Ek het tevergeefs gearbei

Hierdie boodskap is vir almal wat onder ‘n las van ontmoediging gebuk gaan. As jy na jou lewe kyk, is jy moedeloos oor al die onvervulde verwagtings. Jy voel dat jy niks bereik het nie, en met verloop van tyd, sien jy dat baie beloftes onvervuld gebly het. Vir jare lank het jy by herhaling gebid, maar die beloftes wat jy dink wat God gemaak het, het onvervuld gebly.Dit lyk asof dinge vir ander mense uitgewerk het, asof hulle vervulde beloftes ontvang het, maar jy voel soos ‘n mislukking.

As jy terugkyk oor jou lewe onthou jy al die moeilike tye. Jy het die gevoel van verwerping geken en jy voel ontoereikend. Jy het die Here so lief gehad en jy het alles vir Hom gegee-siel en liggaam om Hom te behaag. Tog het daar nou ‘n oomblik aangebreek waar in jy oortuig is, ‘Ek het tevergeefs gewerk, ek het my krag oonodig verspil. Dit is hopeloos”. Nou kruip daar ‘n gees op, wat fluister. “Jy het die doel gemis. Jy het gefaal. Jou lewe bewys dat jy geen uitwerking in jou lewe gehad het nie”.

As jy sulke gevoelens het, is jy in goeie geselskap. Dan staan jy tussen geestelike reuse.

Die profeet Elia het na sy lewe gekyk en uitgeroep, “Here neem my huis-toe. Ek is niks beter as my vaders nie, en hulle het almal misluk. Neem asseblief my lewe. Alles was tevergeefs”. (Parafrase)

Wat van koning Dawid? Hy was so moedeloos oor wat hy gedink het, was ‘n verkwiste salwing op sy lewe, dat hy wou wegvlieg soos ‘n voël na ‘n afgesonderde plek. “Ag, as ek maar vlerke soos ‘n duif gehad het… Dan sou ek wegvlieg en wegbly” (Psalm 55:6-7).

Selfs die groot apostel Paulus bewe, as hy dink dat hy sy lewe lank ‘n nuttelose arbeider was. Hy skryf aan die Galasiërs, “Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het” (Galasiërs 4:11).

Johannes Calvyn, een van die vaders van die Hervorming, het dieselfde ervaring gehad. Hy sê in sy sterwensuur, “Alles was ek gedoen het, was nutteloos… die bose sal graag hierdie woorde hoor. Maar ek herhaal: alles wat ek gedoen het was waardeloos”.

St. Bernard het ook hierdie vreeslike wanhopigheid ervaar. Hy skryf in sy laaste dae, “Ek het misluk in my doel … My woorde en my geskrifte is niks werd nie”.

David Livingstone was een van die wêreld se bruikbaarste sendelinge, sy prestasies was selfs deur die sekulêre wêreld erken. Livingstone het die vasteland van Afrika vir die evangelie oopgemaak. Hy het baie saad gesaai en Engeland bewus gemaak van sendingwerk. Hy het na siel en liggaam ‘n opofferende lewe gely ter wille van Christus.

Tog, het hy in sy drie-en-twintigste jaar op die sendingveld, soos die ander uitgeroep. Hy het ook gevoel dat sy bediening tevergeefs was. Sy biograaf kwoteer hom in sy moedeloosheid, “Al wat ek gedoen het, was om Afrika oop te maak vir die slawehandel. Die sendinggenootskappe dra geen vrug na drie-en-twintig jaar nie. Alles skyn tevergeefs te wees … ek het tevergeefs gearbei”.

Een van die groot sendelinge wat my lewe beïnvloed het, was George Bowen. Sy lewe was ‘n kragtige getuienis, en sy boek “love Revealed”, is een van die merkwaardigste boeke oor Christus, wat ek ooit gelees het. In die middel van 1800 het Bowen sy rug gedraai op rykdom en roem en ‘n sendelinge geword in Bombay in India. Hy het gesien hoe die ander sendelinge daar heelwat hoër as die mense wat hulle bedien het, gelewe het. Bowen het sy finansiele onderstenning prysgegee en verkies om soos die armste van die armes te lewe. Hy het soos die Indiërs gekleed gegaan, armoede omhels en in ‘n eenvoudige hut gewoon, soms net op brood en water oorleef. Hy het in die strate gepreek in die bloedige hitte, traktaatjies uitgedeel en geween oor die vorlore-gaande menigtes.

Hierdie ongelooflike toegewyde man het na Indië gegaan met hoë verwagtinge vir die uitbreiding van God se koninkryk. Hy het alles op die altaar gelê, sy hart, verstand, liggaam en gees. Tog na veertig jaar in Indië het Bowen nie een bekeerling gehad nie. Dit was eers na sy dood dat sending-organisasies ontdek het dat hy een van die mees geliefde sendelinge was. Selfs heidense afgods-aanbidders het na Bowen opgesien as ‘n voorbeeld van wat ‘n Christen moet wees.

Vandag begeester George Bowen se nederige lewe my hart en die van andere oor die wêreld. Tog, soos baie voor hom, het Bowen die vreeslike gewaarwording van mislukking ervaar. Hy het geskryf, “Ek is die nuttelooste skepsel in die kerk. God breek my deur  teleurstellings. Hy bou my op, en laat my terugval tot niks. Ek sal graag by Job gaan sit en ek sal simpatiseer met Elia. My arbeid was tevergeefs.”

Party lesers mag sê, “Sterk manne van God, moenie so praat nie. Hulle behoort nie so te voel nie. Dit klink na vrees en ongeloof.” Tog is dit die taal van baie geloofshelde, groot manne en vroue van God na wie ons opsien as getroue voorbeelde. Hulle het almal dieselfde vreeslike gevoel beleef: “Ek het nie vermag waarvoor God my geroep het nie. Ek is ‘n mislukking.” Ek ken die klank van daardie gevoel in my eie hart.

In Jesaja 49:4 lees ons hierdie woorde:  “Maar Ek het gesê: Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer!” Let op dat dit nie Jesaja se woorde is nie. Hy is op ‘n laat onderdom deur God geroep. Nee, dit is Christus se eie woorde, uitgespreek deur Een… “Die Here het my geroep van die moederskoot af; … Die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring (en om Israel te versamel)” (Jesaja 49:1,5).

Toe ek by hierdie gedeelte gekom het, ‘n gedeelte wat ek dikwels tevore gelees het, was my hart verwonderd. Ek kon skaars glo wat ek gelees het. Jesus se woorde hier van “tevergeefs gearbei” was in reaksie tot die Vader, wat juis gesê het, “Jy is my dienskneg… in wie Ek verheerlik sal word” (Jesaja 49:3). Ons lees Jesus se verrassende reaksie in die volgende vers: “Ek het tevergeefs gearbei, Ek het my heeltemal verniet afgesloof” (Jesaja 49:4).

Nadat ek dit gelees het, het ek in my studeer kamer opgestaan en gesê: “Hoe wonderlik. Ek kan skaars glo dat Christus ook so trefbaar was, dat Hy aan die Vader moes bely dat Hy ervaar het wat ons as mense ervaar. In sy menslikheid het Hy dieselfde moedeloosheid, dieselfde wanhoop, dieselfde verwondbaarheid ervaar. Hy het dieselfde gedagtes oor sy lewe gehad as wat ek het, naamlik: “Dit is nie wat ek gedink het wat beloof was nie. Ek het my krag vermors. Dit was tevergeefs”.

Hierdie woorde het gemaak dat ek Jesus meer liefgekry het. Ek het begryp dat Hebreërs 4:15 nie net ‘n holrug geryde uitdrukking was nie: ons Verlosser was werklik aan versoekings onderworpe soos ons, maar sonder sonde. Hy het hierdie selfde versoeking van satan beleef, Hy het dieselfde beskuldiging gehoor: “Jou sending is nie voltooi nie. Jou lewe was ‘n mislukking. Jy het niks om te wys vir al jou werk nie.

Wat presies was Christus se sending? Volgens Jesaja moes hy Israel terugbring na God toe, Hy moes die kinders van Jakop terugbring van hulle afgodediens en hulle herstel. (Jesaja 49:6) Die historikus Josefus het van Israel se toestand in Jesus se tyd geskryf: “Die Joodse nasie was so sleg en korrup in die tyd van Christus, dat as die Romeine hulle nie vernietig het nie, sou God vuur uir die hemel gestuur het om hulle te verteer” Kortliks, Jesus was gestuur as ‘n Jood onder die Jode, om God se volk te verlos van die mag van sonde en om elke gevangene vry te laat.

Jesus getuig: “Hy het my ‘n skerp pyl gemaak” (Jesaja 49:2). Die Vader het Hom voorberei sedert die begin van die Wêreld. Die volmag wat aan Christus gegee was, was duidelik: “Hy het my mond soos ‘n skerp swaard gemaak” (Jesaja 49:2). Jesus moes ‘n boodskap bring, so skerp soos ‘n tweesnydende swaard, wat die hardste harte sou deurdring.

Christus het na die wêreld gekom om GOD se wil te volbring deur herlewing vir Israel te bring. Hy het presies gedoen wat aan Hom opgedra was, sonder ‘n enkele woord of daad wat nie deur die Vader ingegee was nie. Jesus was in die middel van God se wil, met absolute outoriteit en die kragtigte boodskap; maar Israel het Hom verwerp: “Hy het na sy eie gekom, maar sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Johannes 1:11).

Dink hieroor na: Jesus het vir mense gepreek wat geweldige wonderwerke gesien het: blindes se oë is oopgemaak, dowes kon hoor, verlamdes kon loop. Tog was Jesus se wonderwerke gering geag, en op sy woorde geen ag geslaan nie, harde harte is nie aangeraak nie. In werklikheid het sy woorde net die godsdienstiges vertoorn. Sy eie volgelinge het besluit dat sy woorde te swaar was en het weggeloop. (Johannes 6:66). Ten slotte het selfs sy getrouste volgelinge, die twaalf dissipels Hom verlaat. En die volk wat Jesus terug na die Vader moes bring, het geskreeu: “Kruisig hom”

Vir elke menslike oog, lyk dit of Jesus total misluk het in sy roeping. Ons vind dat Hy teen die einde van sy bediening na Jerusalem kyk en treur oor Israel se verwerping, Hy het geween oor sy oënskynlike onvermoë om hulle bymekaar te maak, sy hoop was verslaan. “Jerusalem, Jerusalem … hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie” (Matteus 23:37,38).

Dink aan die pyn wat Christus ervaar het, toe Hy hierdie woorde geuiter het. Ek kan maar net raai, maar ek dink dit is toe dat Hy gesê het: “Ek het tevergeefs gearbei” Ek stel my voor dat satan op daardie oomblik gefluister het: “Hier is die huis wat jy moes heropbou en jy het dit verlaat gelos”.

Vir ‘n vlietende oomblik het die Vader toegelaat dat Christus hierdie menslike wanhoop ervaar het oor ‘n gevoel van mislukking in sy lewe: “Ek het alles gegee, my krag my werk, my gehoorsaamhied. Wat kon ek nog doen om hierdie mense te red? My arbeid was tevergeefs” Hy het gevoel wat elke groot stryder deur die eeue ervaar het.: die versoeking om homself van mislukking te beskulding, wanneer ‘n duidelike opdrag van God onvervuld skyn te wees.

Hoe kon die Seun van God sulke woorde sê? En waarom het geslagte van getroue gelowiges hierdie selfde ervaring gehad? Dit is die resultaat daarvan om groot verwagtings te meet aan geringe gevolge.

U mag dink hierdie boodskap is net van toepassing op predikante, of hulle wat geroep is om ‘n groot werk vir God te doen. Ek kan sien dit betrek sendelinge of profete in die Bybel, maar wat het dit met my te doen?

Die waarheid is dat ons almal geroep is tot een groot bedoeling – en dit is om soos Jesus te wees. Ons is geroepe om na sy beeld gevorm te word. Jy kan eenvoudig nie ‘n Christen wees as dit nie jou een groot doel in die lewe is nie: “Ek wil elke dag meer soos Jesus wees, Ek wil van myself verlos word, alle menslike ambisie, alle jaloesie, ongeduldigheid, slegte humeur, lelike gedagtes oor andere. Ek wil alles wees wat Paulus sê wat ek behoort te wees as ek in geloof en liefde wandel. Here, my hart verlang om soos U te wees”.

Watter hoë verwagtings! En … jy het al God se beloftes om jou te help. Jy hou die tweesnydende swaard van God se Woord in jou hand, en jou hart is daarop gerig om soos Jesus te wees. Jy werk daaraan om meer en meer soos Jesus te wees.

Binnekort is daar aan sienlike verandering. Jy is meer gedulding. Elke vleeslike reaksie oorwin jy, deur te sê: “Dit is nie soos Jesus nie” Jou familie, vriende en medewerkers het gesien hoe jy sagter en vriendeliker word. Elke aand verheug jy jou in jou oorwinning en jy wens jouself geluk: “Ek het dit gedoen! Vandag was ek vriendeliker, Dit was ‘n goeie, “Netsoos-Jesus dag”.

‘n Paar maande gelede het ek ‘n boodskap geskryf met die titel “Geroepe om soos Christus te wees” Daarin het ek gesê dat die ‘soos Christus wees’, begin teenoor hulle wat die naaste aan ons is. Ek glo dit regtig. As jy getroud is, is die een naaste aan jou, jou vrou. So het ek die mees Christelike man moontlik geword. Steeds het ek daaraan gewerk, om meer begrip te hê, meer liefde en sagmoedibheid.

Die eerste week het ek geworstel om elke opwelling onder beheer te kry, myself steeds bly herinner, “Jesus sal nie so maak nie. Hy sal nie sê wat ek wil sê nie. Ek gaan dit nie sê nie, ek wil soos Hy wees”.

Aan die einde van die week het ek my vrou, Gwen, gevra, “Het jy meer van Jesus in my gesien?” Sy het gesê, “Ja ek het”. Ek was so bemoedig, ek het gedink, “Dis goed! Uiteindelik het ek na al die jare uitgevind wat dit beteken om soos Jesus te wees”.

Toe kom die volgende week. Ek het my voorgenome Christus-gesindheid om elke draai verloor. Aan die einde van die week het ek vir Gwen gevra, “Hoe oordeel jy my nou?” Meer soos Paulus” het sy gesê.

Ek moet sê dat ek elke dag meer soos Jesus word, maar my menslike probeer in die vlees, werk net nie. En dit sal nooit werk nie. Ek stry steeds teen onchristelike gedagtes, dade en gevoelens. My vlees het nie die vermoë om die vlees uit te werp nie. Die werk kan die Heilige Gees alleen doen. “Want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Romeine 8:13). Kortliks, om te buig onder die mag van die Heilige Gees, is die enigste weg na oorwinning.

In die middel van die geveg met die vlees, verval ons dikwels in wanhopigheid. Ons is geneig om te dink, “Ek is geroep, gesalf en geleer deur goddelike leermeesters. Hoe kan ek nog sulke vleeslike gedagtes dink?” Met tye verval ons in dieselfde gedagtes wat eeuelank God se kinders geteister het: “Ek het tevergeefs gearbei. Ek het my krag en tyd verspil. Ek het nooit raakgesien wat God my beloof het nie. Ek het daarin misluk om my gedagtes en aksies tot enige soort van volheid te bring.”

As jy vir ‘n jong man of vrou sou vra: “Waarom het jy teruggeaan na jou ou paaie toe?” sal jy dieselfde demoniese leuen in hulle gedagtes kry: “Ek het my bes probeer. Ek het gebid en my Bybel gelees. Ek het kerk toe gegaan en my getuienis gegee aan my skoolmaats. Ek het alles probeer om reg te leef, maar die wonderwerk het nooit in my lewe gebeur nie. My gebede is nie beantwoord nie, en ek is nooit bevry nie. Ek is na alles ‘n mislukking. Ek kon nie ophou dink dat dit hopeloos was dat my vlees nooit sal verander nie. Dit was tydmors. Ek het gevoel dat alles wat ek gedoen het tevergeefs was.”

Wat van die godvresende ouers, die ma en pa wat so getrou vir hulle kind gebid het? God het vir hulle beloftes gegee waaraan hulle gelowig vasgehou het. Maar met verloop van tyd het hulle kind nie verander nie. Hierdie gelowige ouers verduur dieselfde vreeslike leuens: “Jy is ‘n mislukking, dit is alles tevergeefs. Jy het jou krag jare lank vermors. Die geveg het jou oud gemaak. Dit was alles tevergeefs.”

Baie wat hierdie artikel lees, is wanhopig, want hulle het nooit ondervind dat God se belofte waar geword het nie. Hulle is nie jaloers op die seën van God op ander se lewens nie. Hulle vergelyk hulle nie met andere wat geseënd is nie. Nee, hulle kyk net na hulle eie lewe. Hulle vergelyk wat hulle dink wat God hulle beloof het, met die oënskynlike werklikheid. Vir hulle lyk hulle lewens na ‘n absolute mislukking.

As hulle hulle lewenswandel met erns bekyk, lyk dit of daar geen vooruitgang was nie. Hulle het alles gedoen wat God gesê het, nooit afgewyk van sy gebooie nie. Maar soos die tyd aangaan, sien hulle net mislukking. Hulle is geestelik verwond. Hulle dink, “Here, was alles tevergeefs? Het ek na die verkeerde stem geluister? Is ek mislei? Het my bediening gefaal?”

Ten eerste weet jy nou dat die Here jou stryd verstaan. Hy het hierdie stryd voor jou gestry. Ons weet dit uit Jesaja 49. Dit is ook nie sonde om deur sulke gedagtes geteister te word nie. Jesus self het dit ervaar en Hy was sonder sonde.

Ten tweede is dit baie gevaarlik om hierdie helse gedagtes te huisves, hulle verduister jou siel. Jesus wys ons die weg om hieruit te kom, met die volgende: “Tevergeefs het Ek My vermoei, … Nogtans is my reg by die Here, en my loon is by my God” (Jesaja 49:4). Die Hebreeuse woord vir “oordeel”, is hier, “uitspraak”. Christus sê eintlik, “Die finale oordeel is by my Vader, Hy alleen sal as Regter sit, oor alles wat ek gedoen het en hoe effektief dit was.”

God dring by ons aan, deur hierdie vers: “Hou op om jou eie werk te beoordeel vir My. Dit is nie jou werk om te oordeel hoe effektief jy was nie. Jy het geen reg om jouself ‘n mislukking te noem nie. Jy weet nie eers watter invloed jy gehad het nie. Jy het eenvoudig nie die visie om te weet watter seëninge na jou toe kom nie.” Ons sal sulke dinge eers weet as ons voor Hom staan in die ewigheid.

In Jesaja, hoor Jesus die Vader sê: “Israel is nog nie versamel nie. Ja, Ek het jou geroep om die stamme in te bring, en dit het nie gebeur soos jy gedink het nie. Waarna jy gekyk het, is niks in vergelyking met wat Ek vir jou in stoor het nie. Ek gaan van jou nou ‘n Lig vir die hele wêreld maak. Israel sal uiteindelik bymekaar gemaak word; daardie beloftes sal in vervulling gaan. Maar jy sal ‘n lig word vir die heidene, nie net vir die Jode nie. Jy gaan verlossing aan die hele wêreld bring.”

“… en dat Israel by Hom versamel ma word – en Ek word geëer in die oë van die Here, en my God is my sterkte. Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jesaja 49:5-6).

Geliefde, terwyl die duiwel vir jou lieg, en sê dat alles tevergeefs was, dat jy nooit jou verwagtings vervul sal sien nie – is God besig om ‘n groter seën voor te berei. Hy het beter dinge vir jou in gedagte, meer as wat jy ooit kan dink of vra.

Ons luister nie meer na die vyand se leuens nie. In plaas daarvan rus ons in die werk van die Heilige Gees wat ons meer soos Christus sal maak. Ons moet opstaan uit ons moedeloosheid en op sy Woord staan: “Daarom my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedige in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie” (1 Korintiërs 15:58).

Die tyd het aangebreek om harder te werk. Die Here sê vir jou: “Vergeet al jou moedeloosheid. Dit is tyd om te begin werk. Niks is tevergeefs nie! Daar is nog baie meer vir jou, hou op kla en verbly jou! Ek het jou nie verbygegaan nie. Ek gaan oorvloediglik meer doen as wat jy kan dink of vra.”