Die Oorwinning van die Kruis van Christus

Die Reinigende, Genesende Krag van Sy Bloed
David Wilkerson

Dit was die nag voor die kruisiging van Christus. Jesus het sy dissipels in die bovertrek byeengeroep om hulle voor te berei op sy uitgang van hierdie aarde. Nadat hulle saam nagmaal geniet het, het die Here ‘n handdoek geneem en begin om die mans se voete te was.

Daardie aand, het Jesus aan sy toegewyde volgelinge vertel dat Hy “verhoog” (menende gekruisig) sou word deur die hande van goddelose mense. Toe Hy dit aan hulle vertel het, het Hy hulle vooruit gewaarsku oor wat aan die kom was.

Jesus het sy boodskap afgesluit deur te sê, “Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader” (Johannes 16:28).

Die dissipels het hierop gereageer met, “Kyk, nou spreek U ronduit en gebruik geen gelykenis nie. Nou weet ons dat U alles weet...Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het” (Johannes 16:29–30).

Die dissipels het Jesus daardeur laat weet, dat hulle duidelik verstaan het wat Hy aan hulle vertel het. Belangriker egter, let op hulle woorde in die laaste vers: “Nou weet ons...daarom glo ons...”

Dit lyk asof ‘n groot geloof hulle siele aangegryp het. Hierdie mans het aan Jesus verklaar, “Nou verstaan ons, Jesus. Nou weet ons. Nou glo ons!”

Dit alles blyk voor te stel dat die dissipels voorbereid was vir die aaklike, bloedige dae wat voorgelê het.

Jesus het sy dissipels met ‘n vraag geantwoord: “Glo julle nou?” (Johannes 16:31).

Toe Christus hierdie vraag gevra het, het hy die dissipels met ander woorde gevra:

“Verstaan julle nou wat voorlê? Is julle in staat om van dieselfde beker te drink waarvan Ek gaan drink? Is julle gereed om te glo wanneer julle My môre skynbaar hulpeloos aan die kruis sal sien hang?

“Sal julle steeds glo wanneer dit lyk of Ek geen mag oor mense of duiwels het nie? Sal julle die geloof behou wanneer julle sien dat my Vader My in die hande van die vyand oorgegee het vir ‘n tyd? Sal julle geloof steeds onwrikbaar bly?

“Sal julle geloof standvastig bly wanneer julle sien dat my voorkoms onherkenbaar geskend is? Wat sal met julle geloof gebeur in daardie uur wanneer julle Verlosser lyk of Hy geen mag het om selfs Homself te red nie?

“Vertel vir my, glo julle nou? Glo julle werklik?”

“Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat” (Johannes 16:32).

Die uur van beproewing het aangebreek.

Hierdie uur van beproewing het aangebreek onmiddellik na daardie wonderlike ure van liefdevolle gemeenskap. Dink daaraan: Net ure tevore, het Jesus die dissipels se voete liefdevol gewas. Dit was net ‘n paar uur vroeër wat Hy hulle gewaarsku het oor die pyn en lyding wat voorgelê het by sy kruisiging.

Tog, gedurende die uur van beproewing, het dit gou duidelik geword dat die dissipels nie alles verstaan het wat Jesus hulle geleer het nie. Watter vreugde moes daar nie in die hel gewees het toe daardie uur verby gegaan het nie. In so ‘n kort tydjie, het Petrus gegaan van grootpraat oor sy geloof tot verloëning van Christus en vloekery. Al die dissipels het Jesus verlaat, net soos Hy voorspel het, “elkeen na sy eie toe” (Johannes 16:32), op vlug na skuiling.

Voor ons egter hierdie mans veroordeel, laat ons ons verbeel dat ons ook daardie dag naby die kruis was. Wat as jy Jesus gehoor roep het, “Vader, waarom het U My verlaat?” Watter gedagtes sou deur jou kop gegaan het? Ek neem aan dat jy dieselfde gedagtes sou gehad het as die dissipels. Net soos hulle, sou jy gewonder het:

“Waar is God se hand in al hierdie pyn en lyding? Waar is die Vader op hierdie oomblik? Waarom sou Hy toelaat dat so ‘n aaklige ding gebeur na alles wat Jesus oor sy koninkryk belowe het?”

Dit was hierdie soort gedagtes wat die dissipels dadelik in die put van wanhoop gegooi het. Hulle moes gebewe het terwyl hulle gedink het, “Ons het gedink Hy was ons hoop.” Nou het hulle hul hoop in skerwe voor hulle gesien lê.

Dit is in hierdie uur van oënskynlike verlies van hoop waarin ons ‘n kykie kry van die oorwinning van die kruis.

In daardie uur het Satan waarskynlik gespog. Hy mag gedink het dat hy ‘n patroon onder God se mense gesien het, een wat tot sy voordeel gestrek het. Ek verbeel my dat hy gedink het, “Dit is ‘n toonbeeld van wat aan die kom is. Christus se volgelinge gaan ingee as hulle pyn en lyding verduur. Hulle sal wegval sodra moeilikheid kom. Wanneer hulle hul eie kruise moet opneem, sal hulle hul geloof verloor.”

Inderdaad, die toneel by Golgota het nie na ‘n oorwinning gelyk nie. Maar op daardie dag, was daar iets aan die werk waarvan Satan nie geweet het nie. Dit was iets wat die duiwel nooit oor ons geseënde Verlosser sal verstaan nie. Ek praat van die onmeetbare genade van God in Christus!

Iets ongeloofliks gebeur wanneer ‘n persoon Jesus as Here ontvang. Wanneer hulle die wêreld versaak en Hom volg, is hulle vir altyd aan die Here gebind met ‘n onbreekbare koord van liefde. Dink aan Paulus se beskrywing van hierdie onmeetbare genade:

“Wie sal ons skei van die liefde van Christus?...Geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Romeine 8:35, 38–39).

Ten spyte van die dissipels se skandalige mislukking, was God se genade ten volle aan die werk in hulle deur die Heilige Gees. En daardie genade het die oorwinning na die donker dag van die kruis bepaal. ‘n Saad van geloof is in Jesus se volgelinge ingeplant en hulle huise was op die rots gebou. Hulle huise was natuurlik geskud soos sataniese storms teen die mure gewoed het en kragtige golwe teen die fondamente geslaan het. Maar toe die storm verbygegaan het, het daardie huise steeds gestaan.

Die saad van geloof was nie dood nie. Dit was springlewendig! Die gebede van Jesus het geseëvier. Die geloof van sy volgelinge het nie opgehou nie.

Ek wil fokus op die vele oorwinnings van die kruis.

Niemand kan al Christus se liefdevolle genade en die menigvuldige seëninge van sy bloed opnoem nie. Maar Ek wil my in besonder verlustig in een spesifieke oorwinning: die vergifnis van alle vorige sondes.

“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde...As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:7, 9).

Dit is lewensnoodsaaklik dat elke volgeling van Jesus hierdie heerlike waarheid in besit neem. Toeëiening daarvan sal bepaal of ons ‘n oorwinnende geloof sal handhaaf te midde van ernstige verdrukkinge. Inderdaad, in dae van onsekerheid is hierdie saak van rus in Christus se vergifnis deurslaggewend.

Baie van ons, wat Jesus getrou deur die jare gedien het, het vol vertroue geword dat ons geloof enige vurige oond sal kan deurstaan. Net soos die dissipels, getuig ons, “Nou sien ek, Here. Nou glo ek.” Ons dank God dat Christus ons oë oopgemaak het vir sy ewige doelwitte.

Dan moet ons skielik ‘n oorweldigende, enorme krisis trotseer. Ons besef dat die  oond, wat ons betree het, sewe keer warmer is as wat ons ooit te vore mee te doen gehad het. Ons kry te doen met ‘n stryd so pynlik en dreinerend, dat ons huis begin skud. En gou word dit oorlaai met laste en vrese.

Beskou die getuienis van ‘n goddelike Puriteinse prediker uit die geskiedenis.

Hierdie prediker het self groot lyding in sy lewe beleef. Hy het namens talle Christene gepraat toe hy geskryf het, “Die eerste ding wat baie mense vra is, ‘Wat het ek gedoen? God, het ek U gefaal?”

Dit word geïllustreer in ‘n brief wat ek van ‘n geliefde suster in Christus ontvang het. Sy het die volgende oor haar groot lyding geskryf:

“Dit lyk of die beproewing nie wil ophou nie, nie eers vir ‘n ruskans nie. Ek weet nie of dit die tugtiging van die Here is nie.

“Ek wonder of my familie se moeilikheid die gevolg is van my lewe voor ek gered was. Ek wonder dit heeltyd. Ek het die Vader oor en oor gevra of dit die geval was, want ek weet nie.

“Soms voel ek dat indien dit wel so is, dan is my straf soms meer as wat ek kan verdra. Ek sou eerder die straf self dra as wat my familie vir my vorige sondes moet ly.

“Ek het die Here lief en om van Hom af weg te gaan, is nie vir my ‘n opsie nie. Hy is my lewe. Maar onlangs het ek gevoel dat dit beter sou gewees het as ek nooit gebore was nie. Dan sou my kinders nie hier wees om te ly nie.

“Ek het ook al soms gevoel dat ek net wil huistoe gaan en by Jesus wees. Maar dit is selfsugtig, omdat my kinders my nodig het.

“Asseblief, as jy enige kommentaar hieroor kan lewer en my kan gerusstel, sal ek dit so waardeer.”

Ek sê vir jou dieselfde ding wat ek vir hierdie vrou sou sê: Hoor die woorde van die apostel Paulus. Hy skryf: “En hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sonde ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid [geduld] van God” (Romeine 3:24–25, kursief myne).

Deur geloof in Christus se bloed, is alle vorige sondes bedek.

In God se oë is ons vrygespreek deur sy onverdiende genade. Alle skuld, vrees en oordeel word opgehef. Alle vorige beskuldigings word uitgevee!

Kortliks, God hou nie langer daardie vorige sondes teen jou nie. Hy het jou met Homself versoen met geen vervreemding van sy kant af nie. Die Here het wonderbaarlik voorsiening gemaak vir hierdie versoening toe jy steeds in sonde was. Ek vra jou, hoeveel meer moet hierdie versoening van toepassing wees noudat jy op die oorwinning aan die kruis vertrou?

Volgens Paulus, “Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is” (Romeine 5:8–10).

Ten slotte, vertel Paulus vir ons, “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Romeine 8:1). Sonde het al sy mag om te veroordeel verloor. En dit het by die kruis van Christus gebeur.

Die feit bly staan, daar is gevolge van sonde.

Sommige gevolge van sonde kan deur vorige gewoontes veroorsaak word. Net so, gaan tugtigings van die Here altyd saam met sonde. Tog, as ‘n kind van God moet jy een ding eens en vir altyd vir jouself duidelik maak: God tugtig nooit sy kinders in woede nie.

“Want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?” (Hebreërs 12:6,7).

Jy is nooit meer geliefd as wanneer jy getugtig of tereggewys word deur die Here nie. In werklikheid, die hele proses van tugtiging het alles te doen met God se begeerte na jou. Dit is alles bedoel om jou dieper te neem in die kennis en heerlikheid van Homself.

Moet egter nie ‘n fout maak nie: Die Bybel noem dit tye van droefheid. Dit is geensins vreugdevol nie. “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid” (Hebreërs 12:11). Nietemin, ons word vertel, “Later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (dieselfde vers).

Oor die jare, het ek nodig gehad om baie van Satan se pyle en leuens te blus. Vandag verkondig ek met sekerheid, “God is nie vir my kwaad nie. En liewe volgeling van Jesus, Hy is ook nie vir jou kwaad nie. Daarom, doof alles uit wat die duiwel andersins sê!”

Dit is die oorwinning van die kruis: vrede met God en vrede van God.

By die kruis het genade en vrede ‘n gestalte aangeneem. Dit was die gestalte van ‘n mens — Jesus Christus. Deur die geskiedenis heen, wanneer ‘n kind van God ten volle in die reinigende, genesende krag van Jesus se bloed vertrou het, is vrede belowe. Dit was Christus se eie vrede, die vrede wat in die paradys heers.

Paulus se woorde oor hierdie onderwerp is bedoel vir elke gelowige om dit in sy eie wandel toe te pas.

En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kolossense 3:15, kursief myne).

Liewe heilige, dit is ons hoop in elke stryd: Laat die vrede in jou hart heers deur op die beloftes van God te vertrou. “En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse” (2 Thessalonicense 3:16).

Mag die volgende gebed van Paulus ook ons s’n word in hierdie dae van onsekerheid:

“En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” (Romeine 15:13).

Dank God vir sy blydskap en vrede! Amen.