GEÏLLUSTREERDE PREKE

David Wilkerson

Die wêreld het geïllustreerde preke nodig – kragtige persoonlike voorbeelde – van God se liefde.

In Johannes 17:21 het Jesus gebid: “Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (my kursief).

Dink daaraan: Selfs in sy laaste uur, het Jesus steeds gehunker na ‘n verlore mensdom. En Hy het aan sy kerk spesifieke voorskrifte gegee hoe om daardie verlore menigtes te wen. Dink aan sy laaste woorde oor die onderwerp: “Wees een! Stel alle stryery en verdeeldheid ter syde, sodat die wêreld in My kan glo.”

Jy mag dink. “Dit klink so eenvoudig. Is dit regtig hoe die kerk verharde harte sal bereik? Verskaf eenvoudige liefde vir mekaar werklik bonatuurlike krag om haat te bestry?”

Die antwoord is ja, ja en ja – absoluut! Volgens Jesus, word die kragtige liefde van God baie duidelik aan die wêreld geopenbaar deur onvoorwaardelike liefde onder Sy mense.

Op hierdie oomblik, is een van Satan se strategieë teen die kerk om verdeeldheid en twis te saai. Oral waar ek wêreldwyd na die liggaam van Christus kyk, is ek oortuig dat hordes demone tussen die kerkmure ingestuur is met ‘n opdrag. En hulle doel is om die liefde van Christene vir mekaar te vernietig.

Die duiwel se strategie is subtiel: Hy bring konflik tussen rasse, en tussen rykes en armes in die Liggaam van Christus. Die rassestryd spesifiek, word wêreldwyd gevoed deur televisie en ander media. Ek het in jare nog nie gesien dat sulke rassehaat verkondig word nie en nou dring dit die mure van God se huis binne.

Ek dank God dat Times Square Church gestig is met geen kleurgrense nie en geen onderskeid tussen ryk en arm nie. Almal wat by ons deure inkom, word met dieselfde respek en verwelkomende liefde behandel. Ons geniet nou al vir twee-en-twintig jaar God se seëninge en ek glo dit is deels omdat ons Christus se gebod om mekaar lief te hê soos Hy ons liefgehad het, gehoorsaam.