God Doen ‘n Nuwe Ding in Sy Kerk

Hoe dikwels het jy al Christene hoor sê, “God doen ‘n nuwe ding in sy kerk”? Die “nuwe ding” waarna hulle verwys, mag ‘n herlewing, ‘n uitstorting, ‘n besoeking, of ‘n beweging van God wees.

Heel dikwels sterf hierdie “nuwe ding” van God vinnig uit. En wanneer dit eers sy glans verloor  het, kan dit nie weer gevind word nie. Op hierdie manier, bewys dit dat dit glad nie ‘n beweging van God was nie. In werklikheid het Christen sosioloë talle van hierdie sogenaamde besoekings nagevors. Hulle het ontdek dat die gemiddelde tydsduur van so ‘n gebeurtenis omtrent vyf jaar is.

Persoonlik glo ek God doen ‘n nuwe ding in sy kerk vandag. Hierdie groot werk van die Gees kan nie op een plek gevind word nie. Dit gebeur wêreldwyd. En jy het nie nodig om ver te reis om dit te aanskou nie. God se “nuwe ding” mag inderdaad so naby soos die naaste kerk wees.

Daar is ‘n Bybelse beginsel wat enige ware beweging van God beheer. Ons vind hierdie beginsel keer op keer aan die werk in beide Testamente. En dit is as waar en eg bewys regdeur die eeue van die kerk se geskiedenis. Die beginsel is die volgende: God sal nie begin om ‘n nuwe ding in sy kerk te doen totdat Hy met die oue weggedoen het nie. Soos Jesus dit gestel het, Hy sal nie nuwe wyn in ou wynsakke gooi nie.

Waarom is dit so? Dit is omdat God ‘n twispunt het met die ou dinge in sy kerk. Jy sien, met elke nuwe werk wat Hy oprig, is daar net ‘n paar geslagte wat verbygaan voor apatie en skynheiligheid begin insluip. God se mense word gou afgodsdienaars, met harte wat geneig is tot afvalligheid. En uiteindelik kies God om die ou werk in sy kerk te omseil. Hy laat vaar dit heeltemal voor Hy die nuwe inlyf.

Hierdie beginsel was eerste by Silo ingestel. Gedurende die tyd van die Rigters, het God ‘n heilige werk in daardie stad gedoen. Silo was waar die Here se heiligdom gestaan het en dit was die middelpunt van alle godsdienstige aktiwiteit in Israel. Die naam Silo op sigself beteken “dit wat die Here s’n is.” Dit spreek van dinge wat God verteenwoordig en sy natuur en karakter openbaar. Silo was ‘n plek waar God met sy mense gepraat het. Dit was ook waar Samuel God se stem gehoor het en waar die Here sy wil aan hom geopenbaar het.

Eli was egter die hoëpriester in Silo en sy twee seuns was bedienaars in die heiligdom. Eli en sy seuns was lui en sensueel en hulle was heeltemal oorgeneem deur hulle eie belange. Gedurende hulle bediening, het hulle toegelaat dat erge sonde in God se huis ingekom het. Met verloop van tyd, het Silo verdorwe en korrup geword. Gou was God se mense gevul het gierigheid, owerspel en skynheiligheid.

Uiteindelik het die Here opgehou om by Silo te praat. Hy het vir Samuel in wese vertel, “Silo het so besoedel geword dat dit nie meer verteenwoordig wie Ek is nie. Hierdie huis is nie meer myne nie. En Ek gaan nie meer daarmee geduldig wees nie. Ek is klaar daarmee.” Toe het die Here sy teenwoordigheid van die heiligdom verwyder. En Hy het “Ikabod” bokant die deur geskryf en dit beteken, “Die heerlikheid van die Here het gewyk.”

Op daardie stadium was Silo dood, verby die punt van verlossing. Daar was geen hoop meer om die heerlikheid van die verlede te laat herleef nie en geen hoop op herstel nie. God het in wese gesê, “Ek het Silo aan die vlees oorgegee en Ek beweeg aan. Ek gaan ‘n totaal nuwe huis oprig.”

Watter soort toestand moet ‘n volk in wees vir die Here om sy teenwoordigheid van hulle te verwyder? Beskou die toneel by Silo: vir jare het niemand in die bresse getree vir daardie samelewing nie. Niemand het hulleself verneder nie of in berou uitgeroep, “Here, moet ons nie verlaat nie.”

In plaas daarvan, het God net mense gesien wat so verhard was teen die waarheid. Hierdie Israeliete het al die godsdienstige rituele waargeneem en het al die regte dinge gesê, maar hulle harte was nie daarin nie. Al hulle werke was uit die vlees. En die priesterdom was verby die punt van verlossing. Die hoëpriester Eli het heeltemal blind geword vir sy eie afvalligheid. Hy en sy goddelose seuns moes verwyder word.

Daarom het die Here heeltemal weggedoen met die oue. En, weereens het Hy ‘n nuwe ding opgerig. Hierna het die tempel in Jerusalem bekend geword as die “huis van die Here.” En vir ‘n tydperk, het God daar met sy mense gepraat. Die huis was gevul met gebed, God se Woord was verkondig en die mense het offerhandes gebring volgens God se gebod. Die tempel by Jerusalem het verteenwoordig wie God was en Hy het sy teenwoordigheid daar gemanifesteer. In werklikheid het sy heerlikheid die tempel op een geleentheid so magtig gevul dat die priesters nie in staat was om diens te doen nie.

Uiteindelik het daardie bediening egter ook verval. Verdorwenheid en korrupsie het weereens onder die mense ingesluip. En die tempel in Jerusalem het God nie meer verteenwoordig nie.

Dit neem net ‘n paar geslagte vir ‘n nuwe werk van God om in apatie en skynheiligheid te verval. Waarom is dit so? Amper altyd gebeur dit omdat diegene in die bediening vleesgedrewe word. Die vuurwarm passie wat aan die werk geboorte gegee het, begin om te taan. En met verloop van tyd, word die bediening net ‘n menslike instelling. Lewelose roetine sluip in. Die eens biddende leiers vertrou nou op organisering en vleeslike vaardigheid om die werk aan die gang te hou.

Eens het hierdie dieselfde leiers God heeltemal vertrou en Hy het met hulle gepraat. Maar op een of ander stadium, het hulle hul diensbaarheid vir politiek verruil. En nou, in plaas van bediening, kompeteer hulle vir mag, prestige en getalle. Dit is jammer dat hulle bediening ‘n vae herinnering geword het van wat God eens in hulle midde in sy krag en in waarheid vermag het.

Die Here het teen hierdie soort kompromie in Jeremia se tyd opgetree. Hy het die profeet na die tempelpoort gestuur om ‘n vernietigende woord te verkondig: “Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek” (Jeremia 7:3). Hy het met ander woorde gesê: “Hierdie werk het verdorwe geword en nou is die dood voor die deur. Maar daar is steeds tyd om dit te red. Ek wil nie daarvan af wegloop nie. Ek wil by julle bly en in julle midde werk. Maar vir dit om te gebeur, moet julle julle bekeer. Julle moet terugkeer na julle eerste liefde.”

Toe het die Here bygevoeg, “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie – wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!” (Jeremia 7:4). God het die mense gehoor huil, “Die Here kan nie hierdie tempel vernietig nie. Dit is sy ewige huis. Dit is ons geskiedenis, ons gevestigde tradisie. Kyk na al die glorieryke geboue. Hulle staan as God se getuienis aan ‘n goddelose wêreld. Hy sal nooit dit wat Hy hier gevestig het, verlaat nie.”

Maar die Here het gereageer, “Wat van jou korrupsie? Wat van jou geil owerspel? Jy sweer valslik. Jy buig voor afgode. En julle het my huis in ‘n rowerspelonk verander. Ek het profete gestuur om julle te waarsku, maar julle wou nie luister nie. Ek het met julle gepraat, maar julle wou nie hoor nie. Ek het na julle geroep, maar julle wou nie antwoord nie.”

Nou het God hulle bevel gegee. “Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel” (Jeremia 7:12). Hy het hulle aangemoedig, “ Kom, al julle pastore, herders en priesters. Kry julle Bybels uit en sien self hoe Ek werk. Kyk terug na my huis by Silo. Ek het daardie kerk gevestig en my Naam daarmee verbind. Maar die mense het geweier om na my profete te luister. En in plaas daarvan, het hulle op hulle eie maniere vertrou. So, daarom het ek die oue heeltemal verwerp.

“Nou is Ek op die punt om dit weer te doen. Julle is net soos Silo. Julle het sonde en korrupsie in my huis toegelaat. Julle het so ontaard in julle weë dat julle My nie meer verteenwoordig nie. Kyk rondom julle: wie tree vir julle in die bresse? Wie roep uit met ‘n hart van bekering? Ek sien net apatie en kompromie. My Woord waarsku duidelik dat Ek my teenwoordigheid van Silo verwyder het. En nou gaan Ek van jou af wegstap. Ek gaan my heerlikheid uit julle midde verwyder.”

“Daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou, en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het. En Ek sal julle van my aangesig wegwerp soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efraim, weggewerp het” (Jeremia 7:14-15).

Weereens het God gesê, “Die ou dinge is verby en uitgedien. Julle verteenwoordig My nie meer nie. Ek sal nou mense hê wat My voor die wêreld verteenwoordig vir wie Ek werklik is. Ek het ‘n heeltemal nuwe ding in gedagte.”

Die Here het afgesluit met hierdie stelling: “En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie” (Jeremia 7:16). Hy het in wese gesê, “Moenie moeite doen om vir hierdie ou werk te bid nie. Dit is dood en verby en dit het geen hoop op herlewing nie.”

Jesus het in die laaste tempel gestaan en almal uitgenooi wat onder sy genadige vlerke van beskerming sou kom. Hy sou uitroep na die blindes, die siekes, die melaatses, die armes, die verlorenes en almal om te kom en genesing en vergifnis te vind. Maar die godsdienstige skare het sy uitnodiging geweier. Daarom het Christus van hulle getuig, “Julle wou nie” (Matthéüs 23:37).

Terwyl ek hierdie lees, kom ‘n vraag op: Hier in die Nuwe Testament, sou God op dieselfde manier van ‘n ou werk ontslae raak net soos in die Oue? Sou Hy die ou dinge laat vaar en ‘n nuwe ding oprig? Sou Hy dit wat sy aanbieding van genade, barmhartigheid en ontwaking verwerp het, verstoot?

Ja, Hy sou. Jesus het diegene wat Hom verwerp het geantwoord deur te sê, “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matthéüs 23:38). Hy het vir hulle vertel, “Die tempel is nou julle huis, nie Myne nie. Ek verlaat dit. En Ek verlaat wat julle vermors en van weggeloop het.”

Toe het Hy bygevoeg, “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matthéüs 23:39). Hy het aan hulle verklaar, “My heerlikheid is nie meer in hierdie ou werk nie. Ek het dit nou verwerp. En dit wat oorgebly het van julle godsdienstige lewe, sal uitgevoer word sonder God se teenwoordigheid. Ek gee ook hierdie ou werk oor aan die vlees. Jou herders sal nie geestelike mense wees nie, maar bedienaars van die vlees.”

Die dissipels kon Jesus se woorde nie glo nie. Hulle het Hom aangemoedig, “Meester, kyk na die glansrykheid van die tempel, die ontsagwekkende strukture. Kyk na die geskiedenis, die eeue van tradisies. Dit kan onmoontlik in puin gelaat word. Sê U dit is verby?” Jesus het geantwoord, “Ja, dit is verby. Die ou werk is klaar. Dit is dood en weg in my oë. Ek gaan ‘n nuwe ding doen.”

Dink daaraan: hier staan barmhartigheid en genade in die Vlees en sê, “Hierdie ou ding is nie meer Myne nie. Ek gaan dit nou heeltmal verwoes. Dit het absoluut geen kans meer om te herleef nie.” Toe het Jesus aanbeweeg na Pinkster, na die begin van ‘n nuwe ding. Hy was op die punt om ‘n nuwe kerk op te rig, nie ‘n replika van die oue nie. En Hy sou dit van die fondament af op splinternuut maak. Dit sou ‘n kerk wees met nuwe priesters en mense wat almal in Hom weergebore is.

In die tussentyd, sou die ou werk voortsleep. Skares sou steeds na die tempel toe kom om hulle dooie rituele waar te neem. Herders sou steeds die armes beroof, owerspelers sou sondig net soos hulle wou en mense sou wegdryf na afgodery toe. Elke dag, sou die ou werk toenemend droog en swak word. Waarom, vra jy? God se teenwoordigheid was nie meer daar nie.

Dit bring ons by die kerk van die huidige dag. Laat my jou vra: is wat jy sien vandag in die kerk aangaan, verteenwoordigend van wie Jesus is? Beskou al die denominasies en bewegings, alles wat met Christus se Naam geassosieer word. Is wat ons sien waarlik die triomfantlike kerk, die vlekkelose bruid van Christus? Openbaar dit aan die wêreld die werklike natuur van God? Is dit die beste wat God se Gees kan doen in hierdie laaste dae?

Of het die moderne-dag sigbare kerk die ou ding geword? Het dit besoedel geword en wankel dit op die randjie van vervanging met een of ander nuwe werk? Kortliks, sal God een laaste keer ‘n verandering maak voor Jesus terugkeer? Sal Hy wat verdorwe geword het laat vaar en ‘n laaste, glorieryke kerk oprig?

Ja, ek glo Hy sal. Jesaja vertel vir ons, “Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor” (Jesaja 42:9).

Die kerk soos ons dit vandag ken, het met bekering begin. Toe Petrus die Kruis by Pinkster verkondig het, het duisende na Christus toe gekom. Hierdie nuwe kerk het bestaan uit een liggaam, dit het uit alle rasse bestaan en was vol liefde vir mekaar. Sy korporatiewe lewe was gekenmerk deur evangelisasie, ‘n gees van opoffering en selfs martelaarskap.

Hierdie wonderlike begin weerspieël God se woorde aan Jeremia: “Nogtans het Ek jou geplant as ‘n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad” (Jeremia 2:21). Die Here se daaropvolgende woorde beskryf egter wat dikwels met sulke werke gebeur: “Maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van ‘n vreemde wingerdstok” (Jeremia 2:21). God het in wese gesê, “Ek het jou reg geplant. Jy was myne en het my Naam en natuur gedra. Maar nou het jy ontaard.”

Wat het hierdie agteruitgang in die kerk veroorsaak? Dit was altyd en sal altyd afgodery wees. God praat van afgodery wanneer Hy vir Jeremia sê, “Maar my volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie” (Jeremia  2:11). Afgodery het Silo vernietig, dit het die tempel vernietig en dit het die kerk van vandag besoedel. Dit is altyd die hoofoorsaak waarom God ‘n ou ding agterlaat om ‘n nuwe ding te begin.

In Esegiël 14, het sekere ouderlinge na die profeet gekom om van die Here te hoor. Hulle wou weet, “Wat sê God vir sy mense vandag?” Maar die Here het Esegiël vertel, “Mensekind, hierdie manne het drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit – sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg?” (Esegiël 14:3). Hy het met ander woorde gesê: “Hulle het hierheen gekom asof hulle My werklik soek. Maar hulle steek bose afgode in hulle harte weg. Waarom moet Ek hulle antwoord?”

Die meeste Christelike leerstellinge van vandag identifiseer ‘n afgod as enigiets wat tussen God se mense en Homself kom. Dit is iets wat ons van Hom af wegtrek. Dit is egter net ‘n gedeeltelike beskrywing van afgodery. Die ouderlinge wat Esegiël genader het, was nie weggehou deur hulle afgode nie.

Afgodery het te doen met ‘n baie dieper hartsaak. In der waarheid kan afgodery wyd verspreid in God se huis wees sonder om gesien te word. Dit is wat die Here bedoel wanneer Hy gesê het dat hierdie ouderlinge ‘n “struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit” (Esegiël 14:3) het. Die struikelblok is enige leerstelling wat ‘n afgod regverdig. En dit verblind God se mense vir hulle sonde.

Dit is presies wat in die kerk gebeur vandag. Die nommer een afgod onder God se mense is nie owerspel, pornografie of alkohol nie. Dit is ‘n baie magtiger begeerte. Wat is hierdie afgod? Dit is ‘n drywende ambisie vir sukses. En dit het selfs ‘n leerstelling om dit te regverdig.

Die afgodery van om suksesvol te wees, beskryf talle mense in God se huis vandag. Hierdie mense is opreg, moreel rein en vol goeie werke. Maar hulle het ‘n afgod van ambisie in hulle harte opgerig en hulle dan nie daarvan losgeskud word nie.

Dit is tragies dat dit dieselfde aansporende gees is as wat agter Baäl en Moleg was: om voorspoedig en suksesvol te wees. En vandag het hierdie gees die evangelie van Jesus Christus wêreldwyd besoedel. Dit stel homself voor as ‘n gees van seën, maar dit is ‘n verdraaiing van wat God vir sy kerk bedoel. En dit laat miljoene se geloof skipbreuk lei.

Hierdie gees getuig ook van postmodernisme. Een van die beginsels van postmodernisme is dat die samelewing jou doel en waarde aan jou toeken. Eenvoudig gestel, jou sukses en aanvaarding word gemeet aan wêreldse standaarde. Met die gevolg dat baie Christene hulle eie waarde meet aan hulle loopbaan, hulle besittings en hulle salaristjek.

Postmoderne teologie sluip nou in die kerk se leierskap in. Herders en evangeliste koop die leuen dat hulle eweknieë bepaal hoe suksesvol hulle is. Dit is waarom sukses in kerkwerk begin beteken het om massiewe bywoning, groot geboue en ‘n vet begroting te hê. En dit is waarom bedienaars verplig is om hulleself en hulle gemeentes te dryf om hierdie dinge te bereik.

Ek sê vir jou, dit is nie die kerk waarna Jesus Christus terugkom om as sy bruid te neem nie. Hierdie postmoderne, materialistiese, vlees-gedrewe instelling het oud en korrup geword. En dit is reeds in die kloue van die dood.

Baie jong pastore oral oor die wêreld besef dit. Hulle is siek en sat vir die ou ding met sy gekibbel en kerklike binnegevegte. Hulle wil niks daarmee te doen hê nie. Hulle het die dryfkrag vir grootheid en bekendheid verwerp. In plaas daarvan het hulle teruggekeer na die sentraliteit van Christus, terug na om God te soek en terug na die honger na waarheid. En hulle ervaar ‘n vars nuwe werk in die lug.

“Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor” (Jesaja 42:9).

God is op pad om ‘n nuwe ding te doen. En hierdie nuwe ding sal so glorieryk wees dat dit sal veroorsaak dat sy mense Hom sal prys soos nog nooit tevore nie: “Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af – julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan” (Jesaja 42:10). God vertel in wese vir ons, “Laat al my mense wêreldwyd my lof besing. Laat Ek ‘n nuwe lied hoor van die matrose op die see, van mense in elke nasie en van al die lande op die aarde.”

Ons weet dat in hierdie laaste dae, Satan sal neerdaal met erge woede (sien Openbaring 12:12). Hy is vol groot wraak omdat hy weet dat sy tyd kort is. En hy gaan ‘n vloed van ongeregtigheid op die kerk werp. Maar God verklaar, “Laat my mense weet dat die Leeu van Juda gaan neerdaal met al die mag van die hemel. Die Verlosser kom na Sion!”

Moenie vir ‘n oomblik dink dat God sal toelaat dat Satan beheer van sy kerk sal oorneem en sy kinders sal verwoes nie. Die poorte van die hel sal Christus se liggaam nie oorweldig nie. En ek glo die Here is op hierdie oomblik op pad na Sion om sy mense te besoek.

Net soos Hy met Sodom gedoen het, kom die Here om te reinig. En hierdie keer sal die reiniging by sy kerk begin. Huidiglik is die Here besig om al die kaf in sy huis weg te brand. En Hy gaan ‘n nuwe ding doen. Die Skrif vertel vir ons, “Die HERE sal uittrek soos ‘n held; Hy sal die ywer opwek soos ‘n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar” (Jesaja 42:13).

Waarom kon Jesus met so ‘n magtige gebrul? En wat sal Hy uitroep? Hy gaan in jaloersheid uitroep oor sy kinders. Jy sien, ons Here is huidiglik in ‘n jaloerse toestand oor sy kerk. En hier is sy jaloerse uitroep: “Ek het baie lank gewag, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd” (Jesaja 42:14).

Wat beteken dit? Waarom sou Jesus uitroep soos ‘n vrou in barensnood? Die Here vertel vir ons Hy is op die punt om geboorte te gee aan iets nuuts. Terwyl Satan op die oorlogspad is en miljoene mislei, vertel God vir sy mense, “’n Nuwe, heilige ding word onder Satan se neus gebore. Hierdie een kerk kan hy nie mislei nie. Dit is die oorwinnende kerk wat sonder vlek of rimpel is.”

Tot nou toe, was die Here stil. Hy het sy woede teen valse leerstellinge en valse profete bedwing en wolwe in skaapsklere het menigtes in Christus se liggaam laat skipbreuk ly. Maar nou laat God sy stem hoor. Hy vertel vir ons:

“Herders het my huis in ‘n nes van ongeregtigheid verander. Tog het Ek my ingehou. Materialistiese predikers het my kerk regoor die wêreld verdorwe met hulle afskuwelike leerstellinge. Tog het Ek stilgebly. Ek was stil terwyl mega-kerke die skande van die Kruis van hulle gemeentes verwyder het. Ek het My ingehou terwyl selfvoldane herders toegelaat het dat komediante en verhoogkunstenaars ligsinnigheid en lawwighede in my heilige huis inbring.

“Maar nie meer nie! Nou is Ek opgewek. En ek gaan neerdaal op my huis om dit te reining voor Ek terugkeer vir my bruid. Wees gewaarsku, Ek kom na julle met ‘n heilige jaloesie. En Ek gaan al hierdie valse leerstellinge vernietig. Ek sal elke rower en dief, wat my kansels gevul het, bankrot maak. Ek sal al hulle hulpbronne laat opdroog en veroorsaak dat hulle riviere van geld droog loop.”

“Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante laat verdroog; en Ek sal riviere tot eilande maak en waterplasse laat opdroog...Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode – dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan” (Jesaja 42:15,17).

Geliefde, dit is die nuwe ding wat God  in sy kerk doen. Hy sê, “Ek sal elke bediening wat uit die vlees is, ‘n bohaai maak en materialisties is, vernietig en verslind. En Ek gaan herders oprig na my eie hart, getroue dienaars wat my ken. Ek sal alle valse evangelies vernietig en alle valse leraars verwar en tot skande bring.

“Ek sal egter nie daardie miljoene van opregte mense, wat deur valse leerstellinge mislei is, verlaat nie. Hulle het nie van beter geweet nie. En hulle gaan my suiwer evangelie hoor. Wanneer dit gebeur, sal hulle hul bekeer en skaam wees oor die ligsinninge, lawwe evangelie wat hulle laat dwaal het. Ek gaan hulle in die waarheid lei.”

“En Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie” (Jesaja 42:16).

Wat ‘n ontsaglike belofte. Ons sien nou waarom Jesaja profeteer, “Laat die woestyn en sy stede uitroep...Laat die rotsbewonders jubel, van die top van die berge af skreeu. Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig” (Jesaja 42:11-12).

Geliefde, God doen huidiglik ‘n nuwe ding. Hy roep sy mense weereens om elke afgod te verwerp en hulle woning die Rots, Jesus Christus maak. Ek dring by jou aan, wees gereed om sy uitroep te gehoorsaam: “Laat die inwoners van die Rots sing!”