Die Voorreg van Begenadiging
“Sodat Hy...kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in die goedertierenheid oor ons in Christus Jesus” (Efésiërs 2:7).
God het sy liefdevolle, hartlike goedheid aan ons bewys. Daarom kan ons wakker word en juig, “Halleluja! God, Christus en die Heilige Gees wil naby my wees.”
Elke Christen sal steeds versoekings en swaarkry beleef, maar te midde van ons beproewings, kan ons oorvloedig in danksegging wees as gevolg van sy ewigdurende goedheid aan ons. Paulus sê vir ons dat dit presies die rede is waarom God ons saam met Christus laat sit het.
Een van die groot seëninge wat ons s’n word wanneer ons saam laat sit word in die hemele, is dat ons die voorreg van begenadiging geniet. “Waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde [Christus]” (Efésiërs 1:6). Die Griekse woord vir “begenadig” hier, beteken hoogs bevoordeel. Dit verskil van die Engelse gebruik van “accepted,” wat geïnterpreteer kan word as “ontvang as genoegsaam.” Dit beteken iets wat kan verduur word en suggereer ‘n gesindheid van, “Ek kan daarmee saamleef.” Dit is nie die geval met Paulus se gebruik daarvan nie. Sy gebruik van “begenadig” vertaal as, “God het ons hoogs bevoordeel.” Ons is baie spesiaal vir Hom, omdat ons op ons plek in Christus is.
Jy sien, omdat God Christus se offer aanvaar het, sien Hy nou net een, korporatiewe mens: Christus en diegene wat met geloof aan Hom verbind is. Kortliks, in God se oë, het ons vlees gesterf. Hoe? Jesus het aan die Kruis met ons ou natuur weggedoen. Daarom, wanneer God nou na ons kyk, sien Hy slegs Christus. Op ons beurt, moet ons leer om onsself te sien soos God ons sien. Dit beteken om nie net op ons sondes en swakhede te fokus nie, maar op die oorwinning wat Christus vir ons aan die kruis behaal het.
Die gelykenis van die Verlore Seun is ‘n kragtige illustrasie van die begenadiging wat kom wanneer ons ‘n hemelse posisie in Christus gegee word. Jy ken die storie: ‘n jongman het sy erfdeel van sy vader geneem en dit vermors op ‘n sondige lewe. Toe die seun heeltemal bankrot was – moreel, emosioneel en fisies – het hy aan sy vader gedink en was oortuig dat hy alle guns by Hom verloor het.
Die seun het na sy vader teruggekeer, berouvol en gebroke en het verwag om deur sy vader verwerp te word, maar sy vader het hom met ope arms van vergifnis en genade verwelkom. “En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen” (Lukas 15:20).
Beleef die volle seën van jou begenadigingsdag!