GELIEFD SOOS JESUS GELIEFD WAS

David Wilkerson (1931-2011)

Die Heilige Gees het my gees in beroering gebring aangaande sy liefde en my gelei na hierdie gedeelte: “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid, en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (Judas 20-21).

Terwyl ek hierdie verse gelees het, het ek gehoor hoe die Gees saggies aan my gefluister het: “David, ek wil hê dat jy die volheid en vreugde van my liefde sal ervaar. Jy het die teologie reg, maar jy het nog nooit die ware rus in jou siel ervaar wanneer jy jouself in my liefde bewaar nie. Daar is ‘n hele oseaan van my liefde vir jou om in te swem.”

Die Bybel is vol waarhede oor God se liefde maar soms veroorloof ek myself om te wonder hoe God my ooit kan liefhê. Ek twyfel nie aan sy liefde nie, ek misluk net van my kant af om myself in die kennis en versekering van sy liefde vir my te bewaar.

Die liefde van God moet deur die Heilige Gees aan ons geopenbaar word en die openbaring van God se liefde kom gedeeltelik wanneer ons weergebore word. As jy vir die meeste Christene sou vra wat hulle weet van God se liefde vir hulle, sou hulle sê, “Ek weet God het my lief omdat Hy sy Seun gestuur het om vir my te sterf.” En hulle sal Johannes 3:16 aanhaal: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Maar die geheim om die liefde van God te verstaan, is die geheim van ‘n oorvloedige lewe. Menigte word geestelik koud en lui omdat hulle oningelig is oor die Vader se liefde vir hulle. Hulle verstaan nie dat hulle grootste wapen teen Satan se aanvalle juis is om ten volle bewus te wees van God se liefde.

In Jesus se gebed aan die Vader in Johannes 17, het Hy hierdie merkwaardige gebed gebid, “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in my...en dat die wêreld kan weet dat U...hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het” (Johannes 17:24).