Die Sonde Wat God Verbyster

David Wilkerson

Niks slaan my meer dronk as Christene wat onbestendig bly, selfs al sit hulle onder ‘n sterk, duidelike evangelie boodskap! Ek kan nie verstaan waarom sommige van God se kinders so toegewyd aan Hom kan wees die een oomblik, en dan omdraai en so koud word die volgende oomblik nie.

Hierdie sonde verbyster God werklik! Dit verbyster en frustreer Hom! In Sy Woord, maak God dit duidelik wat Hy dink van ‘n volk wat ‘n baie duidelike oproep tot bekering ontvang het. Die Here het die profeet Hoséa na Israel gestuur met hierdie boodskap:

“Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind...En laat ons ken – laat ons dit najaag om die HERE te ken...Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde bespoel” (Hoséa 6:1-3).

God se boodskap was duidelik, maar die volk was onbestendig in hulle reaksie! Hulle het geweifel in hulle harte: wispelturig, verandelik en het vinnig van warm na koud beweeg! God het uitgeroep oor hulle, “Wat sal Ek met jou doen?” (Hoséa 6:4).

Dit is asof die Here in wese gesê het, “Niks werk nie! Sê vir My, engele, gérubs, ouderlinge, martelare – Sê vir My, herders en pastore – Sê vir My aarde, maan en sterre: Wat moet Ek doen met hierdie wispelturige kinders?”

“Wat sal Ek met jou doen, O Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? Aangsien julle liefde is soos ‘n môrewolk en soos ‘n dou wat vroeg weer verdwyn” (Hoséa 6:4).

Ek het al baie keer vir God dieselfde vraag: “Here, wat gaan dit verg om sommige van U dierbare kinders, wat draadsitters is, daar af te kry? Wat meer kan ons doen om ontslae te raak van hulle weifeling? Ons weet nooit waar hulle geestelik staan nie. Hulle is so veranderlik!

“Here, ons waarsku hulle ernstig, ons profeteer vir hulle. En net wanneer dit lyk of hulle deur die Gees aangegryp is, hardloop hulle terug na hulle afgode!”

Hierdie onbestendigheid verstom die hemel. God sien dit en blyk te sê, “Ek is in ‘n verleentheid oor wat om te doen met hierdie volk! Wat meer kan Ek doen in My wingerd, wat Ek nog nie gedoen het nie? Ek het dit omgespit, dit bemes, dit besproei, dit gesnoei en ‘n muur rondom gebou – hierdie takke bly egter bederf!”

Geliefde, God kan nie hardnekkigheid verdra nie. Dit is wat Hy met Israel beleef het! Hulle het belowe om Hom te gehoorsaam, om volgens al Sy gebooie te lewe. Maar in plaas daarvan, was hulle ongehoorsaam en het hulle hul harte verhard. En God het gesê, “Want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer word” (Exodus 33:3).

Toe die volk daardie onheilspellende woorde gehoor het, “het hulle getreur; en niemand het sy versiersels aangesit nie” (Exodus 33:4). Dit het God in ‘n verknorsing geplaas! Die volk was so veranderlik! Een oomblik was hulle verhard teenoor Sy stem, en die volgende oomblik het Sy woorde hulle harte laat smelt! Maar God het geweet dat hulle bekering nie diep was nie. Hy het Moses beveel, “Sê aan die kinders van Israel: Julle is ‘n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig. Maar haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met jou moet doen” (Exodus 33:5).

God het oënskynlik vir hulle gesê, “Moenie roer nie! Ek weet nog nie wat ek met julle moet doen nie – julle is so ‘n onbestendige volk!”

Jy mag moontlik sê, “Hoe kan God in ‘n verknorsing wees, verbysterd wees deur ‘n volk? Hy weet alles. Hy weet wat in die hart is!”

Jesus het egter dieselfde dilemma beleef met die Jode. Hy het gesê, “Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk” (Matthéüs 11:16). Met ander woorde, “Wat kan Ek tog doen met ‘n geslag soos hierdie? Johannes die Doper het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle het gesê hy het ‘n duiwel! Nou kom die Seun van die Mens en eet en drink, en hulle noem Hom ‘n vraat. Hierdie mense dans nie saam met die musiek nie, en treur nie saam met die roubeklaers nie! Niemand weet waar hulle staan nie! Hulle is verdeeld, nie toegewyd nie. Hulle weet nie wat hulle wil hê nie. Wat kan jy met sulke mense doen?” (Sien Matthéüs 11:16-19).

Toe die Here deur Hoséa gespreek het, het Hy geklink asof Hy die hartseerste was oor Juda se onbestendigheid: “O Juda, wat sal Ek met jou doen?” Dit was erg genoeg dat Efraim nie toegewyd was nie, maar Juda was ‘n volk naby aan God se hart!

God het ‘n liefdevolle verhouding met Juda gehad. Hierdie mense het naby die Here gelewe, Sy verordeninge onderhou en het eens al Sy gebooie gehoorsaam. Hulle het so ‘n heerlike gemeenskap met die Here geniet.

Nou het Juda onbestendig geraak en het verander! Soos die Skrif sê, goedheid was “soos ‘n môrewolk en soos ‘n dou wat vroeg weer verdwyn” (Hoséa 6:4).

Ek is seker dat in die afgelope jare tydens my wandel met die Here, moes God moontlik gesê het, “David, wat gaan Ek met jou doen? Ek is nie seker van jou nie! Ek het alles moontlik gedoen om jou te bewaar, jou te waarsku, en jou te vestig. Maar soms is jy onbestendig teenoor My. Jy neem sonde so ligtelik op – jy is koud teenoor My!”

Dank God ek is nie meer so nie! Nou kan ek werklik sê dat God weet waar ek staan. My hart is nie verdeeld nie! Ek het my liefde op Hom ingestel en Hy is in geen verknorsing oor my liefde of wandel met Hom nie!

Ek wil vir jou die kenmerke wys wat ‘n onbestendige Christen aandui. Min sulke Christene sou glo dat hulle onbestendig is; hulle eerste reaksie is in der waarheid dikwels, “Nie ek nie!” Maar jy sien as jy pas by hierdie beskrywing van ‘n veranderlike, verdeelde, onbestendige gelowige!

‘n Onbestendige Christen bekeer hom dikwels – maar nie diep nie.

Hy word maklik bearbei, maar dit hou nie lank nie! Hy reageer vinnig op die stem van God – maar deins net so vinnig weg!

Saul dien as voorbeeld van die onbestendige kind van God. Hy was nederig en vol van God se Gees: “God (het) sy hart verander...en die Gees van God het oor hom vaardig geword, sodat hy onder hulle geprofeteer het” (1 Samuel 10:9-10).

Saul het homself met mans omring “wie se hart God geroer het” (1 Samuel 10:26). Toe hy Israel opgeroep het vir die oorlog, “val die skrik van die HERE op die volk” (1 Samuel 11:7). Maat net twee jaar later, het Saul in die vlees opgetree – met geen vertroue in God en geen hart vir Hom nie!

By Gilgal, voor die stryd, het Saul geweier om te wag vir die profeet Samuel om op te daag om die offer te bring. In plaas daarvan, het Saul self as priester opgetree en in ongehoorsaamheid self die offer gebring.

Op ‘n ander geleentheid, was Saul so vurig vir God se heiligheid dat hy reg was om sy eie seun Jónatan dood te maak oor ‘n daad van ongehoorsaamheid! Die koning het ‘n altaar gebou vir die Here. Amper onmiddellik daarna, het hy God se bevel veronagsaam om Agag en almal wat aan die Amalekiete behoort, dood te maak!

Saul het altyd geweifel! Een oomblik het hy gekniel in God se teenwoordigheid by die altaar wat hy opgerig het, en die volgende dag het hy ‘n kompromie gemaak en sy eie ding gedoen. Hoe vinnig het Saul gereageer op geestelike dinge; hoe maklik was sy hart aangeroer – en tog was hy steeds vol wederstrewigheid!

Wanneer ‘n bose gees oor Saul gekom het, het hy vir Dawid geroep om die harp te bespeel. Terwyl Dawid gespeel en gesing het, was Saul verkwik en het die bose gees gewyk. Later, in ‘n woedebui, het Saul boodskappers in die middel van die nag gestuur en gesê, “Bring hom met bed en al na my toe, dat ek hom kan ombring” (1 Samuel 19:15).

So lank as wat Saul in ‘n diep geestelike oomblik was, sou hy op God reageer en van God praat. Maar die volgende dag sou hy ‘n ander mens wees!

Dawid het gevlug na Samuel in Rama. Terwyl Saul Rama genader het, het Dawid, Samuel en al die profete God aanbid en Hom geprys. Die koning, steeds ‘n afstand weg, kon die gesange en lofprysing hoor – en sy gees was aangeroer!

Saul het sy hart oopgemaak, “En die Gees van God het ook oor hom gekom, sodat hy aldeur geloop en profeteer het todat hy in Najot by Rama aangekom het. Hy het ook self sy klere uitgetrek en ook voor Samuel geprofeteer en ontbloot neergeval daardie hele dag en die hele nag” (1 Samuel 19:23-24).

Wat ‘n oop, teer hart! Saul het al sy koninklike mantel uitgetrek en die hele nag lank aanbid, tot God uitgeroep en vermurwe in Sy teenwoordigheid!

Dawid was sekerlik nóú veilig. Die duiwel moes sekerlik gevlug het. En Saul was sekerlik nie meer onbestendig nie! Hoe kon daar so ‘n kragtige werking van die Gees op ‘n mens wees en dit hom nie verander nie?

Maar ‘n paar dae later, was Saul woedend vir Jónatan: “Stuur dan nou en bring hom na my, want hy moet sterwe” (1 Samuel 20:31). Twee keer het Dawid op Saul afgekom tydens ‘n jaagtog, en twee keer het Saul bely – net om reguit terug te gaan na sy haatlike maniere! Dawid het hom uiteindelik gehoor bely, “Ek het gesondig; kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou geen kwaad meer doen nie...kyk, ek het dwaas gehandel en my grootliks misgaan” (1 Samuel 26:21).

Maar dit was te laat! Saul se woord was nutteloos – sy hart was te verdeeld! Hy was so ‘n onbestendige man dat niemand om hom van dag tot dag geweet het waar hy staan nie. Daarom het Dawid gevlug na die land van die Filistyne.

Hoe dikwels sien ek hierdie “Saulsindroom” in gelowiges! Hulle word so maklik aangeroer en so dikwels bely, ween en belowe hulle – maar met geen diepte nie!

‘n Onbestendige man maak vurige beloftes en breek dit dan!

Hy begin met groot ywer en belofte – maar voer dit selde deur!

Jehu, koning van Israel, was gekenmerk deur hierdie eienskap. Die Bybel sê hy het gery soos ‘n kranksinnige! “Maar die drywe is soos die drywe van Jehu, die seun van Nimsi, want hy dryf soos ‘n kranksinnige” (2 Konings 9:20).

Watter ywer vir God het hierdie man gehad in die begin! Hoe magtig was hy om sonde uit te roei, hoe vinnig om God se heiligheid te wreek en te verdedig! Toe hy goddelose Isébel trots by haar venster sien uitkyk, het hy geskree, “Gooi haar af! En hulle het haar afgegooi...en hy het haar vertrap” (2 Konings 9:33).

Jehu het Jónadab aan boord van sy wa geneem en gesê, “Gaam saam met my en aanskou met welgevalle my ywer vir die HERE” (2 Konings 10:16). Maar Jehu was onbestendig! Hy het geen diepgesetelde liefde vir heiligheid gehad nie – hy het slegs ‘n oppervlakkige ywer gehad!

Die Skrif sê: “So het Jehu dan Baäl uit Israel uit verdelg...daar het Jehu nie van afgewyk nie, van die goue kalwers wat in Bet-el en in Dan was...Maar Jehu het nie sorgvuldig in die wet van die HERE, die God van Israel, met sy hele hart gewandel nie; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam wat Israel laat sondig het nie” (2 Konings 10:28-31).

In Jehu se laaste dae, kon sy wa in Bet-el gevind word, buite die afgodiese tempel geparkeer wat Jeróbeam opgerig het! In die laaste paar maande van sy lewe, het Jehu deurgebring deur biddend voor ‘n goue kalf te kniel! Stel jou voor hierdie koning steek sy arms uit na ‘n stom afgod en smeek vir ‘n bietjie hoop en omhels ‘n afgod terwyl hy die dood in die oë kyk!

Jy sê, “Hoe kan dit wees? Hy was so ‘n magtige man van God! Hy was meedoënloos teenoor afgodery. Hy het al die valse priesters en aanbidders van Baäl versamel en hulle almal doodgemaak. Hy het al hulle afgode afgebreek en hulle tot stof gekap!”

Maar Jehu het nooit die afgodery van Jeróbeam laat staan nie. Hy het ‘n onbestendige hart gehad! Die man wat eens vurig was vir God se heiligheid, het gesterf by die voete van gruwelike goue kalf!

In drie kort jare waarin Times Square bestaan, het ek met afgryse gekyk hoe sommige Christene – eens “aan die brand” en opgewek oor wat God besig was om te doen, toegewyd aan die boodskap van heiligheid – wegdryf slegs maande later! Vandag is hulle ander mense!

Die kerk is nie meer die middelpunt van hulle lewe nie. Die gemeenskap van die heiliges is nie meer vir hulle kosbaar nie. Ek sien hulle op die strate en hulle is verleë. Hulle kom slegs een keer per week, of hulle dwaal net rond.

Hulle vuur is weg! Hulle is moeg om van bekering te hoor en nou het hulle nuutgevonde vriende in die wêreld. Talle van hulle sal op die ou end dood wees – kruiperig in een of ander leë ritueel wanneer die oordeelsdag aanbreek!

‘n Onbestendige Christen omhels met blydskap herders en profete, maar raak op die ou end geïrriteerd en kwaad vir hulle!

Koning Amásia van Juda was so ‘n man. Hy het 100,000 helde gehuur uit die tien afvallige stamme van Israel. Maar vir die mense van Juda, was dit ‘n daad van ongeloof!

“Toe kom daar ‘n man van God na hom en sê: o Koning, laat die kommando van Israel nie saam met u gaan nie, want die HERE is nie met Israel...nie....Maar Amásia sê aan die man van God: En wat moet met die honderd talente gemaak word wat ek aan die troepe van Israel gegee het? En die man van God antwoord: Die HERE kan u baie meer gee as dit” (2 Kronieke 25:6-9).

Amásia was gewillig om ‘n groot verlies te ly, omdat hy ‘n mate van die vrees van God in hom gehad het. Hy het vir sy dienaars gesê, “Ons het van God gehoor! Die man van God het gespreek en dit is ‘n ernstige woord. Dit bewys dat ek verkeerd is – maar God het gespreek!”

Omdat Amásia gehoorsaam was, het hy ‘n groot oorwinning behaal. Sy vyande was verslaan en hy het “moed geskep en sy manskappe aangevoer” (2 Kronieke 25:11).

Maar Amásia het afvallig geword! ‘n Gees van afgodery het sy hart vasgegryp! Die Skrif sê van hom: “En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, maar nie met ‘n volkome hart nie” (2 Kronieke 25:2).

Hy het ‘n onbestendige hart gehad! Toe hy teruggekom het van die oorwinning oor die Edomiete af, “het hy die gode van die kinders van Seïr gebring en hulle vir hom as gode opgestel en hom voor hulle neergebuig en vir hulle offerrook laat opgaan” (2 Kronieke 25:14). Hoe ongelooflik dat hierdie gode nie Edom teen Amásia se leërs kon beskerm nie – en tog het hy hulle opgerig as sy eie gode!

“Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Amásia, en Hy stuur ‘n profeet na hom” (2 Kronieke 25:15). Hierdie profeet het uitgeroep, “Hierdie gode kon nie eens hulle eie volk uit u hand gered het nie – so, waarom soek u hulle?”

In Times Square Kerk het ons jong Christene wat loopbane soek in die verhoogkuns. Hulle sien die verwoesting, die leegheid, die dwelmverslawing, en die selfmoord – maar hulle jaag na die lewenstyl van ryk en bekende mense. Hierdie mense is geskei, ellendig, leeg, oppervlakkig, soekend na verbygaande oomblikke van geluk. Christene het steeds nie geleer nie, en hulle gaan voort om dieselfde pad te loop!

Amásia het geïrriteerd geraak met die woord van hierdie profeet. Hy het teruggekap, “Het ons jou as raadgewer van die koning aangestel? Hou op, waarom sal hulle jou doodmaak?” (sien 2 Kronieke 25:16).

Wat ‘n koue ontvangs het die profeet ontvang! Dit was ‘n geniepsige bestraffing: “Profeet, moenie inmeng nie! Jy is nie aangestel om my koninkryk te beheer nie. Beteuel jouself! Ek weet wat ek doen!”

Dit is waar die onbestendige-hart Christene beland: Hulle bewe nie meer voor God se Woord nie. Hulle het nie meer ‘n diep respek vir mense van God nie. In plaas daarvan, het hulle ‘n gesindheid wat sê, “Ek hoor ook van God. Ek het nie ‘n profeet of herder nodig om by my lewe in te meng nie!”

Ek het al daardie koue Amásia afjak gekry, in hierdie kerk. Ek het eens gebewe in die Gees terwyl ek ‘n regstellende boodskap vir ‘n jongman gebring het, maar hy het dit nie aanvaar nie. Ek het vir hom gesê, “Ek het van God gehoor en wat ek vir jou profeteer, is die waarheid!” Hy het koud na my gekyk en gesê, “Ek hoor van dieselfde God!”

Toe die profeet teen Amásia bestraf was, het hy sy boodskap kortgeknip: “Toe hou die profeet op” (2 Kronieke 25:16) – wat beteken hy het geweet sy boodskap sou nie aanvaar word nie. Maar hy het een laaste waarskuwing gegee: “Ek merk dat God besluit het om u te vernietig, omdat u dit gedoen het en nie na my raad geluister het nie” (2 Kronieke 25:16).

As jy jou afwend van God se ware profetiese waarskuwings, plaas jy jouself op ‘n destruktiewe pad! Jy sal nie lank lewe nie, omdat jy jouself sal vernietig! “En van die tyd af dat Amásia van die HERE afvallig geword het, het hulle ‘n sameswering teen hom gesmee in Jerusalem, sodat hy na Lagis gevlug het; maar hulle het agter hom aangestuur na Lagis en hom daar gedood” (2 Kronieke 25:27).

Na die moord op Nabot, moes Koning Agab die profeet Elia in die oë kyk. Elia het gebulder, “Op die plek waar die honde die bloed van Nabot gelek het, sal die honde ook jou eie bloed lek” (1 Konings 21:19).

Agab het hieroor gebewe en homself bekeer! “En toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en ‘n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop. Toe kom die woord van die HERE tot Elia, dit Tisbiet, en sê: Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het?” (1 Konings 21:27-29).

Was hierdie bekering en nederigheid werklik? Het Agab regtig God se Woord eerbiedig? Het hy ‘n hoë agting gehad vir herders en profete wat die waarheid verkondig het? Nee! Hy het net daar omgedraai en in ongehoorsaamheid gaan oorlog voer teen Aram saam met Koning Jósafat van Juda!

Agab het homself omring met valse profete: “jabroers!” Jósafat het vir hom gevra, “Is daar nie nog ‘n profeet van die HERE, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?” Agab het geantwoord, “Daar is nog een man om deur hom die HERE te raadpleeg; maar ék haat hom, omdat hy oor my niks goeds profeteer nie, maar onheil” (1 Konings 22:7-8).

Daar is dit in al sy lelikheid: Agab se onbestendige hart was geopenbaar! Die hele tyd het hy ‘n haat vir God se profete gehad. Hy wou slegs die goeie hoor! Hy wou slegs bemoedig en gevlei word, vertroetel word op sy pad na sukses! Hy wou geen harde prediking hê nie – en sy bekering het geensins enige diepte gehad nie!

‘n Onbestendige Christen kom onder God se oordeel.

“Daarom het Ek hulle neergekap deur die profete, hulle gedood deur die woorde van my mond” (Hoséa 6:5).

God het net een opsie vir onbestendige Christene: “Daarom sal Ek hulle neerkap (hulle afsny) deur die profete en hulle dood deur die Woord.”

God se ware profete is nie vleiers nie! Hulle profeteer nie goeie dinge vir Christene wat ‘n kompromie maak nie! Hulle is God se afkappers!  Hulle dra ‘n twee-snydende swaard in hulle hande om God se kinders die verskil tussen heilig en onheilig te wys. Hulle deel nie met beuselagtighede nie!

God doen op hierdie oomblik die afkapping en afsnyding in Sy kerk deur so ‘n kragtige woord in die monde van Sy dienaars te plaas, dat dit oordeel word! God praat en dit is wonderlik!

In Esegiël 11, het Pelatja, ‘n prins van Israel goddelose raad vir die volk gegee. Die Gees van God het op Esegiël neergedaal, en hy het ‘n woord van waarskuwing aan Pelatja en die volk gegee. Toe het Esegiël gesê, “En terwyl ek profeteer, het Pelatja, die seun van Benája, gesterwe” (Esegiël 11:13). Pelatja was letterlik neergekap deur die woord van God!

God se Woord is so sterk en so kragtig dat dit eendag die Antichris sal vernietig en verslind. “En dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal vernietig” (2 Thessalonicense 2:8).

Maar ‘n ware profeet vervloek ander nooit nie – hy is bedroef en ween wanneer hy die Woord mense sien verslind. Toe Esegiël Pelatja dood sien neerval het, “Toe het ek op my aangesig geval en hardop uitgeroep en gesê: Ag, Here HERE, wil U ‘n einde maak aan die oorblyfsel van Israel?” (Esegiël 11:13). Toe oordeel geval het deur die woorde wat hy verkondig het, het Esegiël om genade gesmeek!

Die waarheid sny. Wanneer ‘n ware man van God spreek as die Here se godspraak, word die byl teen die wortels gelê. ‘n Twee-snydende swaard kom by sy mond uit! Een kant sny sonde en wederstrewigheid weg om te genees en te herstel; die ander kant sny om te vernietig. Ek het Christene letterlik sien sterf in dae, weke of maande van die tyd af wat hulle die waarskuwings van die heilige herders veronagsaam het.

Soms voel ek soos Jeremia, toe hy vir God gesê het, “Ek was ‘n belagging die hele dag, almal saam spot met my...En as ek sê: Ek sal...in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jeremia 20:7,9).

Hoe kan jy seker wees jou herder praat hierdie soort heilige woord uit God se hart? “As jy voortbring wat edel is, en niks onedels nie, sal jy soos my mond wees” (Jeremia 15:19).

Dit is waaroor hierdie boodskap gaan – dit is ‘n waarskuwing om jou siel te reinig van die afskuwelike sonde van onbestendigheid! Waarom so ‘n ernstige waarskuwing? “Die oordele oor jou kom te voorskyn soos ‘n ligstraal” (Hoséa 6:5).

Tans breek God se oordele oral uit! Rusland het onder die roede van God geval. Arabiese lande bewe. Die nasies en die eilande van die see woed. Dit is oordeelsdag en God sal nie louwarmheid, verraad of dubbelhartigheid duld nie!

God openbaar alle ongeregtigheid – Hy blaas ‘n ramshoring in Sion! En aan almal wat die ramshoring hoor, sê Hy, as jy “die goeie verwerp – die vyand sal... (jou) verwerp...(Jy) sal storm maai” (Hoséa 8:3,7).

Daar is egter die hoop: Wanneer God se swaarde sonde en wederstrewigheid afsny, sal Hy altyd olie vir die wond bring.

As jy ‘n onbestendige Christen is, gryp hierdie woorde van die Here aan:

“Bekeer jou, Israel, tot die HERE jou God...sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is...

“Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê...Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan...Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van ‘n olyfboom...Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok...

“Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos ‘n groen sipres; uit My word jou vrug gevind” (Hoséa 14:2-9).

God belowe op Sy volk op te wek en te herstel – ‘n volk wat hulle afgode neergelê het, wat nie langer ‘n onbestendige hart het nie.

Gee jou hart heeltemal oor aan God – en sien hoe Hy vir jou teruggee dit wat verrot het in Sy wingerd. Dan sal Sy “vrug gevind” (Hoséa 14:9) word in jou!