Dit is Nie Genoeg om Uit Babel Uit Te Kom Nie
Na sewentig jaar van ballingskap, het die Joodse volk die profeet se uitroep gehoor: "Gaan weg uit Babel, vlug weg van die Chaldeërs" (Isaiah 48:20).
Jeremia het na vore gekom en gepreek, “In dié dae en in dié tyd...sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die HERE hulle God soek. Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom...Vlug uit Babel” (Jeremia 50:4-5,8). “Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie” (Jeremia 51:6).
Slegs 42,000 mans en hulle afhanklikes het uit Babel uitgekom. Hulle het na Jerusalem teruggekeer met geween en ernstige smekinge. Daar het hulle die altaar herstel en die daaglikse offers weer ingestel.
Hier is ‘n beeld van ‘n volk wat hulleself volkome verwyder het van die verdorwenheid en afgodery van die wêreld! Hulle het hulself tot die Here bekeer met hulle hele hart en hulself afgesonder tot God. Hierdie volk verteenwoordig vandag se regverdige, heilige oorblyfsel wat uit gekom het uit die dooie godsdienstigheid en alles wat eens hulle geestelike groei belemmer het.
God se doel vir die Israeliete – sowel as vir ons vandag – was nog nooit slegs afskeiding van die wêreld nie. Jy mag dalk uit ‘n dooie, Babelse kerkstelsel kom, iets wat dood in jou siel ingebring het. Miskien het jy eens ‘n dubbele lewe gelei – jou gedagtes verdorwe en jou groei in die Here belemmer. Maar toe het jy ‘n oproep gehoor!
God het jou bearbei. Jy het gesmag daarna om tussen Christene met ‘n soortgelyk kosbare roeping te wees – en God het jou uitgebring! Nou kan jy sê, “Ek glo ek groei, omdat ek ‘n hart vir God het. Ek is afgeskei van die wêreld!”
Dit is egter nie genoeg om net soos die Jode in Israel te sê, “Ons het dit gemaak! Dít is die Here se uiteindelike doelwit vir ons. Ons is afgeskei van sonde, ons het uit Babel uitgekom. Ons is nou heeltemal oorgegee aan God!”
Jy sien, terwyl hulle dit gesê het, was God se getuienis in puin! Die tempel het die Here se getuienis op aarde verteenwoordig. Toe alle dinge volgens God se plan en doel plaasgevind het, was die tempel geseën met God se teenwoordigheid. Mense soos die Koningin van Skeba het gekom en gekyk hoe Salomo na die tempel gaan. Bloot die belewenis daarvan het haar asem weggeslaan! Sulke mense het groot eerbied en ontsag vir die God van Israel gehad!
Maar sonde het veroorsaak dat God se teenwoordigheid die tempel verlaat het. Waar sonde ook al ingekom het, sou die heerlikheid weggaan en die tempel sou vervalle raak!
Toe God vir Israel gesê het om uit Babel uit te kom, wou Hy nie bloot hê hulle moes van daardie verdorwe stad en samelewing af wegvlug nie. Hy het hulle geroep om na Jerusalem toe te gaan om ‘n getuienis op te rig – om Sy huis te herstel en te bou! Dit was hulle eerste roeping: “Gaan na Jerusalem en bou My huis! Stel My belange eerste!”
God het die harte van die bedienaars en leiers bearbei, Josua die hoëpriester en Serubbábel die prins. Hulle het met groot ywer begin werk – maar toe teëstand gekom het, het hulle begin moed verloor. Vir sestien jaar was die tempel geïgnoreer. En ‘n duisend verskonings het tot hulle gedagtes gekom waarom hulle nie met God se werk kon voortgaan nie.
Die storie van Haggai is vir ons lewensbelangrik – omdat die Here ons bearbei en dieselfde woorde tot ons spreek: Kom uit Babel uit – en bou my huis!”
God het vir ons ‘n las gegee vir die haweloses, die armes en behoeftiges. Hy wil nie hê ons moet net hier sit en ons eie porsie alleen eet nie. Hy beveel ons om Sy huis en Sy belange eerste te stel!
Hy sê, “Ek het jou nie geroep om net afgesonder, net heilig te wees, net om My te loof nie. Ja, daardie dinge is goed. Maar ek het jou uit Babilon geroep vir ‘n groter doel. Ek wil jou voorberei – om jou te gebruik om My getuienis op te rig!”
Geliefde, daar is ‘n getuienis wat in totale puin lê. Ek vra jou: Wat het die kerk vir die wêreld van Jesus Christus gewys in die laaste vyftien jaar? ‘n Christus van rykdom, van voorspoed, van gebedel en gepleit om mense se drome en rykdomme te onderhou!
Maar al die tyd, het die ware getuienis van Christus ongebou gelê! En God roep ‘n volk in hierdie tye om die ware getuienis van wie Christus is te herbou! Hy is die Een wat die hartsgeroep van die armes hoor. Hy is ‘n liefdevolle Christus wat omgee. Hy reik af om die behoeftiges en haweloses te help!
In Openbaring 18:2-4 roep Johannes uit, “Geval, geval het die groot Babilon...Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”
Ek verkondig nou al dieselfde boodskap vir twaalf jaar lank! Babel verteenwoordig ‘n afvallige, goddelose samelewing, in samespanning met ‘n afvallige, teruggevalle kerk! Vir ons, verteenwoordig Babel ‘n lewe van geestelike ongeërdgheid, luiheid en wêreldse kompromie – ‘n godsdiens sonder God en Sy heiligheid!
Tans is daar ‘n groeiende oorblyfsel van heilige, afgesonderde Christene wie se harte in beroering gebring is. Dit is ‘n soewereine werk van God! Hierdie gelowiges kon nie langer die goddeloosheid en kompromie in hulle kerke verdra nie. Hulle het gehoor hoe die Heilige Gees hulle roep tot ‘n lewe van heiligheid en afskeiding van die wêreld!
Nou moet hulle uit Babel wegkom, uit die doodsheid en verdorwendheid van afvalligheid. Hulle buig nie langer voor die afgode van hierdie eeu nie. Hulle is ‘n heilige volk, waarlik afgesonder – ‘n volk, smagtend om dieper in die Here in te gaan.
Maar om net uit Babel weg te kom, is nie genoeg nie! Dit is nie genoeg om te sê, “God het my gereinig en ek het my ou weë verlaat! Ek het waarlik verander!! Ek is uit daardie ou Babelse godsdienstige begraafplaas!”
God probeer iets meer vir ons hier sê. En ek glo dit is waar die “geloof en voorspoedsevangelie” die spoor byster geraak het.
Jy sien, daardie spesifieke evangelie het begin by ‘n paar baie vroom, goddelike mans. Hulle was honger vir God, was in beroering gebring, en het geglo daar was meer daaraan om God te dien as wat hulle in die dooie godsdienstige stelsel rondom hulle beleef het. Hulle het begin sien dat God Sy kinders wou seën, dat Hy hulpbronne in hulle hande wou gee om ‘n rede. En, soos Israel, het hierdie mense uit Babilon weggestap en ontdek dat God diegene seën wat Hom werklik glo.
Ons sien dit in die Ou Testament. God het belowe om die Jode te seën wat hulle harte op Jerusalem gerig het. Maar Hy het al daardie seëninge voorsien met die voorneme dat die mense Sy huis eerste sou bou – om ‘n getuienis wat vernietig was te herstel!
Vandag moet ons ons Godgegewe hulpbronne gebruik om die armes te klee, om die weduwee’s te huisves en te onderhou en om die vaderloses en haweloses te red. Dit is waarom God Sy seën op ons wil uitstort – sodat ons dit kan weggee!
God se kinders het nog altyd gebid, “O God, seën my, sodat ek die behoeftiges kan seën! Laat my voorspoedig wees, sodat ek meer het om vir U werk te gee.” Dit verskyn ook in die literatuur van alle voorspoedsleraars: “God wil jou verryk, sodat jy meer kan hê om vir die Here se saak te kan gee.”
Maar daar is iets verkeerd in die menslike natuur. Wanneer ons ons hande op hulpbronne kry, begin ons dadelik vir onsself doelwitte stel, in plaas daarvan om daardie seëninge weg te gee. Dit is wat gebeur het met die voorspoedsevangelie in hierdie laaste uur.
Ek glo God het ‘n getuienis probeer oprig. Hy wou ‘n kerk hê wat deur Sy Seun, Jesus, sou bly staan in die donkerste dae wat kom – ‘n kerk wat God sou glo vir hulpbronne en vir ‘n salwing. God wou ‘n volk hê wat Hy kon vertrou! Mense wat nie geld op hulleself sou spandeer nie, maar wat dit sou uitgee – sodat ander in die laaste dae ‘n Christus sou sien wat kan doen wat geen regering kan doen nie!
Maar wat het gebeur? In plaas van om uit te reik na die armes en behoeftiges, het Christene wat finansieel geseën is, hulle hulpbronne op hulleself gespandeer. Hulle het gekoop tot hulle te moeg was om nog inkopies te doen!
Min het die Here se hart eerste gestel in hulle gawes. Hulle gee wanneer dit gerieflik is, uit skuldgevoel. In plaas van om deur geloof te lewe en weg te gee dit wat God aan hulle gegee het, koop hulle meer en meer vir hulleself en gee slegs dit wat oorbly.
Ja, dit is goed om te sê, “Here, seën my, sodat ek ander kan seën!” Maar buiten diegene met gebroke harte voor die Here, druk God se kinders nooit deur nie!
Dit het met Israel gebeur. Uiteindelik het die mense opgehou om God se huis te bou. Vir sestien jaar het hulle gesê, “Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie” (Haggai 1:2). Hulle het slegs die fondament gelê – en hulle het honderde verskonings gekry waarom hulle nie kon doen waarvoor God hulle geroep het om te doen nie!
Die taak was te duur, en die ekonomie was besig om te verswak. Hulle het gesê, “Die tyd is nie reg nie. Ons sal wag tot toestande verbeter.” Maar die toekoms het benard gelyk. Gewasse het misluk, besighede het ondergegaan, loontrekkers het geld verloor so vinnig as wat hulle dit gemaak het: “Wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek” (Haggai 1:6).
Dit is duidelik dat hulle God se huis wou bou. Hulle het dit gesien as ‘n ware visie van God. Maar hulle het gesê dit was nie die gepaste tyd nie: “Ons het skaars genoeg vir ons eie families. Hoe kan ons hierdie groot projek onderneem as ons nie eens onsself kan help nie? Selfs Salomo het die mense belas om so baie aan te gaan.”
So, nog ‘n steen is nie gelê vir sestien jaar nie. In daardie tydperk het die mense egter al die geld, tyd en hulpbronne verkry wat nodig was om hulle eie huise te bou en om hulle eie belange te verseker!
Hulle het pragtige huise, met duur meublement, seder paneelwerk en gesnede plafonne gebou! Hulle het nie die altaar of die offers nagelaat nie – maar hulle het hulleself besig gehou met hulle eie families se behoeftes: “God verwag sekerlik van my om vir my familie te sorg. Hy is ‘n goeie God, en ons het Hom lief. Sodra ons ons eie behoeftes aangespreek het, sal ons alles vir God gee!”
Die Here het uiteindelik gesê, “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?” (Haggai 1:4).
Met ander woorde, “Vir sestien jaar lank het julle gesê, ‘Dit is nie tyd vir God se huis om gebou te word nie, dit is nie tyd vir Sy belange nie – maar tog het hulle uitgegaan en gekry wat julle ook al wou hê. Is dit nie nou tyd om in geloof uit te stap en te doen wat Ek julle beveel het nie? Julle gaan egter huistoe na julle lieflike huise met mooi meubels en julle sê, ‘God verstaan.’ Julle gaan uit en eet wat julle wil, doen wat julle wil, koop wat julle wil – maar wanneer julle die behoeftes van die armes beskou, sê jy, ‘Die koste is te hoog, te duur!’”
Haggai het vir die volk gesê, “Ek wil vir julle wys wat gebeur wanneer julle uitstel om God se gebod te gehoorsaam!”
Die regte tyd om te doen wat God vir jou sê, is die oomblik wanneer Hy sy profetiese woord stuur en jou hart in beroering bring!
God se bevele moet gehoorsaam word sodra dit geopenbaar word! Geen vertragings, geen verskonings, geen uitstel terwyl ons ons eie belange najaag nie.
Iets soewerein gebeur met diegene wat talm om te doen wat God beveel. Terwyl hulle sê, “Dit is nie nou die regte tyd nie; ek het te veel ysters in die vuur,” stuur God ‘n droogte oor hulle!
“Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop. Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou” (Haggai 1:9-10).
Haggai het verduidelik waarom hierdie mense so droog, leeg en verveeld was! Die mense kon nie die vreemde belewenis wat algemeen onder hulle was, verstaan nie: Hulle was nooit tevrede nie! Hulle het ‘n diep, onlesbare innerlike dors gehad. Hoe meer geld hulle spandeer het, hoe meer dinge het hulle nodig gehad – en hoe ongelukkiger het hulle geword!
As ons God nie gehoorsaam nie, blaas Hy op ons seëninge en dit verskrompel. ‘n Innerlike verdroging vind plaas!
Hierdie goddelike rusteloosheid, hierdie diep innerlike droogte, is God se liefdevolle oordeel om ons te bewaar van oorweldig te word deur ‘n verterende eiebelang!
Ek het hierdie soort van sorgsame oordeel beleef – om so baie vir God te doen en tog te voel soveel is onafgehandel. Om so hard te werk en tog te voel asof ek nêrens kom nie.
Dit is ‘n onverklaarbare gevoel van baie doen, maar min bereik, van rusteloosheid in jou siel. Dit is om God lief te hê, maar tog te voel dat jy nog nie bereik het wat Hy wil hê nie. Dit is om te weet daar is iets wat jy misgeloop het!
Verduidelik ek iets wat tans in jou lewe gebeur? Miskien dien jy God, maar jy is nie heeltemal vervul en tevrede in jou Christelike lewe nie. Jy het ‘n geestelike droogheid, ‘n doodsheid van binne, terwyl almal rondom jou groei in die Here. God is moontlik besig om vir jou te sê, “Ek het die droogte veroorsaak!”
Geliefde, dit is nie God se toorn nie. Dit is Sy liefde wat dit oor ons bring! Jy sien, God stuur die droogte om vir ons te wys hoe nietig en leeg alles is wat die self en die vlees behaag! Dit is God se liefdevolle hand aan die werk: “Ek sal nie toelaat dat jy verslind word deur selfsug nie, daarom stuur Ek ‘n droogte – om jou te red!”
Die volk van Israel het beide die boodskapper en Sy boodskap geglo! Hulle het afstand gedoen van hulle eie gedagtes, al hulle eie boodskappe. Hulle het nie gesê, “Ek hoor ook van God nie – en ek weet dit is nog nie tyd om te bou nie!” Nee! Hulle het toegelaat dat God se woord hulle harte in beroering bring (Haggai 1:14). Hulle was aangeraak!
Jy sien, Haggai het hulle nie veroordeel omdat hulle mooi huise gehad of omdat hulle geseën was nie. Dit was neweprodukte daarvan om in ‘n verbond met God te leef. God wil Sy kinders seën!
Maar die profeet het die volk teruggeroep na ‘n behoorlike balans! Die volk het gereageer deur hulle eie gedagtes neer te lê. En binne drie-en-twintig dae, hulle hulle gevorder van ‘n aanraking tot aksie!
God beweeg vinnig in wanneer sy kinders besig raak om Sy Woord te gehoorsaam en Sy huis te bou!
Die presiese uur waarop die volk besluit het om te doen wat God beveel het, het die Here die stoorkamers van die hemel en aarde oopgemaak!
God het Haggai teruggestuur met hierdie boodskap: “Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die leërskare” (Haggai 2:8). Hy het in wese gesê, “Moet nooit weer na die ekonomie kyk nie. Wees nooit weer bang omdat die toekoms donker lyk nie. Dit is alles Myne. Ek sal alles voorsien wat jy nodig het!”
New York Stad se geld sal opraak! Die banke gaan onder! Die staat en federale regerings stort in duie – maar God is so ryk soos altyd en Sy stoorkamers word nooit minder nie! En Hy wil Sy hulpbronne aan Sy kinders gee – nie om op hulleself te spandeer nie, maar om Sy getuienis te vestig!
Jy kan die Here se werk met vertroue doen, “Want Ek is met julle” (Haggai 2:4). “Met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie! Want so sê die HERE van die leërskare: ‘n Rukkie nog, ‘n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe” (Haggai 2:5-6).
Die herbouing was ‘n baie groot en duur onderneming, en die Israeliete het amper niks gehad om mee te werk nie! God het egter gesê, “Omdat julle besluit het om in geloof uit te stap – omdat julle ‘n hart het om My huis te bou en My getuienis op te rig – sal Ek die hemel en die aarde laat bewe! Moenie na die ekonomie of die toekoms kyk nie. Hou jou oë op My, en spring aan die werk! Ek is met julle – en dit is al wat julle hoef te weet!”
Jesus het gesê, “Gee, en aan julle sal gegee word; ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word” (Lukas 6:38).
Op hierdie stadium het die lokale goewerneur nie aan die Israeliete enige produkte verkoop nie. Hulle was ingeperk aan alle kante. En vir sestien jaar, was hulle in die werk belemmer.
Die mense het hulself afgevra, “Waar gaan ons al die hout kry? Ons bure wil ons nie eens groet nie. Hulle vloek ons!”
Nietemin het die Israeliete egter hulle aan die werk verbind. Dit is al wat God nodig het – ‘n gewillige volk, gereed om te werk!
Met die volk se verbintenis alleenlik op geloof gebaseer, het God besluit om hulle meer te seën as wat hulle kon dink. Skielik, met die slag van ‘n pen, het God voorsien dat elke behoefte aangespreek word!
Hy het geweet hulle sou deurdruk! Nou het hulle opgewonde geraak om Sy werk te doen. En voor die eerste steen gelê is, het God begin om Sy seëninge uit te giet! (Haggai 2:15-21).
God het gesê, “Merk tog op, van hierdie dag af terug” – wat beteken, “Neem kennis! Merk dit op hulle kalender! Voor nou, het julle jul eie ding gedoen, julle het vir julself gebou. Maar nou sal dinge verander. Geen verveling meer nie! Geen gevoel van niks bereik nie! Nou is net die begin!
“Van nou af sal Ek jou siel natmaak met groot blydskap, vrede, ‘n gevoel van algehele selfvervulling. Ek sal jou My krag en lewe gee! Ek sal dit ‘n stad van vrede maak!”
Hier is waarom hierdie profesie van Haggai my persoonlik so getugtig het. God het ons harte gedring om in geloof uit te stap en ‘n getuienis op te rig van die liefde en sorg van Jesus vir die armes, die behoeftiges en dié met niks. Ons is uitgedaag om ‘n huis van deernis te bou!
Die taak lyk oorweldigend. Daar is ongeveer 90,000 hawelose mense in New York Stad alleen, en die getalle neem toe. Selfs sommige van ons gemeente kan uit hulle huise gesit word as hulle hul werk verloor. Die ekonomie stort in duie en die toekoms is vreesaanjaend!
Om te probeer werk met agentskappe is soos om verdwaal te raak in ‘n woud. Ek weet sonder twyfel dat die Here ons geseën het deur ons in ‘n posisie te plaas om te doen wat Hy gebied. En ek weet dat as ons nie optree nie – en nóú optree nie – sal ‘n geestelike droogte oor ons afgeroep word.
God sal al ons seën wegblaas en ons tref met “brandkoring en heuningdou” (Haggai 2:17). Hy sal veroorsaak dat ons by die dag selfgesentreerde, klaende, ongelukkige Christene word.
Hoewel God my egter verseker het van Sy voorsiening, het ek onlangs bang geword toe ek ‘n artikel in The New York Times gelees het met die titel, “Die Depressie is Hier.”
‘n Bankrotskapprokureur het gesê dat die eiendomsmark in duie sal stort oor ongeveer nege maande – dat jy nie nou eiendom moet koop nie, omdat dit oor ‘n jaar beskikbaar sal wees vir ‘n fraksie van die huidige prys.
Onmiddellik toe ek dit sien, het ek gedink, “Dit is nie nou tyd om voort te gaan met ‘n huis vir weduwees en ongehude moeders nie, of een vir hawelose mans en verslaafdes nie. Volgende jaar sal dit baie goedkoper wees!” Ek het een van ons kerkraadslede geskakel en vir hom gesê, “Miskien moet ons wag...”
Dank God vir die moed van daardie dierbare broer. Die ekonomie het hom nie gepla nie. Hy het gesê, “Pastoor, al wat saakmaak is of God sê dít is die plek en nóú is die tyd. Ons sal dit doen, depressie of geen depressie nie. God sal ons deurdra.”
Asof daardie klein loesinkie nie genoeg was nie, het ek alles wat ek nodig gehad het, gekry toe ek gaan bid het. Die Heilige Gees het vir my gesê om Haggai te lees – en wat ‘n loesing het ek gekry!
Ons het pas nuwe gordyne vir my studeerkamer gekry en het die mure laat verf en met papier laat plak. Terwyl ek in daardie kamer gesit en lees het aan die woorde van God se profeet, was ek oortuig van sonde! Ek kon nie wag vir Maandag om terug te kom by die kantoor en aan die werk te spring aan God se huis nie!
Nie lank gelede nie, het ‘n maatskaplike werker gesê die “deernis moegheid” het New York getref. Mense word moeg daarvan om hawelose bedelaars te sien waar hulle ook al gaan, en hulle verwyder hulleself emosioneel van daardie lyding oral rondom hulle.
Geliefde, mag dit nooit met ons gebeur nie! Dit durf nie met die kerk van Jesus Christus gebeur nie! Omdat Christus altyd nuwe lewe bring aan diegene wat ly. Hy is die reën wat die tuin natmaak en die droogte breek, die fontein wat nie teleurstel nie (Jesaja 58:11). Alles wat Hy aanraak, word lewendig!
As ons nie uitreik met daardie kosbare lewe nie, weet jy wat sal gebeur? Die presiese ding wat gebeur het met die volk teenoor wie Haggai hierdie woorde gespreek het! Jou belange sal binnewaarts eerder as buitewaarts keer. Alles wat jy doen sal ‘n voorwendsel wees!
Maar God sal dit nie laat gebeur nie. Hy sê, “Ek gaan My heerlikheid op jou afstuur! Ek gaan vir jou al my hulpbronne gee – en al wat jy hoef te doen, is om die verbintenis te maak en daarby te hou!”
Daar is een laaste toepassing vir Haggai se profesie, Dit word gerig aan diegene wat gesê het, “Dit is nie nou die tyd om my alles vir Jesus te gee nie. Dit sal een of ander tyd wees! Ek bedoel regtig om dit te doen – eendag!”
Jy herberg een of ander eiebelang wat jy dink God sal van jou af wegneem. Jy sê, “Later, wanneer ek dit gemaak het, wanneer ek myself bewys het – dan sal ek my alles vir Jesus gee!”
Nee – glo my, jy sal nie! God mag jou roep vir die laaste keer. Sy genade sal altyd beskikbaar wes, maar jou hart sal te hard wees om te reageer! Vandag is die dag! “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie” (Hebreërs 3:15).
Moenie nog ‘n oomblik wag nie – sê ja vir Jesus!