GEROEP OM TE DIEN
“En ek hoop in die Here Jesus om Timótheüs gou na julle te stuur, sodat ek ook welgemoed kan wees as ek julle omstandighede te wete gekom het” (Filippense 2:19).
Hier het Paulus in die tronk gesit in Rome, sonder om aan sy eie gemak of sy eie moeilike situasie te dink. Hy was slegs begaan oor die geestelike en fisiese toestand van sy mense en het vir hulle gesê, “Ek sal slegs berusting kry as ek weet dat dit goed met julle gaan – in gees en liggaam. Daarom stuur ek Timótheüs om namens my uit te vind hoe dit met julle gaan.”
Toe het Paulus hierdie onrusbarende verklaring gemaak: “Want ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie” (2:20). Hoe jammer! Toe Paulus dit geskryf het, het die kerk in Rome gegroei en was geseënd. Duidelik was daar godvresende leiers in die Romeinse kerk, maar, Paulus het gesê daar was niemand wat saam met hom die gesindheid van Christus gedeel het nie. Waarom was dit so?
“Want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie” (2:21). Klaarblyklik was daar geen leier in Rome met die hart van ‘n dienaar nie; niemand wat afgesien het van sy eie reputasie en ‘n lewende offer geword het nie. In plaas daarvan, was almal daarop ingestel om hulle eie belange na te streef. Niemand het die gesindheid van Jesus gehad nie en Paulus kon niemand vertrou om na Filíppi toe te gaan om ‘n ware dienaar vir daardie liggaam van gelowiges te wees nie.
As ons vandag na die Kerk kyk, sien ons dieselfde dinge gebeur in baie gemeentes. Beide bedienaars en gemeentelede jaag die dinge van hierdie wêreld na: geld, reputasie, materialisme, sukses.
Paulus se woorde kan hier nie sagkens gestel word nie: “Almal dink net aan hulleself. Die bedienaars wil net hulself bevoordeel, en daarom is hier niemand wat ek kan vertrou om om te sien na julle behoeftes en hartseer nie - behalwe Timótheüs.”
Vriende, ons is geroep om die Kerk van Jesus Christus te dien, en soos Timótheüs, moet ons ‘n ingesteldheid van opoffering, liefde en besorgdheid vir ander hê.