwyfel nie. Ek het jou ‘n belofte gegee. Trouens, ek het jou alles gegee wat jy nodig het. En jy moet nou daardie belofte in besit neem. As jy dit doen, sal my Woord vir jou lewe bring. Dit sal vir jou genesing bring wat groter is as enige medisyne, kragtiger as enige rivier van trane.”

Oor en oor, het die Psalmis gevra, “Waarom is my siel terneergedruk? Ek voel nutteloos, verlaat. Daar is so ‘n rusteloosheid binne-in my. Waarom, Here” Waarom voel ek so hulpeloos in my verdrukking?” Hierdie vrae spreek vir menigtes wat God liefgehad en gedien het.

Neem goddelike Elia, by voorbeeld. Ons sien hom onder ‘n besembos waar hy God smeek om hom dood te maak. Hy was so mismoedig, dat hy by die punt was om sy eie lewe op te gee. Ons vind ook regverdige Jeremia terneergedruk in wanhoop. Die profeet roep uit, “Here, U het my mislei. U het vir my gesê om al hierdie dinge te profeteer, maar nie een daarvan het waar geword nie. Ek het niks anders gedoen as om U my hele lewe lank te soek nie. En is dit hoe ek terugbetaal word? Ek gaan nie meer u Naam noem nie.”

Elkeen van hierdie dienaars het ‘n tydelike aanval van ongeloof gehad. Maar die Here het hulle toestand in tye van verwarring en twyfel verstaan. En na ‘n tydperk, het Hy altyd vir hulle die uitweg getoon. Te midde van hulle verdrukkinge, het die Heilige Gees vir hulle die lig aangeskakel. En die Skrif teken hulle ervarings aan as voorbeelfde vir ons.

Beskou Jeremia se getuienis van hoe hy uit sy put gekom het: “Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart” (Jeremia 15:16). Dawid het ook getuig, “Ek het u Woord onthou.” En Elia het gesê, “U woord het tot my gekom.” Op ‘n stadium het elkeen van hierdie dienaars God se Woord onthou. En dit het die blydskap en vreugde van hulle lewens geword en hulle uit die put getrek.

Die hele tyd wat hierdie mense gestry het, die Here in der waarheid naby gesit en gewag. Hy het hulle hulpgeroep gehoor, al hulle pyn en hulle angs. En na ‘n seker tyd verbygegegaan het, het hy hulle vertel, “Jy het dit nou uitgehuil. Jy het jou tyd van droefheid en twyfel gehad. Nou wil Ek hê dat jy My vertrou. Sal jy teruggaan na my Woord? Sal jy my belofte in besit neem? As jy dit doen, sal my Woord jou deursien.”

Dit maak nie saak hoe jy in jou hopelose situasie beland het nie. Soms is dit die Here se toedoen om ons aan die einde van onsself te bring. Soms is dit die vyand wat ons aanval, soos wat hy met Job gedoen het. Soms is dit ons vlees, of dit nou deur versoeking, of deur ‘n geestelike of fisiese beproewing plaasvind. Trouens, dit maak nie saak hoe ons daar gekom het nie. Al wat saakmaak is hoe ons daar uitkom. En daar is geen ander uitweg as deur God se Woord nie.

Die Heilige Gees is getrou om met ons te praat. Hy laat ons weet wanneer dit tyd is om al ons twyfel en vrae opsy te stoot. As ons dit nie doen nie – as ons weier om terug te gaan na God se getroue Woord en toelaat dat sy beloftes weereens die blydskap van ons lewens word – sal ongeloof nes skrop. En dit sal so hard soos beton word. Op daardie stadium, sal ons in ‘n put val waaruit ons nooit sal kan kom nie. Al ons gedagtes teenoor God sal hard en beskuldigend wees, in plaas van vertrouend. En sy toorn is teen almal wat hulle vertroue in sy Woord verlaat.

Vir eeue was die Jode op die uitkyk na die Messias om te kom. Hulle het geglo Israel se Verlosser sou ‘n koning wees en wat in majesteit en krag sou kom om die heerskappy in Jerusalem te vestig. Hou sou ‘n magtige verlosser wees en ‘n onsigbare leër lei. En Hy sou die juk wat Rome op Israel se nek geplaas het, verbreek. Dan sou Hy elke ander mag op die oppervlak van die aarde omverwerp.

Kan jy jou voorstel die groot afwagting wat elke Jood gehad het vir hierdie Verlosser se koms? Hy sou alles siekte uitwis, alle pyn wegneem, die armes van hulle armoede verlos en die mense alles gee wat hulle harte begeer. Hy sou Israel ‘n groot volk en ‘n voorspoedige nasie maak. En Hy sou dit alles doen met ‘n ontsaglike vertoon van mag.

So, is dit hoe die Messias opgedaag het? Nee, ons weet dit is nie. Hy was gebore in ‘n stal van alle plekke. En die storie van sy geboorte is die mees onlogiese, onredelike aspek van alles. Hierdie Messias het geen aardse vader gehad nie; Hy was onberispelik verwek deur die Heilige Gees en in die baarmoeder van ‘n maagd gedra. Sy aankoms was nie aangekondig deur magtige trompette nie, maar deur ‘n ou priester en bejaarde profetes. Hulle eenvoudig verklaar, “Hier is die verwagte een van Israel. Glo in Hom, want Hy is God.”

Van wie presies het hulle gepraat? ‘n Nederige Nasaréner, ‘n skrynwerker. Toe Jesus op die toneel gekom het, het mense gesê, “Wag ‘n bietjie. Ons ken hierdie man se ouers.” Iemand kon selfs moontlik gesê het, “Josef het Hom eenkeer in ons huis ingebring om te help om ons tafel reg te maak.” Hoe kon van enigeen verwag word om te glo so ‘n man is die Messias? Dit was heeltemal onredelik.

Jesus het nie sy Heerskap met ‘n magtige leër aangekondig nie. Hy het opgedaag met net twaalf ongeleerde, werkersklas dissipels. Hulle was nie geskool in groot teologie nie. Hulle was vissermanne, dagloners en vakmannne. En Jesus was nie anders nie. So, hoe kon enigeen aanvaar dat Hy ‘n gesag op God se Woord was? Almal het geweet dat Israel se ware leiers by die voete van Gamaliël gesit het en geleer het by die vernaamste geleerde van die dag. In die tussentyd, het hierde skrynwerker se seun in die woestyne en strande onderrig. Sy gehore het bestaan uit weduwees, melaatses en prostitute. En Hy het hulle vertel, “Ek is God in die vlees. Glo in My.”

Stel jouself voor die reaksie wat enige godsdienstige leier moes gehad het: “Hierdie man staan in die sinagoges en verklaar Hy is die Messias. Hy sê Hy was deur God gestuur. Maar Hy het geen koninklike geboorte of afkoms nie. Hy het nie eers ‘n plek om sy hoof neer te lê nie. Hy storm die tempel binne en dryf al die handelaars uit. En Hy noem die tempel ‘my Vader se huis.’ Maar Hy verduidelik nie waar Hy sulke gesag vandaan kry nie. Trouens, Hy maak daarop aanspraak dat Hy die tempel van God is. Hy sê Hy het voor Abraham bestaan.

“Hy sê Hy is die lewende water, brood uit die hemel, beide mens en God. Dan gebruik Hy bisarre taal en vertel ons ons moet sy liggaam eet en sy bloed drink. Hy sê as ons Hom sien, sien ons die Vader. Maar as ons nie in Hom glo nie, dan glo ons nie in God nie. Wat is egter die gesag vir al sy aansprake? Dit is net sy woord. Hy kom hier en sê, “Vertrou My.”

Dink aan wat hierdie leiers Jesus hoor sê het: “Wie my woord hoor en  Hom glo wat My  gestuur het, het die ewige lewe” (Johannes 5:24). Hulle het geprotesteer en Christus vertel, “U getuig van Uself; u getuienis is nie waar nie” (Johannes 8:13). Jesus het hulle met nog ‘n onredelike verduideliking geantwoord: “En dit is ook in julle wet geskrywe dat die getuienis van twee mense waar is. Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My” (Johannes 8:17-18).

Uiteindelik het Jesus die hele saak in perspektief gestel. Hy het hulle vertel, “Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie” (Johannes 8:43). Hy het in wese, “Julle kan My nie verstaan nie, omdat julle nie my Woord kan hoor nie.” Dieselfde is waar vir elke gelowige vandag. Dit kom alles neer op een kwessie: om God se Woord te vertrou. Sy Woord alleen is ons lewe en hoop.

Ons leef in ‘n tyd van die grootste evangelie openbaring in die geskiedenis. Daar is meer predikers, meer boeke en meer evangelie-media as ooit tevore. Daar was egter nog nooit tevore meer benoudheid, verdrukking en bekommerde gemoedere onder God se mense nie. Pastore en dominees ontwerp deesdae hulle preke net om mense op te lig en te help om hulle wanhoop te hanteer. Hulle preek oor God se liefde en geduld. Hulle herinner ons dat Hy ons tye van moedeloosheid verstaan. Ons was vertel, “Wag ‘n bietjie, wees bemoedig. Selfs Jesus het deur sy Vader verlaat gevoel.”

Daar is niks verkeerd hiermee nie. Ek preek self ook hierdie waarhede. Tog glo ek daar is net een rede waarom ons so min oorwinning en verlossing sien: dit is ongeloof. Trouens, God het met groot duidelikheid in hierdie laaste dae gepraat. En dit is wat Hy gesê het: “ Ek het julle alreeds ’n Woord gegee. Dit is volbring en voltooi. Staan nou daarop.”

Laat niemand jou vertel ons beleef ‘n hongersnood na God se Woord nie. In der waarheid beleef ons ‘n hongersnood van om God se Woord te hoor en te gehoorsaam. Waarom? Geloof is so onredelik. Geloof kom egter nooit na ons deur logika of rede nie. Paulus noem dit duidelik, “Die geloof is dus uit die gehoor, en gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). Dit is die enigste manier waarop geloof ooit in enige gelowige se hart sal oprys. Dit kom deur gehoor – dit is, glo, vertrou en handel op – God se Woord.

Ek wil afsluit met ‘n denkbeeldige gesprek tussen die Here en ‘n moedelose Christen:

Christen: “Here, ek is af en moedeloos. U het belowe U sal nie toelaat dat ek enige las, wat te swaar is, dra sonder om ‘n uitweg te maak nie. Maar nou is ek oorweldig. As U my net wil vertel waaroor dit alles gaan.”

Die Here: “Ek gee jou my Woord.” “Daarom sal elke vrome U aanbid...by ‘n oorstroming van groot water sal hulle nie aan hom raak nie. U is ‘n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid; U omring my met vrolike gesange van bevryding. Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees” (Psalm 32:6-8).

Christen: “Here, ek voel so hulpeloos. My krag is amper gedaan. Vrees en twyfel teister my gedagtes. Ek kan nie ‘n uitweg sien nie. Die toekoms lyk so hopeloos.”

Die Here: “Ek het vir jou my Woord gegee.” “Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag; om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood. On siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild” (Psalm 33:18-20).

Christen: “Here, soms voel ek dat ek U aanstoot gegee het. Is hierdie beproewing een of ander soort oordeel? Sal dit ooit eindig?”

Die Here: “Ek gee jou my Woord.” “Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede gered. Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil...

“Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep...Hulle roep, en die HERE  hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede...Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom...Die HERE verlos die siel van sy knegte, en almal wat by Hom skuil, hoef nie te boet nie” (Psalm 34:7-9,16,18,23).

In slegs drie Psalms, word ons genoeg van God se Woord gegee om alle ongeloof te verdryf. Ek moedig jou aan: hoor dit, vertrou dit, gehoorsaam dit. En uiteindelik, rus daarin. Dit sal ons getuienis wees van ons getrou God, deur elke beproewing en verdrukking.

Afrikaans