DUIDELIKE LEIDING

David Wilkerson

Die meeste Christene luister nie na God nie. Hulle gaan na Hom toe net om te praat! Die Skrif openbaar egter aan ons dat alle mense wat ooit deur God gebruik is, geleer het om in Sy teenwoordigheid te bly totdat hulle van Hom gehoor het.

Die Skrif maak dit duidelik dat die Here met elkeen van ons wil praat: “En jou ore sal ‘n woord agter jou hoor sê: Dit is die weg, wandel daarop! Wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21).

Terwyl ‘n klein dogtertjie nader aan die dood gekom het, het sy gesukkel met die gedagte van doodgaan. Een oggend toe haar ma in haar kamer kom, het die dogtertjie egter van blydskap gestraal en sy was bly.

“Wat het met jou gebeur?” het haar ma gevra.

 “’n Engel het na my gekom en my vertel dat ek op reis gaan,” het die dogtertjie geantwoord. “En toe het God gekom en my hand gevat en saam met my deur ‘n pragtige tuin geloop. Hy het vir my gesê dat ek môre daarheen gaan om saam met Hom te wees.’”

God het met daardie kindjie gepraat en het al die pyn en vrees uit haar hart uit weggeneem! Toe sy die volgende dag gegaan het om saam met Hom te wees, het sy totale vrede gehad.

Sê vir my, wanneer jy met Jesus gemeenskap het, kry jy sulke duidelike leiding van Hom af? Vertel Hy vir jou wat om te doen, en daarna hoe om dit te doen? Sommige Christene glo nie dat God dit doen nie, maar Jesus sê, “My skape luister na my stem . . .  en hulle volg My” (Johannes 10:27).

Die enigste pad deur jou beproewing, is om alleen by Jesus uit te kom en te roep, “Here, U is die enigste Een op hierdie aarde wat my kan help. Ek gaan nêrens nie, totdat U tot my hart spreek!”

Die soort gebed wat God behaag, staak alle aktiwiteit, totdat Sy stem gehoor word. Net dan sal jy Hom duidelik in jou hart hoor praat oor dinge soos,  “Jy moet dinge regmaak met hierdie persoon...” Of, “Moenie so haastig wees nie! Sit in My teenwoordigheid en vertrou My.”

As jy Hom soek en wag, sal Hy jou duidelike leiding gee!