Gebrokenheid

Dawid het dikwels oor gebrokenheid in sy Psalms geskryf. Hy het geskryf van God se nabyheid aan hulle wat gebroke is: “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:1). “Hulle roep, en die Here hoor, en Hy red hulle uit al hulle benoudhede” (Psalm 34:18).

God het ook deur sy profeet Jesaja gespreek om sy liefde vir almal wat gebroke van gees is, uit te druk: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die helige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jesaja 57:15).

Watter ongelooflike beloftes het ons Here nie gegee aan hulle wat gebroke van gees is nie. Hy belowe om naby almal te wees wat gebroke is en om hulle harte te laat herleef.

Beide die Psalmdigter en Jesaja praat profeties van ‘n gebrokenheid wat dui op Jesus se dood en opstanding.

Daar is ‘n fisiese gebrokenheid wat die gevolg is van menslike wanhoop. Ek praat van rousmart, emosionele pyn en angs wat kom van fisiese verdrukkinge. Tog, die gebrokenheid waarvan Jesaja en die Psalmdigter praat, verwys na iets anders as menslike wanhoop. Hulle praat van geestelike gebrokenheid.

Die ware beeld van geestelike gebrokenheid vind ons in Lukas 19. In hierdie gedeelte ry Jesus op ‘n donkie in Jerusalem in:

“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek” (Lukas 19:41-42).

Die Evangelies wys net ‘n paar kere waar Jesus gehuil het. Eenkeer was dit by Lasarus se graf. In daardie gedeelte, is die vertaling dat Jesus “sag geween het.” Maar hier in Lukas 19, terwyl Jesus in Jerusalem ingery het, het die Griekse vertaling bedoel, “HARDOP GEHUIL.”

Jesus gee ons die rede waarom hy sulke smartlike trane gestort het: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie!” (Lukas 13:34).

Dit was die bron van Jesus se smart. Ons het geleer Christus “het na sy eie gekom en hulle het Hom nie aangeneem nie.” Jesus het gehuil, “As jy tog maar net die dinge wat Ek vir julle gesê het, aanvaar het! Dan sou dit vir julle my vrede, seën, hoop en betekenis in julle lewens gebring het.”

As Christene weet ons dat Jesus die enigste hoop van die wêreld is.

Elke gelowige weet dat ons Een het na wie ons kan gaan. Ons het ‘n bron om na te gaan vir krag en troos, omdat ons glo dat Jesus is wie Hy sê Hy is. Paulus praat van hierdie hoop wanneer hy skryf:

“Daarom onthou... dat julle in die tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap  van Israel en vreemdeling ten aansien van die vervonde van die belofte, SONDER HOOP en sonder God in die wêreld. Maar nou... het julle... naby gekom deur die bloed van Christus. WANT HY IS ONS VREDE” (Efésiërs 2:11-14, hoofletters myne).

Die outeur van Hebreërs voeg by, “Ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is” (Hebreërs 6:18-19).

Hier is die verskil tussen ons, wat ons toevlug in Christus gevind het en die menigtes wat verlore is: Hulle het hulle redding verwerp. Vir baie mense vandag is die waarheid van Jesus se dood aan die kruis en sy opstanding net ‘n fabel.

Net soos die profete gewaarsku het, het hulle gehoor en Hom verwerp en het hulle na hulle eie weë gedraai. Hulle is verlore, sonder hoop – en wat ‘n tragiese verlies is dit nie.

Hierdie tragedie begin met dit wat die menigtes verloor het.

Die verlore generasie vandag is soos die menigte in Jerusalem waaroor Jesus geween het. Die mense in Christus se dae het verloor wat Hy aan hulle wou gee.

Hulle het ware vryheid gemis. Hulle het die vrede wat van die versekering kom dat alle sondes  vergewe is, verloor. Hulle het die genesende aanraking van Jesus verloor. Hulle het ‘n skuilplek teen die storm verloor. Hulle het die inwoning, troos en leiding van die Heilige Gees, gemis.

Dit was oor hierdie verlore massas wat Jesus gehuil het en uitgeroep het, “As jy tog maar! As jy tog maar net geweet het wat Ek vir jou lewe wou hê. As jy tog maar net wou neem wat ek vir jou gebied het. Ek wou jou beskerm, my vlerke oor jou uitsprei en jou troos. As jy tog maar net geluister het. As jy tog net geweet het van my liefde en genade vir jou.”

“Maar nou is dit vir jou oë bedek... omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Lukas 19:42,44).

Wat het Jesus gesê aan dié wat Hom verwerp het? “Want die poort is nou en die pad is smal wat na die verderf lei, en daar is min wat dit vind... want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” (Matthéüs 7:14,13).

Die menigte in Jesus se tyd het sy offer verwerp. En vandag word Sy offer steeds verwerp. Tog is dit steeds die dag van besoeking vir die huidige geslag. Van hoeveel menigtes sal Jesus sê, “As jy tog maar”?

Presies wat het Jesus gesien, wat sy hart gebreek het en Hom laat ween het?

Christus het gekyk na die menigte van Jode en Heidene, wat desperaat was om God deur rituele te probeer behaag. Hy het massas mense gesien wat uitgeput, swaarmoedig en desperaat was oor hulle pogings om God te behaag. Hulle was so opreg terwyl hulle deur hulle opgelegde rituele gegaan het. Tog het dit net hulle laste vermeerder. Die Jode het self 613 wette en rituele gehad om te onderhou. En die Heidene het baie meer gode gehad om te probeer paai.

Dink daaraan hoe diep Jesus gegrief moes gewees het toe Hy hierdie dinge gesien het. Hy het drie jaar lank gespandeer om vir die skares deur die land te preek, “Ek is die Weg, die enigste Weg na die Vader. Ek is die Opstanding en die Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.”

Hy het die menigtes in en uit die sinagoges en tempels sien stroom. En in Sy profetiese oog, het Hy dit nie net in Jerusalem gesien nie, maar deur die hele wye wêreld deur die eeue heen.

Inderdaad, wat Jesus sien gebeur het, gebeur steeds op hierdie oomblik. Miljoene wêreldwyd bring offers vir hulle gode met die hoop dat hulle hul wraak sal vryspring elke dag. Sommiges martel hulle eie liggame as ‘n offer tot hulle gode. Op enige gegewe tydstip, word duisende gebede en liedere opgestuur in desperate pogings om hoop te vind.

Ek sien dikwels buitelanders tydens my gebedswandelings deur Time Square.

Elke keer as ek so ‘n wandeling onderneem, sien ek skares toeriste van rondom die wêreld. Besoekers van Indië kom hier aan uit ‘n land met oor ‘n miljoen gode. Besoekers van Sjina en Japan verteenwoordig nasies met miljoene meer gode.

Die grootste gros van hierdie mense soek almal na dieselfde ding: versoening. Hulle is desperaat om ‘n manier te kry om hulle gode te paai, desperaat om een of ander offer te bring wat sal help dat hulle van die skuld van hulle sonde kan ontsnap. Die groot vraag waarna almal van hulle soek is, “Hoe kan ek vrede met my god kry?”

Terwyl Jesus rondom die tempel gekyk het, het Hy oral gesien hoe mense lammers of bokke of duiwe koop om te offer. Dit is toe dat ‘n groot hartseer Hom oorval het:

“En toe Hy naby die stad kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek” (Lukas 19:41-42).

Christus het bedoel, “As jy tog maar net geweet het watter voorsiening my Hemelse Vader vir jou gemaak het. Dan sou jy die vrede wat alle verstand te bowe gaan, ken.”

Die Bybel bied dieselfde uitroep, “As jy tog maar!” van voor tot agter.

As hulle tog maar net God se belofte aan Abraham geglo het. Elkeen van die drie hoof godsdienste in die wêreld—Christenskap, Judaïsme en Islam—beweer Abraham is die vader van hulle geloof. Tog, min mense binne hierdie godsdienste deel Abraham se geloof in God.

In gehoorsaamheid aan God, het Abraham sy seun, Isak, na die berg geneem om hom te offer. Langs die pad het Isak vir sy pa gevra, “Waar is die lam vir die brandoffer?” Abraham het in geloof geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir die brandoffer voorsien, my seun” (Genesis 22:8). En God het voorsien en Abraham gelei na ‘n ram wat in die bosse vasgevang was.

Abraham se geloof spreek baie duidelik tot ons vandag, net soos dit met Isak gepraat het: “As jy tog net op die uitkyk was en gesoek het, sou jy sien hoe God vir die brandoffer voorsien.”

As God se mense tog maar net die woorde van Johannes die Doper geglo het. Hier was een van hulle eie profete, wat hulle gerespekteer en vertrou het, en hy het van Jesus gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). Later het Johannes Jesus weer geïdentifiseer op hierdie manier: “en toe hy Jesus sien wandel, sê hy, ‘Dáár is die Lam van God!’” (Johannes 1:36).

God voorsien sy eie Lam vir ‘n offer: Jesus, sy enigste Seun. En toe Christus gekruisig is, begrawe en weer opgewek is uit die dode, het hy ons versoening geword, ons vrede. Jesus het gewillig ons sonde, skuld en skaamte op Hom geneem. Hy het gesterf en weer opgestaan om alle mense vry te maak.

“Omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees” (1 Petrus 1:1-21).

Petrus herinner ons aan die heerlike waarheid: “Christus is ons hoop!”

Jesus is opgewek as ons geregtigheid, ons enigste manier om God te behaag.

Die Vader het van Jesus gesê, “Dit is my geliefde Seun in Wie Ek ‘n welbehae het.” Die apostel Paulus herinner ons keer op keer hieraan in al sy sendbriewe dat Jesus Christus alleen ons geregtigheid is in God se oë.

“Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie, want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Romeine 3:21-24).

Paulus voeg dan by, “Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke: Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is, Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie” (Romeine 4:6-8).

Die apostel sê, “Hier is die geregtigheid deur geloof alleen: wat in Christus gevind word, nie deur my eie geregtigheid nie. My eie ‘geregtigheid’ is uit die wet. Maar die geregtigheid wat van Christus kom, kom op die basis van geloof.”

Ons kan aan die armes en behoeftiges gee, ons kan goeie dinge doen, ons kan eerbare gedagtes dink. En ons kan onsself oortuig dat hierdie goeie werke ons sal help in die Oordeelsdag. Dis nie so nie. Selfs as ons jare lank geleef het sonder om God se Woord in gedagte en in daad te oortree, sal dit vir ons geen voordeel inhou nie. “Nie deur werke wat ons doen nie... maar deur geloof in die bloed van Jesus.”

Ek sê dit nie ligtelik nie. Dit is verwoestend vir enige persoon om te hoor, “Jou goeie dade sal jou nie red nie.” Inderdaad, ons kan niemand hiervan oortuig nie. Sulke oortuiging benodig ‘n wonderwerk van God se genade; dit is ‘n werk wat deur die Heilige Gees gedoen moet word.

Hier is die offer wat ons moet maak volgens Dawid: “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:17).

Laastens, wat is gebrokenheid?

Gebrokenheid is om alle hoop te laat vaar om hemel op enige maatstaf van persoonlike goedheid te verkry. Dit is om alle vertroue in jou eie pogings neer te lê. Dit is om geheel en al te draai na die oorwinning van die Kruis van Christus en om te glo dat dit die enigste manier is. Laastens, dit is om Hom te vertrou dat Hy ons deur Sy Heilige Gees sal krag gee om te leef volgens Sy eis op ons lewens.

Dit is gebrokenheid, boetvaardigheid, nederigheid. En ons het sulke gebrokenheid nodig om in geloof te bly wandel: “Die Here is naby die wat gebroke is van hart en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19).

“Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jesaja 57:15).

Dit maak nie saak hoe ek voel nie, Christus is my geregtigheid. Dit maak nie saak hoeveel twyfel mag ontstaan nie, Christus is my geregtigheid. Dit maak nie saak hoeveel aanklagte ek deur die dag van die duiwel hoor nie, ek staan hierop: God sien my as regverdig in Christus!

“Maar op hierdie een sal ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Waar is die Lam van God nou? Hy is in die hemel en sit op die troon, Koning van die konings, Here van die here, Vredevors. Eendag sal al die godsdienste van die wêreld hulle knieë voor Jesus buig en erken dat Hy die Here is. “Elke knie sal buig, elke tong bely, Hy was—Hy is—die ewige Lam van God.” Kyk, daar is die Lam van God!

Afrikaans