Gebed Wat God Behaag
Vandag wil ek met jou praat oor ‘n soort gebed wat die Here die meeste behaag. Jy sien, nie al ons gebede seën God se hart nie. Tog, met die hulp van die Heilige Gees, vertrou ek dat dit wat ek met jou hier wil deel, die manier van hoe jy bid sal verander – van nou af tot Jesus kom!
Dit is geensins my bedoeling om gebed nog ingewikkelder te maak nie. Dit is alreeds te ingewikkeld gemaak deur reeds goed bedoelde leermeesters wat dit verander het in formules en strategië. Sommige Christene trek letterlik gevegsklere en skoene aan om soos “gebedskrygsmanne” te lyk. Ander woon gebedsbyeenkomste by waar hulle “gebedsboekies” kry waarin hulle vertel word hoe om die ure wat hulle daar spandeer, moet vul.
Ek veroordeel geensins enigiets hiervan nie. Maar ek wil graag vir jou die tipe gebed wys wat die Here die meeste behaag. Eintlik is die gebed wat God die meeste behaag baie eenvoudig en maklik om te verstaan. Dit is so eenvoudig, dat selfs ‘n kindjie kan bid op ‘n manier wat Hom behaag.
Laat my begin deur te sê, ek glo meeste Christene wil bid. Op ‘n stadium in ons wandel met die Here, het ons almal met ‘n soort konsekwentheid gebid. Maar na ‘n ruk, hou baie gelowiges op om te bid. En nou voel hulle skuldig oor hulle biddeloosheid.
Die dissipels het vir Jesus gevra: “...Here, leer ons bid...” (Lukas 11:1). Hulle sou nie vra tensy hulle wou leer nie. En ek glo dat meeste van hulle wat hierdie boodskap lees, graag getrou in gebed wil wees – maar hulle weet nie hoe nie. Die probleem is dat hulle eenvoudig nie die doel van gebed verstaan nie. En totdat hulle die lewensbelangrike doel van gebed verstaan, sal hulle nooit in staat wees om ‘n vervulde, betekenisvolle gebedslewe te handhaaf nie.
Baie Christene bid slegs uit ‘n gevoel van verpligting. Hulle dink aan gebed as iets wat hulle “veronderstel” is om te doen. Hulle sê aan hulleself, “Ander rondom my is altyd aan die bid. En die dominee of pastoor is altyd besig om ons aan te moedig om te bid. Daarby, roep die Bybel ons tot gebed. So, ek moet bid. Dit is net die Christelike ding om te doen.
Ander bid slegs wanneer tragedie toeslaan of wanneer ‘n krisis oor hulle pad kom. En hulle bid nie weer totdat die volgende probleem opduik nie.
Geliefde, die kerk sal nooit die belangrikheid van gebed verstaan totdat ons een fundamentele waarheid verstaan nie:
Tensy hierdie twee elemente saamgaan, het ons nie ‘n fondasie waarop ons ons gebedslewe kan bou nie. Gebed is nie net vir ons eie voordeel nie – maar vir die vreugde van ons God! Ons is nie veronderstel om net in te tree vir dinge wat ons nodig het nie, maar om te vra vir dinge wat Hom behaag.
Christene kan baie selfgesentreerd en selfsugtig wees wanneer dit by gebed kom. Dikwels gaan ons na die Here net om ons laste en probleme op Hom te laai – om krag te kry vir die volgende stryd. Natuurlik is dit Skriftuurlik; ons word genooi om met vrymoedigheid na God se troon van genade te gaan in ons uur van nood. Hy het gesê dat ons al ons sorge op Hom moet laai.
Maar so ‘n gebed is nie volledig afgehandel nie – dit is nie die gebed wat die Here die blyste maak nie – as ons nie die Here se behoefte verstaan nie! Waar ons verligting en hulp van die Here soek, soek Hy vriendskap met ons – intimiteit en gemeenskap.
Ons hoofdoel in gebed behoort altyd te wees om gemeenskap met die Here te hê. Na alles het Hy reeds voorsiening gemaak vir ons elke daaglikse behoefte:
“...Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie... Kyk na die voëls van die hemel... tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?
“...want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie...” (Matthéüs 6:25-26,32-34). “...want julle Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Matthéüs 6:8).
God sê aan ons: “Wanneer jy in My teenwoordigheid kom, fokus jou aandag daarop om gemeenskap met My te hê – om My te leer ken. Moenie toelaat dat jou fokus op materiële dinge is nie. Ek weet wat jy nodig het. Jy hoef eintlik nie eers te vra nie – Ek sal vir alles sorg! Soek My net. Laat ons soete gemeenskap hou!”
Tog, hoeveel van ons gebedstyd spandeer ons om God te vra vir ‘n beter werk, ‘n beter huis, voedsel, klere en ander noodsaaklikhede? As meeste Christene sulke versoeke van hulle gebedstyd aftrek, sal daar min of geen bedes oor wees nie!
Miskien is gebed vir jou ‘n las. Dalk bid jy meestal uit ‘n gevoel van plig? Is gebed vir jou vervelend? Is dit meer ‘n plig as ‘n plesier?
So min Christene gaan God se teenwoordigheid in met blydskap en net vir die plesier van Sy gemeenskap. Sommige dink daaraan net as “werk” – inspanning, moeite. Tog, as ons met ‘n dierbare geliefde kommunikeer hier op aarde, dink ons daaraan as werk? Nee – dit is ‘n plesier vir ons almal! As jy dink dat jy gelukkig getroud is, dink jy nie aan intieme tye met jou gade as “werk” nie.
Hoeveel huwelike is nie al vernietig deur ‘n maat wat gedink het intimiteit is net ‘n plig nie? Daar is ‘n generasie van ouer Christen vroue wat hulle dogters geleer het dat intimiteit met jou man net ‘n moeilike, swaar plig is. Hulle het dit beskou as ‘n werk, ‘n verpligting, met geen vreugde daarin nie.
Tog, Christus vergelyk Sy verhouding met Sy mense met dié van ‘n man en vrou – en die Bybel sê dat Jesus Hom in ons verbly! In werklikheid, ‘n man se genieting van intimiteit is nie net die bevrediging van sy eie behoeftes nie. Nee – sy werklike plesier is daarin dat hy weet dat sy vrou dit ook geniet. In sy hart sê hy, “Sy wil regtig by my wees. Ek is eerste in haar hart – ek alles vir haar!”
Sy is nie traag om intiem met hom te wees nie. Sy sien dit nie as ‘n plig of verpligting nie. Sy verbly haar eerder in hom. En wanneer hy na haar uitreik, dan reageer sy deur terug na hom toe uit te reik. Hulle verlustig hulle ewe in mekaar.
Ons weet dat die Here Hom in Sy mense verbly. Die Bybel vertel vir ons: “Hoe mooi en hoe lieflik is u, o liefde, onder al die genietinge!” (Hooglied 7:6). En Dawid sê, “...Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het...” (Psalm 18:20). Kan jy jou verbeel dat die Here uitbundig in sy liefde vir Sy kinders is? Dit is die prentjie wat die Skrif vir ons gee. Ons God verbly Hom in ons!
Verbly ons ons egter in Hom? Die Bybel vertel vir ons dat die Here ons blydskap moet wees: “En verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Psalm 37:4). “...Ek het verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte....” (Hooglied 2:3).
Om jouself in die Here te verlustig beteken nie net om bloot gelukkig in Sy teenwoordigheid te wees nie. Ek het die Here gevra wat die uitdrukking “verlustig” beteken. Hy het geantwoord:
“David, om jouself in My te verlustig, beteken net om te sê: 'Ek wil liewer saam met Jesus wees as saam met enigiemand anders op die aarde! Ek verkies Sy gemeenskap meer as die van my gade, my familie, my vriende. Ek verkies Hom bo alle glanspersoonlikhede, wêreldleiers, bekende persone, selfs groot manne en vroue van God. Ek sal liewer tyd spandeer saam met Hom as met enigiemand anders. Hy is my blydskap!'
“Dit beteken ook om te kan sê, ‘Ek verlang om saam met Hom opgesluit te wees – want Hy is die enigste Een wat my kan bevredig. Alle ander laat my leeg en onvervuld. Niemand behalwe Jesus kan my diepste behoeftes vervul nie. En ek hardloop na Hom so dikwels as wat ek kan!'”
Inderdaad, Jesus wag vir ons met elke hulpbron – alles wat ons nodig het vir troos, krag en sterkte. Maar ons sit dikwels en tob in Sy teenwoordigheid, of ons gaan bel gou-gou ‘n vriend om hulp te probeer kry. Kan jy jouself indink wat dit aan Sy hart moet doen?
Ons “verlustiging” is iets wat die Here in ons herken. Hy weet wanneer ons na Sy teenwoordigheid getrek word. As ons onsself waarlik in Hom verlustig, dan sal alles wat ons weerhou om na Hom te kom, ons pla. Ons sal eensaam word en siek van verlange na Hom wees, met die wete dat niemand daardie plek in ons hart kan aanraak en vul soos Hy nie. Geen gebed kan Hom ten volle behaag nie, tensy Hy verseker is dat ons na Hom toe kom en Hom eerste kies. Hy wil dit bo alles weet!
Hou in gedagte my definisie van “verlustiging in die Here” – dit is, om Hom bo alle ander te kies. Dit gee nuwe betekenis aan ons tye van hartseer, terneergedruktheid, swaarmoedigheid en verwarring. Na wie toe hardloop ons in sulke tye? Wie se vriendskap verkies ons dan?
Hanna is ‘n voorbeeld van ‘n vrou wat daagliks in die Here se teenwoordigheid gekom het. Sy het hartseer na die tempel gekom – wenend, met ‘n diep bedroefde gees. “En bitter bedroef het sy tot die Here gebid en bitterlik geween” (1 Samuel 1:10).
Hanna het haar man met ‘n ander vrou gedeel, Pennina, wat verskeie kinders gebaar het. Hanna het egter onvrugbaar gebly, en Pennina het haar geteister en geterg, dag en nag. Die Skrif sê hierdie vrou het “haar ook bitterlik geterg” (1 Samuel 1:6) en het haar lewe hel gemaak.
Hanna was egter baie geliefd by haar man. Maar selfs hy kon haar nie meer troos of haar smart verlig nie. Hy het vir haar gesê, “Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie?” (1 Samuel 1:8). Tog moes Hanna gedink het, “Jy verstaan nie. Ek het ‘n behoefte wat jy nie kan vervul nie!”
So het Hanna voor die altaar gestaan en huil, beswaard, met ‘n diep gesug in haar gees. Sy het aan Eli getuig: “...ek is ‘n vrou beswaard in my gemoed...ek het my siel voor die aangesig van die Here uitgestort... want vanweë my baie sorge en verdriet het ek tot nou toe gespreek” (1 Samuel 1:15-16).
Hanna was nie bang om met haar droefheid in die teenwoordigheid van die Here te kom nie. In der waarheid, in haar droefheid, het sy Sy teenwoordigheid gekies. Tog sal baie gelowiges vandag eenvoudig net nie in God se teenwoordigheid inkom nie, omdat hulle hartseer, swaarmoedig, wenend, gebroke en deur beproewing gaan. Hulle sê eintlik, “Ek wil God nie aanstoot gee deur op hierdie manier na Hom te kom nie. Ek wil wag tot ek gelukkig en vreugdevol is voor ek in Sy teenwoordigheid kom.”
Ons is gewoond daaraan om gesamentlik voor God te kom met handeklap, lofprysing en vreugdevolle aanbidding. Maar hierdie storie van Hanna maak dit duidelik dat ons na Hom kan kom in selfs ons hartseerste oomblikke. En, terwyl Hanna intiem met God in gebed was, het Hy tot haar hart gespreek: “Die vrou het toe daar weggegaan, en sy het geëet en haar aangesig was anders” (1 Samuel 1:18).
Die paragraaf vertel vir ons: “Moenie vir die Here wegkruip nie. Moenie na enige ander plek hardloop nie. Hardloop reguit in Sy teenwoordigheid in en huil alles voor Hom uit! Vertel vir Hom van alles waardeur jy gaan. Gee vir Hom al jou hartseer.”
Tog is ons geneig om vir die Here weg te kruip in ons hartseer oomblikke. Ek het onlangs aan ‘n onverklaarbare hartseer gelei. Daar was geen werklike rede daarvoor nie; dit was net een van daardie moeilike tye wat ek nie kan verstaan nie. Daardie oggend het ek gehuiwer om te gaan bid, terwyl ek gedink het, “Ek sal tot vanaand toe wag. Dan sal ek oukei wees. Ek kan dan my tyd met die Here hê.”
Maar die Heilige Gees het my gelei na die boek van Nehemia. Terwyl ek hoofstuk 2 gelees het, het ek iets gesien wat ek nog nie tevore gesien het nie. Hierdie hoofstuk bevat ‘n bemoedigende storie vir almal wat na die Here kom met ‘n swaarmoedige hart.
Nehemia was ‘n skinker van koning Artasásta. Hy het die wyn geproe voor dit voor die koning se tafel gebring is om seker te maak dat dit nie vergiftig is nie. Met verloop van tyd, het Nehemia ‘n betroubare dienaar van die koning geword.
Op daardie oomblik het Nehemia ‘n verslag van sy broer, Hanani, gekry, wat laat weet het dat Jerusalem in puin was. Die bevolking was afgemaai, die mense was in ‘n verskriklike toestand en dit het daagliks vererger. Dit het Nehemia se hart gebreek. Hy het Juda en Jerusalem liefgehad – en ‘n droefheid en hartseer het hom aangegryp. Die Skrif sê:
“Toe daar wyn voor hom was, het ek die wyn opgehef en aan die koning gegee; en omdat ek nooit voor hom bedroef was nie, het die koning my gevra: Waarom is jou aangesig so bedroef; is jy tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie. En ek het baie bevrees geword... (Nehemia 2:1-2).
Jy moet verstaan – mense was verbied om in die koning se teenwoordigheid te kom met hartseer, veral as hulle hofdienaars was. Nehemia het geweet dat dit sy lewe kon kos, en hy was verskriklik bang.
Maar die koning was ontroer met medelye toe hy die droefheid van Nehemia gesien het. Die Skrif vertel ons dat hy sy swaarmoedige dienaar verlof gegee het. Hy het hom ook ‘n kredietbrief gegee waarin hy die koninklike skatkis tot sy beskikking gestel het. Toe het Nehemia van die koning die begeerte van sy hart ontvang – verlof om na Jerusalem te gaan en die tempel en stadsmure te herbou!
Dit is my punt: As dit vir Nehemia moontlik was om in die teenwoordigheid van ‘n heidense koning met ‘n hartseer, droewige gelaat te kon kom en tog, bokant sy verwagting, guns, medelye en seëninge te kon verkry – hoeveel te meer sal Koning Jesus nie ook medelye met ons, Sy kinders, hê in ons droefheid en ons laste verlig en in ons behoeftes voorsien nie? Sou ‘n heidense koning meer genade bewys aan ‘n swaarmoedige dienaar as ons mees barmhartige Verlosser en Koning?
Miskien is jy op hierdie punt verseker dat jy die Here liefhet en jouself in Hom verlustig. Jy het geleer om na Hom te hardloop, net om samesyn met Hom te geniet. En in jou wonderlike tye saam met Hom, het Hy al jou laste afgelig en vrede, vreugde en versekering van Sy liefde in jou siel uitgestort.
Maar is dit die einddoel van gebed? Is dit om ons in ekstase te laat – om ons van rus en vrede te voorsien? Nee! Dit gaan oor veel meer as net om op ‘n manier te bid wat God behaag.
Om “deur te bid” is ‘n term wat deur die vroeë Pinkster beweging gebruik is. Vir sommige mag dit eenvoudig beteken om op jou knieë te bly totdat jy verseker was dat jy ‘n antwoord van God gekry het. Vir ander beteken dit om aanhoudend terug te gaan na God totdat jy die antwoord het. (Dit was ook “volhard in gebed” genoem).
As ‘n jong seun in daardie vroeë kampvergaderings, het ek mense hoor getuig, “Ek gaan die horings van die altaar vasgryp – en ek gaan nie los totdat God die antwoord gegee het nie!” Tog glo ek nie dat dit die ware betekenis van “deurbid” is nie.
Jy kan saam met die Here op die Berg van Verheerliking opgesluit wees en jou in Sy teenwoordigheid verlustig. Jy kan kwaliteit tyd, ure of selfs dae, met Hom spandeer, en soete gemeenskap met Hom geniet. Jy kan al jou behoeftes vervul hê. Jy kan totaal tevrede wees. Sy teenwoordigheid kan jou genees, jou oplig, jou bemagtig, jou versterk.
Maar wat gebeur wanneer jy daardie heilige plek van soete gemeenskap verlaat? Jy mag dalk van jou knieë af opstaan na ‘n verpletterende situasie wat nie verander het nie. Jy kan die duiwel vir jou daar sien wag, hy, wat gereed staan om jou toe te gooi met dieselfde probleme en leegheid. Ek vra jou: Watter doel dien dit om die heerlikheid op die berg te kry, as dit jou nie deur jou stryd kan dra nie?
Laat ek verduidelik wat ek glo wat bedoel word met “deurbid.” Die woord beteken eenvoudig dit: Die krag en sterkte en bemoediging wat jy van die Here ontvang terwyl jy met Hom opgesluit is, moet jou dra deur die beproewings wat voorlê! Die oorwinning wat jy in jou gebedskamer het, moet jou die oorwinning op die slagveld gee.
Dink daaraan: Wat presies het jy uit jou gebedstyd gekry as dit nie iets was, wat jou deur jou stryd kon dra nie? Was joune ‘n “afgehandelde” gebed? Jy sien, “om deur te bid” beteken om te wag vir die afhandeling van jou gebed – dit is, vir volledige afhandeling. Baie Christene sien slegs half-beantwoorde versoeke – omdat hulle nie toelaat dat dit wat hulle van die Here in gebed ontvang, hulle deur hulle beproewing dra nie. Inderdaad, baie opregte gebede word vermors, gekanselleer, verloor – omdat hulle nie op hierdie manier “deurgevoer” word nie.
Hoeveel van ons het na die Here in gebed gegaan, die laste van ons harte by Hom afgegooi - en daarna word ons uit die put getel, ons vreugde herstel, ons geloof versterk? Die eerste ding wat Hy in ons tyd saam met Hom vir ons sê, is “Moenie bang wees nie. Ek is met jou.” Hy kalmeer ons gees, terwyl Hy vir ons rus en vrede bring. En ons gaan uit Sy teenwoordigheid uit en ons voel sterk en gereed om die goeie stryd te stry.
Maar wat gebeur die volgende dag wanneer ‘n beproewing oor jou pad kom? Hoe reageer jy wanneer jou omstandighede begin om jou te oorweldig? Stort jy ineen na net ‘n klein rukkie?
Baie van ons raak moedeloos wanneer ons omstandighede nie na baie gebede verander nie. Ons glo God vir ‘n verandering – en inderdaad, baie keer bring Hy ‘n verandering teweeg. Maar in tye wat Hy dit nie doen nie, gaan ons dikwels van ‘n wonderlike bergtop ervaring reguit na ‘n slagveld – en ons faal klaaglik!
Geliefde, jou gebed is nie klaar nie – dit nie “’n volledig afgehandelde gebed” nie – nie totdat dit jou deursien na die anderkant van jou beproewing nie. Ons het dit nog nie “deurgebid” nie totdat ons dit “deurgeleef” het nie – dit beteken dat ons deur ons beproewing geleef het met die krag wat ons in God se teenwoordigheid vind.
God se doel is dat dit wat Hy ons in gebed gee, ons met alles sal toerus wat ons nodig het vir ons stryd. Hy wil vir ons iets kragtig gee, genoeg om ons deur te sien deur enige situasie – om ons bo die stryd op te tel!
Ek moet bely, dit is hier waar ek die meeste in gebed faal. Ek ken en geniet die ekstase van intimiteit met my Here; Hy het my vreugde geword. Ek weet wat dit is om na Hom toe te hardloop met swaarmoedigheid, hartseer, trane wat vloei – en om Sy wonderlike aanraking te voel, en hoe dit my met vrede en verligting vul. Maar wanneer ek die volgende beproewing of krisis in die gesig staar, dan is dit of al my vrede en vreugde verdamp. Ek ontdek dat ek nog nie deurgebid het nie!
Het dit al ooit met jou gebeur? Miskien het jy kerk toe gegaan en was geseënd, terwyl jy uit die heiligdom gekom het met ‘n gevoel van krag en salwing. Tog, wanneer jy by die huis kom, raak jy in ‘n argument betrokke met jou gade. Dan gaan jy Maandag werk toe en alles loop verkeerd. Op daardie oomblik, waar is die vreugde, die vrede en rus wat jy van die Here ontvang het toe jy kort gelede in Sy teenwoordigheid was? Jou gebed is nog nie deurgebid nie.
Êrens tussen die heerlikheid en die krisis, verloor ons alles wat ons tydens ons intimiteit met die Here gekry het. So, hoe kan ons dit behou? Wat kan ons doen om ons gebed deur te sien tot ‘n triomfantlike einde?
Ek het aanhoudend hieroor gebid omdat daar oral so baie Christene is wat werklik seer het. Ons bediening ontvang tussend 30,000 en 40,000 briewe per maand van ons lesers – en ek het nog nooit van soveel pyn gehoor as wat ek in daardie briewe lees nie.
Baie Christene vergaan van eensaamheid, wat so erg is dat hulle hulleself nie deur die dag kan kry nie. Ander lei aan allerhande huweliks en familie probleme. Pastore en dominees is hartseer oor al die seer mense in hulle gemeentes.
As ek van sulke hartseer lees, dat moet ek tot God uitroep, “Vader, ek kan nie ‘n boodskap skryf wat tot hulle las sal bydra nie. Asseblief, Here, wat moet ek sê?”
Die antwoord wat ek ontvang het, is die boodskap wat ek vandag vir jou skryf: Die Here wil hê dat jy iets uit jou intieme tyd met Hom sal kry – om krag en gesag te hê wat jou deur jou beproewings sal dra. Hy wil hê jy moet jou probleme heeltemal deurbid.
“Maar hoe?” vra jy. “Hoe kan ek die oorwinning wat ek in my gebedstyd met Hom kry, deurdra tot aan die anderkant van die stryd?”
Daar is twee dinge wat ons moet doen om ons beproewing deur te bid:
Die meeste Christene luister nie na God nie. Hulle gaan na Hom toe net om te praat! Tog, die Skrif openbaar aan ons dat enige persoon wat ooit deur God gebruik is, geleer het om in Sy teenwoordigheid te bly totdat hulle van Hom gehoor het.
Die Skrif maak dit duidelik dat die Here met elkeen van ons wil praat: “En jou ore sal ‘n woord agter jou hoor sê: Dit is die weg, wandel daarop! Wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21).
Ek het gehoor van ‘n klein dogtertjie wat besig was om aan leukemia te sterf. Terwyl sy nader aan die dood gekom het, het sy gesukkel met die gedagte van sterf. Tog, een oggend toe haar ma in haar kamer kom, het die dogtertjie van blydskap gestraal. “Wat het met jou gebeur?” het haar ma gevra.
Die dogtertjie het geantwoord, “’n Engel het na my gekom en my vertel dat ek op reis gaan. God het gekom en my hand gevat en saam met my deur ‘n pragtige tuin geloop. Hy het vir my gesê, ‘Jy kom môre hiernatoe om saam met My te wees.’”
God het met daardie kindjie gepraat – en het al die pyn en vrees van haar hart weggeneem! Toe sy die volgende dag gegaan het om saam met Hom te wees, het sy totale vrede gehad.
Sê vir my – wanneer jy intiem met Jesus is, wil jy graag sulke leiding van Hom kry? Vertel Hy vir jou wat om te doen en hoe om dit te doen? Sommige Christene glo nie dat God sulke dinge doen nie. Maar Jesus sê, “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Johannes 10:27).
Daar is geen ander pad deur jou beproewing nie, as om alleen by Jesus uit te kom en te roep, “Here, U is die enigste Een op hierdie aarde wat my kan help. Net U ken die pad deur hierdie beproewing. So, ek gaan hier bly totdat U vir my sê wat om te doen. Ek gaan nêrens nie, totdat U tot my hart spreek!”
Dit is die tipe “deurbid’ wat God behaag! Dit beteken om alles te stop, alle aktiwiteite, totdat jy Sy stem gehoor het. Net dan sal jy Hom duidelik in jou hart hoor praat: “Jy moet dinge regmaak met hierdie persoon...” Of, “Jy moet hier restitusie doen...”Of, “Staan net stil tot volgende week. Moenie haastig wees nie. Sit in My teenwoordigheid en vertrou My...” Hy sal jou duidelike leiding gee!
Tog is daar iets meer nodig om ons gebede deur te sien deur die komende beproewinge – om ons gebede volledig af te handel:
Christus is die Lewende Woord van God. En wanneer jy met hom in gebed opgesluit is, sal die Heilige Gees jou altyd lei na God se geopenbaarde Woord. Hy sal jou geloof opbou deur jou te voed uit die Bybel – selfs as jy in jou binnekamer is! Ons word beveel:
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel... Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly... en neem... die swaard van die Gees – dit is die woord van God” (Efésiërs 6:11, 13, 17).
Dikwels wanneer jy spesifieke instruksies van die Here ontvang, sal Sy Gees fluister, “Gaan nou na...,” wat jou lei na ‘n gedeelte in die Skrif. God se Woord sal direk met jou spreek en jou vertel hoe om deur jou krisis te kom!
Op hierdie oomblik, is daar baie Christene wat hierdie boodskap lees en eenvoudig net ‘n woord van die Here moet ontvang. Niemand op aarde kan hulle help nie. Daar is maar net een manier vir hulle om deur hulle beproewing te kom – en dit is om in Christus se teenwoordigheid te bly, totdat Hy hulle leiding gee! Hy moet hulle die pad daardeur wys – wat om te doen, en wanneer en hoe om op te tree. Sy eksklusiewe leiding sal nie een minuut te vroeg of te laat vir hulle kom nie. Dit sal alles binne Heilige Gees se tydsberekening wees!
Liewe heilige, dit is nie vir jou nodig om oor jou beproewing bekommerd te wees nie. God is getrou om op elkeen van jou behoeftes en versoeke te reageer. So, as jy nou in gebed gaan, bid net, “Here, ek kom nou na U toe, nie net om my eie behoeftes te vervul nie, behoeftes wat U reeds ken en graag wil vervul. Nee – ek kom om U behoefte te vervul!”
Ons is gemaak vir gemeenskap met Hom – selfs in jou moeilikste tye. Ek vra jou: Hou jy daarvan om by Hom te wees? Kies jy Hom bo alle ander? Roep jou hart uit, “Jesus, U is my alles. U is my siel se grootste vreugde – en ek hou van U geselskap!”
God, plaas in almal van ons ‘n hart wat maklik deur U teenwoordigheid bekoor word. Help ons om deur ons beproewings te bid totdat dit volledig afgehandel is... om te luister na U Gees tydens ons geheime tyd van gemeenskap met U... en om al ons vertroue in U geopenbaarde Woord te plaas. Op hierdie manier, kan ons weet dat ons gebede U behaag. Amen!