DIE SMEEKGEBED
In Jesaja 37 lees ons die storie van ‘n koning genaamd Hiskia.
Hiskia was ‘n goeie koning. Hy het die weë van die Here gevolg, sê die Bybel, en God het hom geëer en geseën. Maar hy het homself in ‘n moeilike situasie laat beland. Hy het homself in ‘n netelige posisie bevind met die Koning van Assirië, wat Jerusalem omsingel het, sodat geen voedsel kon binnekom nie.
Te midde daarvan, het die Koning van Assirië in Jesaja 37:10 in ‘n brief aan Hiskia gesê:
“Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.”
Dit is presies die soort ding wat die duiwel, die aanklaer van gelowiges, keer op keer op keer vir ons sê.
En toe het Hiskia hierdie brief geneem en laag voor die Here gebuig. Hy het die beskuldigingsbrief op die grond uitgesprei en gesê, “Asseblief, Here, hoor U die beskuldigings teen U volk? Hoor U hoe hy te kere gaan teen U, ‘n heilige God?”
Hiskia het verder voortgegaan om uit te roep, “God, sal U asseblief kom? Sal U asseblief weer U Naam verheerlik? Sal U ‘n deurbraak veroorsaak teen die magte van die vyand wat te sterk is vir ons?”
Dit is ‘n smeekgebed wat ons elkeen van ons in ons lewe moet hê. Ons elkeen moet uitroep, “O, God, sal U my liggaam genees? O, God, sal U my familie verlos van hierdie gewoonteverslawings? Sal u my gedagtes bevry van vrees en twyfel en ongeloof?”
Wanneer ons só bid, smeek ons die Here. “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Die Here het die smekende hart van sy kinders lief!