DIE ROEPING OM TE GEE
In drie jaar van bediening, het Jesus die siekes gesond gemaak; die sig van blindes herstel; die dooies opgewek; groot menigtes wonderbaarlik gevoed; die goeie nuus aan die armes verkondig; en die massas die waarheid oor hulle hemelse Vader geleer. Hierdie verstommende lys van prestasies het voortgespruit uit die Seun se gehoorsaamheid aan die Vader se wil.
Die nag van die Laaste Avondmaal, het Jesus sy laaste gesprek met sy dissipels begin afsluit, en sy woorde het sy wete weerspieël dat Hy hulle binnekort sou verlaat. In Johannes 17, lees ons waar Hy die samekoms afgesluit het met ‘n bemoedigende gebed oor dinge wat sou kom: ‘n triomfantlike, seëvierende Kerk; ‘n volk wie se liefde vir mekaar ‘n getuienis vir die wêreld sou wees; goddelike krag en gesag wat deur sy volgelinge sou stroom; en die heerlikheid van die Vader wat op sy mense sou rus. Die woord gee kom meer voor as enige ander woord in die teksgedeelte: “Vader, U het My gegee . . . U het hulle gegee . . . Ek het hulle gegee.”
Ons merk op in hierdie wonderlike gebed, dat dit in die natuur van die Vader is om goeie gawes aan sy kinders te gee. En toe Hy sy Seun gestuur het, het hy alles gelys wat Hy vir Hom sou gee: “Ek sal Jou die krag en gesag in my Naam gee; die volke van die aarde gee; woorde om te spreek gee en die werke om te doen. En Ek sal vir Jou my heerlikheid gee.”
Op sy beurt, sien ons dat Jesus dieselfde natuur as sy Vader het. Trouens, sy gebed herhaal al die dinge wat Christus reeds aan sy dissipels gegee het – en die dinge wat Hy sou aanhou gee!
In ‘n sekere sin, het Jesus daardie aand vir die dissipels sy laaste wil en testament gegee. Hy het in wese gesê. “Ek het my koninkryk gevestig deur te gee en dit is hoe Ek my koninkryk deur julle wil laat voortbestaan.”
Die laaste dinge wat Jesus vir sy volgelinge gegee het voor Hy hulle verlaat het, was ‘n spesifieke roeping – die roeping om te gee. En hierdie roeping bestaan voort in ons.