Glo Jy Werklik In Wonderwerke?
In Matthëus 14, sien ons hoe Jesus met ‘n skuit weggaan na ‘n stil plek om alleen te wees. Hy het net gehoor van Johannes die Doper se onthoofding en begrafnis. Hy is so ontsteld oor hierdie nuus dat Hy behoefte voel om alleen te wees en te bid.
Toe die mense hiervan hoor het hulle Hom van die dorpe af te voet gevolg. (Matthëus 14:13). Stel jou voor, Christus kyk op en sien al die duisende agter Hom aankom, van alle kante af, en met al hulle verskillende behoeftes. Die siekes word op draagbare of tuisgemaakte stootkarretjies gebring. Blindes word tussen die mense deurgelei, die lammes hink op kieries en krukke. Almal is desperaat om naby die een Man te kom, wat hulle kan help.
Wat is Christus se reaksie op hierdie ongelooflike gesig? “Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak” (14:14). As jy daar was daardie dag en die gebeure sou dophou, sou jy stom van verbasing gewees het. Verwronge hande is versterk, verkromde bene word reguit, dowe ore hoor, stom tonge roep skielik in lofprysing aan God.
Die gesig en klanke was oorweldigend. En tog, aan die einde van daardie ongelooflike dag, na al die wonderwerke van genesing, besluit Jesus om die menigte te voed. Ons hoor dat dit vyf-duisend mans was wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders. En om hulle almal te voed, het Jesus vyf brode en twee gedroogde vissies geneem, daaroor gebid, en dit begin breek om aan die menigte te gee.
Mandjies word een-na-die-ander gevul met die vinnig vermeerderende kos. En op een of ander manier, terwyl die dissipels dit aan die mense uitdeel, word die kos meer. Ten slotte het almal geëet totdat hulle vol was en die dissipels het nog 12 mandjies volgemaak van die stukke wat oorgebly het.
Stel jouself voor: jy het nou-net gesien hoedat een na die ander gesond gemaak is, wonderwerk na wonderwerk. Sal jy nie aan die einde van so ‘n dag op jou knieë wees om God te prys nie? Sal jy nie vir jouself sê: “Nooit sal ek weer die wonderwerkende krag van Christus bevraagteken nie?”
Na al hierdie genesingswonders het jy nog gesien hoe Hy die vyf duisend voed. Jy sal stom verslae wees, gevul met verwondering en dink: “Wat die Here vandag gedoen het, is ongelooflik. Dit het my geloof versterk. Van nou af, sal my geloof onwankelbaar wees.”
Later, na die dag se merkwaardige gebeure, sien ons hoe Jesus by sy dissipels aandring om stilletjies in die boot te klim en oor te vaar na die anderkant. (Matthëus 14:22). Jesus het sy dissipels eintlik beveel, “Broers, klim nou in die boot. Gaan nou!” Hy sou die menigte wegstuur en hulle later volg.
Hierdie hele tyd, het Jesus sy dissipels se gedagtes gelees. Hy het geweet hulle het nie verstaan wat daardie dag gebeur het nie. Die boodskap van die wonderwerke het nog nie in hulle harte en gedagtes geregistreer nie, twyfel het hulle nog gepla. Terwyl hulle wegvaar, moes Jesus sy kop in verbasing geskud het, seergemaak deur hulle wankelende geloof, na alles wat hulle gesien het.
Sou Jesus waarlik op water moes loop om sy dissipels se geloof wakker te skud? Natuurlik, en dit is presies wat Hy gedoen het. ‘n Storm het losgebreek, die boot is deur die golwe geteister, en “Jesus het na hulle aangeloop op die water” (14:25).
Toe sy dissipels Hom sien, kon hulle, hulle oë nie glo nie, hulle het gedink dit is ‘n spook. “Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ‘n spook. Hulle het hard geskreeu” (Markus 6:49-50). Maar Jesus het vir hulle gesê om nie bang te wees nie. “Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan” (6:51).
Nou eers sien ons ‘n aanduiding van opkomende geloof, by die dissiples: “Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê; U is waarlik die Seun van God” (Matthëus 14:33) Ons lees dit met ‘n sug van verligting. Eindelik verstaan hulle. Hulle glo nou in Jesus se wonderwerkende krag. Die wonder het begin deurdring, ‘n fondament van geloof is gelê. Nou is hulle gereed om elke beproewing met onwankelbare geloof te deurstaan.
Maar dit is nie die geval nie. Markus dui aan dat dit nie ‘n oorgang tot geloof ten gevolge gehad het nie. “Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, want hulle het nie verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nie begryp nie” (Markus 6:52). “omdat hulle harte verhard was” (Ou Afrikaanse Vertaling). Die Griekse woord vir “verhard” beteken hier, “’n dik vereelte vel”. Volgens Markus het die dissipels die boodskap van die vermeerdering van die brood heeltemal gemis. Dit is ‘n belangrike stelling, want dit het juis te doen met vertroue op God.
Onthou, dit was manne wat die Here baie liefgehad het en hulle het maklik geglo dat Hy wonderwerke vir ander kon doen; maar hulle het nie geglo dat Jesus dit ook vir hulle sou doen nie. As dit daarby kom, om te glo dat Jesus wonders kan verrig in hulle eie krisisse was iets belangriks afwesig.
Ons kan so dikvellig raak met twyfel dat die waarheid nie meer tot ons deurdring nie. Byvoorbeeld, ons kan emosioneel dikvellig raak oor die jare, as gevolg van, beproewings, angs, herhaalde teleurstellings.
In Matthëus 15 lees ons van nog so ‘n menigte wat wonderbaarlik genees en gevoed is. Hierdie keer was dit vier duisend plus vroue en kinders. Weereens het Jesus genesings wonderwerke gedoen en die menigte met sewe brode en ‘n paar vissies gevoed. Nadat almal genoeg gehad het, het die dissipels nog sewe mandjies met oorskiet brood teruggebring.
As die dag verby is, gaan Jesus weer in ‘n boot met sy dissipels, hierdie keer na Magdala. Onderweg merk hulle dat hulle net een brood onder hulle het. (Markus 8:14) Stel jou voor: Petrus, Johannes, Jakobus en die ander was bekommerd oor brood, terwyl hulle net van die grootste broodvoeding in die geskiedenis gekom het!
Jesus kon dit nie glo nie. Hy het hulle betig: “Kleingelowiges! Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode en die vyf duisend en hoeveel mandjies wat julle vol gemaak het nie? En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaar gemaak het nie? Hoe is dit dan dat julle nie verstaan nie? (Matthëus 16:9-11).
Toe vra Hy: “Onthou julle nie toe ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke brood julle oorgehou het nie? “Twaalf” sê hulle. En sewe brode vir die vierduisend, hoeveel mandjies vol stukke het julle toe oorgehou? “Sewe” sê hulle vir Hom. Verstaan julle dan nog nie?” (Markus 8:19-21)
Jesus het met ander woorde gesê: “Hoe kan dit wees? Ek probeer ‘n fondament vir julle geloof lê. Hoe is dit moontlik dat julle hierdie wonderwerke nie verstaan nie?”
Nou vra ek jou: waarom verbind Jesus die dissipels se falende geloof met die wonders van die brood en vis se vermeerdering? Waarom skryf Hy hulle ongeloof en verharde harte toe aan die begryp van hierdie wonderwerk van die vermeerdering van die brood? Waarom herinner Hy hulle nie aan die keer wat Hy water in wyn verander het nie? Of wat van die melaatse wat onmiddelik genees is? Wat van die verlamde man wat deur die dak na Jesus toe afgelaat is, onmiddelik deur Christus genees is en sy bed kon opneem en loop? Wat van die duiwelbesetene wat Jesus gesien het, neergeval het en geroep het: “U is die Seun van God”?
Al hierdie dinge het gebeur voordat Jesus die menigte gevoed het. Tog, verwys Jesus die dissipels twee maal na hierdie wonderwerk. Waarom?
“Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: ‘Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle nie sonder kos huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op pad beswyk” (Matthëus 15:32).
Ek glo dat Jesus hier ‘n verklaring aan sy dissipels gee. Wat Hy sê is: “Ek gaan vir die mense meer doen as om hulle gesond te maak. Ek sal seker maak dat hulle genoeg brood het om te eet. Ek is besorgd oor alles wat hulle lewe raak. Julle moet opmerk dat Ek meer is as Mag, Ek is ook Erbarming. As julle My net sien as gesondmaker, ‘n magtige wonderwerker, sal julle My vrees. Maar as julle My sien as Barmhartige sal julle my lief hê en vertrou.
“Ek het nou-net vir julle gewys, voor verskillende groepe van vier duisend en vyf duisend mense, dat Ek vir my mense sorg. Manne, julle is die pilare van My kerk, maar julle harte is nog verhard in die saak. Julle moet glo dat ek medelye het met My mense te alle tye en in elke krisis wat hulle moet deurgaan.”
Waarom was die dissipels se harte so verhard in hierdie waarheid? Hulle het nie getwyfel daaraan dat Jesus menigtes kon genees met ‘n aanraking of ‘n woord nie. Hulle het nie getwyfel aan sy medelye vir die uitgeputte menigte nie. Hulle was verwonderd en het Hom verheerlik as Hy wonders vir mense gedoen het. Maar later as hulle alleen in die boot is, weg van die groot gemeente, raak hulle bekommerd oor hulle eie behoeftes. Hulle was nie versekerd dat Jesus wonderwerke vir hulle en hulle families sal doen nie.
Ek skryf hierdie boodskap vir almal wat moeg en op die punt van totale moedeloosheid is, oorweldig deur jou huidige situasie. Jy was ‘n getroue dienskneg, jy het andere gevoed, seker dat God die onmoontlike vir Sy mense kon doen. Tog het jy bedenkinge oor Sy gewilligheid om in te tree in jou worsteling.
Die Heilige Gees roep ons deur hierdie Skrifgedeelte om die brood en die vis en die oorvloed te onthou. Ons word opgeroep om op die meegevoel van Jesus te hoop, vir ons fisiese behoeftes, wetende dat Hy nie een van ons wil laat beswyk nie.
Ek wil weet: hoeveel van julle wat hierdie boodskap lees, het woorde van geloof en hoop ge-uiter teenoor andere, wat oënskynlik hopelose situasies die hoof moes bied? Julle het by hulle aangedring: “Hou vas! Hou moed! God kan. Hy is ‘n wonderwerkende God, en Sy beloftes is waar. Moenie moedeloos word nie, wees bemoedig want Hy gaan jou gebed verhoor.”
“Glo jy werklik in wonderwerke?” Dit is die vraag wat die Heilige Gees aan my vra. My antwoord was, “Ja, natuurlik, Here. Ek glo aan elke wonderwerk waarvan ek in U Woord gelees het.” Tog is hierdie antwoord nie goed genoeg nie. Die Here se vraag aan elkeen van ons is, “Glo jy dat Ek ‘n wonder vir jou kan doen?” En nie net een wonderwerk nie, maar ‘n wonderwerk vir elke krisis, elke situasie wat ons die hoof moet bied. Ons het meer nodig as Ou Testamentiese wonders, Nuwe Testamentiese wonders, wonders van lank gelede in die geskiedenis, maar huidige, persoonlik wonderlike net vir ons en ons situasie.
Dink aan die een probleem waarmee jy nou sit, jou grootste behoefte, jou mees onmoontlike verknorsing. Jy bid al so lankal daaroor. Glo jy werklik dat God dit sal uitwerk op maniere waaraan jy nie kan dink nie? Daardie soort geloof, belet die hart om vrae te vra en te knies. Dit sê vir jou om te rus in die Vader se sorg, om te weet Hy sal dit op Sy tyd en Sy wyse doen.
Ek het reeds melding gemaak van sommige van die wonders wat Jesus in die Nuwe Testament gedoen het. Netso is die Ou Testament vol van God se wonderwerkende krag, van die oopmaak van die Rooi See tot God wat uit die brandende bos met Moses praat. Deur die geloof het Elia vuur uit die hemel afgeroep. Later, toe die Here met hom in die grot gepraat het, was daar wind, donderslae en ongelooflike geluide en gebeure.
Dit was alles onmiddelike wonderwerke. Die betrokke mense kon dit sien en voel gebeur en ontroerd raak. Dit is die soort wonders wat ons vandag wil sien, wat met verwondering ervaar word. Ons wil hê God moet die hemele skeur, en met ‘n skielike uitbarsting van hemelse mag ons probleme oplos.
Maar baie van God se wonderbare ingrype in Sy kinders se lewens gebeur deur “toenemende wonderwerke”. Hierdie is wonderwerke wat nouliks deur die fisiese oog gesien kan word. Daar is geen donderweer en blitse of opmerklike veranderinge nie. Eerder begin toenemende wonderwerke in die stilte, sonder ophef, en ontvou een stap op ‘n keer.
Beide hierdie soort wonderwerke was opmerkbaar met die twee kere dat Christus die menigtes gevoed het. Die genesings was onmiddelik en maklik sigbaar vir almal wat teenwoordig was. Ek dink aan die kreupel man wat ‘n uiterlike genesing ontvang het en skielik kon spring en hardloop. Hier was ‘n wonderwerk wat almal wat dit gesien het, verbaas het.
Die voedings van die duisende was weer toenemende wonderwerke. Jesus het net ‘n eenvoudige gebed gebid, sonder vuur of donderweer en blitse of aardbewing. Hy het eenvoudig die brood en vis gebreek sonder ‘n teken dat ‘n wonderwerk besig was om te gebeur. Tog om so baie mense te voed, moes daar duisende kere gebreek word, reg deur die dag, en elke stukkie brood en vis was deel van die wonderwerk.
Dit is presies soos Jesus vandag baie wonderwerke in Sy mense se lewens verrig. Ons bid vir onmiddelike, sigbare wonders, terwyl Jesus ongemerk werk en elke wonderwerk, stukkie vir stukkie, tot stand bring. Miskien kan ons dit nie hoor of voel nie, maar Hy is besig om ons uitredding uit te werk – ongemerk.
Dit was wat Jesus wou gehad het dat Sy dissipels moes raaksien. Hy wou so graag hê hulle moes sien dat Hy deurentyd, ongemerk aan die werk was om hulle ontwil: pyle afgeskiet teen die vyand, leuengeeste stilgemaak, getrou elkeen beskerm en bewaar wat die Vader Hom gegee het.
Miskien wag jy op die oomblik vir so ‘n wonderwerk. Miskien is jy mismoedig omdat dit lyk of niks gebeur nie. Jy sien geen bewyse van God se bonatuurlike werk om jou onthalwe nie.
Dink oor wat Dawid sê in Psalm 18:7: “In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp en Hy luister na my. Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die berge het getril en geskud … Rook het uit sy neus getrek, vuur uit sy mond het alles verteer … Hy het die hemele gebuig en afgekom … die Here het dit uit die hemele laat dreun, die Allerhoogste het sy stem laat hoor … Hy het sy pyle afgeskiet … hulle met ‘n menigte weerligstrale op loop gejaag (Ps. 18:7-9; 13-14).
U moet verstaan dat niks hiervan werklik gebeur het nie. Dawid sien dit met sy geestelike oë. Geliefdes, dit is geloof. Dit is wanneer jy glo dat God jou hulpgeroep gehoor het, dat Hy nie uitstel nie, dat Hy jou nie ignoreer nie. Daarenteen het Hy in stilte begin om jou petisie te verhoor die oomblik toe jy gebid het, en selfs nou doen Hy bonatuurlike werk vir jou onthalwe. Dit is om waarlik te glo in wonderwerke, sy wonderlike toenemende werk in ons lewens.
Dawid het die fundamentele waarheid daaronder begryp: “Hy het my uitgelei; in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het (Ps. 18:20). Dawid verklaar: “Ek weet waarom Hy dit alles vir my doen, omdat Hy behae in my het.”
Ek glo werklik in onmiddelike wonderwerke. God doen nog steeds wonderlike, onmiddelike wonderwerke. Tog vra Jesus vir ons in hierdie Skrifgedeeltes om te onthou en aandag te gee aan sy toenemende wonderwerke, selfs vandag.
“Toe Jesus rondkyk en sien dat ‘n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: ‘Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?’ Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen” (Joh. 6:5-6). Jesus het Filippus eenkant toe geneem, sy arm om hom gesit en gevra; “Broer Filippus, kyk na die duisende mense hier. Hulle is almal honger. Sê vir my waar gaan ons genoeg brood koop om hulle te voed? Wat dink jy moet ons doen?”
Hoe ongelooflik liefdevol van Christus. Jesus het al die tyd geweet wat Hy gaan doen; die vers hierbo vertel ons dit. Tog probeer Christus vir Filippus iets leer, en die les slaan op elkeen van ons, vandag. Dink daaraan; hoeveel in die liggaam van Christus, sit nagte om, om hulle probleme te probeer ontrafel? Ons dink: “Miskien sal dit werk. Nee, nee … Iets anders sal dit oplos. Nee …”
Ek stel my voor dat Filippus sy kop krap en sê: “Meester, ek het met Andreas, Petrus, Jakobus en Johannes gepraat, ons het net twee honderd pennies in ons gemeenskaplike beurs. Dit is heeltemal te min vir hierdie drukkende behoefte. Ons het ‘n kritieke brood probleem” (sien 6:7).
Tog het Filippus en die apostels nie net ‘n brood probleem gehad nie, maar ‘n geld probleem, ‘n bakery probleem, ‘n verdeling probleem, ‘n vervoer probleem, en ‘n tyd probleem. Tel dit bymekaar en hulle het ondenkbare probleme gehad. Die situasie was onmoontlik.
Maar Jesus het al die tyd geweet wat Hy gaan doen. Hy het ‘n plan gehad. Dieselfde is waar van jou probleme en moeilikhede vandag. Daar is ‘n probleem, maar Jesus ken die hele situasie. Hy kom na jou toe en vra: “Wat gaan ons hiermee doen?”
Die regte antwoord van Filippus sou gewees het: “Jesus, U is God. Niks is onmoontlike vir U nie. Dus gee ek die probleem vir U. Dit is nie meer myne nie, maar U probleem.”
Dit is wat ons vir ons Meester vandag moet sê, in hierdie krisis: “Here, U is die wonderwerker. Ek gaan al my angste en twyfel aan U gee. Ek vertrou hierdie hele saak, my hele lewe, aan U toe. U sal my nie toelaat om te beswyk nie. U weet alreeds wat U met my probleem gaan maak. Ek vertrou op U krag.”