Die Onwrikbare Liefde Van God

Ek wil met u praat oor die woord onwrikbaar. Dit beteken onverminderde intensiteit of poging - onversetlik, onbuigbaar, onvermoë om te verander of oorgehaal te word deur argumente. Onwrikbaar beteken om vasberade te wees oor 'n saak.

Wat 'n wonderlike beskrywing van God se liefde. Ons Here se liefde is absoluut onwrikbaar. Niks kans sy liefde vir sondaars en heiliges verhinder of verminder nie. Die psalmdigter Dawid het dit so gestel: "U omsluit my van alle kante. U neem my in besit. Waarheen sou ek gaan om U Gees te ontvlug? Klim ek op na die Hemel, is U daar; gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar" (Psalm 139:5,7-8).

Dawid praat van al die hoogtepunte en laagtepunte wat ons in die lewe moet trotseer. Hy sê, "Daar is tye wat ek so geseënd voel, ek kan juig en jubel. Ander kere weer, voel dit vir my asof ek in 'n lewende hel verkeer, verdoem en waardeloos. Maar dit maak nie saak waar ek is nie my Heer, of ek geseënd voel of hoe laag my kondisie is nie - U is altyd daar! Ek kan nie wegkom van U onwrikbare liefde vir my nie. Ek kan dit ook nie van my af wegdryf nie. U neem nooit my verskonings en argumente van hoe onwaardig ek is, aan nie. Al is ek ook ongehoorsaam, sondig ek teen U of neem ek U genade as vanselfsprekend aan, hou U nooit op om my lief te hê nie. U liefde vir my is onwrikbaar!"

Toe Dawid op 'n laagtepunte in sy lewe was, het hy gebid: "Here, U het my siel 'n plek in die hemel gegee. U het U lig gegee om U woord te verstaan. U het 'n lamp vir my voet gegee, maar ek het so laag gedaal. Ek kan nie sien hoe ek ooit weer kan herstel nie. Ek het vir my 'n bed in die hel gemaak. Ek verdien toorn en straf. U is te heilig om my in hierdie toestand lief te hê!

Dawid het gruwelik gesondig. Dis dieselfde man wat daagliks heilige en goddelike boodskappe van goddelike profete en raadgewers gehoor het. Hy was geleer en bygestaan deur opregte godsmanne. Die Heilige Gees self het hom geleer. Hy het openbaringe uit God se woord ontvang. Tog, ten spyte van al sy seëninge en sy voorbeeldige lewe het hy God se wette skandelik verbreek en was hy totaal ongehoorsaam.

Ek is seker daarvan dat u almal weet van Dawid se groot sonde. Hy het 'n ander man se vrou begeer en haar swanger gemaak. Boonop wou hy sy sonde bedek, deur haar man dronk te maak, sodat hy by sy swanger vrou sou slaap. Toe die plan misluk, het hy die man laat vermoor deur hom na 'n hopelose oorlog te stuur met die wete dat die man sekerlik sou sterf!

Die Skrif sê, "Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here" (2 Samuel 11:27). God het Dawid se dade as 'n groot euwel beskou. Hy het die profeet Natan gestuur om vir hom te sê: "Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van God aanleiding gegee het om Hom te laster" (12:14).

God het Dawid gedissiplineer en gesê dat hy swaar gestraf sou word en soos Natan geprofeteer het, "sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe" (12:14). Dawid het dag en nag gebid vir sy kind se gesondheid en lewe. Maar die kind het uiteindelik gesterf en Dawid het innige berou gehad oor die vreeslike sondes wat hy gedoen het.

Tog, ten spyte van Dawid se sonde het God hom bly agtervolg met Sy liefde. Terwyl die wêreld hierdie gevalle man se geloof bespot het, het God vir Dawid 'n teken van sy onwrikbare liefde gegee. Batseba het Dawid se vrou geword en het aan nog 'n seun geboorte geskenk. "Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad". Salomo se geboorte en lewe was vir Dawid 'n seën en totaal onverdiend, maar God se liefde vir Dawid het nooit afgeneem nie, nie eers in die uur van sy grootste skande nie. Hy het Dawid onwrikbaar en sonder ophou agtervolg.

Hou ook in gedagte die getuienis van die apostel Paulus. Ons lees dat Paulus 'n man was wat daarop uit was om Christus se kerk te vernietig. Hy was soos 'n besetene in sy haat vir Christene. Hy het dreigemente rondgeslinger dat hy almal wat Jesus volg, om die lewe sou bring. Hy het selfs die hoëpriesters se gesag gesoek om alle gelowiges op te spoor, sodat hy by hulle huise kon inbars en almal in die tronk gooi.

Nadat Paulus tot bekering gekom het, het hy getuig dat selfs gedurende daardie haat-vervulde jare, toe hy vol oordeel was en Christus se dissipels wou uitmoor, selfs toe het God hom liefgehad. Die apostel skryf, "Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Hy vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was" (Romeine 5:8). Hy het in der waarheid gesê, "Al was ek nie daarvan bewus nie, het God my agtervolg. Hy het in liefde agter my aangekom tot die dag waarop Hy my van my troontjie afgestamp het. Dit was 'n teken van God se onwrikbare liefde vir my."

Deur die jare het Paulus meer en meer tot die besef gekom dat God hom vurig en ywerig tot die einde en deur sy op en af dae, sal liefhê. Paulus het gesê, "Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe, of engele of bose magte, of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte, of hoogte of diepte, of enigiets anders in die skepping, kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus onse Here" (Romeine 8:38-39). Hy het verklaar dat "Noudat ek aan God behoort, kan niemand my van God se liefde skei nie. Geen duiwel of demoon, geen opperhoof, geen man, geen engel - niks sal God verhoed om my lief te hê nie."

Die meeste gelowiges het hierdie paragraaf al oor en oor gelees. Daar is al baie jare oor gepreek ook. Nogtans glo ek dat die meeste Christene hierdie woorde van Paulus nie glo nie, hulle dink dis onmoontlik. Wanneer die meeste van ons sondig of God gefaal het, verloor ons baie van ons geloof dat God nog vir ons kan lief wees. Dan, wanneer iets slegs met ons gebeur, glo ons dat "God ons straf", en dit lei daartoe dat ons God blameer vir elke moeilikheid, siekte of vervolging wat op ons pad kom.

In werklikheid wil ons sê, "God het opgehou om my lief te hê omdat ek hom gefaal het. Ek het Hom teleurgesteld en nou is Hy kwaad vir my." Skielik hou ons op om God se onwrikbare liefde vir ons te begryp. Ons vergeet dat Hy gedurigdeur besig is om agter ons aan te kom, maak nie saak wat ons toestand is nie. Die feit van die saak is, ons kan nie die lewe met al sy moeilikhede en verdriet in die gesig staar sonder aan hierdie wete vas te hou nie. Ons moet oortuig wees van God se liefde vir ons.

Ek weet van baie predikers wat baie van God se liefde praat en dit vrylik aan ander aanbied. Helaas, wanneer die vyand soos 'n brullende leeu op hulle afstorm, word hulle self weggevoer. Hulle val self in 'n put van moedeloosheid, onbevoeg om God se Woord te vertrou. Hull kan nie glo dat God hulle nog sal aanvaar nie, omdat hulle glo Hy het moed opgegee met hulle.

Paulus spreek hierdie belangrike probleem vir ons almal, in een enkele versie aan. Hy het twee briewe aan die Korintiërs geskryf en hy het gekies om die laaste een met hierdie gebed te af te sluit: "Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees" (2 Korintiërs 13:1).

U mag hierdie versie herken. Dit word in kerkdienste gebruik as 'n seënwens. Dit word dikwels uit gewoonte deur die prediker voorgesê maar min hoorders besef die geweldige betekenis. Tog is hierdie versie nie net 'n seënwens nie. Dit is Paulus se opsomming van alles wat hy aan die Korintiërs van God se liefde geleer het.

Hierdie versie behandel drie goddelike punte: die genade van Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees. Paulus het gebid dat die Korintiërs hierdie drie waarhede sou aanneem. Ek glo dat as ons ook hierdie drie waarhede kan begryp, ons nooit weer aan God se oneindige liefde vir ons sal twyfel nie:

Wat is genade eintlik? Ons weet dat wat genade ookal is, Paulus sê: "dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar, en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe" (Titus 2:12).

Waar kry ons so 'n plek waar ons kan leer van genade? Waar kry ons die kennis van wat genade ons alles bied? Volgens Paulus leer genade ons om goddeloosheid en sonde te vermy, asook ander versoekings en rein, heilige lewens te lei. As dit so is, het ons die Heilige Gees nodig om ons siele te verlig met die waarheid van hierdie leerstellings.

Ons vind die geheim van Paulus se stelling omtrent genade in 2 Korintiërs 8:9. Hy sê, "Julle ken die genade van onse Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kan word." Paulus praat nie hier van materiële rykdomme nie, maar van geestelike rykdom. (Baie versies bewys dit. Deur al sy briewe praat Paulus van die rykdom van Christus se glorie, van sy wysheid, rykdom van genade, of ryk te wees in barmhartigheid, geloof en goeie werke. Net so praat die Nuwe Testament van geestelike rykdom as die teenstelling teenoor die bedrieglikheid van wêreldse rykdom.)

Paulus sê vir ons, "Hier is alles wat julle nodig het om te weet van die betekenis van genade. Dit kom na ons deur die Here se voorbeeld. Eenvoudig gestel, Jesus het gekom om andere te seën, tereg te wys en op te bou ten koste van Homself. Dit is die genade van God. Alhoewel Hy ryk was, het Hy om ons ontwil arm geword, sodat ons deur Sy armoede ryk kan word."

Jesus het nie gekom om Homself op te hemel of te verheerlik nie. Hy het die reg om "Ek" met 'n hoofletter te skryf opgegee, bedoelende enige beklemtoning van "Ek, My of Myne". Hy het elke geleentheid om die belangrikste tussen sy medemens te wees by Hom laat verbygaan. Dink daaraan, Jesus het nooit vir homself gebid om seëninge te ontvang sodat Hy deur andere geken of aanvaar sou word nie. Hy het nie Sy goddelikheid misbruik om sodoende mag en aansien te verwerf nie. Hy het nie homself verhef ten koste van die arm of minder bevoorregte mense nie. Hy het Homself ook nie verbly in sy eie glorie, mag, bevoegdheid of prestasies nie. Nee, Jesus het gekom om die liggaam op te bou. Hy het dit bewys deur Homself te verbly in hoe God ander seën.

Toe Jesus op aarde gewandel het, het Hy met niemand anders gekompeteer nie. Verseker het Hy gehoor hoe Sy dissipels sy wonderdade verheerlik het, maar Jesus het in nederigheid gesê, "Julle sal my nog oortref, julle sal nog groter dinge as Ek doen." Later, toe Hy die verslae gehoor het van hoe Sy dissipels duiwels en bose geeste uitgedryf en mense gesond gemaak het, het Hy gejuig en gedans van vreugde.

Hoeveel van ons kan aanspraak maak op dieselfde genade? Volgens my kom dit sekerlik kort in meeste van die kerke. Baie min gelowiges is bly as hulle sien dat hulle broers en susters deur God geseën word. Dit is ook veral waar van baie predikers. As hulle sien hoe 'n ander prediker, God se seëninge verkry, dink hulle aan hulle eie toestand. Hulle sê gewoonlik: "Ek het al vir jare aaneen geworstel in gebed. Nou kom hierdie jonger predikant na die dorp, en God stort al Sy seëninge op hom uit. Wat nou van my?"

Hier is die onwrikbare liefde van God: Om te juig wanneer ons sien hoe God ander mense meer as onsself seën! Paulus skryf: "Die liefde moet opreg wees... Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld." (Romeine 12:9-10). Hierdie is 'n genade wat bereid is om nederig te bly, selfs wanneer dit oor ander se seëninge jubel.

Paulus het gevind dat baie van hierdie Korintiese Christene, in kompetisie met mekaar was. Die kerk was vol van self-verheerliking, self-verheffing en eie belang. Mans en vrouens was verheug oor hulle eie geestelike gawes en het mekaar verdring vir status en posisie. Hulle het tot by die nagmaalstafel gewedywer. Van die ryk gelowiges het hulle eksotiese disse uitgestal, terwyl die armes niks gehad het om te bring nie. Ander was so hoogmoedig dat hulle niks daarvan gedink het om mekaar te dagvaar om hulle geskille uit die weg te ruim nie.

Dit was alles die teenoorgestelde van wat Paulus verkondig het. Hierdie Korintiërs was gestempel met die hoofletter "Ek." Hulle het almal net geneem en niks terug gegee nie. Selfs vandag dui die woord "Korinties" op hulle vleeslikheid en wêreldsgesindheid.

Paulus het aan hierdie gelowiges gesê: "Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?" (1 Kor. 3:1-3). Dink aan wat Paulus gesê het. Klein kindertjies soek net na hulle eie behoeftes. Hulle huil om gepamperlang te word. Die Korintiërs was in hierdie opsig netso kinderagtig! Hierdie mense het sonde ligtelik opgeneem, party het gehoereer, en selfs bloedskande het plaasgevind.

As ons aan hierdie gelowiges dink, dink ons verseker nie aan die woordjie "heilig" nie. Tog, ten spyte van hulle wêreldsgesindheid, het God Paulus gestuur om aan hulle te skryf as, "die gemeente van God... ("geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges" OAV) wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus" (1:2-3).

Was dit 'n fout? Het God die kerk se kompromie deur die vingers gesien? Nee, nooit. God het alles van die Korintiërs se toestand geweet en Hy het nooit hulle sondes oorgesien nie. Nee, Paulus se genade-vervulde spreekwyse teenoor hierdie mense, was 'n uitbeelding van God se onwrikbare liefde. Probeer uself voorstel hoe verwonderd die Korintiërs was toe hulle Paulus se brief in die kerk voorgelees het. Hierdie gelowiges was selfvoldaan in die eerste graad. Tog het Paulus, wat onder goddelike inspirasie geskryf het, hulle aan as "heiliges" en "geheiligdes in Christus" aangespreek." Hoekom? God was besig om sy kinders te verseker. Laat ek verduidelik.

As God ons moes oordeel volgens ons toestand, sou ons die een oomblik gered wees en die volgende oomblik verdoem! Ons sou tien maal per dag bekeer word, en dan weer tien maal per dag terugval. Elke eerlike Christen sal bely dat sy eie toestand, selfs op sy beste, een van worsteling is. Ons stry nog steeds en moet steeds vertrou op geloof in God se beloftes van genade. Dit is waarom ons nog steeds swakhede in ons vlees het.

Dank die Here, Hy veroordeel ons nie na ons toestand nie. In plaas daarvan oordeel Hy ons na ons posisie. U sien, alhoewel ons swak en sondig is, het ons nogtans ons harte aan die Here gegee en deur geloof het die Vader ons laat sit in die hemele saam met Christus. Dit is ons posisie. Daarom, wanneer God na ons kyk, sien Hy ons nie in ons sondige toestand nie, maar volgens ons hemelse posisie in Christus.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, as ek sê God verseker Sy kinders van genade, praat ek nie van 'n lering wat gelowiges toelaat om te volhard in promiskueuse sondes nie. Die Bybel stel dit baie duidelik, dat dit vir enige gelowige moontlik is om van God weg te draai en sy liefde te verwerp. So 'n persoon kan sy hart so herhaaldelik en so hard verhard dat God se liefde nie meer deur die mure wat hy rondom sy hart opgerig het, kan deurdring nie.

U mag nou reeds in 'n Korintiese toestand wees, maar God sien u posisie alleenlik in Christus. Dit is hoe Hy die Korintiërs behandel het. Toe God na hulle kyk, het Hy geweet dat hulle nie die hulpbronne het om te verander nie. Hulle het geen mag van hulle eie gehad om goddelik te word nie. Dit is waarom Hy vir Paulus geïnspireer het om hulle as geheiligde heiliges aan te spreek. God wou hê hulle moet die sekuriteit van hulle posisie in Christus verstaan.

Worstel u met 'n swakheid? Indien wel, weet dan dat God nooit verhinder sal word in sy liefde vir jou nie. Hoor Hom as hy u beskryf as 'n "heilige", "geheilig" en "aangeneem". Aanvaar en gryp die waarheid wat Paulus beskryf het, vas. "Aan God is dit te danke, dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en verlossing" (1 Korintiërs 1:30).

In Paulus se eerste sendingbrief aan die Korintiërs, spreek hy hulle behoefte vir God se genade aan. Dit is oor al hulle mislukkings. In sy tweede brief, fokus Paulus op God se liefde. Hy het geweet dat die Here se onwrikbare liefde die enigste bron van krag was om enigeen se hart te verander. Paulus se tweede brief bewys dat God gekies het om sy liefde so te gebruik as sy manier daarvan om sy krag te toon.

Eerste Korintiërs 13:4-8 gee ons 'n wonderlike kragtige waarheid van God se onwrikbare liefde. Sonder twyfel het u die paragraaf al baie keer van preekstoele en huweliks bevestigings gehoor: "Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Die bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie."

Die meeste van ons dink, "Dit is die soort liefde wat God van ons verwag." In 'n sekere sin is dit waar, maar die feit van die saak is dat niemand aan hierdie definisie van liefde kan voldoen nie. Nee, hierdie paragraaf gaan alles net om God se liefde. Vers 8 bewys dit: "liefde vergaan nooit (faal) nie". Menslike liefde misluk ja. Maar daar is 'n liefde wat onvoorwaardelik is, wat nooit moed opgee nie. Dit deurstaan elke mislukking en teleurstelling. Dit verlekker hom nie in die sonde van God se kinders nie, in teendeel, dit treur daaroor. Dit weerlê elke argument dat ons te sondig en onwaardig is om deur God lief gehê te wees. Kortliks beteken dit, dat hierdie soort liefde onwrikbaar is en nooit ophou om die geliefde agterna te sit nie. Dit alleen kan die liefde van die almagtige God beskryf.

Dink 'n bietjie aan hoe hierdie kragtige liefde Paulus geraak het. In sy eerste brief aan die Korintiërs het hy alle rede gehad om moed op te gee met die kerk. Hy het alle rede gehad om kwaad te wees. Hy kon hulle maklik, in wanhoop oor hulle sondigheid en kinderagtigheid, afgeskryf het. Hy sou sy brief wou begin met. "Ek is klaar met julle. Julle is totaal onkorrigeerbare mense. Ek het my hele lewe vir julle uitgestort, maar hoe meer ek julle liefhet, hoe minder het julle my liefgehad. Dit is dit, ek verlaat julle, ek laat julle aan julle eie lot oor. Gaan voort en baklei onder mekaar. My werk onder julle is klaar!"

Maar Paulus kon dit nooit skryf nie. Hoekom nie? Omdat hy aangegryp is deur God se liefde. In eerste Korintiërs, lees ons hoe hy 'n man aan Satan oorhandig het tot die verderf van sy vlees. Dit klink wreed, maar wat was Paulus se doel? Dit was sodat sy siel gered kon word (sien 1 Korintiërs 5:5). Ons sien ook hoe Paulus skerp berispe, teregwys en waarsku, maar hy het dit alles met trane gedoen, met die teerheid van 'n verpleër.

Hoe het die vleeslike Korintiërs op hierdie boodskap van Paulus aangaande God se triomfantlike liefde reageer? Hulle het sy woorde ter harte geneem. Later het Paulus gesê, "Juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God. Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, want droefheid volgens die wil van God, bring bekering wat tot redding lei en daaroor was niemand nog ooit jammer nie" (2 Kor. 7:11, 9-10). Paulus het vir hulle gesê, "Julle het julleself skoongemaak, julle was verontwaardig oor julle sonde en nou is julle vol ywer en goddelike vrees. Julle het julleself rein en in hierdie saak bewys".

Ek sê vir u, daardie Korintiërs het verander deur die krag van God se onwrikbare liefde. As ons Paulus se tweede brief lees, vind ons dat die hoofletter "Ek" in hierdie gemeente heeltemal verdwyn het. Die krag van die sonde was verbreek en die eie ek was deur goddelike hartseer weggeneem. Hierdie mense was nie langer toegedraai in geskenke, tekens en wonders nie. Die klem het verskuif na eerder gee as neem. Hulle het gekollekteer om offergawes te stuur aan die gelowiges wat gebuk gegaan het onder groot hongersnood en gebrek. Al die veranderings het gekom deur van God se liefde te vertel.

Ek is persoonlik oortuig van sonde deur hierdie waarheid. In my jeugjare het ek gepreek oor die bose toestand van die kerk. Ek was moedeloos oor die haglike omstandighede van baie van God se kinders. Ek wou uitgaan en hierdie dinge regstel met 'n swaard en 'n voorhamer. Ek het gestry teen kompromieë, en het alles wat voorkom vernietig Op hierdie manier het ek mense onder veroordeling gebring, wat nooit moes wees nie.

As Paulus op hierdie manier in Korinte moes preek, sou hy seker alle vleeslikheid verwoes het, alle owerspelers tot 'n val gebring het en en alle hofsake gestop het. Maar daardie kerk sou verdwyn het. Daar sou geen gemeente vir Paulus oor gewees het om te tereg te wys nie. Sulke "op die man af" prediking word verkeerdelik deur menslike ywer gelei. Dit is gewoonlik die gevolge van die prediker wat nie die persoonlike openbaring van God se liefde vir homself het nie.

Die Griekse frase wat Paulus gebruik word vertaal as die "gemeenskap van die Heilige Gees." In die eerste plek weet die Korintiërs niks van gemeenskap af nie. Die liggaam van die kerk was toenemend individualisties. Paulus het vir hulle gesê, "Een sê 'Ek is vir Paulus;' een: 'Ek is vir Apollos;' een 'Ek is vir Sefas;' en een :'Ek is vir Christus'" (1 Korintiërs 1:12).

Hierdie individualisme is oorgedra na die mense se geestelike gawes. Aanvanklik het die Korintiërs net kerk toe gekom om elkeen self opgebou te word. Die een het gekom met die gawe van tale, die ander met 'n profesie, nog een met 'n woorde van wysheid - tog het hulle net hul gawes gebruik om hulself op te bou. Elkeen wou weggaan deur te sê, "Ek het vandag geprofeteer" of, "Ek het kragtig deur die Gees gepreek." Al hierdie dinge het tot die uiterste deurmekaarspul gelei. Paulus het hulle duidelik tot orde geroep en gesê, "Leer om die vrede te bewaar. Laat niemand anders praat. Stel dit ten doel om die liggaam op te bou en nie net elkeen vir homself nie."

Die diepste werk van die Heilige Gees het te doen met meer as net geestelike gawes. Tekens en wonders is alles nodig en hulle het elkeen sy eie plek. Die kosbaarste werk van God se Gees is egter om die liggaam van Christus te verenig. Hy wil gemeenskap (kameraadskap) onder God se kinders tot stand bring deur Sy verenigende krag. Tog, so dikwels gebeur dit vandag, dat wanneer ons van die gemeenskap van die Heilige Gees praat, ons nog steeds in die enkelvoud dink. Ons praat en dink in terme van "ek en die Heilige Gees", en sê dan, "Die Gees en ek geniet intimiteit in Christus."

Paulus verbind gemeenskap en eenheid aan die twee punte waaroor ons alreeds gepraat het:: die genade van Christus en die liefde van God. Hy sê, in essensie, "om die twee punte werklik te verstaan, moet dit mense bymekaar kan uitbring. Dit is hoe 'n mens Christus se genade en God se liefde in u lewe kan meet. Dit is word bepaal deur u gewilligheid om in volle eenheid met die hele liggaam van Christus te wees.

Wat beteken dit om in eenheid en eensgesind te wees? Dit beteken om alle jaloesie en kompetisie te verwyder, ook om nie jouself met ander te vergelyk nie. In plaas daarvan moet 'n almal bly wees wanneer 'n broer of 'n suster geseën word, en almal gretig is om eerder te gee as om te ontvang. Alleen hierdie soort gemeenskap openbaar werklik die genade en liefde van God.

Die vraag is, "Wil ek regtig die Heilige Gees toelaat om my te wys waar ek moet verander?" U sien daar is 'n doel agter God se onwrikbare liefde. Dit is dit: Daar is krag in God se liefde om al u probleme op te los deur u te verander.

As u vir my sê, maar ek is 'n goeie mens - ek is vriendelik, barmhartig en vergewensgesind en skoon gewas deur die bloed van Christus - My antwoord is: God se liefde voorsien vir meer as vergifnis. U kan vergewe wees en 'n goeie mens wees, maar nog steeds regeer word en verslaaf wees aan u sondige natuur. Ons is almal met Adam se natuur gebore, die neiging tot sonde. In der waarheid is dit juis daardie natuur in ons is wat maklik uitgelok word, jaloers is, wellustig is, woedend word, onvergewensgesind is. Dit is dieselfde natuur in ons wat lief is vir geld, saad van vernietiging saai, en nie bly kan wees as ander mense geseën word nie.

As u veg teen u sondige natuur, veg u 'n vergeefse stryd. Daardie natuur kan nie verander nie. Dit sal altyd vleeslik wees en sal altyd die Heilige Gees weerstaan. Ons vleeslike natuur kan nie verlos word nie en daarom moet dit gekruisig word. Dit beteken om te erken, "Ek kan nooit God uit my eie behaag nie. Ek weet my vleeslike natuur kan my nooit help nie.

Ons moet 'n nuwe natuur gegee word, en dit is die einste natuur van Christus. Dit is nie 'n oormaak van ons ou natuur en vleeslikheid nie. Die oue moet verbygaan. Ek praat van die geboorte van 'n hele nuwe natuur, en die nuwe verbond het daarvoor voorsiening gemaak. "Deur dit te doen het Hy ons die kosbaarste allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die goddelike natuur" (2 Petrus 1:4).

God se liefde sê vir ons, "Ek wil julle posisie in Christus verseker. Julle moet ophou om die ou vleeslike natuur te probeer verander en My toelaat om my Seun se natuur vir julle te gee. Daar is net een voorwaarde waarop dit kan gebeur: glo net. Hierdie verandering in die natuur kom deur geloof alleen. Julle moet glo dat Ek God vir julle sal wees."

Geliefdes, enige gelowige kan net soveel as wat hy begeer soos Jesus word. As u net kan sê, "Ek glo dat Jesus my liefhet," dan bely u dat Jesus u sy krag aangebied het om te verander.

Die Skrif sê dat ons almal 'n mate van geloof besit. Daarom het ons almal die vermoë om Here te glo vir hierdie invulling van sy natuur.

Maak dit u daaglikse gebed, sommer vandag al: "Heilige Gees, ek weet dat ek nie baie van die genade het waarvan Paulus praat nie. Wys my asseblief waar ek moet verander. Ek glo dat my Vader my onwrikbaar liefhet, en dat daardie liefde vir my voorsiening maak om sy natuur myne te maak. Ek weet U het aan my die krag gegee om te verander. Gee my asseblief U natuur, Jesus.

Aan God al die eer, vertaal deur Mev. Susie Jonck.

Afrikaans