Die Oorgegewe Lewe

David Wilkerson

"Oorgawe." Wat vertel hierdie woord vir jou? In letterlike terme, beteken oorgawe om iets prys te gee vir ‘n ander persoon. Dit beteken ook om iets, wat aan jou geskenk is, te prys te gee. Dit sluit jou besittings, mag, doelwitte en selfs jou lewe in.

Christene hoor vandag baie van die oorgegewe lewe. Maar wat beteken dit presies? Die oorgegewe lewe is die daad om vir Jesus die lewe wat Hy jou geskenk het, terug te gee. Dit is om beheer, regte, mag, rigting en al die dinge wat jy doen en sê prys te gee. Dit is om jou lewe heeltemal in sy hande oor te gee om met jou te doen soos Hy wil.

Jesus self het ‘n oorgegewe lewe geleef: “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Johannes 6:38). “Ek soek nie my eie eer nie” (Johannes 8:50). Christus het nooit enigiets op sy eie gedoen nie. Hy het niks gedoen en geen woord gespreek sonder dat Hy deur die Vader instruksies gegee was nie. “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 8:28-29).

Jesus se volle oorgawe aan die Vader is ‘n voorbeeld van hoe ons almal behoort te lewe. Jy mag sê, “Jesus was God in die vlees. Sy lewe was oorgegee voor Hy selfs aarde toe gekom het.” Maar die oorgegewe lewe word op niemand afgedwing nie, insluitende  Jesus.

Christus het hierdie woorde gespreek as ‘n vlees-en-bloed man. Hy het immers aarde toe gekom nie as God nie, maar as ‘n mens. Hy het die lewe beleef net soos ons. En soos ons, het Hy ‘n wil van sy eie gehad. Hy het gekies om ten volle sy wil aan die Vader oor te gee: “Daarom het die Vader my lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem” (Johannes 10:17-18).

Jesus het in wese vir ons vertel, “Moenie ‘n fout maak nie. Hierdie daad van oorgawe van self is totaal binne my mag om te doen. Ek kies om my lewe neer te lê. En Ek doen dit nie omdat een of ander mens my gesê het om dit te doen nie. Niemand neem my lewe van My af weg nie. My Vader het my die reg en voorreg gegee om my lewe neer te lê. Hy het My ook die keuse gegee om hierdie beker by My te laat verbygaan en die kruis te vermy. Maar Ek het gekies om dit te doen uit liefde en volle oorgawe aan Hom.”

Ons hemelse Vader het vir ons dieselfde reg gegee: die voorreg om ‘n oorgegewe lewe te kies. Niemand word geforseer om sy lewe aan God oor te gee nie. Ons Here dwing ons nie om ons wil op te offer en ons lewens aan Hom terug te gee nie. Hy bied ons vrylik ‘n Beloofde Land, vol melk, heuning en vrugte aan. Maar ons mag kies om nie daardie plek van volheid binne te gaan nie.

In der waarheid kan ons soveel van Christus hê soos wat ons wil. Ons kan so diep in Hom ingaan soos wat ons verkies en ten volle lewe deur sy Woord en leiding. Die apostel Paulus het dit geweet. En hy het gekies om Jesus se voorbeeld van ‘n ten volle oorgegewe lewe te volg.

Paulus was eers ‘n Jesus-hater, ‘n eie-geregtige vervolger van Christene. Hy het gesê hy het letterlik haat teenoon Christus se volgeling uitgeasem.  Paulus was goed opgevoed en was deur die beste meesters van sy tyd opgelei. En hy was ‘n Farisieër en onder die vurigste van alle Joodse godsdienstige leiers.

Van die heel begin af, was Paulus op pad na bo, op pad na sukses. Hy het die aanvaarding van die godsdienstige orde van die dag gehad. En hy het ‘n duidelike sending met aanbevelingsbriewe van sy hoofde gehad. Hy het inderdaad sy hele lewe beplan gehad en presies geweet waarheen hy op pad was. Paulus was oortuig hy was binne God se wil.

Die Here het egter hierdie selfgemaakte, self-regerende, self-gerigte man geneem en hom ‘n skitterende voorbeeld gemaak van die oorgegewe lewe. Paulus het een van die mees God-afhanklike, God-gevulde, God-geleide mense in die hele geskiedenis geword. Paulus het in werklikheid sy lewe as ‘n voorbeeld verklaar vir almal wat begeer om ten volle oorgegewe aan Christus te lewe: “Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ‘n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe” (1 Timótheüs 1:16).

Die apostel het in wese gesê, “As jy wil weet wat dit kos om ‘n oorgegewe lewe te leef, kyk na myne. Het jy jou hart daarop gesit om dieper te gaan met Jesus? Dit is wat jy kan verwag om te verduur.” Paulus het geweet dat nie baie gewillig sou wees om sy voorbeeld te volg nie. Maar sy lewe is ‘n bloudruk vir almal wat die ten volle oorgegewe lewe kies.

God begin die proses om ons van ons perdjie af te gooi. Dit het letterlik met Paulus gebeur. Hy was besig om op sy selfversekerde pad te gaan, op die pad na Damaskus, toe ‘n verblindende lig uit die hemel neergeskyn het. Paulus was bewend op die grond gegooi. Toe het ‘n stem uit die hemel gespreek en gesê “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Handelinge 9:4).

Die woorde het Paulus teruggeneem na ‘n gebeurtenis van maande tevore. Skielik het hierdie opregte Farisieë verstaan waarom sy gewete hom gepla het. Paulus het lang nagte van bekommernis en teistering van onrustigheid en verwarring verduur, omdat hy iets gesien het was sy hele wese geskud het.

Paulus het by gestaan toe die apostel Stéfanus gestenig is. Ek glo Paulus het onthou hoe Stéfanus se gesig gelyk het toe hy die dood in die gesig gestaar het. Stéfanus het ‘n hemelse aangesig gehad, ‘n heilige teenwoordigheid rondom hom. En sy woorde het soveel mag gehad. Dit was deurdringend en oortuigend. Hierdie nederige man het duidelik glad nie omgegee oor die goedkeuring van die wêreld nie. Hy was nie beïndruk met godsdienstige hoogwaardigheidsbekleërs nie. En hy het geen vrees vir die dood gehad nie.

Dit het alles die leegheid van Paulus se lewe ontbloot. Hierdie vurigste van Farisieërs het besef dat Stéfanus iets besit het wat hy nie gehad het nie. Paulus het van aangesig tot aangesig gekom met ‘n ten volle oorgegewe man en dit het hom ongelukkig gemaak. Hy het waarskynlik gedink, “Ek het vir jare gestudeer deur die Skrifte te lees. Hierdie ongeleerde man praat egter God se Woord met gesag. Ek het my hele lewe lank ‘n honger na God gehad. Maar Stéfanus het die mag van die hemel, selfs terwyl hy sterf. Hy ken duidelik vir God soos nog niemand wat ek teëgekom het nie. Tog het ek hom en sy soort al hierdie tyd gejag.”

Paulus het geweet iets het in sy lewe gekort. Hy het ‘n kennis van God gehad, maar geen eerstehandse openbaring, soos Stéfanus nie. Nou, op sy knieë en bewend, het hy hierdie woorde uit die hemel gehoor: “Ek is Jesus wat jy vervolg” (Handelinge 9:5). Dit was ’n bonatuurlike openbaring. En die woorde het Paulus se wêreld onderstebo gekeer. Op daardie stadium dink ek hy moes vir ure op sy aangesig gelê en huil het, asof om te sê:

“Ek het dit heeltemal gemis. Ek het al daardie jare in opleiding en studie gespandeer en goeie werke gedoen. Maar die hele tyd was ek op die verkeerde pad. Jesus is die Messias. Hy het gekom, maar ek het gemis om Hom te ken. Al daardie gedeeltes in Jesaja maak nou vir my sin. Hulle was oor Jesus. Nou besef ek wat Stéfanus gehad het. Hy het ‘n intieme kennis van Christus gehad.”

Die Skrif sê, “En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen” (Handelinge 9:6). Paulus se bekering was ‘n dramatiese werk van die Heilige Gees. En wat ‘n onwaarskynlike bekeerling was hierdie man nie. Hy was die vervolger van God se mense. Sy getuienis sou ‘n kragtige, onweerlegbare getuienis vir die evangelie van Jesus Christus wees. God sou sekerlik vir Paulus op ontsaglike maniere aanwend. “En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal vir jou gesê word wat jy moet doen” (Handelinge 9:6).

Probeer om ‘n beeld van Paulus te kry. Hierdie hoogs geleerde Farisieër was nou stomgeslaan en blind. Hy moes deur sy vriende in die stad ingelei word. Alles in sy lewe het gelyk of dit uitmekaar geval het. Maar in werklikheid was Paulus deur die Heilige Gees gelei na die oorgegewe lewe. Toe hy gevra het, “Here, wat wil U hê moet ek vir U doen?” het sy hart uitgeroep. “Jesus, hoe kan ek U dien? Hoe kan Ek U ken en U behaag? Niks anders maak saak nie. Alles wat ek in my vlees gedoen het, is drek. U is nou alles vir my.”

Paulus het die volgende drie dae in gebed en vas deurgebring. Tog het daar nie ‘n woord uit die hemel gekom nie. Hy het ander geleer en vir hulle gepreek, maar niks van sy geleerdheid kon hom nou help nie. Hy was heeltemal hulpeloos. Hy moes gebid het, “O God, U het so ‘n begeerte in my hart geplaas om U te ken. Wys my asseblief wat om te doen. Ek is so blind en verward en niks maak sin nie.”

Ek sê vir elke toegewyde volgeling van Jesus: Neem kennis van hierdie toneel. Hier is die voorbeeld van ‘n oorgegewe lewe. Wanneer jy besluit om dieper met Christus te gaan, sal God ‘n Stéfanus in jou pad stuur. Hy sal jou konfronteer met iemand wie se aangesig van Jesus skyn. Hierdie persoon is nie geïnteresseerd in die dinge van die wêreld nie. Hy gee nie om oor die applous van mense nie. Al waaroor hy omgee, is om die Here te behaag. En sy lewe sal jou selfvoldaanheid en kompromie ontbloot en jou diep van sonde oortuig.

Net soos Paulus, sal jy skielik jou bankrotskap voel. Jy sal besef dat dit nie saak maak hoeveel goddelike werke jy nagestreef het nie, jy het Jesus gemis. En jy sal in ‘n blinde straat beland: stomgeslaan, rigtingloos en nie in staan om sin te maak uit vorige openbarings nie. Maar dit sal alles God se werk wees. Hy sal jou by hierdie plek van algehele hulpeloosheid uitbring.

“Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Handelinge 9:15-16). Paulus was ‘n vrugbare bediening belowe. Maar hy sou groot lyding moes verduur om dit te volbring.

Die onderwerp van lyding is baie wyd en sluit talle verskillende soorte pyn in: fisieke pyn, angstige gedagtes, emosionele nood en geestelike pyn. Volgens die Skrif, het Paulus al hierdie pyne beleef. Hy het gely deur ‘n doring in sy vlees, skipbreuk, stenigings, slae en rooftogte. Hy het verwerping, bespotting en kwaadwillige skinder beleef. Hy het vervolginge van alle soorte beleef. En met tye het hy verlore en verward gevoel en was nie in staat om van God te hoor nie.

Hierdie patroon van lyding in Paulus se lewe sal nie beleef word deur almal wat die oorgegewe lewe najaag nie. Maar op een of ander manier, sal elke gelowige pyn beleef. En daar is ‘n doel agter dit alles. Jy sien, lyding is een area van die lewe waaroor ons geen beheer het nie. Dit is die realm waarin ons leer om aan God se wil oor te gee.

Ek noem sulke lyding die skool van oorgawe. Dit is ‘n opleidingsplek waar, soos Paulus, ons op ons aangesigte val en op die ou end huil, “Here, ek kan hierdie dinge nie hanteer nie.” Hy reageer, “Goed. Ek sal dit hanteer. Gee jou alles aan My oor, jou liggaam, siel, verstand, hart, alles. Vertrou My ten volle.”

As jy die pad van volle oorgawe betree het, sal jy baie meer ly as die gemiddelde selfvoldane Christen. As ‘n gekompromitteerde gelowige ly, sal dit slegs tot sy eie voordeel wees. Die Here mag pyn gebruik om hom te speen van een of ander spesifieke sonde. En niemand anders sal uit sy lesse voordeel trek nie. Maar as jy die oorgegewe lewe begeer, sal jou lyding uiteindelik 'n groot vertroosting vir baie ander word. Paulus verklaar:

“Geseënd is die God...die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus. Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding; en dit laat sy werking blyk deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan; en of ons getroos word, dit is tot julle troos en redding” (2 Korinthiërs 1:3-6).

Paulus praat hier van lyding wat deur Christus toegelaat word.  Ons Here laat sulke pyn in ons lewens toe om ons voor ander getuies te maak van sy getrouheid. Hy wil Homself bewys as die “God van alle vertroosting” (2 Korinthiërs 3:3). Ons lyding is nie slegs bedoel om ons tot volle oorgawe aan sy wil te bring nie. Dit is ook vir “julle tot troos en redding” (2 Korinthiërs 3:5). Eenvoudig gestel, die grootste bedienings van vertroosting kom deur ons grootste lyding.

Paulus het geen ander ambisie gehad, geen ander dryfkrag in sy lewe, as die volgende nie: “Om Christus as wins te verkry” (Filippense 3:8).

Ek ken ‘n goddelike jong prediker wat vriende is met baie ander jong pastore regdeur die nasie. Ek het vir hom gevra wat hy dink die nommer een probleem onder sy eweknieë is. Hy het gesê, “Die druk om suksesvol te wees.” Sy antwoord het my verstom. Ek weet die dryfkrag vir sukses is algemeen in die sekulêre samelewing. Was dit ook ‘n probleem in die kerk? Hy het verduidelik, “Jong bedienaars dink hulle moet dadelik groot getalle in hulle kerke produseer. Hulle voel groot druk om oornag groei te sien.”

Dit is ook ‘n probleem vir ouer bedienaars. Hulle het jare lank voortgeploeter met die hoop om hulle kerke te sien groei. Dan, wanneer ‘n jong pastoor se nuwe kerk begin floreer, voel die ouer manne die druk om dieselfde te doen. Hulle jaag na kerkgroei konferensies om tegnieke te soek om hulle getalle uit te brei.

Ek kan jou nie vertel hoeveel briewe ek ontvang wat tipies die volgende sê: “Ons pastoor het pas teruggekom van ‘n konferensie en hy is baie opgewonde oor ‘n ‘nuwe formule vir sukses.’ Hy sê ons dienste moet vriendeliker wees teenoor sondaars.  Daarom het hy die aanbidding, sowel as sy preke, heeltemal verander. Dit is nou ‘n ander plek. ‘n Paar maande gelede het die Heilige Gees magtig hier gewerk. Maar nou loop die mense, omdat die Gees weg is.”

Een pastoor was geskok deur die raad van ‘n kerkgroeikenner. Hy was vertel, “Jou kerk kan nie groei as al wat jy bied, Jesus, is nie.” Hierdie “kenner” het Christus gemis! Die antwoord vir elke kerklike bekommernis is geredelik beskikbaar, maar hierdie man het dit gemis om dit te ken. Hoe? Hy het een ambisie wat Paulus gesê het nodig is, omseil: om Christus as wins te verkry.

Volgens vandag se standaarde van sukses, was Paulus ‘n algehele mislukking. Hy het nie enige geboue opgerig nie. Hy het nie ‘n organisasie gehad nie. En die metodes wat hy gebruik het, was verag deur ander leiers. In werklikheid, die boodskap wat Paulus gepreek het, het groot getalle hoorders aanstoot gegee. Soms was selfs gestenig omdat hy dit gepreek het. Sy onderwerp? Die kruis.

Jong bedienaars het gesê, “Broer David, jy is ‘n sukses. Jy het ‘n wêreldwye bediening. Jy is die pastoor van ‘n mega-kerk. Jy het selfs ‘n topverkoper geskryf. Jou reputasie is lewenslank gevestig. Wel, wat van my? Waarom kan ek nie dieselfde pad loop nie?”

Soms was ek in die versoeking om te antwoord, “Maar ek het die prys betaal. Jy weet nie van al die swaarkry wat ek op hierdie pad gely het nie.” Nee, dit is nie die antwoord nie. In werklikheid ken ek manne wat baie meer goddelik is as ek, wat baie meer gely het as wat ek ooit kan besef. Hulle was getrou en toegewyd en het verskriklike lyding verduur, sommige selfs tot die dood. Hierdie manne se name is egter nie aan die wêreld bekend nie.

Dit is glad nie die kwessie nie. Wanneer ons voor God by die Oordeel staan, sal ons nie geoordeel word deur ons bedieninge, prestasies of aantal bekeerlinge nie. Daar sal net een maatstaf van sukses op daardie dag wees: was ons harte ten volle aan God oorgegee? Het ons ons eie wil en agenda neergelê en Syne opgeneem? Het ons aan druk toegegee om die skare te volg of het ons Hom alleen vir leiding gesoek? Het ons van een seminaar na ‘n ander seminaar gehaas om vervulling in die lewe te soek, of het ons ons vervulling in Hom gevind?

Ek is geroep om God se Woord te verkondig sedert ek agt jaar oud was. En ek kan eerlik sê dat my hele lewe lank, was my grootste plesier om van die Here te hoor. Ek weet wanneer ek voor mense staan om te preek, spreek ek ‘n boodskap wat God vir my gegee het. En daardie boodskap moet eers in my eie siel werk voor ek mag waag om dit aan ander te verkondig. Ek verlustig my daarin om op die Here te wag en te hoor, “Hier is die weg, wandel daarin.”

Nou, op die ouderkom van sewentig, het ek net een ambisie: om meer te leer en meer te spreek slegs die dinge wat die Vader vir my gee. Niks wat ek uit myself sien of doen is enigiets werd nie. Ek wil in staat wees om te kan sê, “Ek weet my Vader is met my, omdat ek slegs sy wil doen.”

Baie Christene lewe in voortdurende ontevredenheid. Hulle is nooit tevrede met wat hulle het nie. Hulle kyk voortdurend na die toekoms en dink, “As ek net dit kan doen, of dat kan hê, sal ek gelukkig wees.” Maar hulle vergenoegdheid kom nooit nie.

Vergenoegdheid was ‘n groot toets in Paulus se lewe. God het immers gesê dat Hy hom magtiglik sou gebruik: “Hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en kinders van Israel” (Handelinge 9:15). Toe Paulus die eerste keer hierdie aanstelling gekry het, “En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is” (Handelinge 9:20). Die apostel het moediger geword met elke preek: “Maar Saulus het al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is” (Handelinge 9:22).

Wat het volgende gebeur? “En ná ‘n geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom om te bring” (Handelinge 9:23). Soveel so vir Paulus se roeping om te preek vir die kinders van Israel. Hulle het nie net sy boodskap verwerp nie, maar ook sy dood beplan. Wat ‘n rampspoedige begin vir ‘n bediening waarvan God gesê het dit sou magtig wees.

Paulus het toe besluit om na Jerusalem te gaan om Jesus se oorblywende dissipels te ontmoet. “Maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy ‘n dissipel was nie” (Handelinge 9:26). Paulus het nou ‘n selfs erger verwerping beleef. Sy eie broers in Christus het hom weggewys.

Uiteindelik het Paulus geredeneer, “Ten minste kan ek die Heidene bereik.” Toe ‘n prominente Heiden, Cornelius, ‘n prediker gesoek het om die evangelie met hom te deel, het hy nie vir Paulus gevra nie. In plaas daarvan, het hom na Petrus gewend. Paulus het sonder twyfel die heerlike berigte wat van Cornelius se huis gekom het, gehoor: “Die Heilige Gees het op die Heidene neergedaal. Die Here het Christus aan hulle openbaar!”

Daarna moes Paulus by die Jerusalem konferensie hoor toe Petrus verklaar het, “Broeders, julle weet dat lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word” (Handelinge 15:7). God het skynbaar besluit dat die herlewing onder die heidene deur iemand anders sou kom. So ver as wat Paulus geweet het, sou hy op die kantlyn sit en kyk hoe alles gebeur.

Wat dink jy het deur Paulus se gedagtes gegaan toe hy hierdie dinge beleef het? In der waarheid, deur dit alles heen – die teleurstelling, die pyn, die dreigemente teen sy lewe – het God sy dienskneg iets deurslaggewends geleer: Paulus het geleer om vergenoegd te wees, stappie vir stappie.

Later, toe Paulus in Antiochië gepreek het, was sy boodskap betwis deur die Joodse leiers. Daarom het Paulus verklaar, “Kyk, ons wend ons tot die heidene” (Handelinge 13:46). Paulus het daar vir die nie-Jode gepreek en groot getalle het tot bekering gekom; “En die woord van God is deur die hele land verbrei” (Handelinge 13:48-49). Nog voor Paulus egter die oorwinning kon geniet, het “die Jode...die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas ‘n vervolging in die lewe geroep en hulle buite die gebied verdryf” (Handelinge 13:50).

Volgende het Paulus sy vooruitsigte op Ikónium ingestel. Toe hy daar gepreek het, het daar weereens “’n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword” (Handelinge 14:1). Herlewing het in die stad uitgebreek. Weereens egter het, “daar onder die hiediene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, ‘n beweging ontstaan...om hulle te mishandel en te stenig” (Handelinge 14:5).

Kan jy jouself indink in Paulus se verwarring en ontmoediging? Om elke hoek en draai, het dit gelyk of sy roeping in die wiele gery word. God het hom ‘n vrugbare bediening van evangelisasie beloof. Maar elke keer wat hy gepreek het, was hy gevloek, verwerp, aangerand en gestenig. Hoe het hy daarop gereageer? “Ek het geleer om om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is” (Filippense 4:11).

Paulus het nie vrae gevra of gekla nie. Hy het nie geëis om te weet wanneer hy voor konings en heersers sou preek nie. Hy het in wese gesê, “Ek mag dalk nie nou sien wat die Here my belowe het nie. Maar ek beweeg voor in geloof, omdat ek tevrede is om Jesus te hê. Weens Hom kan ek elke dag ten volle leef.”

Paulus was nie haastig om alles in sy lewe vervul te sien nie. Hy het geweet dat hy ‘n waterdigte belofte van God gehad het en hy het stewig daaraan vasgehou. Vir die huidige oomblik, was hy tevrede om te bedien waar hy ook al was: getuig aan ‘n tronkbewaarder, aan ‘n matroos, aan ‘n paar vroue op die rivieroewer. Hierdie man het ‘n wêreldwye sending gehad, maar tog was hy getrou om een-tot-een te getuig.

Paulus was ook nie jaloers op die jonger manne wat gelyk het of hulle hom vooruitgaan het nie. Terwyl hulle die wêreld deur gereis het en Jode en heidene vir Christus gewen het, het Paulus in die tronk gesit. Hy moes luister na berigte van groot skares wat tot bekering gekom het deur manne met wie hy oor die evangelie van genade gestry het. Paulus het egter nie daardie manne beny nie. Hy het geweet dat ‘n Christus-oorgegewe man geweet het hoe om gebrek te ly en verneder te word, sowel as om oorvloed te hê: “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is groot wins...Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees” (1 Timótheüs 6:6,8).

Die wêreld van vandag mag vir Paulus sê, “Jy is nou aan die einde van jou lewe. Jy het egter geen spaargeld of beleggings nie. Al wat jy het is ‘n ekstra stel klere.” Ek weet wat Paulus se antwoord sou wees: “O, maar ek het Christus as wins. Ek het inderdaad ware lewe.”

“Maar die duiwel teister jou altyd, Paulus. Jy leef in voordurende pyn. In werklikheid ly jy soos niemand anders wat ek ken nie. Hoe kan dit wees?”

“Ek roem in my verdrukkinge. Wanneer ek swak is, is dit eintlik wanneer ek die sterkste is. Ek meet nie my krag aan die wêreld se standaarde nie, maar aan die Here s’n.”

“Wat van jou mededinger Apollos? Hy het die aandag van die skares. Jy bedien egter slegs klein groepies of net een persoon. Apollos is ’n welsprekende spreker, maar jou spraak is veragtelik, Paulus.”

“Niks daarvan pla my nie. Ek soek nie eer in hierdie lewe nie. Ek het ‘n openbaring van die heerlikheid wat op my wag.”

“Maar wat van God se belofte aan jou? Hy het gesê jy sou voor konings getuig. Die enigste keer wat jy dit gedoen het, was jy in boeie. Jy moes preek toe jy ‘n gevangene was. Waar is die vervulling van God se belofte in jou lewe?”

“My Here het sy woord aan my gestand gedoen. Dit was nie op die manier wat ek verwag het nie, maar op sy manier. Ongeag my boeie, het ek Christus in volheid verkondig. En daardie heersers het onder oortuiging van sonde gekom. Toe ek klaar gepreek het, het hulle gebewe. Die Here het my op sy manier guns gegee.”

“Paulus, jy was op die ou einde ‘n dwaas. Almal in Asië het teen jou gedraai. Hoe meer jy ander liefgehad het, hoe minder het hulle jou liefgehad. Jy het al hierdie tyd gearbei om God se kerk op te bou en het selfs geringe takies verrig. Maar niemand waardeer dit nie. Selfs die pastore wie jy gementor het, spot nou met jou. Sommige het jou selfs van hulle preekstoele verban. Waarom hou jy aan met hierdie bediening? Jy was geensins ‘n sukses op enige manier nie.”

“Ek het reeds hierdie wêreld met al sy ambisies en vleiery prysgegee. Ek het nie die lofsange van mense nodig nie. Jy sien, ek was opgeneem na die paradys. Ek het onuitspreekbare woorde gehoor, woorde nie toelaatbaar vir mens om te uiter nie. So, julle kan al die kompetisie van hierdie wêreld kry, met al sy strewes. Ek het besluite om niks onder julle te weet behalwe Christus nie, en hom as gekruisigde.

“Ek sê vir jou, ek is die wenner. Ek het die pêrel van onskatbare waarde gekry. Jesus het my die krag gegee om alles neer te lê en dit weer self op te neem. Wel, ek het dit alles neergelê en nou wag daar ‘n kroon op my. Ek het een doel in hierdie lewe: om my Jesus van aangesig tot aangesig te sien. Al die lyding van hierdie huidige lewe kan nie vergelyk met die blydskap wat op my wag nie.”

Mag ons harte soos Paulus s’n wees terwyl ons die oorgegewe lewe soek.