GESANTE VAN CHRISTUS

Gary Wilkerson

“Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Korinthiërs 5:20).

Om “’n gesant om Christus wil” te word, is nie iets waarna ons streef nie. As jy ‘n Christen is, is jy ‘n sendeling. Dit beteken nie net om oorsee gestuur te word of om op uitreike te gaan nie. Hierdie sending waarop ons is, bestaan daaruit om ‘n hart te hê wat Hom liefhet op so ‘n manier dat ons wil sien dat ander ook daardie liefde leer ken.

Laat my ‘n ander rigting daaroor inslaan en vir jou sê, dit gaan nie net daaroor om gestuur te wees nie; dit gaan nie net daaroor om jou naaste te bereik nie. Dit gaan oor watter tipe sendeling jy is.

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self” (Matthéüs 23:15).

Jesus sê in wese hier, “Julle gaan van een plek na ‘n ander en probeer om een bekeerling, een proseliet te maak, en wanneer julle wel daardie een kry, is hy ‘n erger mens as julleself.” Baie duidelik is dit nie gesonde evangelisasie nie!

So, die sending waaroor ek vandag met jou praat, is nie net wat ons sê, of by watter liefdadigheid ons betrokke is, of waarheen ons gaan nie. Ons fokus moet wees op wie ons is. Jy is ‘n sendeling vir jou ma en pa. Jy is ‘n sendeling vir jou kinders. Jy is ‘n sendeling vir jou huweliksmaat. Jy is ‘n sendeling vir jou naaste.

Die tipe lewe wat jy leef, die tipe hart wat jy het, die tipe evangelie wat jy uitleef – of dit kragtig is, jou eie siel deurdring om jou te verander na die graad wat jy vernuwe is – sal die presiese graad wees waartoe jy in staat is om die wêreld rondom jou te verander.