GELOOF IN GOD SE KRAG ALLEEN

Jim Cymbala

Elke gelowige is waarskynlik bekend met die belangrike rol wat prediking en goeie lering speel om Christus se koninkryk uit te brei en ons te help om volwasse te word. Maar oor die afgelope paar jaar, het ek begin wonder of ons begrip van prediking meer deur ons lewenservaring gedefinieer word as deur die Bybel.

In die meeste kerke, staan ‘n bedienaar voor die gemeente en deel ‘n Skrifgedeelte mee, gewoonlik op ‘n opeenvolgende, logiese manier wat die betekenis van die gedeelte afbreek vir almal om te verstaan. As die boodskap Skrifgebaseer is en die spreker se kommunikasievaardighede van ‘n hoë kaliber is, sou ‘n mens dit gewoonlik definieer as ‘n “goeie preek.” Dieselfde kan toegepas word wanneer ons die Woord van aangesig tot aangesig met ‘n vriend of medewerker deel. Die aanbevole raad is om jou kop te gebruik, om so oortuigend te wees as wat jy kan, en te probeer om die persoon tot geloof in Jesus te bring.

Terwyl dit alles goed en wel is, wat verstaan ons van die apostel Paulus se beskrywing van sy metode van prediking? Terwyl hy die Korinthiese kerk herinner het aan sy agtien-maande bediening daar, het hy gesê: “En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God” (1 Korinthiërs 2:1-5).

Wat? ‘n Spreker wat nie vertrou op wyse en oortuigende woorde nie? Is dit nie die doel van die meeste van ons wanneer ons met ander deel nie? Maar dit was nooit deel van Paulus se strategie as ‘n prediker van die evangelie nie. Hy het geroem in die Gees se krag wat op hom gerus het. Waarom? Sodat die Christene in Korinthe hulle geloof “in God se krag” sou hê en nie in “menslike wysheid” nie.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.