DIE ONSIGBARE WERK BINNE-IN DIE HART

David Wilkerson (1931-2011)

Dit blyk dat daar vandag namaaksels is vir byna enigiets. Vroeër, as jy op die strate van New York Stad geloop het, het ‘n mens straatverkopers teëgekom wat “egte” Rolex-horlosies, ontwerpershandsakke, juweliersware en ander begeerlike items verkoop het. Dit het baie goed gelyk, maar dit was goedkoop namaaksels van die werklike goedere.

Maar daar is een ding wat nie nagemaak kan word nie en dit is ware geestelikheid. Elke nou en dan, kom sekere Christene tot die oortuiging, “Om goddelik te wees, moet ons teruggaan na die gebruike en gewoontes van die vroeë kerk.” Daarom stel hulle dan al die bekende programme van die kerk van die dissipels se tyd in. Hulle stel ouderlinge, diakens en biskoppe aan en stel die “goddelike bevel” van die kerklike gebruike van die doop en nagmaal in, presies soos die vroeë kerk dit gedoen het – maar dit is alles net ‘n namaaksel, ‘n dooie godsdiens sonder die Heilige Gees.

‘n Groot deel van hedendaagse godsdiens dink dat as hulle kennis van die Skrif en Bybelse beginsels aan mense oordra, sal hulle geestelik word. Mense woon ‘n Bybelskool of ‘n kweekskool by waar hulle die Skrif leer en onderrig word om te preek, te doop en te administreer. Hulle word verander in teoloë, pastore en sendelinge, maar die feit bly staan dat geen persoon of instansie die mag het om ware geestelikheid in iemand te vorm nie. Slegs die Heilige Gees doen dit.

Die geestelikheid gevorm deur die Heilige Gees is ‘n diepe, onsigbare werk binne-in die hart. Paulus sê, “Omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare” (2 Korinthiërs 4:18). In die konteks van hierdie gedeelte, praat Paulus van lyding en sê in wese, “Slegs die Heilige Gees weet wat ons alles beleef. En dit is waar ware geestelikheid geopenbaar word – in die smeltkroes van lyding.”

Nie elkeen wat ly, word geestelik nie; baie mense mag dalk bitter en hard, kwaad vir God en die wêreld word. Maar diegene wat hulle onderwerp aan die leiding van God se Gees en verdrukkings trotseer met vertroue dat die Here iets in hulle vorm, kom uit hulle smeltkroes met sterk geloof.