Gemoedsrus – In Moeilike Tye

Jesus het gesê, “Julle moet nie ontsteld wees nie en julle moet nie bang wees nie” (Joh. 14:27). Maar die feit bly staan dat baie Christene besorgd is en in vrees lewe! Baie word in die geheim gepla met paniekerigheid en slaapelose nagte.

Jesus sê ook in dieselfde vers, “Vrede laat Ek julle na; my vrede gee Ek julle.” Tog kan min Christene sê dat hulle volgehoue gemoedsrus ervaar. Vir baie is dit ‘n geval van vrede wat kom en gaan en hulle rusteloos en gespanne laat.

Kyk wat profeteer Sagaria van die komende Messias. “Hy sou gee dat ons, gered uit die hand van die vyande, Hom onbevrees kan dien, in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe” (Lukas 1:73-75).

Geliefdes, dit is waarom Jesus na die aarde gekom het en vir die sondige mense gesterf het: sodat ons met God kan wandel sonder vrees, in sy vrede, al die dae van ons lewe!

Geen vrees … gemoedsrus … al die dae van ons lewe! Dit sluit in dae van lyding, verwarring, toetse en onsekerheid. Dit beteken sowel goeie as slegte dae. Maak nie saak wat gebeur nie, ons behoort ten alle tye vrede te hê.

Sagaria sê verder in verband met Jesus: “om lig te bring aan die wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van die vrede” (Lukas 1:79). Hy het gesê Jesus sal al sy kinders in die pad van vrede lei – nie in rusteloosheid, leegheid en vrees nie, maar in vrede!

Jesus is die Vredevors. Met sy geboorte het die engele gesing: “Vrede op aarde” – sy boodskap word genoem “vredesboodskap”. En Hy beloof oor Homself: “In My sal julle vrede vind” (Joh. 16:33).

Die hele Evangelie gaan oor vrede: “Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus” (Hand. 10:36). Op dieselfde manier het Paulus die aanvaarbare manier waarop gelowiges Christus moet volg, beskryf. Meet jou lewe aan wat Paulus sê:

“Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense geag. Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien” (Romeine 14:16-19).

In hierdie lewe sal ons moeilikhede , vervolging en vurige beproewinge ondervind – “van buite onenigheid van binne sorge” (2 Korinthiërs 7:5). Ons sal versoek word, ons sal ly vir Christus. Die winde van teenspoed sal die huis van die geloof, wat ons op die Rots van ons verlossing Jesus bou, probeer omstoot.

Tog moet ons Hom in regverdigheid dien – ten alle tye vol van die vrede en vreugde in die Heilige Gees. Paulus se gebed vir alle gelowiges was: “En mag Hy die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse! Mag die Here met julle almal wees” (2 Thessalonicense 3:16).

Dink daaraan – vrede in alle omstandighede. Nou vra ek jou: Het jy vrede in alle omstandighede? Is jy vol van algehele vrede, elke wakker oomblik?

Hier is ‘n definisie van vrede: innerlike tevredenheid, kalmte, erns, bedaard, geen onenigheid nie, rustig, met ‘n kalm, bedaarde gees. Ek hou daarvan om tussen Christene te wees wat so ‘n kalm gees het.

Jammer genoeg sien die wêreld nie gereeld hierdie kalmte in baie van ons nie. In tye van krisis, word baie gelowiges nie deur ‘n kalm, ongesteurde gees gelei nie. Te dikwels sien andere in ons, paniekerigheid, bekommernis, frustrasie

Tog is God se doel vir ons dat ons vreesloos, onbekommerd sal lewe! Ons weet dit, ons sê ons glo dit, en die Skrif bevestig dit – maar min van ons doen dit. So min is waarlik vry!

Hier is die Heer se verlange vir ons: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7).

Neem jy alles, in gebed na God? Ek bedoel alles? Dikwels het ek my daarop beroem dat ek na God gaan sonder om iets te vra, net alleen om Hom te bemin. Maar God nooi ons uit om al ons behoeftes aan Hom bekend te maak. Hy is bly as ons dit doen!

Die seën wat verskuil is in die feit dat jy jou behoeftes aan God bekend maak, bestaan nie daarin dat jou pyn skielik weg is, of dat jou probleme opgelos is nie. Nee, maar jy kom uit met vrede in jou hart, wat God gegee het.

As ons na ons binnekamer gaan en ons hart uitstort, met trane ons behoeftes bekend maak – ontvang ons vrede. Die siekte mag nog daar wees, maar ons het verander. Die stryd, die vrees, die angstigheid is weg.

Hoe bekom ons sulke gemoedsrus?

“Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het” (Efesiërs 2:14).

Ek weet van baie wat sê dat hulle vrede het, maar in sonde lewe. Hierdie mense sê: Ek het vrede, ek is nie bang nie, ek is rustig. Maar hulle vrede is nie ware vrede nie. Dit is ‘n wanbeeld, ‘n gevolg van ‘n sataniese leuen. Dit is ‘n valse vrede wat sal verdoem en verwoes!

In Deuteronomium 29:18-19 lees ons van mense wie se harte afgedwaal het … van die Here ons God na die gode van die nasies. Hierdie mense het ‘n wortel van kwaad in hulle harte laat groei – en die Heilige Gees het hulle gewaarsku. Vir hulle is gesê dat ‘n vloek op hulle sal rus, omdat hulle die Here verlaat het en teruggegaan het na hulle sondige, hardkoppige paaie. Dit was die waarskuwing:

“En onder die nasies sal jy geen rus hê nie, en vir jou voetsool sal daar geen rusplek wees nie; maar die Here sal jou daar ‘n bewende hart gee en smagtende oë en ‘n kwynende siel. En jou lewe sal voor jou aan ‘n draad hang, en jy sal nag en dag skrik en van jou lewe nie seker wees nie. In die môre sal jy sê: Ag, was dit maar aand? En in die aand sal jy sê: Ag, was dit maar môre! Vanweë die skrik van jou hart wat jou sal aangryp” (Deuteronomium 28:65-67).

Behalwe die vloek, word hierdie woorde aan hulle gerig: “… en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan, alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel” (Deuteronomium 29:19).

God sê sulke mense kan nie waarlik vrede hê nie – die vrede waarop hulle, hulle beroem is ‘n sinsbedrog. Die Bybel sê, “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op” (Jesaja 57:20-21). “Hulle maak hulle paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie” (Jesaja 59:8). Verder sê God se Woord dat dit onmoontlik is vir so iemand om vrede te hê want God sal rampe op hom afbring. (Deuteronomium 29:21).

Dit is een ding – wat die wêreld nie kan hanteer nie – rampe. Valse godsdienste kan rampe nie hanteer nie. Hulle ontken dit deur te vlug in ‘n wêreld van illusies. Hulle kan dit nie verwerk nie. Hulle word geleer om in ‘n kamer te gaan, te mediteer en hulleself oor te gaan aan “leegheid”. Maar sulke “vrede” hou net ‘n dag of twee voordat die bekommernisse hulle weer oorweldig.

In teenstelling, Jesus word juis deur sy Kerk verheerlik in tye van swaarkry. Dit is juis die tye waarin die Christendom uitstyg bo ander godsdienste – omdat Jesus elke krisis die hoof kan bied. En Hy gee aan ons oorvloedige vrede te midde van probleme.

Van die mees misleide mense op aarde is hulle wat aanspraak maak op vrede – sonder Christus. Hulle het ‘n valse sekuriteit. As jy vir ‘n man op straat vra, “Het jy vrede met God? Is jou hart gerus? Sal hy waarskynlik antwoord. “Ja, ek is nie wat jy ‘n Christen sal noem nie, maar ek het vrede. Ek is nie bang nie.”

Iemand anders sal sê, “O, ek het nou al vyftien jaar lank vrede.” Vra vir hom hoe hy daardie vrede gevind het, en hy sê: “Jare gelede was ek in allerlei gejaagdheid, maar iemand het my geleer om te mediteer. Ek gaan in ‘n kamer met my mantra, en ek begin dit herhaal. Ek begin myself onttrek uit die wêreld, en ‘n gees spoel oor my soos vars, koue water”.

As jy vra, “Maar wat is die bron van jou vrede? Hoe kan jy bewys dat dit eg is?”

Dan antwoord hy, “Ek kan nie vir jou sê waar dit vandaan kom of hoe ek dit kry nie. Al wat ek weet, is dat ek ‘n rustige kalm hart het. Ek voel gelukkig en tevrede. En as ek weer ontsteld raak, gaan ek in my kamer met my mantra en herhaal dit. Ek sluit alles uit.”

Amerika is tans vol van Oosterse leerstellings, almal van hulle spog daarmee dat hulle gemoedsrus gee. Hulle noem dit “nirvana”. Maar dit is hoegenaamd nie vrede nie. Dit is eintlik ‘n selfoorgawe aan leegheid. God gee nie so ‘n leegheid nie. In plaas daarvan gee Hy volheid. Hy gee vrede soos ‘n rivier – altyd oorvloedig, altyd vars, voortdurende vernuwing!

Iemand anders getuig, “Ek was op ‘n verkeerde pad. Ek het myself en my familie seergemaak. Ek het geweet ek moes verander, toe besluit ek om ‘n nuwe blaadjie om te slaan. Ek het opgehou rondhardloop, ek het my slegte gewoontes laat staan, en reg begin lewe. Ek is nie meer die persoon wat ek was nie. Ek het hard gewerk vir hierdie vrede. Ek dink God is tevrede met my.”

Maar die Bybel sê, “Aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie” (Romeine 3:20). Die volgende keer as hierdie persoon in sonde val, sal hy uitvind dat sy vrede weg is – dit was ‘n valse droom.

Vrede waarop die sondaar staatmaak is nie ware vrede nie, dit is gevoelloosheid! Dit is geestelike blindheid. Slegs geregtigheid kan vrede bring, niks anders nie. “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid” (Jesaja 32:17).

Jy mag sê, “Ek is nie sleg nie. Ek doen nie die dinge wat slegte mense doen nie.” Maar boosheid in God se oë is meer as wellus of alkoholisme of verdowingsverslaafdheid. In God se oë, is ‘n slegte mens een wat weet dat God die bron van alle vrede is – maar wat Hom en sy gawe verwerp. Slegtheid is om weerstand te bied teen Hom as die Vredevors.

Dit maak nie saak of jy volmaak voorkom nie. Jy drink of rook of bedrieg nie. Dit mag selfs lyk of jy elke goeie gawe het, wat ‘n mens kan hê. Maar as jy jou rug op Christus draai, is jy boos in die oë van God, want jy het die weg na saligheid verwerp. En God sê duidelik dat daar geen vrede vir so iemand sal wees nie.

“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Romeine 5:1).

Daar moet ‘n fondasie wees vir ons vrede – en die Skrif sê daardie fondasie is ons regverdigheid. Ons het vrede omdat Jesus Christus ons regverdig gemaak het, voor die Vader.

Te veel gelowiges het nog nooit ingegaan in hierdie groot vrede wat die Here beloof het nie. Geliefdes, ons wat glo is geregverdig – en dit is belangrik vir ons om te verstaan wat hierdie groot woord beteken, want dit is die geheim van ons vrede!

Daar is twee beginsels by regverdigmaking: Ten eerste sê dit, my sondes is weg gewas. Ek is vrygespreek daarvan deur die bloed van die Lam. Dit staan nie meer teen my nie, want Jesus het na die kruis gegaan vir my en daarvoor betaal.

Hierdie regverdigmaking deur die geloof is die rots, die fondasie van alle vrede met God. Om regverdig te maak beteken dat ‘n persoon skuldloos word – om bekend te maak dat sy skuld ten volle betaal is deur Christus, en dat God tevrede is. Jesus was “ter wille van ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word” (Romeine 4:25). Hy het opgestaan sodat ons van alle blaam, vir ons sonde, vry kan wees!

Maar om regverdig gemaak te wees, beteken baie meer as om net vergewe te wees. Jesus het my nie net van al my sonde bevry nie – Hy het my ook aanvaarbaar voor God gemaak deur sy offer. Dit is die tweede deel van regverdigmaking. Ek is onskuldig verklaar – en ek is ook heilig in God se oë gemaak!

Jy kan hard stry om die oorwinning te kry oor elke verslawende sonde. Jy kan volkome beheer kry oor elke slegte gewoonte, jou humeur beteuel of slegte gedagtes, en alle slegte praatjies. Jy kan foutloos wees. Tog kan jy op die verkeerde fondament bou – want jou vrede kan nie kom van wat jy doen of voel nie.

Daar was tye dat ek so ‘n soort lewe geleef het. Ek het in my hart geweet dat ek deur genade in die geloof gered is; ek het geweet my goeie werke kan my nie red nie. En tog het ek, soos baie ander, gedink dat God my moes seën ooreenkomstig my werke.

Ek sou deur die week gaan met die gedagte dat ek God se vrede net waardig is as ek niks verkeerd gedoen het nie. Ek sal terugkyk en dink, ek was vriendelik met my vrou … ek het gereeld gebid en die Woord gelees … en ek sal sê, “Dankie Vader, vir U vrede.” En ek sal Hom bly dank tot die volgende dag wat ek ‘n fout maak!

My vrede sou kom en gaan in ooreenstemming met my “goedheid” of “slegtheid”. Enige mislukking sou moedeloosheid en ‘n gebrek aan vrede ten gevolg gehad het.

Miskien ken jy hierdie stryd. Jy wil so graag die Here behaag – maar jy kyk te veel na wat jy doen en jy vergeet wat Hy reeds vir jou gedoen het. Jy sal vind dat jy jouself beoordeel vir wat jy doen met betrekking tot jou redding en jou vrede.

Jy dink dat as jy reg gebid het … vir ‘n paar uur Bybel gelees het … vir ander gehelp het … slegs dan kan God vir jou glimlag! Jy dink, “As ek net die vrees van die Here in my het, of die hongeriges voed, of ywerig is, of alle skyn van die kwaad vermy – dan kan ek vrede hê!”

Maar geliefdes, jy kan jouself nie regverdig nie. Jy kan eenvoudig nie die vrede van God deur Jesus Christus ken, as jy die fondament nie verstaan nie. En dit kom slegs deur te weet dat jy reg is met God deur die Bloed van Jesus, wat vir jou gestort is. Slegs vir daardie rede is jy “in Christus aanvaar.”

Ons moet hierdie vrede op ‘n nuwe manier najaag – deur in te gaan in die waarheid wat Christus vir ons gedoen het. Die Woord sê, “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kolossense 3:15). Jesus sal volhou om ons regverdig te maak – totdat ons Hom in die ewigheid ontmoet!

Tog moet ek byvoeg dat daar ‘n dodelike leerstelling vandag in Christelike kringe is. Dit gee aan gelowiges ‘n valse gerusstelling. Die leerstelling beweer dat ons geregverdig is in Christus, ongeag hoe ons lewe. Baie Christene doen vandag net wat hulle wil. Hulle bedrieg, hulle pleeg ontug, hulle leef roekeloos en doen sonde soos hulle wil. Hulle spog, “Dis geen probleem nie – ek is geregverdig voor God in Christus! Sy bloed bedek my sonde van alle verlede, hede en toekoms.”

Hierdie mense is mislei: Niemand kan geregverdig wees, as hy in rebellie en sonde leef nie. Ons word “geregverdig gemaak voor God in Christus” as ons eerlik ons sonde bely en ons voor Hom verneder.

Ja, Jesus het gekom vir ons regverdigmaking en Hy is ons regverdigheid. Maar vergifnis en regverdigmaking word vir hulle aangebied wat gekies het om uit die duisternis na die Lig te kom, van die mag van Satan na die mag van God. Hierdie dinge kom ons nie toe voordat ons, ons sondes bely het, en van ons verkeerde weë bekeer het en God geglo en gehoorsaam het nie.

Jesus het gekom “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die heiliges kan ontvang” (Hand 26:18). Geloof in Jesus het ‘n reinigende invloed in jou!

Waarom sou God jou na sy Troon genooi het, as Hy kwaad was vir jou? Jy mag jouself veroordeel omdat jy ‘n slegte dag gehad het, geval het of die Heilige Gees bedroef het. Wat moet ‘n mens dan doen? Jy moet na die Here toe hardloop! Jy moet sê: “Jesus my hart is berouvol, en ek weet dat U my ongeregtigheid kan wegneem.”

Die Vader het nie sy rug op jou gedraai nie. Te veel Christene lewe asof hulle glo Hy het. Hulle lewe die hele tyd in onsekerheid. Een dag glo hulle dat hulle gered is, die volgende dag betwyfel hulle dit.

Ek preek nie ewige sekerheid nie. Ek glo net in die ewige sekerheid van die ewige gelowige. Dit beteken, as jy getrou met die Here wandel, Hom met jou hele hart liefhet al die dae van jou lewe, dan is jy gered – al die dae van jou lewe!

Maar baie Christene is op-en-af, warm-en-koud. Jy weet nooit waar hulle staan nie. Hulle het nie hierdie fondament nie: “Ek is regverdig voor God, deur die Bloed van die Lam. En nie net is ek regverdig in sy oë nie, ek word, as heilig, deur die Vader aanvaar, ek het die reg om voor Hom te kom!

Dit is waaroor die verhaal van die Verlore Seun gaan. Hy was nie net vergewe en om die nek geval nie, maar hy het ook ‘n nuwe kleed gekry en ‘n ring vir sy vinger – en hy is ook genooi om aan sy vader se fees-maaltyd te kom aansit. Dit is ‘n ware beeld van regverdigmaking, - daar word nie van ons verwag om onsself in God se guns in te werk nie.

Satan staan op die oomblik voor God en hy beskuldig jou van allerlei sondes: ontrouheid, leuens, oneerlikheid en tetkortkominge. Hy het ‘n lang lys van alle verkeerde dinge wat jy gedoen het in die afgelope tyd. “Die aanklaer van ons medegelowiges … wat hulle dag en nag voor God aangekla het (Openbaring 12:10). Hy sê vir God, “Hoe kan daardie persoon gered wees as ek hom nou-net sulke dinge sien doen het? Ek wil geregtigheid hê! U kan nie ‘n regverdige God wees en hom met sulke dinge laat wegkom nie!”

En hy is reg in baie van sy aanklagte! Jy faal van tyd tot tyd. Jy skiet te kort aan die heerlikheid van God. Jy doen dinge anders as Christus. Jy leef nie volgens jou getuie nie.

Maar ons Regter is onbewoë, onbeïndruk. Ek kan hoor wat die Hemelse Vader vir Satan sê; “Ek het geen raad van jou nodig nie, vader van leuens! Jy mors jou tyd, jy het nie ‘n saak nie. Jy beskukldig iemand wat ek alreeds vrygespreek het. Gee pad!”

Ons hoef nie bang te wees vir ons regter nie. Hy is aan ons kant – Hy het al ons oortredinge vergewe: “Want U het al my sondes agter u rug gewerp” (Jesaja 38:17). “U sal hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:19). “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie” (Jesaja 43:25).

Ek sien die Koning van alle heerlikheid staan en Hy roep uit: “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak” (Romeine 8:33).

Baie van julle wat dit lees, leef sonder julle voorregte. Julle dra ‘n las van skuld en bekommernis wat julle nie hoef te dra nie. God wil hê julle moet weet hoe skoon julle naam in die hemel is – julle is gereed vir sy heerlikheid. Hy wil hê julle moet julle vrede nou reeds ervaar!

In 2 Petrus 3 sien ons waarskuwings van ‘n finale wêreldse smeltkroes, waarskynlik ‘n kern slagting. Daarin sal alles ontbind. Tog word van ons verwag om in hierdie dreigende, donker tyd gemoedsrus te behou:

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan … die elemente sal brand en versmelt … daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Petrus 3:11, 12-14).

Die dag wanneer ons voor Hom gaan staan sal ons na sy spyker wonde kyk – en dan sal ons besef wat sy versoeningsdood vir ons gedoen het, meer as wat ‘n leeftyd se boetedoening kon vermag. God wil hê ons moet daardie seën nou reeds ervaar of toe-eien. Hy wil hê ons moet in vrede leef – na Jesus se wonde kyk en kan sê: “Hy het vir my betaal, duiwel. Jy kan nie meer na my sonde kyk nie. Kyk na sy wonde, Hy pleit vir my. Ek is regverdig in God se oë.”

Onlangs het ek vir God gesê; “Here, ek gaan U vrede ten alle koste ervaar. Ek gaan nie toelaat dat die duiwel my weer belieg nie. Ek weet my redding is nie uit myself nie. Al huil ek ook ‘n dam vol trane, of al was ek ook perfek volgens die wet, sal ek nog verlore wees. Ek sou niks bereik het nie. Nee, Jesus – U betaal vir my. Ek rus in wat U gedoen het.

Kan jy dit in die geloof, op die oomblik, sê? “Here, ek gaan nie langer probeer om myself in U guns op te werk nie. Ek kom deur Christus. Hy stel U tevrede, Hy is sondeloos ek kom na U deur Hom, Jesus my Heer.”

As jy so glo, sien God jou nie meer nie – Hy sien Christus in jou Hy sien nie meer die “ou mens” nie, die een wat gesterwe het, toe jy ‘n “nuwe mens” in Christus geword het. Nee, God sien net een man: Christus. As Jesus in sy heerlikheid is, dan is ons ook – verlos, geregverdig en vry gemaak.

Is jy bekommerd? Prikkelbaar? Bang? Veroordeel jy jouself? As dit so is, hoef jy nie meer in skuld te leef nie. As jy jou sonde bely het en op die Bloed van Jesus vertrou, is jou sonde weg – uitgewis. Jy is regverdig.

“Daar is nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Romeine 8:1). God sê, “Ek gee nie vir julle vrees of veroordeling nie. Die duiwel bring dit. Raak daarvan ontslae deur geloof en sê, ‘Jesus, ek staan vrymoedig voor U, deur die Bloed van die Lam. Ek is gewas, skoon, en ek weet U het my lief.”

As jy dit gedoen het, maak jy Jesus bly, en God is tevrede. Daarom sê Hy, “Kom vrymoediglik in my teenwoordigheid … maak jou begeertes bekend … vra baie, dat jy vol vreugde kan wees.”

Dit is ware vrede!