EK WORD MEER SOOS JESUS?

David Wilkerson (1931-2011)

Groei ek in genade? Vir my is genade die Heilige Gees se bemagtiging om meer soos Jesus te word; daarom beteken dit om in genade te groei om toe te neem in Christus se gelykenis deur die onverdiende krag van God se Gees. So laat my nou hierdie vraag herformuleer: Vertrou jy op die Heilige Gees om jou meer soos Jesus te maak – by die huis, by die werk, in verhoudings?

Kyk eerlik na jou lewe oor die afgelope jaar en dink aan al die beproewings waardeur jy gegaan het. Het jy met geloof, genade, liefde en barmhartigheid gereageer? Was jy vriendelik, geduldig en saggeaard? Of moet jy erken dat jy met woede, selfbejammering en harde woorde gereageer het? “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?” (2 Petrus 3:11). “Beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (vers 14).

As ‘n volwasse Christen, het jy deur die jare heen ‘n geestelike fondament gebou met gereelde Bybelstudie, konsekwente gebed en goddelike onderrig. Maar word jy steeds meer soos Jesus? Is jy meer deernisvol, sagmoedig, barmhartig en vergewensgesind as wat jy was hierdie tyd verlede jaar?

Ons groei word belemmer wanneer ons kinderagtig reageer op die hartseer wat ander ons aandoen. Paulus het die Efésiërs gewaarsku, “Sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Efésiërs 4:14). Jy mag dink, “Wel, hierdie vers is nie op my van toepassing nie. Ek is gegrond in die Woord.”

Maar Paulus se boodskap roep ons om onsself weereens te ondersoek. Hoe moet ons reageer op mense wat hulleself ons broers en susters in Christus noem, maar steeds valshede oor ons versprei? Wat is ons antwoord wanneer hulle ons seermaak en ons tot trane toe bedroef? Paulus maak dit duidelik dat ons nie kinderagtig moet wees nie.

Ek moedig jou aan om jou lewe noukeurig te ondersoek en jouself te herinner dat groei in genade, die toename in die gelykenis van Christus is deur die krag van die Gees. En hou aan om jouself hierdie vraag te vra: Word ek meer soos Jesus deur op die krag van die Heilige Gees te vertrou?