DIE VOORDELE VAN BEROU

David Wilkerson (1931-2011)

Ons ken Daniël as die dapper, begaafde jongman wat Nebudadnésar, koning van Babel, lojaal gedien het en sy drome uitgelê het. Maar sy grootste heldedade het gekom omdat hy ‘n regverdige man van gebed was.

Daniël het so ‘n toegewyde, heilige lewe geleef, dat ‘n mens nie van hom sou verwag om berou te hê voor die Here nie. Maar sy hart was baie sensitief vir sonde en hy het homself vereenselwig met die verskriklike sondes van die volk Israel. Let op die gebruik van die meervoudige selfstandige naamwoord, ons, in sy gebed.

“Ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie” (Daniël 9:5-6).

“Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig vn die HERE my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God” (Daniël 9:20). Daniël het in wese gesê, “Here, reken met my af terwyl U met u Volk afreken. As daar enige ongeregtigheid in my hart is, bring dit na vore en wys dit vir my!”

Is daar werklik voordele van berou? Ja! Een waarlik wonderlike voordeel is die gawe van ‘n nuwe, duideliker visie van Jesus Christus. Nadat Daniël berou gehad het, het hy ‘n visioen gehad: Toe “het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ‘n man met linne bekleed” (Daniël 10:5). Daniël was die enigste een wat die man gesien het, wat eintlik Jesus in al sy heerlikheid was!

Verstaan, Daniël het nie gebid vir sy visioen nie; hy het net berou gehad, sonde bely en was daaroor bedroef. Jesus het self besluit om na Daniël te kom met hierdie openbaring – die Here het dit geïnisieer! Jy sien, wanneer ons onsself voor die Here verneder en dinge met Hom en ander regmaak, hoef ons nie ‘n openbaring te soek nie. Jesus sal Homself aan ons openbaar! Dit mag dalk nie met ‘n visioen wees nie, maar ons sal weet dat Hy teenwoordig is.